Joh. 20 v 19-31; teksvers Joh. 20 v 31
04 Mei. 2014 GKE
Lof-Psalm Ps. 42 v 1 & 7(OAB)
Na Wet Ps. 103 v 2 (OAB)
Na Gebed Ps. 9 v 1 & 7 (OAB)
Slotsang Ps. 42 v 2 & 3 & 5
Inleiding
Sien is glo. Dit was Tomas
se benadering tot die lewe. Hiermee het Tomas dan ook die bynaam gekry van
ongelowige Tomas. Ongeloof! Hoe dikwels sukkel ons nie ook maar self daarmee
nie? Dis gewoonlik nie iets wat ons maklik openlik erken nie, maar dit is daar
om ons te treiter. Daardie stemmetjie hier in die agterkop: “jy kan God nie
vertrou nie!” Ons erken dit nie maklik nie, maar dit maak nie dat dit makliker
is nie. Inteendeel, dit maak die hele saak net moeiliker!
Wat maak ’n mens wanneer
hierdie twyfelstorms binne jou gemoed woed? In hierdie verhaal van Tomas se
twyfelstorms sien ons hoe onbeholpe mense reageer wanneer die twyfelstorms van
ongeloof toeslaan en aan die ander kant sien ons God se genade en liefde midde
in die twyfelstorms van ongeloof. Wanneer geloofstwyfel oor ons pad kom dan lei Jesus ons op die pad van ongeloof tot
geloof.
Die mens se onbeholpenheid binne die twyfelstorms van die lewe
Tomas beleef seker een van
die grootste krisisse in sy lewe met Jesus se kruisdood. Vir drie jaar het hy
Jesus gevolg. Hy was self bereid om vir Jesus te sterf soos ons in Joh. 11v16
hoor toe Jesus na Lasarus toe gegaan het en die dissipels bang was vir die
Jode:
Tomas, wat
ook Didimus genoem is, sê toe vir die ander dissipels: “Kom ons gaan ook, sodat
ons saam met Hom kan sterwe.”
En nou is Jesus dood. Al die
hoop wat hulle gekoester het dat Jesus hulle sou verlos is nou daarmee heen.
Tomas het sy vertroue in Jesus verloor. Hierdie teleurstelling was vir hom net
een te veel. Daarom sonder hy homself ook eenkant af van die ander dissipels.
Daarmee mis hy die eerste geleentheid om die opgestane Here te sien. Maak ons
nie ook dikwels so nie? Een of ander gebeurtenis in ons lewens veroorsaak dat
dit vir ons voel dat die Here ons in die steek gelaat het. Nou begin die
twyfelstorms van ongeloof in ons binneste woed. Daardie stemmetjie wil net nie
stilbly nie “Jy kan die Here nie vertrou nie!” En wat maak ons? Ons vermy ons
broeders en susters in die geloof. Ek sien nie kans om kerk toe te gaan nie.
Wat doen ons wanneer ons
geloofsgenote ons wel opsoek? Ek stel onredelike voorwaardes en glo nie wat
hulle vir my sê nie! Ons maak maar net soos Tomas gemaak het (vgl Joh. 20v25)
Die ander
dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!”
Maar hy sê
vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger
in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit
glo nie.”
Vol opgewondenheid kom die
ander dissipels by Tomas met die goeie nuus dat Jesus opgestaan het, maar hy
weier om hulle te glo. Die dissipels het ook aanvanklik gesukkel met ongeloof.
Jesus het verskeie male vir hulle gesê dat Hy weer gaan opstaan uit die dood
uit. Toe die vroue egter by hulle kom en hulle vertel dat Jesus opgestaan het
en dat sy graf leeg is, het hulle ook nie geglo nie soos ons hoor in Luk.
24v11:
Maar vir
hulle het hierdie verhaal na onsin gelyk en hulle het die vroue nie geglo nie.
Dit was dus nie net Tomas
wat ongelowig was nie, maar die ander dissipels ook. Een of ander tyd beleef
elkeen van ons ’n geloofskrisis. Die genade van die Here is egter dat Hy nie sy
rug op ons draai nie. Kort na sy opstanding verskyn Jesus aan sy dissipels maar
Tomas was nie daar nie. Wanneer ons onself afsonder van die geloofsgemeenskap
dan verbeur ons die geleentheid om die Here te ontmoet.
Wat doen ons in tye van
geloofskrisisse? Ons sonder ons af en ons stel onredelike verwagtings. Ons
draai weg van God af en vertrou Hom nie meer nie. Ons glo nie meer nie.
Daardeur mis ons die heerlike teenwoordigheid van ons Here.
Aan die ander kant betoon
die Here eindelose genade en geduld met ons, want
God betoon sy genade en liefde midde in die twyfelstorms van ongeloof
Jesus verskyn aan sy
dissipels en Hy herstel hul geloof. Die gevolg is dat hulle blydskap ervaar
soos ons hoor in Joh. 20v20:
Die
dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.
Die Here doen nog meer. Hy
stuur die Heilige Gees as Trooster om ewig by ons te bly soos Hy belowe het in
Joh. 14v16-17:
16 Ek sal die Vader vra, en Hy
sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17
naamlik die Gees van die waarheid.
In Joh. 20v22 word hierdie
belofte nagekom:
Nadat Hy
dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees!
Hy betoon eindelose geduld.
Alhoewel Tomas die eerste geleentheid gemis het, is daar tog weer nog ’n
geleentheid soos ons hoor in Joh. 20v26&27:
26 Ag dae later was Jesus se
dissipels weer bymekaar, en Tomas was by julle. Hoewel die deure gesluit was,
het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!”
27 Daarna sê Hy vir Tomas:
“Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my
sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”
Die Here kom nie met verwyte
en beskuldigings nie. Hy kom met liefde en geduld en daardeur herstel Hy ons
geloof. Tomas het ’n absolute voorwaarde gestel voordat hy sou glo (Vgl. Joh.
20v25b):
“As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my
vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek
nooit glo nie.”
Die Here wys egter dat dit
nie ons voorwaardes is wat geloof bring nie, maar dat dit die opgestane Jesus
is soos ons hoor in Joh. 20v28:
En Tomas
sê vir Hom: “My Here en my God!”
Toe Tomas die Here ontmoet
het, het hy dadelik geglo sonder dat hy die spykermerke gevoel het soos hy
vereis het.
Ons wil ook dikwels allerlei
“bewyse” hê vir God se genade. Ons stel so dikwels voorwaardes wat gerig is op
ons eie selfsugtige behoeftes. Wil ons nie ook die voorreg van die dissipels hê
om God te sien nie? Het u al ooit gewonder hoe dit sou wees om die Here van
aangesig tot aangesig te sien? Dit is egter nie nodig nie. Die Jode het Jesus
ook in lewende lywe gesien en hulle het nie geglo nie. Ons ontmoet die Here
deur sy Woord en die Heilige Gees wat Hy gestuur het om ewig by ons te bly. Ons
het nie nodig om die Here fisies te sien nie soos Hy ook vir sê in Joh. 20v29:
Toe sê
Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo. ”
Wat wel nodig is, is dat ons
moet glo (vgl. Joh. 20v27)
moenie
langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.
Die dissipels het Jesus
gesien en geglo, maar vir ons wat na hulle kom het die Here ’n ander pad tot
geloof bepaal soos hy in Rom. 10v14 vir ons sê:
Maar hoe
kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as
jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat
preek?
Die Heilige Gees werk die
geloof in ons harte deur die Woord van die Here en die verkondiging daarvan.
Wanneer die geloof in Jesus wat opgestaan in ons harte begin brand dan kom ons
ook soos Tomas tot die belydenis dat Jesus ook my Here en my God is.
Wat is die inhoud van ons
geloof? Die Here sê vir ons in Joh. 20v31:
Maar
hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is,
die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.
Ons moet glo dat Jesus ons
Verlosser is en dat Hy die Seun van God is. Daardeur verkry ons die ewige lewe.
Slot
Geliefdes ons reaksie op die
twyfelstorms van ongeloof is om van die Here weg te draai. Sy reaksie is om ons
op te soek deur sy Woord en Prediking en daardeur lei Hy ons op die pad van
ongeloof tot geloof. Maak dus tyd om na die Here te luister deur besig te wees
met sy Woord deur Bybelstudie en deur te luister na die verkondiging daarvan.
Amen.