07 Januarie 2013

Geloof gee aan ons verlede betekenis en hoop vir die toekoms


30 Des. 2012 (RB)
2 Tim. 4 v 6 – 18 Teksverse 2 Tim. 4 v 7 & 8a
Sing    Lofsang:    Ps. 9 v 1 & 7          (OAB)
           Na wet:       Ps. 38 v 1               (OAB)
           Na gebed   Ps. 20 v 1               (OAB)
           Slotsang     Ps. 23 v 1 & 2        (OAB)

Inleiding
Hier teen die einde van die jaar kyk ons terug na die jaar wat verby is en ons kyk ook vorentoe na die jaar wat vir ons voorlê. In hierdie tweede brief wat Paulus aan Timoteus skryf om hom uit sy dodesel te bemoedig kyk hy ook terug oor sy lewe en kyk hy vorentoe vir dit wat vir hom voorlê. Hiermee wil Paulus dan vir Timoteus bemoedig vir die pad wat voorlê en gee die Here aan ons ook perspektief wanneer ons vorentoe kyk vir dit wat vir ons voorlê.

Uit ons teksverse is daar twee aspekte waarop ons gaan fokus, naamlik:
’n Terugblik op die verlede en ’n vorentoe blik oor hoe om die toekoms te benader.

’n Terugblik op die jaar wat verby is
In ons teksgedeelte hoor ons die afskeidsgroet van Paulus kort voor sy teregstelling. Dit is ’n aangrypende openbaring van triomf van die genade in die lewe van die kind van God. Ons kan dit inderdaad as ’n oorwinningslied uit die dodesel beskryf. Paulus is vir ’n tweede keer in die tronk en hierdie keer is daar nie hoop dat hy vrygelaat gaan word nie soos in 2 Tim 4:6 hoor:
Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur.

Die beeld wat hier gebruik word is ’n beeld uit die offervoorskrifte van die Ou Testament. Die drankoffer is die laaste deel van die hele offerproses. Met hierdie beeld verduidelik Paulus dat mens se hele lewe aan die Here gewy moet word, veral die laaste deel van jou lewe. In die kerk van die Here tree mens nie af nie, maar moet jy enduit volhou soos wat ons dan ook in 2 Tim 4:7 hoor:
Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou.

Paulus gebruik hier ’n beeld waarin hy sy lewenspad met ’n wedloop vergelyk. Uit dit wat Paulus hier sê is dit duidelik dat hierdie wedloop nie maklik was nie. As ons terugkyk na die lewenspad wat ons die afgelope jaar geloop het is ek seker dat elkeen van ons sal kan getuig dat dit beslis nie maklik was nie. Dit is veral die geloofswedloop wat soms bitter moeilik was. Hoeveel keer het ons nie geval wanneer versoekings oor ons pad gekom het nie? Elkeen van ons weet waar die swakplek in ons geloofsmondering is. Een van die groot struikelblokke is dat ons nie altyd vertrou dat God ons sal dra nie. Het dit nie ook maar telkemale die afgelope jaar gebeur nie?

Uit Paulus se getuienis is dit duidelik dat hy die wedloop nie in eie krag voltooi het nie. Hy het die wenstreep bereik omdat hy deur sy geloof gedra is. As ons so terugkyk dan kan ons ook maar net getuig dat God ons deur die genade van geloof gedra het. As ons na die laagtepunte, daardie benoude tye van die afgelope jaar kyk, dan is een ding duidelik, God het ons gedra! Daardie keer toe ek nie meer kans gesien het nie, het God my gedra. Daarom is ek nou hier.

Dit is egter ook belangrik dat ons moet raaksien hoe God ons deur die goeie tye die afgelope jaar gedra het. Ons moet sy seënende hand raaksien in ons lewens. Wanneer Paulus sê dat hy die goeie stryd gestry het en die wedloop voltooi het, bedoel hy dat hy enduit die Here se genade in sy lewe raakgesien het en dat hy enduit op die Here vertrou het om hom te dra in sy roeping waarvoor die Here hom geroep het.

Wanneer ons terugkyk oor die afgelope jaar dan sien ons hoe die Here ons deur die goeie en swaar tye gedra het.

Kyk vooruit na die toekoms
Met die nuwe jaar wat hier vlak voor ons lê kyk ons ook vooruit na die toekoms. Wanneer Paulus vorentoe kyk dan sien hy dat die oorwinnaarskroon , dit wil sê die lewe by God op hom wag. Hierdie oorwinnaarskroon is ’n uitbreiding op die wedloopbeeld wat hy gebruik. By die atletiekbyeenkomste van destyds is ’n lourierkrans aan die wenners oorhandig. Dit het dan ook die draer van die lourierkrans sekere voordele gegee soos eerbewyse, gratis etes en uitnodigings na vername persone se huise.

So word die oorwinnaarskroon hier dan ook as ’n beeld gebruik om die ewige lewe saam met God aan te dui. Die heerlikheid van die ewige lewe, waar die gelowige verlos word van die gevolge van die sondige wêreld is die finale fase hiervan. Die wonderlike troos is dat die ewige lewe nou reeds begin deurdat ons deur ons geloof kan vashou aan God se genade ook in hierdie lewe totdat ons Here Jesus Christus weer kom op die wolke soos Hy beloof het. Wanneer ons terugkyk dan sien ons dat God ons gedra het en dit is deel van die ewige lewe saam met God. Dit is wat vir ons hoop gee wanneer ons vorentoe kyk vir die jaar wat voorlê.

Die wonderlike troos is dat hierdie oorwinnaarskroon vir my ook bedoel is soos ons 2 Tim. 4:8 hoor:
Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.
Die sleutel om hierdie oorwinnaarskroon te ontvang is geloof. Paulus het gelowig end-uit volgehou om te vertrou op die Here. Dis my geloof wat vir my hoop gee vir die toekoms, my geloof in Jesus Christus, dat Hy vir my sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het en dat Hy vir my die lewe gee met sy oorwinning van die dood. Geloof dat ek op grond daarvan die oorwinnaarskroon van die ewige lewe kry. Geloof dat God my sal dra deur die jaar wat voorlê.

Wat beteken die oorwinnaarskroon van die ewige lewe vir my? Paulus was in die tronk met die sekere wete dat sy dood ophande was. Die laksman kan enige oomblik kom om die doodsvonnis te voltrek. Ten spyte daarvan dat ons nie in die tronk sit met ’n doodsvonnis wat oor ons koppe hang nie is ons in ’n sekere sin in dieselfde situasie as wat Paulus was. Nie een van ons weet wat die dag van more vir ons inhou nie. Tog het Paulus nie in sak en as gesit nie. Hy het nog steeds vir die toekoms beplan sodat hy elke oomblik wat hy op aarde was voluit kon leef.

Omdat hy weet dat God met hom is en hom dra gaan hy steeds aan met die lewe. Hy hanteer die krisis van Demas se vertrek en reël dat die werk deur medewerkers voortgaan soos ons hoor in die gedeelte van vers 9 tot 18. Ten spyte daarvan dat ons nie weet wat die komende jaar vir ons inhou nie, kan ons steeds volgens die beginsels wat hier gegee word gereed maak daarvoor. Ons moet end-uit voluit werk. Ons moet sorg dat die werk van die Here, dit wil sê die uitbouing van sy Koninkryk voortgaan.

Die opmerkings wat Paulus oor sy teenstanders en diegene wat hom in die steek gelaat het maak, leer ons dat ons die vergelding aan God moet oorlaat. Daar waar mense in die jaar wat voorlê vir ons ’n struikelblok gaan wees, moet ons nie wraak neem nie, maar die oordeel aan God oorlaat. Die oorwinnaarskroon van die ewige lewe stel ons in staat om Paulus se belydenis in 2 Tim. 4:18 ons eie te maak:
Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer toe tot in alle ewigheid!
Ons moet weet dat God se beskerming baie wyer strek as net die beskerming teen fisiese gevaar. Daar waar die Here fisieke gevaar in ons lewens toelaat moet ons vertrou dat Hy steeds in beheer is met die wete dat Hy ons geestelike redding en veilige aankoms in die hemelse koninkryk verseker .Ons moet met geloof vashou aan sy belofte dat niks ons van sy ewige liefde sal skei nie. Wanneer ons aan die jaar wat voorlê dink, kan ons verseker weet dat God ons sal dra vir die jaar wat voorlê.

Slot
Deur ons geloof weet ons dat God ons in die verlede deur goeie en slegte tye gedra het. Alhoewel ons nie weet wat in die toekoms vir ons wag nie, kan ons weet dat die Here ons sal dra sodat ons end-uit kan volhou. Ons geloof gee aan ons die vaste vertroue dat God ons deur die onsekerhede van die jaar wat voorlê sal dra en dat niks ons van sy liefde sal kan skei nie.

Geliefdes kom ons pak die jaar wat voorlê in geloof aan sodat ons aan die einde daarvan ook kan sê:
Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou.  Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking