Wys tans plasings met die etiket wil van God. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket wil van God. Wys alle plasings

20 Januarie 2021

Luister na en leef volgens die voorskrifte van jou Vader in die hemel

 Spr. 1 v 8 & 9 lees Spr. 1 v 8 - 19

My seun, jy moet luister na die onderrig wat jou vader jou gee; moenie wat jou moeder jou leer, verontagsaam nie: dit sal jou lewe versier soos ’n krans jou kop en ’n kettinkie jou hals.

 This devotional is also available in English


Bybelspreuke maak God se wil bekend net soos die profete dit met Goddelike uitsprake doen en net soos die priester dit doen deur God se wet en sy voorskrifte aan die volk voor te hou.

 Iemand het op 'n keer gesê: “As jy dus wysheid oor God se wil, wil leer, lees elke dag 'n hoofstuk uit Spreuke.” Daar is 31 hoofstukke, dus 'n hoofstuk vir elke dag van die maand.

 Spreuke leer ons op 'n baie praktiese wyse, voete op grond oor hoe God wil hê dat ons moet lewe. So leer ons in vandag se gedeelte Spreuke 1 v 8 – 19 dat jy mooi moet besin oor jou jou lewenskeuses. Die praktiese voorbeeld wat hier gebruik word is die keuse om te roof en te moor. Moenie verlei word deur aanloklike praatjies om daaraan deel te neem nie, want dit beroof jou van jou gewete. Jou gesondheid en selfs jou lewe kan in die slag bly. Hierdie geld natuurlik vir enige onreg wat in die lewe gepleeg word. Dit het op die uiteinde net nadelige gevolge.

 Ons sondige natuur wil graag bogenoemde verkeerde keuses maak. Om die regte keuse te maak, moet jy soek na die wil van God. Jy kan dit alleen doen wanneer jy in Jesus Christus glo as jou enigste Verlosser en Saligmaker sodat jy deur die Heilige Gees weer gebore kan word.

 Wees 'n kind van die HERE. Bely dat jy verlore is weens jou sonde en elende. Glo dat Jesus Christus jou Verlosser en Saligmaker is. Luister na en leef volgens die voorskrifte van jou Vader in die hemel.

Amen


05 Januarie 2020

Beywer julle allereers vir die koninkryk en wil van God.


Son 5 Jan 2020 (GKE)

Skriflesing: Mat. 6 v 25 – 34
Teksvers Mat. 25 v 33




Die nuwe jaar het reeds met 'n drafstap begin. Wat gaan die jaar wat voorlê vir ons inhou? Daar is reeds uit linkse politieke groepe dreigemente dat die registrasieproses by universiteite ontwrig gaan word. Die wetgewing om onteiening sonder vergoeding te doen is reeds in 'n gevorderde stadium en sal heel waarskynlik in hierdie jaar deurgevoer word. Eskom het al weer kennis gegee dat beurtkrag moontlik weer toegepas gaan word.

Al hierdie bekommernisse het 'n negatiewe invloed op die ekonomie en dit kan bydra dat die krediet agentskappe ons land se krediet status nog verder afgradeer? Al hierdie onsekerhede laat mens wonder oor hoe dit alles ons persoonlik gaan raak? Gaan die maatskappy vir ek wie werk hierdie ekonomiese storms oorleef en gaan ek nog 'n werk hê? Hoe gaan ons oorleef in hierdie komende jaar?

Wat sê die Here vir ons oor al hierdie onsekerhede wat ons so bekommerd maak? In Mat. 6 v 25 tot 32 hoor ons:
25“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? 26Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? 27Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? 28En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. 29Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. 30As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?
31Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. 32Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.
Hierdie verse beskryf die mens se beheptheid met materiële dinge. Dit beskryf inderdaad die leefwêreld van ons tyd. Die fisiese materiële dinge kan so maklik jou fokus in die lewe word en hier sê die Here vir ons dat dit 'n verkeerde fokus is. Wanneer dit jou fokus is, word God uit die prentjie geskuif.

In ons teksvers Mat. 6 v 33 gee die Here vir die regte perspektief waarop ons moet fokus:
beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.
Die hele hoofstuk van Mat. 6 handel oor jou intieme verhouding met God en wat dit vir jou beteken. Hier in ons teksvers hoor ons dan dat ons, ons moet beywer vir die koninkryk en wil van God.

Dit bring die vraag na vore: “het ek deel aan die koninkryk van God?” Die enigste manier hoe jy kan deel in die koninkryk van God is om die evangelie te glo. Jy moet glo dat Jesus vir jou sondes aan 'n vervloekte kruishout gesterf het en dat Hy met sy opstanding vir jou 'n nuwe lewe saam met God gee.

Hier gee die Here vir ons die perspektief van wat dit beteken om te deel te hê aan die koninkryk van God. Om deel te hê aan die koninkryk van God beteken om jou bekommernisse vir God te gee in die sekere wete dat Hy jou sal versorg.

Beywer julle allereers vir die koninkryk en wil van God. Hiermee nooi die Here ons uit om al ons bekommernisse en onsekerhede vir die jaar wat voorlê aan Hom te gee en dan gee Hy vir ons die belofte dat Hy vir ons sal sorg. Inderwaarheid kan ons sê dat God ons uitnooi om dit ons nuwejaarsvoorneme te maak. Beywer julle allereers vir die koninkryk en wil van God.

Die vraag is nou: “Hoe doen jy dit prakties? Hoe moet jy maak om jou vir die koninkryk en wil van God te beywer? In die eerste plek beteken dit dat jy jou fokus op God moet plaas deur te glo in die evangelie van Jesus Christus.

Dit beteken ook dat jy plek en tyd vir God in jou lewe moet maak. Maak tyd om na Hom te luister deur tyd saam met Hom in sy woord te spandeer. Maak tyd om eredienste by te woon. Jou erediensbywoning is vir jou 'n goeie aanduiding tot watter mate jy aan God se wil gehoorsaam wil wees. Vgl. Heb. 10:25 waar die Here vir ons sê:
Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.

Maak tyd om met Hom te praat in gebed. Nie net 'n vinnige gebed voor jy gaan slaap nie. Die Here sê vir ons in Ef. 6:18 bid gedurig vir al die gelowiges. Bid vir mekaar. Gebed gaan nie net om vir God te vra wat ons wil hê nie. Dit gaan daar om vir God te vra wat sy wil in jou lewe is. Maak tyd om te bid.

Beywer jou vir die koninkryk en wil van God beteken om Hom te vertrou. Om te vertrou dat Hy sy woord gestand sal doen. Om te vertrou dat Hy jou nooit alleen sal laat nie. Om te vertrou dat Hy vir jou alles sal gee wat jy nodig het. Om te vertrou dat Hy alles wat gebeur ten goede sal laat meewerk soos Hy in Rom. 8:28 belowe. Om te glo en vertrou dat niks jou van sy liefde sal skei nie soos Hy ons in Rom. 8 v 38 & 39 belowe.

Dit beteken ook dat ons sal verstaan dat God weet wat ons nodig het en dat dit dikwels verskil van wat ons dink ons nodig het. Dit beteken dat ons, ons belydenis van Sondag 10 van die Heidelbergse Kategismus sal leef deur te glo dat die almagtige en oralteenwoordige krag van God waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.

Dit beteken dat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar sal wees. Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader sal stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie

Om jou te beywer vir die koninkryk en wil van God beteken dat ons gehoorsaam sal wees wanneer Hy vir ons sê dat ons mekaar moet liefhê soos ons in Joh. 10 v 34 & 35 hoor.

Dit beteken die koninkryk van God sigbaar sal word in ons leefwyse. Dit beteken dat ons ligdraers in die wêreld sal wees deur ons roeping uit te leef om dissipels te gaan maak en hulle deur ons voorbeeld sal leer om alles te onderhou wat Jesus ons beveel het.

Dit beteken dat ons, ons nie sal laat oorweldig deur bekommernisse van wat moontlik in die toekoms kan gebeur nie. Dit beteken dat ons die nuwe lewe wat Christus vir ons gegee het sal leef.

Geliefdes, gaan die nuwe jaar tegemoet sonder kommer met die wete dat God vir jou sal sorg. Beywer jou vir die koninkryk van God en vra na sy wil.

Amen