Wys tans plasings met die etiket Vyf broodjies en twee vissies. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Vyf broodjies en twee vissies. Wys alle plasings

24 Februarie 2013

God gebruik die bietjie wat ons het tot groot seën in sy koninkryk


24 Feb. 2013         Luk. 9:1 - 17 . Teksverse Luk. 9:13

Lof-Psalm Ps. 66v1                 (OAB)
Na Wet Ps. 130 v 1 & 2          (OAB)
Na Gebed Ps. 86 v 1 & 7                  (OAB)
Slotsang Sb 17-1 v1 & 6                   (OAB)

Sien ons kans vir die uitdagings om in God se Koninkryk te werk? Dis nie altyd maklik nie. Hosea moes met ’n prostituut trou, Paulus is gestenig en vir dood agtergelaat en Stefanus is vir sy geloof doodgemaak. As ons so na die uitdagings kyk dan voel dit dikwels vir ons dat ons nie kan nie. As ons so na die geskiedenis kyk dan sien ons dat Moses die verskoning gehad het dat hy nie goed kon praat nie, Timoteus het gevoel dat hy te jonk is en Petrus het bang geword vir die golwe en die wind en later het hy bang geword vir wat die mense sou sê en doen as hulle geweet het dat hy Jesus ken. Jesus se dissipels het net die probleem raakgesien en hulle verskoning was dat dit te duur sal kos om meer as 5 000 mense kos te gee.

Met hierdie verhaal oor die wonder van die vermeerdering van brood leer die Here ons dat ons nie nodig het om onwaardig te voel vir die koninkrykswerk waarvoor God ons roep nie, want God gebruik die bietjie wat ons het tot groot seën in sy koninkryk.

In ons teksgedeelte hoor ons dat Jesus en sy dissipels ’n besige tyd beleef het. Die dissipels het uitgegaan om die evangelie te verkondig en dit het so ’n groot impak gemaak dat selfs die koning daarvan gehoor het. Daarom het Jesus sy dissipels saamgeneem in die rigting van die dorp Betsaida waar hulle alleen kon wees. Maar helaas, ’n bietjie rustigheid was hulle nie beskore nie, want die skare mense het hulle gevolg. Hier sien ons so ietsie van God se genade want Jesus het hulle verwelkom en met hulle gepraat oor die koninkryk van God. In Mat 14:14 wat oor dieselfde gedeelte handel hoor ons Hy het hulle innig jammer gekry het en dat Hy die siekes onder hulle gesond gemaak.

Tog gaan hierdie verhaal nie in hoofsaak oor die skare wat Jesus geleer en kos voor gegee het nie. Dit gaan hier oor die dissipels en ons wat moes leer dat die Here in alles sal voorsien vir die Koninkrykswerk waarvoor Hy ons roep. Hierdie verhaal antwoord die vraag van Herodes oor wie Jesus is. Jesus is die Voorsiener van die mens se basiese behoeftes en dat Hy daarom ook oorvloedig sal voorsien vir die sendingtaak waarvoor Hy ons roep.

Hier teen die einde van die dag besef die dissipels dat hier ’n probleem op pad is. Waar gaan hulle kos kry vir al hierdie mense? Hulle het ’n eenvoudige oplossing vir die probleem soos ons hoor in Luk. 9:12
“Stuur die mense weg dat hulle by die dorpe en plase in die omtrek slaapplek en kos kan gaan soek, want ons is hier op ’n verlate plek.”

Is dit nie maar ook hoe ons alte dikwels reageer wanneer ons met die probleme te make het wat saam met die Koninkrykswerk gepaard gaan nie? Ek sien nie kans vir die werk nie want: Ek het nie die gawes om as ouderling of diaken te dien nie. Ek is te jonk of nog net ’n kind. Ek weet nie wat om vir my medegelowige te sê in tye van nood nie. Hoe kan ek hulle dan bemoedig? Ek het nie die vrymoedigheid om met mense oor die evangelie te praat nie. Here, ek sien nie kans hiervoor nie. Laat hierdie probleem asb. tog net weggaan!

Die dissipels wil ’n eenvoudige maklike oplossing hê. Hulle wou eintlik maar net weer rustig en alleen saam met Jesus wees. Is dit nie maar ook wat ons as gemeente van die Here vra nie? Here kan ons klompie Doppers nie maar net rustig en alleen saam met U verkeer nie? Ons wil regtig nie nog gepla wees met die probleem van evangelisasie nie? Ons wil regtig waar nie verder sukkel met hierdie probleem van ons finansies nie. Laat hierdie probleme asb. tog net weggaan!

Die probleem is egter dat die eenvoudige oplossing van die dissipels nie die probleem opgelos het nie, maar dat dit maar net die probleem na ’n ander plek verskuif het. Die dorpies in daardie omgewing was maar klein en sou onmoontlik in die behoeftes van so ’n groot skare mense kon omsien. Is ons oplossing nie maar net soos die dissipels sin nie? As ons klompie Doppers maar net rustig voortgaan en hier na binne gerig mekaar warm broei, dan mis ons die hele doel waarom ons kerk van die Here is!

Jesus het die behoefte van die skare raakgesien en Hy het hulle innig jammer gekry. Ons is so dikwels op onsself ingerig dat ons nie die seer en behoeftes van die mense daar buite raaksien nie. Die grootste seer wat ’n mens kan hê is om deur sonde van God vervreem te wees. Dit veroorsaak al die seer en gebrokenheid wat ons in die lewe sien en ervaar. Daarom is die Here se opdrag aan sy kerk dat hulle die goeie nuus van Jesus se Verlossing na die wêreld toe moet bring sodat daar genesing kan kom. Wanneer mens se verhouding met God herstel is dan kan mens die uitdagings van die lewe weer in die oë kyk.

Die dissipels het ’n eenvoudige oplossing gehad en daarom moes hulle die ontnugterende antwoord hoor dat Jesus nie te vinde is daarvoor nie. Hulle wil die probleem eenkant toe skuif, maar Jesus gee dit direk terug vir hulle soos ons hoor in Luk. 9:13
“Gee julle vir hulle iets om te eet,”
Ontsteld en vol verontwaardiging antwoord hulle Jesus:
“Ons het hier niks meer as vyf brode en twee visse nie . Of moet ons self vir hierdie klomp mense gaan kos koop?”

Is dit nie maar ook so dikwels ons antwoord aan die Here wanneer Hy die skynbare onmoontlike van ons verwag nie? Here ek het maar net twee visse en vyf brode en dit is heeltemal onvoldoende vir dit wat U van my vra! Waar moet ek die vermoë en middele vandaan kry vir dit wat U van my verwag? Here dit is ONMOONTLIK! En so kom ons ook maar met allerlei verskonings na vore oor waarom ons nie kan.

Die verbasendste van hierdie verhaal vir my is hoedat die dissipels so vinnig vergeet hoe die Here kort van tevore in alles wat hulle vir hul sendingtaak nodig gehad, voorsien het. Hy het hulle sonder enige iets uitgestuur en opgewonde het hulle teruggekom om te vertel van al die wonders wat gebeur het. Vergeet ons nie ook maar al te maklik hoe die Here ons deur sy genade in die verlede gedra het nie?

Weereens skyn die Here se genade soos ’n helder lig op ’n donker aand. Hy verwyt nie die dissipels nie. Met die bietjie wat hulle het (vyf brode en twee visse) verrig die Here ’n wonderwerk! Die dissipels was egter nie passief nie. Jesus het die wonder verrig, maar hulle moes die werk doen. Hulle moes die mense in groepe laat sit en die kos uitdeel. Hier is egter ’n belangrike beginsel wat na vore kom. ELKE dissipel het gewerk! Daar was nie net een of twee wat gewerk het terwyl die ander toegekyk het nie. Elkeen het gehelp. Jesus gebruik sy volgelinge om die werk te doen, maar dis Hy wat die wonders verrig.

Al wat hulle moes doen was om maar net dit wat hulle gehad het, twee visse en vyf broodjies na Hom toe te bring en Hom te vertrou. Daarmee het Hy meer as 5000 mense kos gegee op so ’n oorvloedige wyse dat daar twaalf mandjies vol oorskietkos oorgebly het. Die Here vra nie van ons wat ons nie het om te gee nie. Al wat Hy vra is bring jouself. Bring jou hande, raak betrokke. Wees beskikbaar!

Wanneer Hy van ons vra om die evangelie uit te dra dan los Hy ons nie alleen nie. Hy het ons na sy hemelvaart nie alleen agtergelaat nie. Die Heilige Gees is elke oomblik by ons en selfs dit wat ons moet sê sal Hy ons voorsê soos ons hoor in Mar. 13:11
moet julle nie vooruit bekommer oor wat julle sal sê nie, maar julle moet praat soos dit op daardie oomblik aan julle gegee sal word, want dit is nie julle wat praat nie, maar die Heilige Gees.
Die Heilige Gees het reeds vir ons die evangelie boodskap gegee wat ons aan die wêreld moet bring soos ons byvoorbeeld in Joh. 3:16 hoor:
“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Nog ’n voorbeeld is Joh. 11:25-26:
“Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”
Voordat ons kan uitgaan om die evangelie te verkondig is daar ’n belangrik vraag: “Glo jy dit?” Dit is ’n belangrike vraag wat elkeen vir homself moet afvra. Glo ek dat Jesus die opstanding en die lewe is? Glo ek dat wie ook al in Jesus glo sal lewe, al sterwe hulle ook? Glo ek dat ek die ewige lewe het?

Ons kan nie die goeie nuus aan ander oordra as dit nie vir onsself ook goeie nuus is nie. Ook hierin vra die here nie van ons wat ons nie het nie. Selfs die geloof wat Hy van ons vra gee Hy vir ons. Bring jou twyfelende geloof na die Here toe en Hy sal dit so in oorvloed seën dat daar aan die einde meer sal oorbly as wat jy nodig het.

Geliefdes as ons nie brandende passie van die goeie nuus in ons het nie, dan sal ons nie in sy koninkryk kan werk nie. Elkeen moet eerlik vir homself afvra: Is ek aktief betrokke by die gemeente waarin die Here my geplaas het? Is ek ’n lewende bousteen in hierdie gemeente? Is ek nog deel van die groep wat maklik vinger wys en sê “hulle moet die werk doen,” of is ek deel van die “hulle” wat die werk doen? Ons is ’n klein gemeente en ons kan nie bekostig dat net sommiges die werk doen nie. Die dissipels het uitgegaan en die evangelie verkondig, maar hulle het ook die praktiese werk gedoen soos om die mense te organiseer en die kos uit te deel. Die vraag wat elkeen van ons vir onsself moet afvra is “waar is ek betrokke by die koninkrykswerk in hierdie gemeente? Of strek dit niks verder as dat ek so dan en wan ’n erediens op Sondag bywoon nie?” Die maklike vraag wat mense vra is “wat beteken dit vir my en wat doen hulle vir my?” Die moeilike vraag is “wat beteken ek vir die res van die gemeente?” As ek nog aan die gemeente dink as hulle en nie as ons nie, dan is dit nodig dat ek weereens by die Here se genade in Jesus Christus uitkom sodat ek weer die brandende begeerte kan kry vir die koninkrykswerk waarvoor die Here my geroep het. Om by sy genade uit te kom is eenvoudig. Ek moet glo dat die wonder van Jesus Verlossing ook vir my ’n werklikheid is.

Dan sal ek vind dat dit nie moeilik is om beskikbaar wees en aktief betrokke wees in die gemeente daar waar dit nodig is nie. Dan sal dit nie moeilik wees om uit te reik na behoeftige mense nie. Dan sal ek die seer van mense raak sien en uitreik na hulle toe. Dan sal dit ’n brandende begeerte by my wees om die goeie nuus van God se genade in Jesus Christus aan almal te verkondig.

Opsom
Wanneer ons voor probleme te staan kom is die maklike oplossing: “Here neem ons probleem weg.” Weet u wat geliefdes? Die Here gaan dit doen nie! Hoor u wat die Here vir ons sê? “gee julle vir hulle kos” Reik uit na stukkende mense en bring die evangelie aan hulle. Vertel vir hulle die goeie nuus van Jesus wat gekom het om ’n stukkende wêreld heel te maak. Mense wat die goeie nuus ontvang word soldate wat saam met ons werk om die Koninkryk van God sigbaar te maak. Dit is die taak van die kerk. Niemand kan passief wees nie!

Elkeen moet sy gawes aanbied en aktief betrokke wees in die gemeente. Wees beskikbaar vir die werk wat gedoen moet word sodat ons gemeente haar roeping kan vervul. As daar aksies is wat nodig is om fondse in te samel sodat ons gemeente die evangelie kan verkondig moet almal saamwerk met die gawes wat die Here vir ons gegee het. Al is my gawes hoe min, dit is nie ’n probleem nie, want met my bietjie verrig die Here ’n wonderwerk! Ek moet net beskikbaar wees om die wonder wat die Here verrig uit te deel.

Die Here los ons nie alleen om die onmoontlike te doen nie. Hy doen die onmoontlike vir ons. God gebruik die bietjie wat ons het tot groot seën in sy koninkryk.
Amen