Psalm 13 Teksvers Ps.
13v6
31
Apr. 2016 GKE
Aing:
Ps.
42-1 v 1 & 3
Ps.
32-1 v 1
Ps.
31-1 v 1
Ps.
86-1 v 1 & 3
Inleiding
Hoe lank nog HERE? Dis die
noodroep van gelowiges oor al die eeue heen. Hoe lank gaan U ons vergeet Here?
Hoe lank moet ons nog swaarkry in hierdie lewe? Hoe lank nog, Here, voordat U
uitkoms gee?
In hierdie Psalm hoor ons ’n
dringende roep na verlossing en dit is iets waarmee ons kan identifiseer. In
hierdie Psalm hoor ons hoe Dawid sy nood na die Here toe bring. Ons weet nie
presies wat die omstandighede was waarin Dawid verkeer het toe hy hierdie Psalm
gedig het nie. Uit Dawid se geskiedenis weet ons wel dat hy tye in sy lewe
beleef het waar hy onder erge vervolging gely het waar sy lewe in gevaar was.
Dink maar aan die tyd toe hy as jongman vir sy lewe moes vlug toe koning Saul
hom wou doodmaak of die tyd toe sy eie seun Absolom hom van die troon wou afsit
om in sy plek koning te word.
In die Psalm self kry ons
nie ’n aanduiding in watter van hierdie omstandighede Dawid in verkeer het nie.
Wat wel duidelik is, is dat Dawid in ’n erge sielewroeging was toe hy hierdie
Psalm geskryf het. Daarin sien ons hoe Dawid vorder vanaf wanhopige vrae na
angstige versoeke tot by lofprysing en vertroue in die Here se liefde. Dawid se
pad uit wanhoop deur gebed tot vertroue in die Here se liefde gee vir ons ook
troos en hoop wanneer die stampe en die stote van die lewe ons moedeloos maak.
Hierin sien ons hoe die Here se troue verbondsliefde ons optel wanneer ons
wanhoop verval. In hierdie Psalm sien ons dat ons, ons nood na die Here toe mag
bring. Ons mag vir uitkoms vra en ons sien dat ons op die Here se troue
verbondsliefde kan vertrou.
Bring jou nood na die Here toe
Hierdie Psalm begin by
wanhoop. Vier keer vra Dawid die vraag “Hoe lank nog?”
s
Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir
altyd?
s
Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk?
s
Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae
met kommer deurbring?
s
Hoe lank sal die vyand my nog oorheers?
Die viervoudige herhaling
van die vraag wys vir ons sy intense lyding. Hierin sien ons ook dat hierdie
lyding baie meer is as die fisiese omstandighede wat daartoe aanleiding gegee
het. Dit is ’n absolute sielewroeging waarin Dawid verkeer. Dit voel vir hom of
die Here van hom vergeet het en dat Hy nie Dawid se ellende raaksien nie. Dit
voel vir hom of hy alleen staan in hierdie stryd en dat hy absoluut op homself
aangewese is. Hy is op daardie punt dat hy net nie meer weet watter kant toe.
In hierdie worstelstryd
van Dawid is daar vir ons geweldig baie troos. Wanneer dit voel of die lewe vir
ons te veel word, dan mag ons, ons lot teenoor die Here bekla. Hier sien ons
hoe Dawid wat een van die groot geloofshelde in die Bybel is na die Here toe
kom met sy nood. Hiermee sê die Here vir ons: “jy mag na My toe kom wanneer die
lewe vir jou te veel word.” Ons mag na die Here toe kom en vir Hom sê: “Here ek
kan nie meer nie. Ek sien nie meer kans nie!” Wanneer die lewe te veel word,
bring jou nood na die Here toe.
Vra vir uitkoms
Dawid het sy nood na die
Here toe gebring en daarmee saam het hy die Here gesmeek om uitkoms te gee. Hy
bring ’n dringende pleidooi na die HERE toe:
Luister
tog en antwoord my, Here my God! Gee my tog nuwe lewenskrag. Ek wil nie sterwe
nie, anders sê my vyand hy het my oorwin en juig my verdrukkers oor my
ondergang.
Te midde van sy diepste
vertwyfeling roep Dawid angstig tot Here vir uitkoms. As sy vyand oorwin, dan
oorwin die boosheid die goeie en dan is alles verlore.
Soms is dit nodig dat ons
tot die besef gebring moet word dat die enigste werklike uitkoms alleen by God
te vinde is. In hierdie situasie besef Dawid dat daar alleen by die Here
uitkoms is en daarom sy dringende gebed dat die HERE hom moet antwoord. Hy kan
nie meer nie en daarom vra hy dat die HERE vir nuwe lewenskrag gee.
Wanneer dit met ons goed
gaan dan vergeet ons so maklik dat dit maar alleen die HERE se genade is wat
ons staande laat bly. As dit met my goedgaan dan dink ek maklik dat ek nie die
HERE nodig het nie. Soms is dit nodig dat ’n krisis in my lewe my tot die besef
moet bring dat dit net God is wat my hierdeur kan dra. Wanneer dit goed gaan
plaas ons so maklik ons vertroue in ander dinge en nie op die HERE nie. Daarom
moet ons weet dat ons in die goeie tye en die slegte tye alleen op die HERE
moet vertrou.
Die krisisse in ons lewens
help ons om te besef dat ons in goeie en slegte tye alleen op Hom moet vertrou.
Wanneer die lewe te veel word mag ons, ons nood na die Here toe bring en ons
mag vir uitkoms vra. Dit sal ons by die punt bring waar ons die HERE kan loof
en prys uit dankbaarheid vir sy troue verbondliefde.
Vertrou op die HERE se troue verbondsliefde
Die Psalm se einde verskil
radikaal van sy begin. Dawid se wanhoop het verander in ’n loflied van dankbaarheid
omdat hy nou God se liefde raaksien. In Ps. 13v6 hoor ons:
Ek hou
vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart. Ek wil sing
tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het.
Dawid se vertroue staan op
die HERE se troue verbondsliefde. Hierin sien ons die liefdevolle karakter van
God raak. Hy kan ons nie laat gaan nie omdat dit teen sy natuur sou wees om dit
te doen.
God het Homself voorgeneem
om sy liefde aan ons te gee. Daardie liefde sien ons raak in sy handelinge deur
al die eeue heen. Nadat Adam en Eva teen Hom gerebelleer het, het Hy steeds in
liefde na hulle toe uitgereik. Uit sy liefde het Hy ’n ewige verbond met
Abraham aangegaan. “Ek sal vir jou ’n God wees en jy en jou nageslag moet My
dien.” Daardie verbond het Hy weer met Abraham se nageslag bevestig by Sinai.
Hy het aan Dawid belowe dat een uit Dawid se nageslag vir ewig Koning sal wees.
Dit is hierdie troue verbondsliefde wat Dawid deur sy krisis gedra het.
Die belofte van ’n ewige
Koning het in Jesus Christus vir ons waar geword. In sy diepste nood het Jesus
Christus in bange Godverlatenheid uitgeroep:
“Eloï,
Eloï, lemá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?
(Mat 15v34)
Hy het dit gedoen sodat
ons kan weet dat ons selfs in ons diepste krisis en nood nooit alleen sal wees
nie, omdat God daar by ons is. Deur ons diepste nood en krisisse dra God se
liefde ons, daardie liefde wat Hy vir ons in Jesus Christus aan die kruis bewys
het. Wanneer ons na die kruis kyk, dan weet ons dat ons op die HERE se troue
verbondsliefde kan vertrou.
Samevatting
Wanneer ons in nood
verkeer moet ons nie die fout maak om ons blind te staar teen die omstandighede
nie. Ons moet ons krisisse sien teen die wyer agtergrond van God se liefdesdade
teenoor ons. God se liefde wat ons so duidelik sien teen die agtergrond van die
kruisgebeure beteken nie dat ons nooit in ’n krisis sal beland nie. Dit beteken
wel dat wanneer ons daarin beland dat sy troue verbondsliefde ons daardeur dra.
Wanneer ons dus in ’n
krisis beland moet ons weet dat ons, ons nood voor die HERE se voete mag kom
neerlê. Ons mag vir Hom vra om uitkoms te gee en ons moet weet dat sy liefde
ons daardeur sal dra net soos Hy ons in die verlede gedra het. Hou dus vas aan
die wete dat Die HERE se troue verbondsliefde ons optel wanneer ons in wanhoop
verval.
Amen