Wys tans plasings met die etiket Koningkryk van die hemel. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Koningkryk van die hemel. Wys alle plasings

09 Februarie 2020

Koninkryksburgers moet ligdraers wees

09 Feb. 2020 GKE
Skriflesing:   Mat. 5 v 14 – 48
Teksverse:   Mat. 5 v 14a & 16


Die Koninkryk van God. Dit is 'n ander manier waarmee God vir ons verduidelik wat dit beteken om kerk van die Here te wees. Dit sê vir ons wat dit beteken om 'n Christin te wees en Watter invloed dit op jou lewe het wanneer jy sê dat jy 'n volgeling van Jesus Christus is.

Hiermee sê die Here vir ons dat Hy in beheer is en dat Hy heers oor alles en almal. In die preke hierdie jaar het ons al gehoor dat ons hoogste prioriteit moet wees om die Koninkryk te soek. Ons het ook gehoor dat die Koninkryk nie moeilik is om te vind nie want Jesus het met sy koms die Koninkryk naby gebring. Ons het verder gehoor dat dit 'n ewige Koninkryk is wat nou reeds bestaan en dat die burgers van hierdie Koninkryk geseën word.

Maar wat beteken die Koninkryk van God vir ons prakties in ons dag tot dag lewe? Dit is juis hier in die bergrede waarvan ons in Mat. 5 – 7 hoor wat vir ons uitspel wat die praktiese implikasies van die Koninkryk van God in ons daaglikse lewe is. Wat beteken dit vir my wanneer ek 'n weeksoggend opstaan vir werk en werk toe gaan? Wat sê dit vir ons kinders daar in die skool? Wat sê dit vir my wanneer in die winkel besig is om inkopies te doen? Wat sê dit vir ons wanneer ons saam met ons vriende om 'n braaivleisvuur ontspan?

Die Bergpreek verduidelik juis watse praktiese implikasie die Koninkryk van God vir ons dag tot dag lewe het.

Maar voordat ons daarby kom moet ons net eers weer onthou dat ons nie deur ons optrede kan verseker dat ons vir God aanvaarbaar hoef te wees nie. Met ander woorde jy hoef nie vir God te bewys dat jy goed genoeg is om sy kind te wees nie.

Jesus begin sy Berg preek met 'n uitspraak van seën. “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is” en dan voeg Hy die belofte by “want aan hulle behoort die Koninkryk van die Hemele.” Dit is God se genade wat jou sy kind maak.

Hy maak jou 'n burger van sy Koninkryk omdat Hy wil, nie omdat jy iets moet doen of gedoen het om vir Hom te bewys dat jy goed genoeg is om burgerskap te verdien nie. God neem jou net soos jy is, maar omdat Hy jou so lief het, los Hy jou nie net soos jy is nie.

Jy word 'n kind van God omdat Jesus vir jou sondes aan 'n vervloekte kruishout gesterf het. Hy het die dood wat die straf vir die sonde is oorwin en met sy opstanding gee Hy vir jou 'n nuwe lewe. En hier in sy Berg preek verduidelik Hy hoe jy jou nuwe lewe moet leef. Jy weet dat jy 'n kind van God in sy Koninkryk is deurdat jy die evangelie, die goeie nuus van Jesus Christus glo.

Kinders van God moet ligdraers wees in sy Koninkryk. Hulle moet die sout daarvan wees. Kinders van God is ligdraers wat moet stry vir reg en geregtigheid. Net soos wat sout kos preserveer moet God se kinders reg en geregtigheid in sy Koninkryk preserveer.

Net soos 'n lamp wat op 'n lampstaander staan, lig uitstraal wat die hele vertrek verlig moet God se kinders lig uitstraal in sy Koninkryk. Jy straal lig uit wanneer jy die wet van God uitleef.

Daar is egter 'n manier om God se wet uit te leef sonder om lig uit te straal. Jesus sê in Mat. 5 v 20:
Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”
Skrifgeleerdes en Fariseërs is die mense in die Joodse se samelewing wat die wet die getrouste na gekom het en tog sê Jesus dat dit nie goed genoeg is nie.

Die probleem is dat hulle, hul eie betekenis aan die wet toegeskryf en dit as die norm voorgehou het. Die groot probleem is dat hulle nie God se liefde in ag geneem het met hulle toepassing van die wet nie. Hulle toepassing van die wet was blote vormgodsdiens wat leeg is.

Ons hoor in 2 Tim. 3 v 5:
Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.
Dit sê Paulus van mense wat selfsugtig, liefdeloos en onversoenlik is.

As jou navolging van die wet soos die Skrifgeleerdes en die Fariseërs is sonder God se liefde dan is jy soos 'n gloeilamp wat afgeskakel is wat geen lig uitstraal nie.

Dan gaan Jesus voort om te verduidelik met ses praktiese voorbeelde uit die alledaagse lewe wat Hy bedoel. Met elk van die voorbeelde hoor ons Jesus sê: “Maar Ek sê vir julle.......” Hiermee sê Jesus vir ons wat God werklik bedoel met sy wet, want Jesus IS God (1 van die persone van die 3 Eenheid naamlik Vader, Seun en Heilige Gees). God bedoel met sy wet dat jy sy liefde moet uitstraal. Die krag van God se liefde is die lig wat jy moet uitstraal.

In hierdie ses voorbeelde verduidelik Jesus hoe jy God se liefde uitstraal deur die nakoming van die wet. Die eerste voorbeeld handel oor versoening. Waar begin onmin tussen mense? Dit begin in jou denke. Wanneer jy kwade gedagtes teenoor iemand koester plant jy alreeds die saadjie van fisiese doodslag. Nie net moet jy nie iemand fisies doodmaak nie, jy moet ook nie in jou hart 'n wrok teenoor hom koester nie. As daar onmin tussen jou en jou medemens is, moet jy die saak regmaak. Jy moet dit as die hoogste prioriteit stel om vrede te maak. In Mat. 5 v 9 hoor ons:
Geseënd is die vredemakers,
want hulle sal kinders van God genoem word.

In die tweede en derde voorbeeld handel dit oor die diepste verhouding in jou lewe. Die verhouding tussen man en vrou wat hulself in trou aan mekaar verbind het. Weereens lê die wortel van egbreuk in die mense se hart. Dit begin reeds wanneer jy met begeerlike oë kyk na iemand anders as jou huweliksmaat.

Verder behels dit dat jy jou troubelofte baie ernstig moet opneem. Jy kan nie maar net oor enige onbenulligheid van jou huweliksmaat skei nie.

Wanneer God se liefde in jou brand sal jy nie geprikkel word deur iemand anders as jou huweliksmaat nie. Wanneer God se liefde in jou brand sal jy geen rede hê om van jou huweliksmaat te wil skei nie.

Die vierde voorbeeld handel oor jou integriteit. Hoe betroubaar is jou woord? Kan jy vertrou word om te doen wat jy sê jy sal doen. Wanneer God se liefde in jou brand sal jy jou woord nakom. Dan sal jy nie 'n eed benodig om iemand te oortuig dat jy die waarheid praat nie want as jy 'n eed nodig het dan sê jy eintlik daarmee dat wanneer nie 'n eed sweer nie, dat jy nie vertrou kan word nie.

Jou optrede is die getuienis dat jy vertrou kan word. Jou lig skyn in die donker wêreld daar buite wanneer jy doen wat jy gesê het jy sal doen.

Die vyfde voorbeeld gaan oor vergelding. Wat is jou eerste reaksie wanneer iemand teenoor jou iets verkeerd gedoen het? Ek sal jou terugkry. Jy sal betaal! In die Koninkryk van God werk dit egter radikaal anders. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Die geweldspiraal moet verbreek word. Geweld moet met liefde beveg word.

Dis nie 'n maklike opdrag nie, maar dit beteken ook nie dat Christine hulself aan fisieke gevaar of mishandeling moet onderwerp nie. Dit gaan ook nie hier oor die pasifisme oorlogsdebat nie. Dit gaan ook nie daaroor dat ongeregtigheid moet seëvier nie.

Dit gaan oor wetlike verskille. Die wet het vereis dat jy jou bokleed as sekuriteit moes gee en Jesus sê hier dat jy verder moet gaan in jou geregtigheid as bloot net wat die wet vereis. Jy moet ook jou onderkleed gee. Jy moet meer doen as wat van jou verwag word.

Jy laat jou lig skyn wanneer jy gedrag verwerp wat deur weerwraak gemotiveer is. Jy moet eerder positief optree tot voordeel van jou teëstander, eerder as wat jy hom wil benadeel.

Die sesde voorbeeld handel oor liefde vir jou vyand. Wat is jou reaksie teenoor mense wat van nature geneig is om jou te haat of selfs wat jou sal mishandel en vervolg? Jou lig skyn wanneer jy radikaal anders optree deur jou vyand lief te hê. Vir hom om te gee en te werk tot sy voordeel. Maar nog meer as dit. Jy moet vir hulle bid dat God hulle harte sal verander dat hulle bekeer sal word. Wanneer dit gebeur sal daar nie meer vyandskap wees nie.

Kan ons dit volmaak regkry? Nee, geliefdes ons kan nie. Jesus is egter nie besig om ons moedeloos te maak met 'n onbereikbare ideaal nie. Hy is besig om ons uit te daag om te groei in gehoorsaamheid aan God se wil sodat ons al hoe meer soos Hy kan word. Deur die krag van die Heilige Gees en die geloof in Jesus Christus kan ons groei in geloof en gehoorsaamheid.

Is jy 'n kind van God?

Glo jy dat Jesus Christus vir jou sondes gesterf het? As jy dit glo is jy 'n ligdraer in hierdie wêreld. Laat jou lig so voor die mense skyn, dat hulle jou goeie werke kan sien en jou Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
Amen

12 Januarie 2020

Die Koninkryk van God het naby gekom


Datum: 12 Jan. 2020 GKE
Lees: Mat. 4 v 12 – 17; Mar. 1 v 14-15
Teksverse: Mat. 4 v 17 & Mar. 1 v 15



Ons het verlede week die jaar begin met die opdrag: “Soek eers die koninkryk van God en vra na sy wil.” Die koninkryk van God is een van die groot temas wat soos 'n goue draad dwarsdeur die Bybel loop. Hierdie week gaan ons verder met die tema en ons gaan so bietjie stilstaan by die vraag: “Wat beteken dit wanneer ons na die koninkryk van God verwys?” Die tema van hierdie week se preek is: “Die Koninkryk van God het naby gekom.”

Johannes se gevangeneming is die einde van sy bediening en dit lui die begin van Jesus se openbare optrede in. Met sy prediking het Johannes die voorbereidingswerk gedoen vir Jesus se optrede.

Beide Johannes en Jesus begin hulle prediking met die boodskap: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”

Wat is die koninkryk van die hemel of die koninkryk van God soos dit in die ander evangelies genoem word? Eenvoudig gestel, die Koninkryk van God is sy hele skepping waar Hy as soewereine Koning regeer. Dit sluit die fisiese sowel as die geestelike dimensie in, dit wil sê die totaliteit van alles wat bestaan. Dit begin reeds met die skepping en dit strek dwarsdeur die geskiedenis tot in die ewige toekoms in.

Kort na die skepping het daar egter 'n probleem ontstaan. Die mens het in opstand gekom teen God se gesag. Die mens het hom laat verlei deur die slang om nie God se gesag te vertrou nie. Die mens wou self die gesag hê om vir homself te besluit. Die mens wou nie gehad het dat God namens hom besluit nie. Dit is maar nog steeds die teken van ons tyd. Die mens wil outonoom wees. Niemand mag vir hom voorsê nie.

Dit het verskriklike gevolge vir die mens ingehou. Waar hy eens 'n volwaardige burger van God se koninkryk was, het hy nou 'n buitestaander geword wat nie meer toegang het tot al die voordele wat hy as burger van die koninkryk van God gehad het nie. Daar hang as te ware 'n donker wolk wat die sonskyn van die mens af wegkeer oor die koninkryk.

God as Koning laat egter nie sy koninkryk in die steek nie. Direk na die sondeval belowe Hy reeds dat daar iemand sal kom wat die vloek van die mens se opstand sal breek soos ons in Gen. 3 v 15 hoor:
Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.”

En so word hierdie belofte dwarsdeur die Ou Testament herhaal. Die Koning is op pad om die skade te herstel. Hy kom egter nie soos wat die verwagting is as 'n triomferende koning nie. Hy word as eenvoudige mens gebore en noudat Hy volwasse is bring Hy die goeie nuus: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” Die son begin deurbreek deur die donker wolke wat die mens van God vervreem het. Die koninkryk waarvan die mens homself met sy rebelse opstand vervreem het is nou weer binne bereik. Die mens kan nou weer 'n volwaardige burger word en al die voordele van burgerskap geniet.

Hoe kan dit gebeur? Jesus se oproep: “bekeer julle” is die antwoord. Die woord bekeer beteken dat daar 'n radikale verandering moet plaasvind. 'n 180 grade terugdraai van die pad waarop jy is. Die metamorfose wat 'n wurm na 'n skoenlapper ondergaan.

Hoe word hierdie verandering teweeg gebring? In Mar. 1 v 15 word dit mooi verduidelik:
“Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”
Die verandering wat jy moet ondergaan is om totaal weg te draai vanaf jou eie outonomiteit na 'n totale afhanklikheid van God se genade. Om van jouself af weg te draai na God se genade.

Om te verstaan dat dit alleen God se genade is wat jou burgerskap in ere herstel. Om te verstaan dat daar niks is wat jy kan doen om jou burgerskap te herstel nie. Dis om na God toe kom en te erken. Here ek kan nie. Ek is verlore sonder U.

Om die goeie nuus te glo dat God self gekom het om jou burgerskap vir jou terug te gee. Om die evangelie van Jesus Christus te glo. Om werklik te verstaan wat dit beteken dat Jesus gekom het om die prys te betaal. Om te verstaan dat Hy met sy lewe betaal het sodat jy weer jou burgerskap kan terugkry. Die duurste prys wat 'n mens kan betaal het Jesus betaal, naamlik met sy lewe. Om te verstaan dat hy die houvas en die mag van die dood gebreek het toe Hy die dood met sy opstanding vernietig het.

Wanneer jy dit gedoen het vind die wonder van God se genade in jou lewe plaas. Net soos die wurm in 'n skoenlapper verander, verander die Heilige Gees jou in 'n nuwe mens. 'n Nuwe mens wat nie meer sy identiteit in die dinge van hierdie wêreld soos status, rykdom soek nie. Nou bepaal wie jy is nie meer jou identiteit nie. Nee jou identiteit word nou bepaal deur wie se eiendom jy is. Jesus het jou duur gekoop deur met sy bloed vir jou te betaal en daarom is jy nou 'n Koningskind.

Geliefdes, volgens watter identiteit leef jy? Leef jy nog volgens jou ou identiteit as rebelse opstandige teen God se gesag, of leef jy volgens nuwe identiteit as 'n koningskind wat duur gekoop is deur die bloed van Jesus Christus? Hier aan die begin van die nuwe jaar is dit belangrik dat ons elkeen net so bietjie terugstaan en boeke vat van waar ek is. Wat is my antwoord op die vraag volgens wie se identiteit ek leef?

Hoe lyk my prioriteite? Is God elke dag deel van my lewe of bere ek Hom in 'n boksie en haal Hom net uit op Sondagoggende as ek lus voel? Is die kerk vir my 'n prioriteit? Is dit vir my belangrik dat die kerk sy werk doen waarvoor Christus ons geroep het? Help ek daarmee of is ek eintlik 'n struikelblok wat in die pad staan?

Is my liefde vir my broers en susters en vir my medemens tasbaar sigbaar? Lyk my lewe anders as die wêreld daar buite? As mense my van Maandag tot Saterdag dophou, sal hulle raaksien dat ek 'n Christin is?

Geliefdes die Here roep ons om eerstens te soek na die koninkryk van God en te vra na sy wil.
“Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”

Amen. 

22 November 2019

Laat die kinders tot My nader want die Koninkryk der hemele is hul erfdeel sê die Heer

Ontvang die Koninkryk van God in kinderlike afhanklikheid


Datum: 17 Nov. 2019 GKE
Mark 10:13 – 16
Teksvers: Mark 10:14 & 15



Een ding is baie seker. Kinders is vir Jesus baie belangrik. In Mat. 18 v 6 hoor ons:
 “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met ’n groot meulsteen aan sy nek in die diep see verdrink.

Jesus was verontwaardig toe sy dissipels gekeer het dat die mense kinders na Hom toe wou bring.
Maar toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het Hy vir hulle gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.

Die rede waarom Jesus se dissipels probeer keer het was omdat kinders in die tyd van Jesus, kinders nie belangrik was in die samelewing nie. Kinders is as 'n las beskou want hulle het geen bydra gelewer tot die gesin se welvaart of eer nie.

Geen ordentlike Joodse man sou in die openbaar aandag aan vrouens en kinders gee nie, veral nie 'n bekende rabbi nie. Daarom is dit nie vreemd dat sy dissipels probeer keer het dat die mense die kinders na Jesus toe bring nie.

Jesus het Homself egter nie laat bind deur die sosiale norms van sy tyd nie. Hy het gekom om die koninkryk van God binne almal se bereik te bring. Die norme van God se koninkryk is anders as die sondige wêreldse norme wat neersien op onbelangrike mense.

In God se koninkryk is daar nie onbelangrike mense nie. Die regte van die geringstes is net so belangrik soos die regte van die vooraanstaande mense in die samelewing. God gee baie om vir diegene op wie daar neergesien word. Veral die wel en wee van kinders is vir God baie belangrik.

Jesus se verontwaardiging met sy dissipels spruit voort uit se liefde vir die kinders wat die mense na Hom toe gebring het omdat die Koninkryk van God ook vir kinders bedoel is wat so maklik in die samelewing uitgesluit word.

In hierdie verhaal hoor ons weereens hoe die beeld van 'n huisgesin gebruik word om vir ons te verduidelik hoe die verhouding tussen God en sy huisgesin; dit wil sê sy kerk; moet wees.

In Mar. 13 v 15 hoor ons:
Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”
Ons hoor dat ons net soos klein kindertjies in kinderlike afhanklik en vertroue tot God moet nader.

Die koninkryk van God is daar waar God regeer in jou hart en lewe en dit gaan gepaard met al die seëninge wat daaruit voortspruit. Om die koninkryk van God te ontvang beteken om gered te word en die ewige lewe te ontvang.

Dit beteken ook dat jy God se liefde sal beleef wat die Heilige Gees in jou hart uitstort en verder nog dat die Heilige Gees jou verander om al hoe meer soos Jesus te word. Waar God in jou lewe regeer word Fil. 4:7 'n werklikheid in jou lewe:
die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Die troos hier is dat kinders wat na Jesus toe gebring word deel in al die seëninge wat die Koninkryk van God inhou. Daarom is dit so belangrik dat ouers hulle kinders na Jesus toe moet bring.

Hierdie week sien ons die sakrament van die heilige doop wat 'n sigbare teken en seël is om vir ons te wys hoe God in ons werk deur die krag van die Heilige Gees. Volgende week gaan ons met die sakrament van die Heilige Nagmaal ook sien hoe God se genade in ons werk.

Deur die doop word ons in die kerk van God opgeneem en van alle ongelowiges en vreemde godsdienste afgesonder om heeltemal sy eiendom te wees en sy merkteken en vaandel te dra.

Die teken van die Doop is water en dit wys vir ons dat net soos water vuilheid van jou liggaam afwas dat jy van jou sonde deur die bloed van Jesus skoon gewas is. Ons sien ons hoe God se genade in ons werk en dat Hy ons daarmee sy eiendom maak.

Daar is geen spesiale krag in die water wat gebruik gaan word nie. Dit illustreer maar net vir ons hoe ons deur God se genade gered word. Uitwendig sien ons die water, maar inwendig werk die Heilige Gees die geloof in ons sodat ons die evangelie glo.

Die goeie nuus dat Jesus Christus vir ons sondes aan 'n vervloekte kruishout gesterf het. Dat Hy ons sondes op Hom geneem het en dat Hy die dood oorwin het met sy opstanding en daarmee vir ons die ewige lewe gee.

Wanneer ons, ons kinders laat doop kry ons daarmee die versekering dat die genade van God ook vir ons kinders bedoel is. Daarom is dit belangrik dat julle julle kinders leer wat die betekenis van hulle doop is.

Jesus sê vir ons in Mar. 10 v 14:
Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie
Daarom is dit vir julle as ouers belangrik om te sorg dat julle, jul kinders eredienste toe bring sodat hulle ook daarin die Here kan ontmoet en leer ken. Julle moet oppas dat julle nie toelaat dat wêreldse prioriteite struikelblokke in julle kinders se pad is nie.

Die wêreld het Sondae ook nou oorgeneem en maak dit vol met buitemuurse aktiwiteite. Moenie toelaat dat dit voorrang kry bo julle en julle kinders se tyd saam met God nie. Die lewe is deesdae so gejaag dat dit maklik gebeur dat kinders so besig gehou word met wêreldse dinge dat daar nie meer tyd is vir God is nie. As jy kind in jong dae leer dat kerk nie belangrik is nie, moenie verbaas wees as hy kerklos raak wanneer hy groot word nie.

Verder is dit belangrik dat julle ook tyd maak vir huisgodsdiens sodat julle kinders kan leer dat mens elke dag saam met God deur die lewe gaan. Daarom belowe julle ook met die doop dat julle, jul kinders sal onderrig en laat onderrig. Dit is belangrik dat kinders katkisasie moet bywoon, maar katkisasie kan nie die tuis onderrig wat ouers moet gee, vervang nie.

Moenie soos die dissipels deur julle aksies keer dat julle kinders na Jesus toe kom nie. Slaan ag op sy woorde:
Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.

In Mar. 10 v 16 hoor ons dat Jesus sy arms om die kindertjies gesit het, hulle die hande opgelê en hulle geseën het. Dit is 'n wonderlike belofte wat die Here vir ons gee. Wanneer ons, ons kinders na Hom toe bring sal Hy hulle seën. Indien julle sou toelaat dat wêreldse dinge julle kinders van Jesus af weg hou, ontneem julle, jul kinders van sy seën.

Geliefdes, laat julle kinders tot Jesus nader want die Koninkryk der hemele is hul erfdeel en ontvang saam met hulle die Koninkryk van God in kinderlike afhanklikheid.

Amen