Wys tans plasings met die etiket tempel. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket tempel. Wys alle plasings

15 September 2019

03. Wat beteken dit om kerk van die Here te wees? Die kerk is 'n tempel wat deur lewende boustene gebou is


15 Sep. 2019
Skriflesing: 1 Pet. 2 v 1 - 10
Teksvers: 1 Pet. 2 v 5



Ons staan vandag stil by die beeld waar die kerk met die tempel vergelyk word. In die Ou Testament was die tempel die plek waar die volk God ontmoet het. Die priesters het namens die volk offers gebring by die altaar. Die offers en tempel het dan ook profeties heengewys na Christus se offer aan die kruis en sy kerk.

In die Nuwe Testament word die beeld van die tempel dan ook gebruik om vir ons te verduidelik wat die kerk is en hoe dit moet funksioneer. Ons fokus vandag op 1 Pet. 2 v 5 om te hoor wat die Heilige Gees vir ons ten opsigte van kerkwees wil sê.

In 1 Pet. 2 v 5 hoor ons:
Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis, om ’n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.
Hier word die beeld van boustene wat gesamentlik 'n gebou vorm gebruik om te verduidelik hoe die lidmate gesamentlik 'n eenheid moet wees. Elke steen is noodsaaklik vir die gebou om volledig te wees. As daar te veel van die stene weggeneem word val die gebou inmekaar.

Boustene vorm net 'n gebou/tempel wanneer hulle as 'n eenheid saam gebou word. Boustene wat nie deel die groter geheel vorm nie, is nie 'n tempel nie. Christene moet deel van die plaaslike kerk wees en kan nie maar net op sy eie as Christin funksioneer nie. Die argument dat jy by die huis bid en Bybellees en daarom nie nodig het om deel van die kerk te wees nie, is onbybels en strydig met Christus se bedoeling vir sy kerk.

Die boustene wat gebruik word om mee te bou is lewende boustene. Dit wil sê elkeen van ons wat lidmaat van die kerk is, is 'n bousteen wat Jesus gebruik om sy kerk te bou. Ons is die boustene wat vorm en doel aan die Gereformeerde Kerk Empangeni gee.

Anders as die lewelose boustene wat gebruik is om die tempel in die Ou Testament te bou, is die boustene wat gebruik word om die Nuwe Testamentiese kerk te bou, lewende boustene. Met ander woorde elke bousteen moet aktief meewerk om kerk van die Here te wees. Jy kan nie maar net passief wees nie, jy moet aktief deelneem.

Die lewende boustene word gebruik om 'n geestelike huis te bou. Die Ou Testamentiese kerk was die plek waar die volk God ontmoet het. Net so is die geestelike huis, dit wil sê die kerk die plek waar God ontmoet word en ook 'n woonplek vir die Heilige Gees.

In 1 Kor. 3:16 hoor ons dat ons die tempel van God is en dat die Heilige Gees in ons woon. Dit verwys nie net na die gelowige as individu nie. Die gebruik van die beeld waar daar na gelowiges as tempel dit wil sê as kerk verwys word, dui juis aan dat die woonplek van die Heilige Gees veral is in die eenheid van gelowiges wat as kerk saamgevoeg is.

Nou is dit nie meer 'n gebou of 'n fisiese plek nie. In die gesamentlike aanbidding ontmoet ons God. Daarom is erediens bywoning so belangrik, want in die gesamentlike aanbidding ontmoet jy God.

Mense het dikwels 'n verkeerde idee oor hoekom eredienste bygewoon moet word. Die primêre doel van erediens bywoning gaan nie daaroor oor wat ek daaruit kan kry nie. Dit gaan daaroor dat ek God in die erediens en gesamentlike aanbidding gaan ontmoet.

Jou erediensbywoning is vir jou 'n belangrike barometer om te bepaal hoe belangrik dit vir jou is om God te ontmoet. As jy die geleentheid het om iemand wat vir jou belangrik behoort te wees te ontmoet, maar jy maak nie van die geleenthede gebruik nie, sê dit tog vir jou hoe belangrik daardie persoon werklik vir jou is.

Wie bepaal dat jy een van die lewende boustene gaan wees waarmee die geestelike huis gebou word? In 1 Pet. 2 v 9 hoor ons:
Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom
Wanneer 'n bouer 'n gebou bou dan kies hy die stene uit waarmee hy gaan bou. In Ef. 1 v 4 hoor ons dat God reeds voor die grondlegging van die wêreld besluit het wie boustene gaan wees.

Wat maak van jou 'n lewende bousteen? In 1 Pet. 2 v 4 hoor ons:
Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is.
Jesus is die lewende steen wat lewe gee. Hy het die dood oorwin en daarmee lewe verwerf en Hy gee dit aan elkeen wat in geloof na Hom toe kom.

In 1 Pet. 2 v 6 & 7 is dit duidelik dat geloof in die verlossingsdaad van Jesus Christus noodsaaklik is om verlos te word, dit wil sê om een van die lewende boustene te wees. Alhoewel die mense Hom verwerp het, het God vir Jesus uitgekies om die hoekklip, die fondament te wees waar die geestelike huis gebou word.

Vir hulle wat glo is Jesus die fondament waarop jy as lewende bousteen neergelê word. Indien jy egter nie glo nie, is Jesus vir jou 'n klip waarteen jy struikel en jou stamp. Die enigste weg om deel van die geestelike huis van Jesus Christus te wees is deur geloof in die evangelie van Jesus Christus.

In ons teksvers hoor ons hoekom ons as lewende boustene gebruik word om 'n geestelike huis te wees, dit wil sê hoekom is ons deel van die kerk van die Here. Dit is sodat ons 'n heilige priesterdom kan wees wat geestelike offers bring wat deur Jesus Christus vir God aanneemlik is.

Wat is 'n heilige priesterdom? In hierdie beeld van die tempel is die gelowiges ook 'n heilige priesterdom. In die Ou Testamentiese tempel het die priesters diens gedoen. Soos ons alreeds gehoor het, is die geestelike tempel 'n plek waar almal aktief betrokke is en hier hoor ons dat ons as gelowiges as priesters betrokke is.

Hier is nou weer 'n verskil tussen die Ou Testamentiese tempel en die geestelike huis van die Nuwe Testament. By die Ou Testamentiese tempel was daar net 'n sekere groep wat diens gedoen het as priesters. In die Nuwe Testamentiese geestelike huis doen al die gelowiges diens as priesters.

Hier word 'n verdere wanpersepsie wat by sommige mense bestaan reggestel. Dit is nie net die diakens, ouderlinge en predikant wat diens doen terwyl die res van die lidmate toeskouers is nie. Nee, elke lidmaat moet diens doen.

Wat is die diens dan wat ons in die geestelike huis moet verrig? Ons moet geestelike offers bring wat deur Jesus Christus vir God aanneemlik is.

Hoe lyk die geestelike offers wat ons moet bring? Jou hele lewe is 'n geestelike offer aan God, dit wil sê alles wat jy doen in jou dag tot dag lewe moet tot eer van God strek.

Dit is verder jou dank en lofprysing aan God. Dit wat jy by die huis doen in terme van jou Bybellees en gebede, dit wil sê jou persoonlike geloofslewe, maar dit sluit ook in ons gesamentlike aanbidding en lofprysing hier in die erediens. Wanneer jy nalaat om eredienste by te woon laat jy dus na om jou geestelike offer aan God te bring.

Dit is ook die liefdesdade deur goed te doen aan jou naaste. Veral die liefdesdade teenoor jou broers en susters in die geestelike huis waarvan julle lewende boustene is. Daar waar jy mense help in nood. Hierdie hulp is nie net finansiële ondersteuning nie, dit sluit ook emosionele ondersteuning in. Om daar te wees vir iemand wat swaar trek. 'n Woord van bemoediging en vertroosting. Voorbidding vir mense wat deur beproewing gaan.

Hierdie geestelike offers is egter net vir God aanneemlik wanneer dit deur Jesus Christus na Hom toe gebring word. Dit beteken dat jy in jou dag tot dag, uur na uur lewe nader aan Jesus moet beweeg.

Jy moet sy liefde ervaar deur die geestelike melk van sy woord te drink. Jy moet sy beloftes, sy opdragte, sy waarskuwings in sy Woord leer ken en daaraan vashou totdat jy so gevul is daarmee dat jy dit lewe.

In 1 Pet. 2 v9 hoor ons wat die rede vir geestelike offers is:
Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.
Die kerk moet met woord en daad dit wil sê met die geestelike offers wat ons bring, die evangelie uitdra om hulle wat nog in die duisternis is, na die lig van Christus se verlossing te begelei.

Geliefdes ons is lewende boustene wat Jesus gebruik om sy geestelike huis, dit wil sê sy kerk te bou om 'n heilige priesterdom te wees wat geestelike offers van dank, lofprysing, aanbidding en liefdesdade deur Jesus bring om God te eer.

Geliefdes, Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis.

Amen