Die
lewe is vir my Christus en die sterwe wins
1
Kor. 15 teksverse 55-58
27 Apr. 2014 GKE
Lof-Psalm Ps. 92 v 1 (OAB)
Na Wet Ps. 38 v 1 (OAB)
Na Gebed Ps. 42 v 1 (OAB)
Slotsang Sb. 1-1 v 1 & 2 (Sb 24 in ou
Swart Ps. boek)
Vooraf
1 Kor. 15 is die
omvattendste gedeeltes in die Bybel wat oor die opstanding handel. Ons gaan
vanoggend by die slotgedeelte van hierdie hoofstuk stilstaan waar die betekenis
van die opstanding vir ons lewens nou saamgevat word.
Inleiding
Daar sal ’n tyd kom
wanneer ons glo dat ons nou by die einde is. Dit sal die begin wees. Daardie
Vrydag toe Jesus gekruisig is het sy volgelinge gedink dit is die einde. Alles
waarvoor hulle gehoop het, het tot ’n einde gekom. Dit was alles tevergeefs.
Die man waarop hulle hul hoop geplaas het is nou dood. Kan u uself indink hoe
verslae Jesus se volgelinge moes gewees het toe hulle Hom daar aan die kruis
sien hang het? Jesus het wel vir hulle verskeie kere vertel wat die verloop van
gebeure sou wees, maar hulle het nie verstaan nie. Dit het vir hulle gevoel of
die magte van die bose oorwin het.
In ’n sekere sin is ons
lewens ook baie soos hulle sin. Ons het gehoor van die krag van die Jesus se
opstanding, maar ons verstaan dit nie eintlik nie. Ons het verlede naweek
Paasfees gevier waar ons terugdink het aan die betekenis van Jesus se
kruisiging en sy opstanding. En wanneer Paasfees verby is, wat dan? Hoeveel van
ons leef maar net voort asof die gebeure 2000 jaar gelede tydens die Joodse
Paasfees nooit plaasgevind het nie! Ons gaan maar net aan met ons lewens soos
voorheen. Ek is nog steeds nie bereid om te vergewe nie. Ek wil nog steeds ten
alle koste wraak neem. My eie selfsugtige belange dra nog steeds ’n groter
gewig as medemenslikheid.
Lewe in die plek van dood
As dit waar is in my lewe
dan besef ek nog nie watse groot verandering Christus se opstanding meegebring
het nie. Jesus se opstanding is diè belangrikste aspek van ons geloofslewe soos
ons ook hoor in 1 Kor. 15:14
En as
Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook
sonder inhoud.
Daarom kan ons nie maar
net ongeërg voortgaan asof Jesus se opstanding maar net ’n teoretiese saak is
wat geen impak op my lewe het nie.
Jesus se opstanding
verander ons swakheid in krag. God bring groot dinge tot stand deur klein
mense. Dit wat soos ’n neerlaag gelyk het verander God in ’n oorwinning. God
gebruik alledaagse mense soos ek en jy om sy Koninkryk te bou. Die rede waarom
ons dit kan doen is omdat die mag van die ewige dood gebreek is. Met sy
opstanding het Jesus die angel van die sonde gebreek en daarom het dit nie meer
mag oor ons nie soos ons hoor in 1 Kor. 15:54 & 55
“Die
dood is vernietig, die oorwinning is behaal.”
“Dood,
waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”
Die geestelike doodsheid
wat maak dat die mens na binne gekeer is waar net die eie ek van belang is, is
oorwin. Daarom kan ons nou die lewe leef wat God vir ons beplan het. Daarom is
ons nie meer bang vir dit wat anderkant die liggaamlike dood wag nie, want ons
weet dat God daar is. In die plek van die dood het God vir ons lewe gegee soos
ons hoor in 1 Kor. 15:56
Maar ons
dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.
Leef die lewe wat God vir
ons gegee het
1 Kor. 15 word afgesluit
met ’n opdrag om die lewe te leef wat God vir ons gegee het soos ons hoor in 1
Kor. 15:58
Daarom,
liewe broers, wees standvastig , onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van
die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie
tevergeefs is nie.
Wees standvastig: Met ander woorde staan
stewig. God is daar en daarom kan ons vas staan wanneer die lewe moeilik raak.
Omdat ons nie uit eie krag werk nie, maar uit die krag van die Heilige Gees wat
altyd by ons is, word ons nie vernietig deur die aanslae van die lewe nie. Dit
beteken nie dat die lewe nie moeilik sal wees nie. Dit beteken wel dat God ons
sterk maak om die lewe te hanteer wanneer dit moeilik raak. Dit beteken dat ons
sterk staan wanneer ons teenkanting kry omdat ons die werk van die Here doen.
Wees onwankelbaar: Met ander woorde ons
staan sterk in die geloof. Ons bly glo in die waarheid en ons laat nie toe dat
ons geloof ondermyn word nie soos byvoorbeeld wanneer die mense met ’n sekulêre
denkraamwerk sê dat wonderwerke nie kan plaasvind nie en dat Jesus nie werklik
uit die dood uit opgestaan het nie, dan bly ons glo in die waarheid van God se
Woord. Wanneer die sekulêre wêreld sê dat Jesus maar net ’n mitiese figuur is
en dat Hy nie waarlik geleef het nie, bly ons glo dat Hy God is wat werklik
mens geword het.
Ons bly glo dat die Bybel
die Woord van God is en dat dit nie maar net stories is wat deur mense
uitgedink is nie. Wanneer die lewe moeilik raak dan hou ons steeds moed omdat
ons God vertrou. Al verstaan ons nie rede vir sekere gebeurtenisse in ons lewe
nie, vertrou God nog steeds. Al sien ons nie dadelik die resultaat van ons werk
in God se Koninkryk nie, vertrou ons steeds dat God weet wat Hy doen en dat Hy
besig is om deur ons swakheid sy doel te bereik.
Wees altyd oorvloedig in
die werk van die Here: Met ander woorde, werk met ywer in God se Koninkryk. Hou
aan om sy liefdesgebod teenoor alle mense uit te leef. Hou aan om vir mense van
God se genade, dit wil sê die goeie nuus van Jesus Christus te vertel deur ons
leefwyse en ook deur ons woorde. Wees betrokke in die gemeente waar God my
geplaas het. Dra mekaar se laste. Wees daar vir my broers en susters in die
geloof. Wees ’n steunpilaar vir hulle wat swaarkry. Deel in mekaar se vreugdes.
As die Here my roep om as ampsdraer te dien, doen ek dit.
Ons kan bogenoemde
opdragte uitvoer omdat ons weet dat ons inspanning nie tevergeefs is nie. Die
werk wat ons vir God doen is nie sonder resultate nie en ons weet dat God sy
doel bereik deur die werk wat ons doen, hoe gering dit ook al mag wees. Wanneer
ons glo dat Christus deur sy dood en opstanding die mag van die sonde gebreek
het, weet ons dat ons werk in God se Koninkryk is nie tevergeefs nie.
Slot
Jesus Christus se
opstanding is nie net ’n storie wat ons tydens Paasfees weer onthou nie. Dit is
die krag waaruit ons elke dag leef. God gee aan ons die oorwinning oor die dood
deur ons Here Jesus Christus, leef daarom elke dag uit die krag van daardie
oorwinning! Getuig saam met Paulus: “Die lewe is vir my Christus en die sterwe
wins”
Amen