Hoekom moet hierdie ramp my tref? Waarom ek? Waarom moes dit met my
gebeur? Hoe dikwels vra ons nie hierdie vrae wanneer dit met ons sleg gaan nie?
Is dit werklik so eienaardig dat dinge in my lewe skeefloop? Eintlik sou dit
meer logies wees om te vra “hoekom nie ek nie?” Die Here sê dan vir ons in Joh.
16v33
In die wêreld sal julle dit moeilik hê.
Die Griekse woord wat met moeilik vertaal is, beteken letterlik om platgedruk te word, inmekaar verfrommel te word. Hierdie waarskuwing van Jesus verwys dus nie na die klein probleempies wat ons in die lewe ervaar nie. Dit gaan nie oor daardie keer wat ek per ongeluk my toon gestamp het nie, en nou wonder ek waarom nie.
Nee geliefdes, dit gaan oor die GROOT probleme in die
lewe. Daardie probleme wat jou op die grond neergooi sodat jy nie krag het om
op te staan nie. Daardie dinge wat hartseer en droefheid oor ons pad bring.
Daardie geleentheid waar die smart so swaar op jou bors druk dat jy nie eers
kan asem haal nie.
Hoe kan ons staande bly wanneer die storms van die lewe ons tref. Hoe
kan ons regop bly wanneer die stormwind orkaansterkte bereik? In ons teks
gebruik Jesus die voorbeeld van ’n huis wat deur ’n orkaansterkte stormwind
getref word.
24“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en
daarvolgens handel, kan vergelyk word met ’n verstandige man wat sy huis op
rots gebou het. 25Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom,
winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie
ingestort nie, want die fondament was op rots.
As daardie huis se fondament op die rots vasgeanker is, sal dit staande
bly. In Luk 6v48 word dit nog duideliker gestel. Die grond moet diep uitgegrawe
word totdat rotsbedding bereik word. Dit is op daardie rotsbedding wat vas en
stewig staan waarop die huis se fondament vasgeanker moet word.
Wanneer die vloedwaters en die stormwinde kom sal daardie huis bly staan en nie vernietig word nie. Die vloedwaters en stormwinde wanneer iemand wat baie na aan ons is, doodgaan. Die pyn om my kind, man, broer, suster, vrou of daardie geliefde persoon wat so na aan my was aan die dood af te staan.
Die
vloedwaters en stormwinde van daardie angswekkende woorde “Ek is jammer, maar
jy het kanker!” Die gewas in jou brein is kwaadaardig. Die vloedwaters en
stormwinde wanneer die geweld van ’n egskeiding ’n gesin uitmekaar ruk. Die
vloedwaters en stormwinde van ’n loopbaan wat deur rasionalisasie tot ’n
onverwagse einde kom. Die vloedwaters en stormwinde van depressie wat die lig
en die wil om te lewe uit doof.
Dit is net die Rots Jesus Christus wat ’n mens
staande kan hou teen sulke storms in die lewe. In ons teksvers hoor ons dat ons NET in Jesus Christus
vrede kan vind.
Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in
My.
Is dit moontlik om vrede te vind wanneer my hele wêreld om my inmekaar
val? Dit is moontlik geliefdes, mits die vrede op die regte plek gesoek word.
Dit is slegs moontlik wanneer ons vashou aan die kruis van Jesus Christus en
wat dit vir my persoonlik beteken.
Jesus verduidelik egter ook wat gebeur as ons, ons fondamente op die
sand bou. Wanneer bou ons op die sand? Ek bou op die sand wanneer ek in my eie
vermoëns vertrou. Ek bou op die sand wanneer ek op my status en my geld
vertrou. Ek bou op die sand wanneer ek al my vertroue in mense stel. Wanneer
ons dit doen is daar geen hoop midde in die storms nie! (vgl. Mat 7v26-27)
26En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie
daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ’n dwaas wat sy huis op sand
gebou het. 27Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde
het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is
heeltemal verwoes.”
As ek my vertroue op iemand of iets anders as Jesus Christus stel gaan
ek heeltemal verwoes word in die storm.
Hoe kan ek staande bly as die storms van die lewe om my woed? Slegs as ek my fondament op die rots van Jesus Christus vasanker en nie op die sand bou nie. Hier is egter ’n belangrike beginsel geliefdes.
Ek moet my fondamente so
gou as moontlik terwyl dit nog stil is op die rots vasanker. Dit help nie dat
ek begin grou om na die rotsbedding te soek wanneer die stormwinde hier om my
bome uit die grond ruk nie. Dan is dit te laat en dan dop daardie storm my ook
om. Het u al probeer om iets buite te doen as die wind teen 100 of 150 km/u
waai?
Is dit nie wat ons so dikwels in ons geloofslewe probeer doen nie? Wanneer dit mooiweer is dan gaan ek met my lewe aan asof God nie bestaan nie. Ek maak nie tyd om Bybel te lees nie en ek bid nie eintlik nie. My dag tot dag optrede getuig eerder daarvan dat ek God nie ken nie.
Wanneer dit egter begin swaar gaan in my lewe, dan wil ek skielik vir God soos ’n noodwiel gebruik. My gebede bestaan uitsluitlik net uit versoeke tot God en wanneer ek in die nood is, probeer ek met God onderhandel sodat die slegte gevolge van my sonde my tog net nie moet tref nie.
Wanneer die lewe my omdop, dan is ek kwaad vir God en
kla ek net. Hoekom gebeur dit met my. Hoekom tref hierdie ramp my nou? Dan maak
ons maar ook net soos Israel van ouds waar die profeet Maleagi geskryf het in
Mal. 2v17
Julle het die Here moeg gemaak met wat julle gesê
het, en dan vra julle nog:
“Waarmee het ons Hom moeg gemaak?” Julle het dit
gedoen toe julle gesê het: “Vir die Here is almal wat verkeerd doen, goeie
mense, Hy hou van hulle,” of toe julle gevra het: “Waar is die God wat reg moet
laat geskied?”
As ek egter reeds my fondament op die rots van Jesus Christus se
kruisdood en opstanding vasgeanker het terwyl dit nog goed gaan in my lewe, dan
is dit maklik om moed te hou deurdat ons dan in vaste vertroue vas en seker sal
weet dat Jesus die wêreld reeds klaar oorwin het. (vgl Joh. 16v33c)
maar hou moed : Ek het die wêreld klaar oorwin.”
Dan kan ek staande bly wanneer die storms van die lewe kom. Dan kan ons
saam met Paulus getuig (2 Tim. 4v7)
Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die
wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou.
Maar wat dan nou as die lewe my omgedop het? Wat maak ek as plat op die aarde lê en ek het nie eers krag om op my knieë te staan nie, wat nog van opstaan? Ek het nie meer krag om te bid of Bybel te lees nie, want die lewe het vir my net te veel geword!
Geliefdes, dit is juis hier waar God se genade op sy
helderste skyn soos die Here in Jes. 42:3 vir ons sê:
’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit
wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie.
Hou vas aan Jesus Christus se uitnodiging in Mat 11v28-30
28 “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is,
en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want
Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My
juk is sag en my las is lig.”
Dan moet ons soveel te meer vashou aan die genade van Jesus Christus se
kruisdood en opstanding wat vir ons die versekering gee dat God ons nooit
alleen sal laat nie, selfs nie eers wanneer dit vir ons so voel nie. Dit is nie
ons gevoel wat bepaal of God sy beloftes gestand doen nie, maar sy genade en
liefde:
Rom. 8:37-39
37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars
deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of
lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of
hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van
God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
Geliefdes, wanneer die storms van die lewe om ons woed: hou vas aan God
se genade in Jesus Christus, want Jesus is die rots wat ons staande hou wanneer
die lewe ons wil omdop.
Amen
