17 Februarie 2013

Verkondig die evangelie aan die hele mensdom


Lees vooraf eers :Mar. 16:9 - 20
Fokusgedeelte : Mar. 16:15 & 16
15Hy het vir hulle gesê: “Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom. 16Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word.

Wat is die doel van Jesus se kerk hier op aarde? Hoekom is ons lidmate van die Gereformeerde Kerk Reddersburg? Ons trap so maklik in die slaggat om te dink dat die kerk oor my en my behoeftes gaan. Die kerk het een belangrike doel en dit is om die koninkryk van God sigbaar te maak deur die evangelie aan die hele mensdom te verkondig. Onthou, ons wat hier binne sit is die kerk, nie die gebou waarin ons sit nie! Ons het ’n werk om te doen. Daardie werk word duidelik uitgespel in Jesus se opdrag aan sy dissipels na sy opstanding en net kort voor sy hemelvaart soos ons hoor in Mar. 16:15:
“Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom.

Dit is dan die opdrag wat Jesus vir sy kerk gee: “verkondig die evangelie!” Wat moet ons dan nou eintlik aan die hele mensdom verkondig? Wat is die evangelie? “Evangelie” is afgelei van die Griekse woord wat iets soos “goeie nuus” beteken. Letterlik beteken dit nuus wat mens bly maak. Wanneer ons dus die evangelie verkondig, dan moet ons aan die hele mensdom die goeie nuus verkondig wat hulle sal bly maak.

Wat is die boodskap van hierdie goeie nuus dan nou eintlik dat dit so belangrik is dat ons dit aan die hele mensdom moet verkondig? Die evangelie / goeie nuus is die verhaal van God se reddende genade met die mensdom. Dit is wat God vir ons vertel in die Bybel wat sy Lewende Woord is. Die geskiedenis van die pad wat God met die mens gekom het van die begin af toe Hy alles geskep het. Eers direk met die mensdom (Genesis 1 – 11), dan deur Israel met die mensdom (Genesis 12 – Maleagi), dan deur Jesus met die mensdom, Israel ingesluit (die Nuwe Testament).

Dit is ’n geskiedenis waarin God voortdurend eerste sy hand na die rebelse mens uitsteek, waar Hy voortdurend teleurgesteld word, maar nogtans ten spyte van die teleurstellings weer na die mens toe uitreik. In hierdie geskiedenis van die pad wat God met die mens saam gekom het, is daar een ding wat soos ’n paal bo water uitstaan, God se geduld en trou.

Die klimaks van die goeie nuus is die koms van Jesus Christus. God word mens en Hy kom herstel sy heerskappy (die Koninkryk van God) nadat die bose magte die wêreld oorgeneem het. Die Koninkryk van God beteken dat God in die harte van mense regeer wat Jesus Christus in geloof aanvaar het en so word sy heerskappy sigbaar in ’n wêreld wat God nie as Koning erken nie.

Jesus het gekom om die mens met God te versoen deur Homself as offer te gee deurdat Hy ’n vervloekte kruisdood gesterf het. Daarna het Hy die dood oorwin met sy opstanding sodat die mens se aardsvyand, die dood nie meer ’n houvas op die mens het nie. Met hierdie oorwinning gee Hy aan elkeen wat voor die skepping van die wêreld verkies is, die ewige lewe.

Hy roep ons om die evangelie te glo en ons lewe aan Hom toe te wy soos ons hoor in Mar. 16:16a
       “Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word.”
Hy versamel sy kinders as ’n groot familie om God Drie-Enig (Vader, Seun en Heilige Gees) te verheerlik. Hulle dra sy genade boodskap (goeie nuus / evangelie) deur die krag van die Heilige Gees met woord en daad die wêreld in om in sy Naam die nood van mense te verlig (die mens se grootste nood is sy gebroke verhouding met die enigste Lewende God).

Met Nagmaal word die goeie nuus dan ook op ’n sigbare wyse deur die tekens van brood en wyn aan ons verkondig sodat dit brandend in ons harte kan wees en dit ons dring om die goeie nuus uit te dra. Hierdie sending opdrag word uitgevoer deur alle mense wat God nie ken nie, uit te nooi om die evangelie van Jesus deur die genade van God te glo. Die uitverkore kinders van God hoor die goeie nuus / evangelie en word gered; Wie nie glo nie en in hul ongeloof volhard sal veroordeel word soos ons hoor in Mar. 16:16b:
wie nie glo nie, sal veroordeel word.
Jesus se volgelinge / dissipels / kerk wag gespanne op sy koms om die stukkende wêreld heel te maak.

Dit is die goeie nuus / evangelie wat aan die hele mensdom verkondig moet word. Die Goeie Nuus kan in die volgende drie punte opgesom word:
1) Hoe groot is my sonde en elende
2) Hoe kan ek gered word (Jesus Christus)
3) My dankbaarheid (Hoe leef ek vir Jesus Christus)
Die Goeie Nuus is Jesus Christus!

Is ons (dit wil sê die Gereformeerde kerk Reddersburg) gehoorsaam aan Jesus se opdrag aan sy kerk? Nog nader geliefdes: Glo ek die goeie nuus? Indien ek glo, aan hoeveel mense het ek al hierdie goeie nuus vertel?
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking