Lees 1 Petrus 1
Teksverse: 1 Pet. 1 v
3-5
Inleiding
Geliefdes, wat maak dit
moontlik om die lewe in die oë te kyk? Hoop! Die krag van lewende hoop wat jou
staande hou wanneer jy binne die swaarkry en onsekerhede van die lewe vasgevang
word.
Om die lewende hoop te
verstaan waarvan die Here hier praat gaan ons na die volgende aspekte daarvan
kyk:
1)
Wat is
lewende hoop?
2)
Hoe kry
jy lewende hoop?
3)
Wat
beteken lewende hoop vir jou?
1) Wat is hierdie
lewende Hoop?
Dit is anders as wat ons
gewoonlik aan hoop dink. Wêreldse hoop werk op die basis dat jy die wens
uitspreek dat iets goed sal afloop, maar daar is altyd die kans dat dit skeef
kan uitloop en nie goed eindig nie. Byvoorbeeld, jy hoop dat jou span gaan wen,
maar daar is altyd ’n kans dat hulle tog kan verloor.
Die uitkoms van wêreldse
hoop is nie vas en seker nie. Wanneer jou lewe omgedop word en jy nie weet
watter kant toe nie, dan sê die wêreld vir jou: “wees sterk. Hou net aan.
Moenie dat dit jou onder kry nie.” Die probleem met hierdie raad is dat daar
geen waarborg is dat dit jou lewe beter gaan maak nie.
Lewende hoop is anders soos ons hoor in
1 Pet 1 v 3 & 4
Aan God, die Vader van ons Here
Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus
Christus uit die dood. Nou het ons ’n
lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat
in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.
Die lewende hoop is ons
hoop op ‘n nuwe lewe saam met God. Die erfenis van die sondeval is die ewige
dood. Nou gee God vir ons hoop van lewe i.p.v. dood. Dis nie ’n hoop van
miskien sal dit gebeur nie. Dis die vaste sekerheid dat God teenwoordig is in
jou lewe en dat jy nie alleen is nie.
Die lewende hoop van ’n nuwe
lewe saam met God is geanker in Jesus se opstanding. Hy het die prys vir die
sonde betaal met sy dood, maar nog meer. Hy het die dood oorwin. Jesus leef en
daarom kan ons vashou aan sy belofte van ’n lewende hoop op ’n nuwe lewe saam
met God.
Wêreldse hoop van ’n beter
lewe dra geen waarborge nie. Daar is geen waarborg dat dit wat jy hoop, wel
waar gaan word nie. Teenoor dit is daar God se lewende hoop wat vir jou ’n nuwe
lewe saam met God waarborg. Daar is geen kans dat dit nie sal gebeur nie, want
die waarborg daarvan is die lewende God wat die hemel en die aarde gemaak het.
2) Hoe kry jy lewende hoop?
Heel eenvoudig soos ons
hoor in 1 Pet. 1:5
En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir
die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te
word.
En in 1 Pet. 1:8-9 hoor
ons:
Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle
reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is.
Jy moet glo!
Wat moet jy glo?
Jy moet glo dat Jesus
uit die dood opgestaan het. Hoekom het Jesus gesterf? Hy het aan ’n vervloekte
kruishout gesterf om die prys vir die sonde te betaal wat geen mens self kan
betaal nie. Sonde het verwydering tussen God en mens gebring en omdat God lewe
is, het sonde verwydering tussen die mens en lewe gebring. Met sy opstanding
uit die dood het Jesus vir die mens die lewende hoop van lewe gebring.
Om daardie lewende hoop te
kry moet jy glo dat Jesus Christus vir jou gesterf het en dat Hy vir jou die
dood oorwin het. Jy moet glo dat Jesus Christus jou enigste Verlosser en
Saligmaker is.
Maar hiermee saam is
daar ’n belangrike punt wat jy moet verstaan. Jy hoef niks te doen om die
lewende hoop te verdien nie. God gee dit vir jou, verniet! Ons hoor in 1 Pet. 1:3
“Hy (God) het ons die nuwe lewe geskenk.” En dis met jou geloof
in Jesus Christus dat jy dit vasgryp.
Hiermee saam is hoor ons
ook hoe groot God se genade werklik is. Selfs die geloof wat Hy vra, gee Hy vir
ons deur die Heilige Gees. Ons hoor in 1 Pet. 23:
Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie,
maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.
Weergebore, beteken dat
God jou bring op ’n plek waar jy die Evangelie, die Goeie Nuus van Jesus
Christus hoor. Die Heilige Gees verander jou en gee vir jou die geloof sodat jy
sal glo dat Jesus jou so lief het, dat Hy sy lewe vir jou afgelê het en dat Hy
die dood oorwin het sodat jy kan lewe.
God het jou lief en
daarom gee Hy vir jou die lewende hoop van ’n nuwe lewe saam met Hom. Jy moet
dit glo.
Glo julle dit,
geliefdes?
3) Wat beteken lewende
hoop vir jou?
In 1 Pet. 1:6 hoor ons
dat lyding en swaarkry nog steeds ’n werklikheid is in hierdie lewe.
Lewende hoop beteken dat
lyding nie kan keer dat jy nie die nuwe lewe saam met God kan leef nie. Verder
beteken dit ook dat jy nie alleen staan teen die lyding van lewe nie, omdat God
saam met jou is. God is daar by jou. Hy hou jou vas en wanneer dit nodig word
dra Hy jou.
Wanneer jy jou lewenspad
saam met God stap sal Hy keer dat lyding jou vernietig, want Hy gee vir jou die
krag wat jy nodig het. Wanneer jy jou lewenspad saam met God stap dan maak
lyding jou ook meer intens bewus van God se teenwoordigheid in jou lewe.
Verder beteken lewende
hoop ook dat selfs die dood nie God se liefde in jou lewe kan wegvat nie. Die
lewende hoop is ’n onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in
die hemel ook vir ons in bewaring gehou word.
Ons hoef nie meer vir
die dood bang te wees nie, want dit is nie die einde nie. Dit is alleen maar
net ’n heerlike deurgang tot die ewige heerlik saam met God, daar waar daar
geen lyding, dood, hartseer of pyn meer sal wees nie.
Dit is ook die troos wat
die Here vir ons gee wanneer ons met die dood van ’n geliefde gekonfronteer
word. Lewende hoop maak dit moontlik dat jy nie hoef te treur soos hulle wat
geen hoop het nie. Ons treur oor ons geliefdes, maar ons doen dit met die wete
dat lewende hoop ons waarborg dat die dood nie die einde is nie.
Lewende hoop beteken ook
dat God sy liefde in jou ingeplant het soos ons ook in 1 Pet. 1:22 hoor:
Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om
mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en
vurig liefhê.
God gee sy liefde vir
ons en nou vra Hy: “gaan leef My liefde teenoor mekaar uit.” Lewende hoop beteken
dat ons inderdaad God se liefde kan leef. Dit beteken dat dit nie meer ons eie
sondige natuur is wat ons lewens regeer nie, maar dat dit God se liefde is wat dit
doen.
Slot
Wat maak dit moontlik om
die lewe in die oë te kyk?
Hoop!
Dis die vaste sekerheid
dat God teenwoordig is in jou lewe. Die sekerheid van die krag van die lewende
hoop van ’n lewe saam met God wat jou staande hou wanneer jy binne die swaarkry
en onsekerhede van die lewe vasgevang word.
Gryp daardie lewende
hoop in geloof vas. Glo dat Jesus vir jou sondes aan ’n vervloekte kruis
gesterf het en dat Hy met sy opstanding vir jou ’n nuwe lewe gegee het.
Lewende hoop beteken dat
jy nie alleen staan teen die lyding van lewe nie, omdat God saam met jou is.
Dit beteken ook dat jy nie vir die dood hoef bang te wees nie omdat dit slegs ’n
deurgang is na die ewige heerlikheid saam met God.
Lewende hoop beteken dat
God se liefde nou jou lewe bepaal en dat jy God se liefde kan uitleef.
Gryp die lewende hoop vas
wat God jou gee en gaan leef dit!
Amen
