Wys tans plasings met die etiket 1 Petrus 1. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket 1 Petrus 1. Wys alle plasings

11 Januarie 2026

Die krag van ʼn lewende hoop

 

Lees 1 Petrus 1

Teksverse: 1 Pet. 1 v 3-5

Inleiding

Geliefdes, wat maak dit moontlik om die lewe in die oë te kyk? Hoop! Die krag van lewende hoop wat jou staande hou wanneer jy binne die swaarkry en onsekerhede van die lewe vasgevang word.

Om die lewende hoop te verstaan waarvan die Here hier praat gaan ons na die volgende aspekte daarvan kyk:

1)         Wat is lewende hoop?

2)         Hoe kry jy lewende hoop?

3)         Wat beteken lewende hoop vir jou?

1) Wat is hierdie lewende Hoop?

Dit is anders as wat ons gewoonlik aan hoop dink. Wêreldse hoop werk op die basis dat jy die wens uitspreek dat iets goed sal afloop, maar daar is altyd die kans dat dit skeef kan uitloop en nie goed eindig nie. Byvoorbeeld, jy hoop dat jou span gaan wen, maar daar is altyd ’n kans dat hulle tog kan verloor.

Die uitkoms van wêreldse hoop is nie vas en seker nie. Wanneer jou lewe omgedop word en jy nie weet watter kant toe nie, dan sê die wêreld vir jou: “wees sterk. Hou net aan. Moenie dat dit jou onder kry nie.” Die probleem met hierdie raad is dat daar geen waarborg is dat dit jou lewe beter gaan maak nie.

Lewende hoop is anders soos ons hoor in
1 Pet 1 v 3 & 4

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.

Die lewende hoop is ons hoop op ‘n nuwe lewe saam met God. Die erfenis van die sondeval is die ewige dood. Nou gee God vir ons hoop van lewe i.p.v. dood. Dis nie ’n hoop van miskien sal dit gebeur nie. Dis die vaste sekerheid dat God teenwoordig is in jou lewe en dat jy nie alleen is nie.

Die lewende hoop van ’n nuwe lewe saam met God is geanker in Jesus se opstanding. Hy het die prys vir die sonde betaal met sy dood, maar nog meer. Hy het die dood oorwin. Jesus leef en daarom kan ons vashou aan sy belofte van ’n lewende hoop op ’n nuwe lewe saam met God.

Wêreldse hoop van ’n beter lewe dra geen waarborge nie. Daar is geen waarborg dat dit wat jy hoop, wel waar gaan word nie. Teenoor dit is daar God se lewende hoop wat vir jou ’n nuwe lewe saam met God waarborg. Daar is geen kans dat dit nie sal gebeur nie, want die waarborg daarvan is die lewende God wat die hemel en die aarde gemaak het.

2) Hoe kry jy lewende hoop?

Heel eenvoudig soos ons hoor in 1 Pet. 1:5

En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.

En in 1 Pet. 1:8-9 hoor ons:

Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is.

Jy moet glo!

Wat moet jy glo?

Jy moet glo dat Jesus uit die dood opgestaan het. Hoekom het Jesus gesterf? Hy het aan ’n vervloekte kruishout gesterf om die prys vir die sonde te betaal wat geen mens self kan betaal nie. Sonde het verwydering tussen God en mens gebring en omdat God lewe is, het sonde verwydering tussen die mens en lewe gebring. Met sy opstanding uit die dood het Jesus vir die mens die lewende hoop van lewe gebring.

Om daardie lewende hoop te kry moet jy glo dat Jesus Christus vir jou gesterf het en dat Hy vir jou die dood oorwin het. Jy moet glo dat Jesus Christus jou enigste Verlosser en Saligmaker is.

Maar hiermee saam is daar ’n belangrike punt wat jy moet verstaan. Jy hoef niks te doen om die lewende hoop te verdien nie. God gee dit vir jou, verniet! Ons hoor in 1 Pet. 1:3 “Hy (God) het ons die nuwe lewe geskenk.” En dis met jou geloof in Jesus Christus dat jy dit vasgryp.

Hiermee saam is hoor ons ook hoe groot God se genade werklik is. Selfs die geloof wat Hy vra, gee Hy vir ons deur die Heilige Gees. Ons hoor in 1 Pet. 23:

Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.

Weergebore, beteken dat God jou bring op ’n plek waar jy die Evangelie, die Goeie Nuus van Jesus Christus hoor. Die Heilige Gees verander jou en gee vir jou die geloof sodat jy sal glo dat Jesus jou so lief het, dat Hy sy lewe vir jou afgelê het en dat Hy die dood oorwin het sodat jy kan lewe.

God het jou lief en daarom gee Hy vir jou die lewende hoop van ’n nuwe lewe saam met Hom. Jy moet dit glo.

Glo julle dit, geliefdes?

3) Wat beteken lewende hoop vir jou?

In 1 Pet. 1:6 hoor ons dat lyding en swaarkry nog steeds ’n werklikheid is in hierdie lewe.

Lewende hoop beteken dat lyding nie kan keer dat jy nie die nuwe lewe saam met God kan leef nie. Verder beteken dit ook dat jy nie alleen staan teen die lyding van lewe nie, omdat God saam met jou is. God is daar by jou. Hy hou jou vas en wanneer dit nodig word dra Hy jou.

Wanneer jy jou lewenspad saam met God stap sal Hy keer dat lyding jou vernietig, want Hy gee vir jou die krag wat jy nodig het. Wanneer jy jou lewenspad saam met God stap dan maak lyding jou ook meer intens bewus van God se teenwoordigheid in jou lewe.

Verder beteken lewende hoop ook dat selfs die dood nie God se liefde in jou lewe kan wegvat nie. Die lewende hoop is ’n onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir ons in bewaring gehou word.

Ons hoef nie meer vir die dood bang te wees nie, want dit is nie die einde nie. Dit is alleen maar net ’n heerlike deurgang tot die ewige heerlik saam met God, daar waar daar geen lyding, dood, hartseer of pyn meer sal wees nie.

Dit is ook die troos wat die Here vir ons gee wanneer ons met die dood van ’n geliefde gekonfronteer word. Lewende hoop maak dit moontlik dat jy nie hoef te treur soos hulle wat geen hoop het nie. Ons treur oor ons geliefdes, maar ons doen dit met die wete dat lewende hoop ons waarborg dat die dood nie die einde is nie.

Lewende hoop beteken ook dat God sy liefde in jou ingeplant het soos ons ook in 1 Pet. 1:22 hoor:

Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê.

God gee sy liefde vir ons en nou vra Hy: “gaan leef My liefde teenoor mekaar uit.” Lewende hoop beteken dat ons inderdaad God se liefde kan leef. Dit beteken dat dit nie meer ons eie sondige natuur is wat ons lewens regeer nie, maar dat dit God se liefde is wat dit doen.

Slot

Wat maak dit moontlik om die lewe in die oë te kyk?

Hoop!

Dis die vaste sekerheid dat God teenwoordig is in jou lewe. Die sekerheid van die krag van die lewende hoop van ’n lewe saam met God wat jou staande hou wanneer jy binne die swaarkry en onsekerhede van die lewe vasgevang word.

Gryp daardie lewende hoop in geloof vas. Glo dat Jesus vir jou sondes aan ’n vervloekte kruis gesterf het en dat Hy met sy opstanding vir jou ’n nuwe lewe gegee het.

Lewende hoop beteken dat jy nie alleen staan teen die lyding van lewe nie, omdat God saam met jou is. Dit beteken ook dat jy nie vir die dood hoef bang te wees nie omdat dit slegs ’n deurgang is na die ewige heerlikheid saam met God.

Lewende hoop beteken dat God se liefde nou jou lewe bepaal en dat jy God se liefde kan uitleef.

Gryp die lewende hoop vas wat God jou gee en gaan leef dit!

Amen


12 Oktober 2025

Hoekom is daar lyding en boosheid in die wêreld?

Struikelblokke op ons pad van geloofsgroei –

Hoekom is daar lyding en boosheid in die wêreld?

1 Pet. 1 v 3 tot 9 teksverse 1 Pet. 1 v 6 & 7a
 

Iets wat nie groei nie, is besig om dood te gaan. So is dit ook met jou verhouding met God. As daar nie geloofsgroei is nie, is jou verhouding met God besig om agteruit te gaan. Wanneer ons praat van geloofsgroei dan beteken dit eenvoudig om God beter te leer ken om sodoende nader aan God te beweeg.

Een van die struikelblokke op die pad van geloofsgroei is die moeilike vraag “hoekom is daar soveel lyding en boosheid in die wêreld teenwoordig?” Hoe kan ’n liefdevolle God toelaat dat daar soveel lyding in die wêreld is? Waarom laat Hy toe dat ouers ’n onskuldige driejarige kind so verwaarloos en mishandel dat sy doodgaan? Waarom laat God toe dat ’n natuurramp duisende mense se dood veroorsaak?

Hoekom keer God nie daardie selfmoord bomaanvaller wat onskuldige mense met sy aanval teiken? Hoekom laat God toe dat ek deur ’n ongeneeslike siekte afgetakel word? Hoekom laat God toe dat my geliefde stelselmatig deur so ’n verskriklike Altsheimers siekte vernietig word?

Vir sommige mense is dit so ’n groot struikelblok dat hulle heeltemal wegdraai van God af. En dan redeneer hulle: As God liefdevol is, sal Hy nie wil hê dat onskuldige mense ly nie. As Hy almagtig is sal Hy sy almag gebruik om lyding te keer. As daar ’n liefdevolle en almagtige God is soos die Bybel ons leer, dan behoort daar nie lyding in die wêreld te wees nie.

Daar is egter lyding in hierdie wêreld en daarom kan die God wat die Bybel aan ons voorhou nie bestaan nie. So redeneer hierdie mense.

Dit is inderdaad ook ’n baie moeilike vraag vir gelowiges om te beantwoord. Hoe beantwoord jy as gelowige die aanklag dat God nie omgee nie of dat Hy nie in staat is om lyding te keer nie? Die maklike manier is om ’n kop in die sand benadering te volg deur bg. vraagstuk te systap. Die probleem met hierdie benadering is dat dit die ou duiwel ’n geleentheid gee om jou geloof aan te val, veral wanneer jy op jou kwesbaarste is. Veral daar waar jy die aanslag van lyding en boosheid persoonlik aan die lyf voel. Wanneer die lewe om jou donker word en jy binne in die storm staan, tik die ou duiwel jou op die skouer en sê: “Sien jy. Kyk na die gemors waarin jy nou is. Voel jy die pyn? Ek het jou mos al gesê, jy kan God nie vertrou nie. Hy gee nie vir jou om nie. Hy kan jou nie help nie. Dit is beter om van Hom af weg te draai.”

Waar vind ons antwoorde op hierdie moeilike lewensvrae? Daar is net een plek waar jy antwoorde kan vind. By God self in sy Woord. Wat sê God vir ons oor hierdie onmoontlike vraagstuk? Hoe kan God liefdevol en almagtig wees en nie lyding dadelik tot niet maak nie? In ons teks gee God vir ons ’n antwoord op hierdie moeilike vraag. In 1 Pet 1 v 6 hoor ons:

selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings

God kan keer dat lyding plaasvind, maar Hy laat dit net vir ’n kort tydjie toe. Binne sy almag en raadsbesluit laat Hy soms lyding toe vir ’n kort tydjie. In die perspektief van God se ewigheid is lyding inderdaad net ’n kort tydjie.

Die vraag wat nog onbeantwoord is, is egter: “Gee God dan nie om nie?” Om hierdie vraag te antwoord moet ons kyk na wat God gedoen het. Hy het Homself aan die voorfront van lyding geplaas. In Jesus Christus het God die diepste diepte van pyn en lyding ervaar. Een ding is seker! God gee om. Hy gee soveel om dat Hy sy enigste Seun na die wêreld toe gestuur het sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Ons hoor in 1 Pet. 1 v 3 & 4 dat God se ontferming so groot is dat Hy ons ’n nuwe lewe geskenk het deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. En dit gee vir ons ’n ’n lewende hoop op ’n onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir ons in bewaring gehou word.

As ons net so bietjie terugstaan om perspektief te kry. Wat is die ergste wat met jou hier op aarde kan gebeur? Dit is dat jy jou lewe kan verloor en selfs dit kan jou nie van God se liefde skei nie. Die dood is nie meer ’n hopelose einde nie. Dit is slegs ’n deurgang na ’n ewige heerlikheid saam met God. In 1 Pet 1 v 4 is die belofte dat die gelowige se erfenis onverganklik, onbesmet en onverwelklik is. Daar is dus niks wat dit ongedaan kan maak nie. Dit is ’n vaste sekerheid wat op God se karakter gewaarborg word.

In 1 Pet 1 v 5 hoor ons dat geloof die sleutel is om hierdie erfenis wat God belowe te kry. Die wonderlike troos:

En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.

In 1 Pet. 1 v 7 hoor ons dat jou geloof deur middel van lyding getoets word. Omdat geloof die sleutel is vir jou versoening en verhouding met God is dit selfs kosbaarder as goud en net soos die suiwerheid van goud met vuur getoets word, word die egtheid van jou geloof deur die vuur van lyding getoets.

Dit is hier waar die tekkie die teer slaat. Wanneer jy binne in die chaos van pyn en lyding staan moet jy bly glo dat God net jou beste belang op die hart dra. Jy moet glo en vertrou dat God in beheer is, veral wanneer dit vir jou lyk of alles buite beheer is. Jy moet God vertrou en jou ore sluit vir die aanklag van die duiwel wat jou probeer oortuig dat jy God nie kan vertrou nie. Hoe meer jy op God vertrou, hoe hegter word jou verhouding met Hom, veral wanneer jy nie die uitkoms kan sien nie.

Daar is kere waar ons kan sien hoe God se belofte dat alles ten goede meewerk waar is. Daar is egter ook baie kere waar dit nie duidelik is nie en dit is hier waar jou geloof en vertroue in God jou deurdra. Om te bly vertrou dat binne die groter prentjie van God se raadsplan dat selfs dit wat vir my sinneloos lyk steeds sin maak.

Dit is soos ’n legkaart te bou van derduisende stukkies. As ek net na die een of twee legkaart stukkies kyk wat hier voor my is, sien ek nie die geheel van die prent wat die legkaart vorm raak nie. God se legkaart is groter as die grootste legkaart waaraan ons kan dink. God se legkaart is groter as die heelal wat so groot is dat ons nie werklik die grote daarvan kan begryp nie.

Wanneer jy in geloof God vertrou, veral wanneer jy geen uitkoms kan sien nie, gee God die belofte dat jy met onuitspreeklike en heerlike blydskap vervul sal word. Dit bou jou verhouding met God en jy sal ervaar hoe God ’n werklikheid binne jou lewe is.

Geliefdes, moenie dat jou geloofspad saam met God belemmer word deur die vraagstuk van lyding nie. Moenie val vir die duiwel se leuen dat jy God nie kan vertrou nie. Hou jou oë op die kruis en opstanding van Jesus Christus. Bly glo dat God in beheer is en jy sal ervaar hoe jy op jou geloofspad nader aan God beweeg.

Amen