Preek Sondag 8 Des. 2013 (GKE)
na Votum Sb 4-6
Na Wet Ps. 99-2 v 1 & 4 (NAB)
Na gebed Ps. 119-2 v 8 & 9 (NAB)
Slotsang Ps. 84-1 v 1 tot 3 (OAB)
Woorddiens
Een van die dae
herdenk ons weer die geboorte van Jesus Christus. Dit is weer ’n tyd om te
besin wat die menswording van God almagtig in die persoon van Jesus Christus
werklik vir ons beteken.
Die verhaal van die
Samaritaanse vrou by die put wys vir ons hoe Jesus ’n mens se lewe verander.
Dit is ’n bekende verhaal wat so baie sê dat daar elke slag iets nuut uitstaan
wanneer ons weer daarna luister.
Dit vertel die
verhaal van ’n vrou wat deur die lewe eenkant toe gestoot is. Verder het sy die
lewe vir haarself nog moeiliker gemaak met die verkeerde keuses wat sy gemaak
het. En dan onverwags kom Jesus in haar lewe in met ’n versoek vir ’n bietjie
water. Dit is egter ’n versoek wat die vrou bewus maak van ’n veel dieper dors
as ’n fisiese dors na water.
So half onwillig
word sy gelei om na binne te kyk, daardie selfondersoek wat ’n mens maar eerder
wil vermy omdat dit ongemaklike waarhede aan die lig bring. Aanvanklik is sy so
half ongeërg met Jesus: “Hoe vra jy, wat ’n Jood is, vir my, ’n Samaritaanse
vrou, water om te drink?”
Die Samaritane en
die Jode het nie goed met mekaar oor die weg gekom nie omdat die Jode die
Samaritane as tweede klas burgers behandel het omdat die Samaritane van
gemengde afkoms was. Hulle was die nageslag van die Israeliete wat met die
Assiriërs ondertrou het nadat dié hulle in Ballingskap weggevoer het.
Jesus laat Hom egter
nie deur hierdie rassediskriminasie tussen die Jode en die Samaritane afsit
nie. Sy antwoord bring die diepste nood van hierdie vrou na vore: “As jy
geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee My ’n bietjie water
om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.”
Die vrou verstaan
egter nog nie werklik nie. Sy dink dit gaan nog steeds oor fisiese water en sy
antwoord so half en half met ’n afjak. “Meneer, jy het nie eens ’n skepding
nie, en die put is diep. Waar gaan jy die lewende water vandaan kry? Jy is tog
nie tot meer in staat as ons voorvader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het
en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie?”
Geliefdes is dit nie
hoe dit ook maar in ons lewens gaan nie? Hierdie vrou het ’n behoefte na iets
meer in die lewe as wat sy tans het. En dan kom die Here in haar lewe in en wys
dit vir haar, maar sy sien dit nog nie raak nie. Hoeveel keer gryp die Here nie
in ons lewens in en dan sien ons nie die werklike rede daarvoor raak nie?
Hoeveel maal sien
ons net soos hierdie vrou net die fisiese materiële behoeftes raak, maar ons
mis die geestelike behoeftes? Here help tog net asb. met hierdie probleem wat
ek het. Laat dit asb. tog net beter gaan met my geldsake. Here as ek tog net ’n
ander motor kan kry. As dit tog maar net beter met my gesondheid kan gaan. En
so raak ons verstrengel in die oppervlakkigheid van die materialistiese hier en
nou. Is ons slegs bekommerd oor die tydelike dinge in ons lewens, maar ons mis
die dieper geestelike sake wat ewigheidswaarde het.
Jesus raak egter nie
ongeduldig met die vrou nie. Hy verduidelik nog verder vir haar dat enige
iemand wat maar net van hierdie fisiese water drink, dit wil sê vashaak by die
wêreldse dinge maar net weer dors gaan kry. Solank as wat ons, ons geestelike
dors met wêreldse dinge probeer les gaan dit nooit geles word nie. Partytjies,
drank, dwelms rykdom, mag gaan nooit ons geestelike dors les nie.
Net die lewende
water wat Jesus self vir ons gee kan daardie dors les. .....wie van die
water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie.
Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat
opborrel en vir hom die ewige lewe gee.
Die lewende water
wat Jesus verniet gee, het Hom baie duur gekos. Hy moes met sy lewe aan ’n
vervloekte kruishout daarvoor betaal sodat ons kan lewe. Sodat ons in vrede met
mekaar en in vrede met God kan leef. Sodat ons werklik by die dinge kan uitkom
wat saak maak in die lewe deur vir mekaar om te gee.
Nou eers besef die
vrou waarvan Jesus praat en sy vra vir Hom om vir haar van daardie water te
gee. Voordat sy egter van die water kan kry moet daar nog iets gebeur. Sy moet
eers haar eie hulpeloosheid vanweë haar sonde raaksien en daarom sê Jesus vir
haar: “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.”
Sy probeer nog
wegskram deur te sê dat sy nie ’n man het nie, maar daar is niks wat ’n mens vir
God kan wegsteek nie. Wanneer Jesus die volle werklikheid vir haar blootlê
probeer sy nog ’n maal. Sy maak gebruik van die taktiek wat ons as kinders
vervolmaak het. So binne die eerste vyf minute vra iemand vir die wiskunde
onnie iets oor die naweek se rugby en voor jy jou oë kan uitvee is die periode
om.
So probeer sy om die
aandag van haarself af weg te lei met vraag oor waar daar aanbid moet word. Ons
doen dit vandag nog geliefdes. So neem ons ook die fokus van Jesus af weg deur
ons besig te hou met allerlei kleinighede soos wat die presiese modestyl moet
wees waaraan ons kleredrag moet voldoen of watter liedere ons mag en nie mag
sing nie of wat die grote moet wees van die houers waaruit ons Nagmaalwyn moet
drink.
Jesus laat egter nie
toe dat die vrou die fokus verskuif nie. Hy bring die gesprek weer terug na wat
werklik saak maak. As ons nie met Gees en in waarheid ons fokus op Jesus gerig
hou nie raak ons die spoor byster.
Ons sien ook in
hierdie verhaal watter radikale invloed Jesus se lewende water het op die lewe
van hierdie vrou. Sy wat uitgestoot was en haarself eenkant gehou het en wat
nie eens water saam met die ander vroue by die put water kom haal het nie, gaan
nou uit en vertel aan almal wat sy tot nou toe vermy het die Goeie Nuus van die
lewende water wat Jesus vir haar gegee het.
As ons eers eenmaal
van Jesus se lewende water gedrink het kan ons nie maar net op die ou trant
aangaan nie. As Jesus se lewende water nog nie soos ’n fontein in my opborrel
en oorloop nie moet ek myself afvra of ek nie nog steeds besig is met die
vermydingstaktieke wat hierdie vrou probeer het nie.
Hierdie verhaal hou
ook vir elkeen ’n geweldige troos in. As Jesus bereid was om geduldig tyd te
spandeer aan ’n vrou wat deur die samelewing eenkant toe gestoot is sodat sy
van die lewendgewende water kon drink wat net by Hom beskikbaar is, kan ek ook
weet dat Jesus vir my ook van sy lewende water wil gee.
Jesus is soos water
wat lewe oor die dor woestyn van my lewe bring. Hierdie verhaal bring elkeen
van ons voor ’n besliste keuse. Gaan ek aanvaar dat Jesus die Messias is wat my
van die dorre sondeslawerny kom verlos het? En as ek dit aanvaar, is ek bereid
om die implikasies daarvan te aanvaar dat ek ’n nuwe lewe saam met God gaan
stap? Gaan ek aanvaar dat ek God se wil in my lewe moet aanvaar?
Geliefdes, het jy
dors? Kom dan na Jesus toe want Hy gee lewende water aan almal wat dors het.
Amen