24 Feb. 2013 Luk. 9:1 - 17 . Teksverse Luk. 9:13
Lof-Psalm Ps. 66v1 (OAB)
Na Wet Ps. 130 v 1
& 2 (OAB)
Na Gebed Ps. 86 v 1
& 7 (OAB)
Slotsang Sb 17-1 v1
& 6 (OAB)
Sien ons kans vir die
uitdagings om in God se Koninkryk te werk? Dis nie altyd maklik nie. Hosea moes
met ’n prostituut trou, Paulus is gestenig en vir dood agtergelaat en Stefanus
is vir sy geloof doodgemaak. As ons so na die uitdagings kyk dan voel dit
dikwels vir ons dat ons nie kan nie. As ons so na die geskiedenis kyk dan sien
ons dat Moses die verskoning gehad het dat hy nie goed kon praat nie, Timoteus
het gevoel dat hy te jonk is en Petrus het bang geword vir die golwe en die
wind en later het hy bang geword vir wat die mense sou sê en doen as hulle
geweet het dat hy Jesus ken. Jesus se dissipels het net die probleem raakgesien
en hulle verskoning was dat dit te duur sal kos om meer as 5 000 mense kos
te gee.
Met hierdie verhaal oor
die wonder van die vermeerdering van brood leer die Here ons dat ons nie nodig
het om onwaardig te voel vir die koninkrykswerk waarvoor God ons roep nie, want
God gebruik die bietjie wat ons het tot groot seën in sy koninkryk.
In ons teksgedeelte hoor
ons dat Jesus en sy dissipels ’n besige tyd beleef het. Die dissipels het
uitgegaan om die evangelie te verkondig en dit het so ’n groot impak gemaak dat
selfs die koning daarvan gehoor het. Daarom het Jesus sy dissipels saamgeneem
in die rigting van die dorp Betsaida waar hulle alleen kon wees. Maar helaas,
’n bietjie rustigheid was hulle nie beskore nie, want die skare mense het hulle
gevolg. Hier sien ons so ietsie van God se genade want Jesus het hulle
verwelkom en met hulle gepraat oor die koninkryk van God. In Mat 14:14 wat oor
dieselfde gedeelte handel hoor ons Hy het hulle innig jammer gekry het en dat
Hy die siekes onder hulle gesond gemaak.
Tog gaan hierdie verhaal
nie in hoofsaak oor die skare wat Jesus geleer en kos voor gegee het nie. Dit
gaan hier oor die dissipels en ons wat moes leer dat die Here in alles sal
voorsien vir die Koninkrykswerk waarvoor Hy ons roep. Hierdie verhaal antwoord
die vraag van Herodes oor wie Jesus is. Jesus is die Voorsiener van die mens se
basiese behoeftes en dat Hy daarom ook oorvloedig sal voorsien vir die
sendingtaak waarvoor Hy ons roep.
Hier teen die einde van
die dag besef die dissipels dat hier ’n probleem op pad is. Waar gaan hulle kos
kry vir al hierdie mense? Hulle het ’n eenvoudige oplossing vir die probleem
soos ons hoor in Luk. 9:12
“Stuur
die mense weg dat hulle by die dorpe en plase in die omtrek slaapplek en kos
kan gaan soek, want ons is hier op ’n verlate plek.”
Is dit nie maar ook hoe
ons alte dikwels reageer wanneer ons met die probleme te make het wat saam met
die Koninkrykswerk gepaard gaan nie? Ek sien nie kans vir die werk nie want: Ek
het nie die gawes om as ouderling of diaken te dien nie. Ek is te jonk of nog
net ’n kind. Ek weet nie wat om vir my medegelowige te sê in tye van nood nie.
Hoe kan ek hulle dan bemoedig? Ek het nie die vrymoedigheid om met mense oor
die evangelie te praat nie. Here, ek sien nie kans hiervoor nie. Laat hierdie
probleem asb. tog net weggaan!
Die dissipels wil ’n
eenvoudige maklike oplossing hê. Hulle wou eintlik maar net weer rustig en alleen
saam met Jesus wees. Is dit nie maar ook wat ons as gemeente van die Here vra
nie? Here kan ons klompie Doppers nie maar net rustig en alleen saam met U
verkeer nie? Ons wil regtig nie nog gepla wees met die probleem van
evangelisasie nie? Ons wil regtig waar nie verder sukkel met hierdie probleem
van ons finansies nie. Laat hierdie probleme asb. tog net weggaan!
Die probleem is egter dat
die eenvoudige oplossing van die dissipels nie die probleem opgelos het nie,
maar dat dit maar net die probleem na ’n ander plek verskuif het. Die dorpies
in daardie omgewing was maar klein en sou onmoontlik in die behoeftes van so ’n
groot skare mense kon omsien. Is ons oplossing nie maar net soos die dissipels
sin nie? As ons klompie Doppers maar net rustig voortgaan en hier na binne
gerig mekaar warm broei, dan mis ons die hele doel waarom ons kerk van die Here
is!
Jesus het die behoefte van
die skare raakgesien en Hy het hulle innig jammer gekry. Ons is so dikwels op
onsself ingerig dat ons nie die seer en behoeftes van die mense daar buite
raaksien nie. Die grootste seer wat ’n mens kan hê is om deur sonde van God
vervreem te wees. Dit veroorsaak al die seer en gebrokenheid wat ons in die
lewe sien en ervaar. Daarom is die Here se opdrag aan sy kerk dat hulle die
goeie nuus van Jesus se Verlossing na die wêreld toe moet bring sodat daar
genesing kan kom. Wanneer mens se verhouding met God herstel is dan kan mens
die uitdagings van die lewe weer in die oë kyk.
Die dissipels het ’n
eenvoudige oplossing gehad en daarom moes hulle die ontnugterende antwoord hoor
dat Jesus nie te vinde is daarvoor nie. Hulle wil die probleem eenkant toe
skuif, maar Jesus gee dit direk terug vir hulle soos ons hoor in Luk. 9:13
“Gee
julle vir hulle iets om te eet,”
Ontsteld en vol verontwaardiging
antwoord hulle Jesus:
“Ons het
hier niks meer as vyf brode en twee visse nie . Of moet ons self vir hierdie
klomp mense gaan kos koop?”
Is dit nie maar ook so
dikwels ons antwoord aan die Here wanneer Hy die skynbare onmoontlike van ons
verwag nie? Here ek het maar net twee visse en vyf brode en dit is heeltemal
onvoldoende vir dit wat U van my vra! Waar moet ek die vermoë en middele
vandaan kry vir dit wat U van my verwag? Here dit is ONMOONTLIK! En so kom ons
ook maar met allerlei verskonings na vore oor waarom ons nie kan.
Die verbasendste van
hierdie verhaal vir my is hoedat die dissipels so vinnig vergeet hoe die Here
kort van tevore in alles wat hulle vir hul sendingtaak nodig gehad, voorsien
het. Hy het hulle sonder enige iets uitgestuur en opgewonde het hulle
teruggekom om te vertel van al die wonders wat gebeur het. Vergeet ons nie ook
maar al te maklik hoe die Here ons deur sy genade in die verlede gedra het nie?
Weereens skyn die Here se
genade soos ’n helder lig op ’n donker aand. Hy verwyt nie die dissipels nie.
Met die bietjie wat hulle het (vyf brode en twee visse) verrig die Here ’n
wonderwerk! Die dissipels was egter nie passief nie. Jesus het die wonder
verrig, maar hulle moes die werk doen. Hulle moes die mense in groepe laat sit
en die kos uitdeel. Hier is egter ’n belangrike beginsel wat na vore kom. ELKE
dissipel het gewerk! Daar was nie net een of twee wat gewerk het terwyl die
ander toegekyk het nie. Elkeen het gehelp. Jesus gebruik sy volgelinge om die
werk te doen, maar dis Hy wat die wonders verrig.
Al wat hulle moes doen was
om maar net dit wat hulle gehad het, twee visse en vyf broodjies na Hom toe te
bring en Hom te vertrou. Daarmee het Hy meer as 5000 mense kos gegee op so ’n
oorvloedige wyse dat daar twaalf mandjies vol oorskietkos oorgebly het. Die
Here vra nie van ons wat ons nie het om te gee nie. Al wat Hy vra is bring
jouself. Bring jou hande, raak betrokke. Wees beskikbaar!
Wanneer Hy van ons vra om
die evangelie uit te dra dan los Hy ons nie alleen nie. Hy het ons na sy
hemelvaart nie alleen agtergelaat nie. Die Heilige Gees is elke oomblik by ons
en selfs dit wat ons moet sê sal Hy ons voorsê soos ons hoor in Mar. 13:11
moet
julle nie vooruit bekommer oor wat julle sal sê nie, maar julle moet praat soos
dit op daardie oomblik aan julle gegee sal word, want dit is nie julle wat
praat nie, maar die Heilige Gees.
Die Heilige Gees het reeds
vir ons die evangelie boodskap gegee wat ons aan die wêreld moet bring soos ons
byvoorbeeld in Joh. 3:16 hoor:
“God het
die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom
glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
Nog ’n voorbeeld is Joh.
11:25-26:
“Ek is die opstanding en
die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in
My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”
Voordat ons kan uitgaan om
die evangelie te verkondig is daar ’n belangrik vraag: “Glo jy dit?” Dit
is ’n belangrike vraag wat elkeen vir homself moet afvra. Glo ek dat Jesus die
opstanding en die lewe is? Glo ek dat wie ook al in Jesus glo sal lewe, al
sterwe hulle ook? Glo ek dat ek die ewige lewe het?
Ons kan nie die goeie nuus
aan ander oordra as dit nie vir onsself ook goeie nuus is nie. Ook hierin vra
die here nie van ons wat ons nie het nie. Selfs die geloof wat Hy van ons vra
gee Hy vir ons. Bring jou twyfelende geloof na die Here toe en Hy sal dit so in
oorvloed seën dat daar aan die einde meer sal oorbly as wat jy nodig het.
Geliefdes as ons nie
brandende passie van die goeie nuus in ons het nie, dan sal ons nie in sy
koninkryk kan werk nie. Elkeen moet eerlik vir homself afvra: Is ek aktief
betrokke by die gemeente waarin die Here my geplaas het? Is ek ’n lewende
bousteen in hierdie gemeente? Is ek nog deel van die groep wat maklik vinger
wys en sê “hulle moet die werk doen,” of is ek deel van die “hulle” wat die
werk doen? Ons is ’n klein gemeente en ons kan nie bekostig dat net sommiges
die werk doen nie. Die dissipels het uitgegaan en die evangelie verkondig, maar
hulle het ook die praktiese werk gedoen soos om die mense te organiseer en die
kos uit te deel. Die vraag wat elkeen van ons vir onsself moet afvra is “waar
is ek betrokke by die koninkrykswerk in hierdie gemeente? Of strek dit niks
verder as dat ek so dan en wan ’n erediens op Sondag bywoon nie?” Die maklike
vraag wat mense vra is “wat beteken dit vir my en wat doen hulle vir my?” Die
moeilike vraag is “wat beteken ek vir die res van die gemeente?” As ek nog aan
die gemeente dink as hulle en nie as ons nie, dan is dit nodig dat ek weereens
by die Here se genade in Jesus Christus uitkom sodat ek weer die brandende
begeerte kan kry vir die koninkrykswerk waarvoor die Here my geroep het. Om by
sy genade uit te kom is eenvoudig. Ek moet glo dat die wonder van Jesus
Verlossing ook vir my ’n werklikheid is.
Dan sal ek vind dat dit
nie moeilik is om beskikbaar wees en aktief betrokke wees in die gemeente daar
waar dit nodig is nie. Dan sal dit nie moeilik wees om uit te reik na
behoeftige mense nie. Dan sal ek die seer van mense raak sien en uitreik na
hulle toe. Dan sal dit ’n brandende begeerte by my wees om die goeie nuus van
God se genade in Jesus Christus aan almal te verkondig.
Opsom
Wanneer ons voor probleme
te staan kom is die maklike oplossing: “Here neem ons probleem weg.” Weet u wat
geliefdes? Die Here gaan dit doen nie! Hoor u wat die Here vir ons sê? “gee
julle vir hulle kos” Reik uit na stukkende mense en bring die evangelie aan
hulle. Vertel vir hulle die goeie nuus van Jesus wat gekom het om ’n stukkende
wêreld heel te maak. Mense wat die goeie nuus ontvang word soldate wat saam met
ons werk om die Koninkryk van God sigbaar te maak. Dit is die taak van die
kerk. Niemand kan passief wees nie!
Elkeen moet sy gawes
aanbied en aktief betrokke wees in die gemeente. Wees beskikbaar vir die werk
wat gedoen moet word sodat ons gemeente haar roeping kan vervul. As daar aksies
is wat nodig is om fondse in te samel sodat ons gemeente die evangelie kan
verkondig moet almal saamwerk met die gawes wat die Here vir ons gegee het. Al
is my gawes hoe min, dit is nie ’n probleem nie, want met my bietjie verrig die
Here ’n wonderwerk! Ek moet net beskikbaar wees om die wonder wat die Here
verrig uit te deel.
Die Here los ons nie
alleen om die onmoontlike te doen nie. Hy doen die onmoontlike vir ons. God
gebruik die bietjie wat ons het tot groot seën in sy koninkryk.
Amen