07 Januarie 2013

As die HERE nie saamgaan nie, durf ons nie 2013 aanpak nie!


6 Jan. 2013 (RB)
Eks. 33 Teksvers Eks. 33:15
Sing    Lofsang:  Ps. 8 v 1 & 4          (OAB)
           Na wet:     Ps. 119 v 11          (OAB)
           Na gebed Ps. 116 v 1 & 7     (OAB)
           Slotsang   Ps. 32 v 1 & 3       (OAB)

Hier aan die begin van 2013 lê die hele jaar nog voor ons uitgestrek. In ons beplanning vir die jaar wat voorlê moet ons onself afvra: “Is die teenwoordigheid van die HERE deel van ons beplanning vir die jaar wat voorlê of nie?”

Israel was ook op reis na die beloofde land en hulle het voor die harde werklikheid te staan gekom dat die HERE nie die reis sou meemaak nie as gevolg van hulle moedswillige eiewilligheid om hulle eie kop te volg soos ons hoor in Eks.33:3:
Julle is so ’n moedswillige volk dat Ek nie sal saamtrek na hierdie land wat oorloop van melk en heuning nie, want dan verdelg Ek julle op pad daarheen.

In Eks 32 hoor ons hoe die volk in weerwil van die HERE se opdrag eiewillig ’n goue kalf gemaak het om te aanbid. Die HERE kan nie in ’n beeld vasgevang word nie, maar nogtans wou hulle ’n sigbare beeld hê wanneer hulle aanbid. Nou staan hulle voor die verskriklike werklikheid dat hulle sonder die HERE verder moet trek na die beloofde land toe! Selfs in hierdie aankondiging van die HERE skyn sy genade soos ’n helder lig op ’n donker aand. Die HERE wil nie saamtrek nie want die volk se sonde sal sorg dat hulle verdelg word. Hierin sien ons ook die karakter van God duidelik raak. Hy is regverdig en genadig. Hy is regverdig en daarom moet Hy die sonde straf. Hy is genadig omdat Hy sy volk verlos van hulle sondes.

Dit is juis hierdie aspek wat in vandag se tyd baie onpopulêr is. Die mensdom wil nie hoor van ’n regverdige God nie, dit wil sê hulle wil nie hoor van God se oordeel oor die sonde nie. Hulle wil net hoor van ’n liefdevolle, genadige God en maak enige sprake van God wat sonde straf as veroordelend af. Die ironie van die saak is egter dat as God nie regverdig is nie, is daar GEEN genade nie! God is heilig, dit wil sê sonder sonde en daarom moet die sonde uitgedelg word. As God sonde verdra het deur dit nie te straf nie en maar net te verskoon, dan sou ons vir ewig in sondige gebroke wêreld moes leef.

Dit is op hierdie punt waar die volk met ’n groot dilemma sit. Hulle kan nie sonder God die beloofde land intrek nie, maar as gevolg van hulle sonde staar vernietiging hulle in die gesig as God wel saamgaan. Sonde het ’n geweldige effek op ons en dit dra verskriklike gevolge. Die volk moet God se teenwoordigheid ontbeer. Sonde bring verwydering tussen die mens en God en eindig in die dood soos uitgebeeld word deur die 3000 Israeliete wat gesterf het op daardie dag (vgl. Eks. 32:28). Die straf vir sonde is die ewige dood waar die mens ewig verwyder word uit die teenwoordigheid van God.

Moses besef hierdie dilemma van die volk en daarom tree hy namens die volk in by God. Hy is selfs bereid om in hulle plek die straf vir die sonde te dra soos ons hoor in Eks. 32:31-32:
Moses het toe na die Here toe teruggegaan en gesê: “Hierdie volk het ’n ernstige sonde gedoen deur vir hulle ’n god van goud te maak. Vergewe tog hulle sonde. As dit nie kan nie, moet U my naam maar uitvee uit die boek wat U geskrywe het.”
Moses pleit by God en hy rig self buite die laer ’n tent van ontmoeting op waar hy vir die volk kan intree by God. Die HERE luister na Moses daarom vra Hy vir Moses “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?” soos ons hoor in Eks 33:14

Is die dilemma van die volk nie maar ook ons dilemma nie? Ons durf nie 2013 binnegaan sonder God nie, maar as gevolg van ons sonde sal die teenwoordigheid van God ons vernietig! Moses het vir die volk ingetree by God en daarmee het hy na Jesus Christus heengewys. Moses kon nie die finale prys betaal soos wat hy bereid was om te doen nie, omdat hy ook maar net ’n sondige mens was. Sy bereidwilligheid om die prys vir sonde te betaal wys heen na Christus wat die volle prys betaal het. vgl. Joh. 10:17 – 18:
“Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het.”

Christus het die finale prys betaal sodat daar versoening tussen God en die Israeliete kon wees sodat hulle saam met God kon trek na die beloofde land toe en dat Hy saam met hulle in die beloofde land was. Christus het ook die prys betaal sodat ons weer met God versoen kon word.

Wat beteken dit om weer met God versoen te wees? Moses se begeerte om die heerlikheid van God te aanskou wys vir ons wat dit beteken. Hy stel nie belang in die gawes of voordele wat dit sal inhou as God saam met die volk trek nie. Sy begeerte is om in die heerlike teenwoordigheid van God te wees. Wanneer mens die teenwoordigheid van God geniet dan geniet mens outomaties die gawes van God, maar die gawes is nie die hoofsaak waaroor dit gaan nie.

As ons 2013 aanpak saam met God moet ons dit nie om die verkeerde redes doen nie. As ons hoofverwagting is dat ons 2013 wil deurmaak saam met God omdat ons verwag dat Hy al die struikelblokke uit die weg moet ruim en vir die voordele wat dit sal inhou doen ons dit vir die verkeerde redes! Dan wil ons God eintlik net gebruik vir ons eie selfsugtige behoeftes. Die doel moet wees om 2013 deur te gaan saam met die mees wonderlike Wese wat daar is omdat Hy ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is, is!

Hoe gaan ons 2013 saam met God in? Deur in geloof vas te hou aan die soenoffer van Jesus Christus wat ons voorspraak by God is. Kom ons soek God se teenwoordigheid in alles wat ons in 2013 aanpak. Laat ons leuse vir 2013 wees “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie”, want as die HERE nie saamgaan nie, durf ons nie 2013 aanpak nie!
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking