Psalm 136 ; teksvers
Ps. 136 v 26
4 Okt. 2020
Hierdie oordenking is ook op video beskikbaar by:
1) Facebook
2) YouTube
Loof die God van die hemel!
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
Kan ons nog steeds die God van
die hemel loof wanneer ons die swaarkry van 2020 om ons aanskou? Kan ek die God
van die hemel loof wanneer dit vir my voel of my hele lewe besig is om
uitmekaar te val? Kan ek die God van die hemel loof wanneer dit vir my voel
asof ek nie eens kan asemhaal vanweë die chaos in my lewe rondom my nie?
Eerder as om die Here te loof
voel dit nie vir ons eerder of Ps. 42v4 eerder ons omstandighede beskryf
nie?
Dag en
nag is ek in trane, want sonder ophou sê hulle vir my:
“En
waar is jou God nou?”
Wanneer moet ons die Here
loof? Kan ons die Here net loof en prys en dank wanneer dit goed gaan met ons?
Is die woorde van Job in Job 2v10 nie ook vir ons waar nie?
As ons
die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?
Aan die ander kant is die
vraag ook: “waarvoor moet ons die Here loof en dank?” In Psalm 136 antwoord die
Here hierdie vraag.
Psalm 136 is ’n Psalm wat in
die tempel met beurtsang gesing is. Die voorganger het die eerste deel van elke
versreël voorgehou waarna die volk geantwoord het met:
Aan sy
liefde is daar geen einde nie.
In hierdie Psalm leer ons God
ken deur wie Hy is, deur sy skeppingsdade en deur sy verlossingsdade. In die
eerste plek hoor ons in verse 1 tot 3 wie God is. In vers 1 is die verwysing na
sy verbondsnaam JHWH (in Hebreeus) wat ons met HERE vertaal en dit beteken Hy
is ’n God wat naby is. In vers 2 hoor ons van Hom as die oppermagtige God en in
vers 3 as die magtigste van alle maghebbers.
Hierna word God se koninklike
majesteit voorgehou deur middel van sy skeppingsdade soos ons hoor in verse 4
tot 9. In vers 4 word hierdie skeppingsdade as magtige dade aan ons voorgehou
en dan van vers 5 tot 9 word daar in meer detail daaroor ingegaan.
God het die
hemel en die aarde geskep en hy het die son en die maan en die sterre geskep.
Hierin word die grootsheid en die almag van God beskryf. Wanneer ons die
grootsheid en die wonder van God se skepping aanskou dan besef ons weereens net
dat God baie meer is as wat ons ooit sal kan verstaan.
Dan word sy verlossingsdade
beskryf in verse 10 tot 22. In verse 10 tot 15 hoor ons hoe die Here sy volk
veilig uit Egipte uitgelei het en in verse 16 tot 22 hoor ons hoe die Here sy
volk op hul pad na die beloofde land Kanaän bewaar het.
In verse 23 tot 25 hoor
ons hoe die Here vir sy volk sorg.
Hierdie beskrywing van God
word toegevou deur middel van die refrein wat dwarsdeur die Psalm loop:
Aan sy
liefde is daar geen einde nie
Hierin word beskryf wie God in
Homself is, eindelose liefde wat vir ewig aanhou.
Die Hebreeuse woord wat hier
met liefde vertaal is word in die Ou Afrikaanse Vertaling met goedertierenheid
vertaal. In sommige Engelse vertalings word dit met “loving-kindness” vertaal en ook met “steadfast love”.
Die woord beteken letterlik
liefde wat mens kan vertrou omdat God onderneem het om dit te gee. God verbind
Homself daartoe om die liefde te gee en dat daar geen einde aan hierdie liefde
sal wees nie.
Dit is uit hierdie eindelose
liefde waaruit God se majesteit in sy skeppingsdade voortspruit en ook sy
genade in sy verlossingsdade. Die grondrede waarom ons God moet loof en dank is
omdat Hy God is en aan sy liefde is daar geen einde nie.
Ons kan op God se liefde
vertrou omdat dit ewigdurend is en dat niks ons daarvan sal kan skei nie soos
Hy in Rom. 8v38-39 vir ons sê:
38
Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of
toekomstige dinge of kragte 39 of hoogte of diepte of enigiets
anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat
daar is in Christus Jesus ons Here.
Ons maak so dikwels die fout
om God vir die verkeerde redes te wil loof en prys. Hoekom dien ons God? Omdat
Hy God is! Ons dien Hom tog nie oor al die seëninge wat Hy vir ons gee nie. As
dit die rede is hoekom ons God dien, dan dien ons Hom nie werklik nie. As ons
God alleen dien vir die gawes wat Hy vir ons gee dan gebruik of sal ek eerder
sê misbruik ons Hom om ons eie selfsugtige begeertes te bevredig.
Wat is die bewys dat God as
die gewer van alle goeie gawes vir ons kosbaar is? Lê die bewys daarvoor nie
juis in ons bereidheid om al die goeie gawes weg te laat om God te kry nie. Wil
ons vir God hê of wil ons eerder net die gawes hê wat van Hom af kom? Dis eers
as ons God dien om die regte rede dat ons hom kan loof in goeie en slegte tye.
Dan word ons belydenis in vraag en antwoord 28 van Sondag 10 van die
Heidelbergse Kategismus ’n werklikheid in ons lewens:
Dat
ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste
vertroue in ons getroue God en Vader kan stel.
Dit is egter so dat ons nie
altyd geduldig in teëspoed is nie. Waarom sukkel ons daarmee? Dis omdat ons as
gevolg van die mag van die sonde steeds sukkel om God te vertrou. Met ander
woorde ons vertrou nie gedagte: “Aan sy
liefde is daar geen einde nie.”
Op grond van God se troue
verbondsliefde en sy goedertierenheid verlos Hy ons egter nog steeds van die
slawekettings van die sonde. God se liefde is die rede waarom hy sy volk uit
die slawerny van Egipte verlos het. Sy liefde is die rede waarom Hy ons ook uit
die sondeslawerny verlos soos Hy vir ons sê in 1 Joh. 4v9-10:
9
Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die
wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10 Werklike
liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy
aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.
Deur Jesus Christus word ons
weer met God versoen en daarom kan ons ook midde in ons swaarkry die God van
die hemel loof want aan sy liefde is daar geen einde nie.
Die Here is nie onsimpatiek
teenoor ons wanneer ons swaarkry nie en daarom nooi hy ons ook uit in Mat.
11v28 uit:
Kom na
My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.
Dit is slegs wanneer jy, jou
laste na Jesus toe bring dat jy vrede vind, want vrede is nie ’n gebrek aan
teëspoed nie, maar wel die teenwoordigheid van God. Dit is slegs deur middel
van Jesus wat jy in die teenwoordigheid van God kan kom.
Kom na Jesus toe en dan sal jy
ook die God van die hemel kan loof want aan
sy troue verbondsliefde is daar geen einde nie!
Amen