Wys tans plasings met die etiket majesteit. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket majesteit. Wys alle plasings

29 Junie 2014

Die hemel getuig van die mag van God en sy volmaakte woord gee lewe

22 Jun. 2014 GKE
Ps. 19 tv’e 2,8 Rom. 1:20-21
Ps. 19-2:1 & 3
Ps. 19-2:4
Ps. 19-2:5
Sb 2-2:1-3

Inleiding
Wat is dit wat ons die graagste in hierdie lewe wil hê? Is dit nie dat my lewe iets moet beteken nie? Aanvaarding is ’n diepgewortelde soeke by elke mens. My lewe moet sin maak. Ons soek dit op baie plekke. Rykdom, aansien, noem maar op. Die rede hoekom daar so ’n soeke by die mens is, is daar ’n leegheid binne in hom is. ’n Stukkie onvolmaaktheid wat veroorsaak dat ek ware vreugde en vervulling in die lewe mis.

Ondanks al die vordering en verval van die mens van ons eeu bly sy behoefte wesenlik egter dieselfde sedert Adam. Hy is soeker wat gejaag word deur 'n innerlike leegte wat uitloop op die uitsigloosheid en sinloosheid van die nihilisme — wat eintlik maar die voorportaal van die hel is — omdat hy 'n sondaar is.

ʼn Ware sinvolle lewe kan alleen in God gevind word wat ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is. Die vraag is: “hoe leer ons hierdie geestelike Wese wat ons God noem ken?”

Hier in Psalm 19 hoor ons dat daar twee maniere is waarop ons God leer ken. Deur God se skepping en deur sy volmaakte wet. As ons Ps. 19 in een sin moet opsom kan ons sê: “Die hemel getuig van die mag van God en sy volmaakte woord gee lewe.”



Die hemel getuig van die mag van God
In Rom. 1:20 hoor ons:
Van die skepping van die wêreld af kan ’n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ’n mens nie met die oog kan sien nie.
Ons kan God nie fisies sien nie, maar tog sien ons Hom in sy skepping. Die Psalmdigter stel dit so treffend voor. Ons hoor hoe die ganse uitspansel die majesteit van God verkondig. Die digter stel dan die hemel, die dag en die nag as mense voor wat sonder woorde met mekaar praat. Ten spyte daarvan dat hulle nie gehoor kan word nie, word hul boodskappe tot die uithoeke van die aarde verkondig. Ten spyte daarvan dat ons God nie kan sien nie, sien sy almag raak in sy skepping. As ons in die aand na die sterrehemel kyk, kan ons nie anders as met wonder vervul te word nie. Nou onlangs het sterrekundiges ’n groep sterrestelsels gevind wat saam gegroepeer is wat 4 biljoen ligjare in deursnee is. Mens kan nie anders as om die almag van God daarin raak te sien nie.

Verder word die son as ’n mens voorgestel. Wanneer dit in die oggend verskyn lyk dit soos ’n bruidegom wat uit sy slaapkamer kom. En wanneer dit op die middag verskyn ontkom niks aan sy gloed nie. Hierin sien ons God se heerskappy raak. Maak nie saak hoe sterk die son ook al is nie, dit moet nog steeds die baan volg wat God daarvoor gestel het. In die eerste helfte van hierdie Psalm openbaar God sy almag en dat Hy alleen regeer.

God se volmaakte woord gee lewe
In die natuur ontmoet ons die Skepper God, maar ons kan nie daaruit bepaal presies wie God is nie. In verse 8-12 beklemtoon die Psalmdigter dat ’n mens uit God se wet kan leer wat sy wil is. Die wet van God word deur ses verskillende woorde beskryf. In vers 8 word daarna verwys as “die woord” en “die onderwysing.” Ons kan daaruit leer wat God se wil is. In vers 9 word dit “die bevele” en “die gebod” genoem. In Vers 10 word dit “eise” en “bepalings” genoem. God se wil is nie iets waaroor ek kan besluit of ek dit nou wil doen of nie. Dit is ’n opdrag wat ons moet nakom. Verder kan ons presies daaruit bepaal wat God se wil is.

Verder word agt positiewe eienskappe van God se wet beskryf: “Volmaak, betroubaar, helder, goed, reg, regverdig, kosbaarder as goud en soeter as heuning.” Daar word ook vier belonings beskryf vir elkeen wat God se wet onderhou, naamlik “lewe, wysheid, blydskap en insig.” Hierin leer ons dat ons kan weet wat God se doel met ons lewens is en dat sy wil sin en betekenis aan ons lewens gee.

In verse 13-15 hoor ons dat ons kennis van die natuur en die wet van God ons help om ons verhouding met God te versterk. Hier word twee voorbeelde gebruik om dit te illustreer. In vers 13 word aangetoon dat kennis van God se mag en majesteit vir ons leer om nie te klein van God en te veel van onsself te dink nie. In vers 14 leer ons dat as ons nie geweet het wat God se wil is nie, dat ons heelwaarskynlik sou dink dat ons maar net kan doen wat ons wil. God vra gehoorsaamheid en berou en bekering en daarom pleit die Psalmdigter by God:
Weerhou my van opsetlike sondes, laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees en vry van hierdie groot sonde.

In vers 15 spreek die Psalmdigter die wens uit:
Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser

Uit Psalm 19 leer ons dat onkunde oor wat die natuur en die wet oor God sê verwydering bring tussen God en die mens. Kennis oor God se majesteit en sy wil verstewig die verhouding tussen God en die mens. Uit sy Woord uit leer ons God persoonlik ken.

In Joh. 1:1 leer ons dat die Woord mens geword het. Ons leer God ken uit sy Woord uit en in Jesus Christus (die Woord wat mens geword het) leer ons Hom eers werklik ken. Dis eers in Jesus Christus dat ons God werklik leer ken, want alhoewel ons leer wat God se wil is, kan ons nie daaraan gehoorsaam wees nie. Deur Jesus Christus se volkome gehoorsaamheid aan die wet kry ons ook deel aan die belonings van God se wet naamlik “lewe, wysheid, blydskap en insig.” In Joh. 1:12 hoor ons hoe ons deel kry aan Jesus se gehoorsaamheid aan die wet en die belonings wat daarmee gepaard gaan:
Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Samevatting
Die natuur is ’n sigbare verkondiging van God se almag en sy majesteit. Dit laat ons jubel oor die onmeetlikheid van God se mag, maar maak ons ook nederig oor ons eie swakheid en onvermoë. In God se wet hoor ons wat God se wil is en die beloftes van lewe, wysheid, blydskap en insig wat daaruit voortvloei. Ons nederigheid oor ons onvermoë om God se wil te doen laat ons saam met die Psalmdigter by God pleit vir verlossing. Deur God se Woord in sy wet en die Woord wat vlees geword het leer ons God persoonlik en intiem ken en daardeur word hierdie innerlike leegte wat in my is, deur God gevul wat sin en betekenis aan my lewe gee.

Kom ons leer God nog beter ken. Maak tyd om stil te word voor hom in sy skepping. Sien sy almag en majesteit daarin raak. Leer Hom persoonlik ken deur tyd te maak om Hom in sy Woord (Bybel en Jesus Christus) te ontmoet. Kom ons vind ons ware sin en betekenis van die lewe in God alleen. Sodra ons Hom vind, sal ons onvermydelik met liefde reageer.

Amen