12 Desember 2013

Jesus gee lewende water aan almal wat dors het

Skriflesing:     Joh. 4v1 – 30 Teksverse Joh. 4v10
Preek Sondag 8 Des. 2013 (GKE)
na Votum Sb 4-6  
Na Wet Ps. 99-2 v 1 & 4 (NAB)
Na gebed Ps. 119-2 v 8 & 9  (NAB)
Slotsang Ps. 84-1 v 1 tot 3 (OAB)

Woorddiens
Een van die dae herdenk ons weer die geboorte van Jesus Christus. Dit is weer ’n tyd om te besin wat die menswording van God almagtig in die persoon van Jesus Christus werklik vir ons beteken.

Die verhaal van die Samaritaanse vrou by die put wys vir ons hoe Jesus ’n mens se lewe verander. Dit is ’n bekende verhaal wat so baie sê dat daar elke slag iets nuut uitstaan wanneer ons weer daarna luister.

Dit vertel die verhaal van ’n vrou wat deur die lewe eenkant toe gestoot is. Verder het sy die lewe vir haarself nog moeiliker gemaak met die verkeerde keuses wat sy gemaak het. En dan onverwags kom Jesus in haar lewe in met ’n versoek vir ’n bietjie water. Dit is egter ’n versoek wat die vrou bewus maak van ’n veel dieper dors as ’n fisiese dors na water.

So half onwillig word sy gelei om na binne te kyk, daardie selfondersoek wat ’n mens maar eerder wil vermy omdat dit ongemaklike waarhede aan die lig bring. Aanvanklik is sy so half ongeërg met Jesus: “Hoe vra jy, wat ’n Jood is, vir my, ’n Samaritaanse vrou, water om te drink?”

Die Samaritane en die Jode het nie goed met mekaar oor die weg gekom nie omdat die Jode die Samaritane as tweede klas burgers behandel het omdat die Samaritane van gemengde afkoms was. Hulle was die nageslag van die Israeliete wat met die Assiriërs ondertrou het nadat dié hulle in Ballingskap weggevoer het.

Jesus laat Hom egter nie deur hierdie rassediskriminasie tussen die Jode en die Samaritane afsit nie. Sy antwoord bring die diepste nood van hierdie vrou na vore: “As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee My ’n bietjie water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.”

Die vrou verstaan egter nog nie werklik nie. Sy dink dit gaan nog steeds oor fisiese water en sy antwoord so half en half met ’n afjak. “Meneer, jy het nie eens ’n skepding nie, en die put is diep. Waar gaan jy die lewende water vandaan kry? Jy is tog nie tot meer in staat as ons voorvader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie?”

Geliefdes is dit nie hoe dit ook maar in ons lewens gaan nie? Hierdie vrou het ’n behoefte na iets meer in die lewe as wat sy tans het. En dan kom die Here in haar lewe in en wys dit vir haar, maar sy sien dit nog nie raak nie. Hoeveel keer gryp die Here nie in ons lewens in en dan sien ons nie die werklike rede daarvoor raak nie?

Hoeveel maal sien ons net soos hierdie vrou net die fisiese materiële behoeftes raak, maar ons mis die geestelike behoeftes? Here help tog net asb. met hierdie probleem wat ek het. Laat dit asb. tog net beter gaan met my geldsake. Here as ek tog net ’n ander motor kan kry. As dit tog maar net beter met my gesondheid kan gaan. En so raak ons verstrengel in die oppervlakkigheid van die materialistiese hier en nou. Is ons slegs bekommerd oor die tydelike dinge in ons lewens, maar ons mis die dieper geestelike sake wat ewigheidswaarde het.

Jesus raak egter nie ongeduldig met die vrou nie. Hy verduidelik nog verder vir haar dat enige iemand wat maar net van hierdie fisiese water drink, dit wil sê vashaak by die wêreldse dinge maar net weer dors gaan kry. Solank as wat ons, ons geestelike dors met wêreldse dinge probeer les gaan dit nooit geles word nie. Partytjies, drank, dwelms rykdom, mag gaan nooit ons geestelike dors les nie.

Net die lewende water wat Jesus self vir ons gee kan daardie dors les. .....wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.

Die lewende water wat Jesus verniet gee, het Hom baie duur gekos. Hy moes met sy lewe aan ’n vervloekte kruishout daarvoor betaal sodat ons kan lewe. Sodat ons in vrede met mekaar en in vrede met God kan leef. Sodat ons werklik by die dinge kan uitkom wat saak maak in die lewe deur vir mekaar om te gee.

Nou eers besef die vrou waarvan Jesus praat en sy vra vir Hom om vir haar van daardie water te gee. Voordat sy egter van die water kan kry moet daar nog iets gebeur. Sy moet eers haar eie hulpeloosheid vanweë haar sonde raaksien en daarom sê Jesus vir haar: “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.”

Sy probeer nog wegskram deur te sê dat sy nie ’n man het nie, maar daar is niks wat ’n mens vir God kan wegsteek nie. Wanneer Jesus die volle werklikheid vir haar blootlê probeer sy nog ’n maal. Sy maak gebruik van die taktiek wat ons as kinders vervolmaak het. So binne die eerste vyf minute vra iemand vir die wiskunde onnie iets oor die naweek se rugby en voor jy jou oë kan uitvee is die periode om.

So probeer sy om die aandag van haarself af weg te lei met vraag oor waar daar aanbid moet word. Ons doen dit vandag nog geliefdes. So neem ons ook die fokus van Jesus af weg deur ons besig te hou met allerlei kleinighede soos wat die presiese modestyl moet wees waaraan ons kleredrag moet voldoen of watter liedere ons mag en nie mag sing nie of wat die grote moet wees van die houers waaruit ons Nagmaalwyn moet drink.

Jesus laat egter nie toe dat die vrou die fokus verskuif nie. Hy bring die gesprek weer terug na wat werklik saak maak. As ons nie met Gees en in waarheid ons fokus op Jesus gerig hou nie raak ons die spoor byster.

Ons sien ook in hierdie verhaal watter radikale invloed Jesus se lewende water het op die lewe van hierdie vrou. Sy wat uitgestoot was en haarself eenkant gehou het en wat nie eens water saam met die ander vroue by die put water kom haal het nie, gaan nou uit en vertel aan almal wat sy tot nou toe vermy het die Goeie Nuus van die lewende water wat Jesus vir haar gegee het.

As ons eers eenmaal van Jesus se lewende water gedrink het kan ons nie maar net op die ou trant aangaan nie. As Jesus se lewende water nog nie soos ’n fontein in my opborrel en oorloop nie moet ek myself afvra of ek nie nog steeds besig is met die vermydingstaktieke wat hierdie vrou probeer het nie.

Hierdie verhaal hou ook vir elkeen ’n geweldige troos in. As Jesus bereid was om geduldig tyd te spandeer aan ’n vrou wat deur die samelewing eenkant toe gestoot is sodat sy van die lewendgewende water kon drink wat net by Hom beskikbaar is, kan ek ook weet dat Jesus vir my ook van sy lewende water wil gee.

Jesus is soos water wat lewe oor die dor woestyn van my lewe bring. Hierdie verhaal bring elkeen van ons voor ’n besliste keuse. Gaan ek aanvaar dat Jesus die Messias is wat my van die dorre sondeslawerny kom verlos het? En as ek dit aanvaar, is ek bereid om die implikasies daarvan te aanvaar dat ek ’n nuwe lewe saam met God gaan stap? Gaan ek aanvaar dat ek God se wil in my lewe moet aanvaar?

Geliefdes, het jy dors? Kom dan na Jesus toe want Hy gee lewende water aan almal wat dors het.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking