Wys tans plasings met die etiket God is 'n toevlug. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket God is 'n toevlug. Wys alle plasings

05 Julie 2026

God is vir ons 'n skuilplek en 'n bron van krag

 

Skriflesing: Psalm 46 – 20/20 Vertaling

Teksverse: Ps. 46:2, 11 & 12

1    Vir die musiekleier. Van die Koragiete. Op “Jong vroue”. 'n Lied.

2  God is vir ons 'n skuilplek en 'n bron van krag;
as hulp in benoudheid is Hy altyd te vinde.

3  Daarom sal ons nie bang wees wanneer die aarde skud,
en berge wankel in die hart van die see nie.

4    Sy waters kan maar woed, kan maar skuim,
berge kan maar bewe in sy dreuning. Sela

5    Daar is 'n rivier –
sy watervore verskaf vreugde aan die stad van God,
die heiligste woonplek van die Allerhoogste.

6    God is in haar midde, sy sal nie wankel nie.
God sal haar help wanneer die oggend aanbreek.

7  Nasies was onstuimig, koninkryke het gewankel,
Hy het sy stem laat hoor; die aarde sidder.

8  Die Here, Heerser oor alle magte, is met ons,
'n toevlugsoord is die God van Jakob vir ons.
   Sela

9    Kom kyk na die dade van die Here,
Hy wat skrikwekkende dinge op aarde doen,

10  wat oorloë laat ophou tot aan die einde van die aarde.
Boë breek Hy stukkend en Hy verpletter spiese;
waens verbrand Hy in die vuur.

11 “Bedaar en erken dat Ek God is,
Ek is verhewe bo die nasies,
Ek is verhewe bo die aarde.”

12  Die Here, Heerser oor alle magte, is met ons,
'n toevlugsoord is die God van Jakob vir ons.

 Psalm 46 is die belydenis van gelowiges wat weet waar hul ankers in die lewe is. Wanneer die wêreld in chaos rondom hulle losbars, dan is daar net een veilige plek waar hul gaan skuiling soek. By God en dit is die Psalmdigter se belydenis:

Psalm 46:2

God is vir ons 'n skuilplek en 'n bron van krag;

as hulp in benoudheid is Hy altyd te vinde.

God is hul skuilplek wanneer die wêreld om hulle in duie stort. Hy gebruik hier die voorbeeld van aardbewings wat die wêreld laat skeur en berge in die see laat wegsink, want God is die Skepper en daarom kan Hy die gelowiges beskerm teen die gevare.

In verse 5 tot 8 beskryf hy God se sorg vir die gelowiges en dat God self teenwoordig by hulle is en daarom sal die stad niks oorkom nie.

Selfs wanneer die nasies in opstand kom het hulle niks te vrees nie, want die HERE, Heerser oor al die magte is saam met die gelowiges. Hy is die veilige vesting vir gelowiges waar hulle kan skuil wanneer die wêreld hulle wil oorweldig.

Verse 9 & 10 gee dan ook die bewyse van wat die HERE vir sy volk gedoen het. Hy laat oorloë ophou omdat hy die mag van vyandige nasies verbreek.

Geliefdes, is dit nie ’n mooi belydenis nie? En dit moet mos ons belydenis ook wees, nie waar nie, geliefdes? God is mos ons skuilplek en 'n bron van krag!

En dit is maklik om dit vir mekaar te sê wanneer alles goed gaan. Maar staan ons werklik so sterk wanneer die aarde om ons bewe en die berge rondom ons begin wegsink in see? Onthou ons waar ons Anker in die lewe is wanneer die vyand se koeëls oor ons koppe vlieg en my versugting is dat ek maar net deur hierdie dag kan kom?

Daar het die afgelope week twee geweldige aardbewings van oor die sewe op die rigterskaal in minder as ’n minuut uitmekaar Venezuela getref en die verwoesting daar is, is katastrofies. Die eerste was ’n sterkte van 7.5 en in net bietjie meer as 30 sekondes later het ’n tweede met die sterkte van 7.5 plaasgevind.

Soms tref die lewe jou met so ’n dubbele vuishou in die maag. Jy is nog besig om die eerste hou te verwerk dan tref die volgende hou jou. En op die uiteinde is dit nie fisiese gevolge wat die ergste is nie. Dis wat in jou kop aangaan. Hoe tel jy die stukke op na die verwoesting van die aardbewing?

In Psalm 46 sê die HERE vir ons hoe. As mens die Psalm net oppervlakkig lees, dan mis mens die dieper troos wat die HERE vir ons in die Psalm gee.

In die Psalm hoor ons: God is vir ons 'n skuilplek en 'n bron van krag. In Ps. 46:8 kry ons die sleutel:

Die Here, Heerser oor alle magte, is met ons,

'n toevlugsoord is die God van Jakob vir ons.

Hier word ons net weer herinner wie ons Anker in die lewe is. Die Psalmdigter gebruik hier een van die Godsname wat beskryf wie God werklik is. Die Hebreeuse titel “YHWH Tseva'ot” beteken letterlik die opperbevelvoerder van leërmag.

En daarom is dit in die 33/53 Vertaling letterlik vertaal met “HERE van die leërskare” In die 83 Vertaling is die Naam vertaal met “HERE die Almagtige” wat so bietjie verduidelik wat die gevolg van die titel is. As jy oor al hierdie weermagte heers, is jy almagtig. In die 20/20 Vertaling is dit vertaal met “HERE, Heerser oor al die magte” en dit sê vir ons: God is die Bestuurder van absoluut alles wat krag of invloed het oor die kosmiese, geestelike en politiese aspekte van die lewe.

Hy is die Heerser oor elke sterrestelsel in die heelal, elke atoomsplitsing en elke natuurkrag in die kosmos. Hy bepaal die werking van elke atoom en ook die plasing van elke ster en die beweging en interaksie daarvan. Hy het die natuurwette gemaak en bepaal die werking daarvan. Niks is buite sy beheer nie.

Hy is ook in beheer van die ontelbare geestelike magte, al die engele en geestelike wesens en selfs die satan en die gevalle engele kan niks doen as Hy dit nie goedkeur nie.

In 1 Sam. 17:45 waar Dawid vir Goliat aanvat sê hy:

"Ek kom na jou toe in die Naam van die Here van die leërskare, die God van die gevegslinies van Israel"

En hier in Psalm 46 sien ons dat Hy selfs die heidense nasies se weermagte soos klei in Sy hande bestuur. Heersers dink húlle is in beheer, maar Hy troon bo hulle uit.

En dit help ons om net weereens te verstaan wie ons Anker in die lewe is. Die probleme van die lewe is dikwels groter as wat ons kan hanteer. ’n Aardbewing wat veroorsaak dat die berge in die see wegsak is nie sommer maar net ’n onbenulligheid nie en die aardbewings wat ons lewens ontwrig word nie afgemaak as iets maar net niks is nie.

Die perspektief wat ons hier kry is dat God groter is as die kwaaiste aardbewing en dit is wat vir ons hoop gee. Iemand het op ’n keer gesê: “vertel vir my hoe groot jou probleem is, dan vertel ek jou hoe GROOT God is.”

Verder is daar in Psalm 46 ’n fyn nuanse wat ons maklik mis lees, maar wanneer mens dit raaksien, dan sien jy raak watter diepe troos hier in hierdie Psalm vir ons opgesluit is.

Tot en met vers 10 word daar oor God gepraat en oor wat Hy doen, maar in vers 11 kom God self aan die woord:

Ps. 46:11

“Bedaar en erken dat Ek God is,
Ek is verhewe bo die nasies,
Ek is verhewe bo die aarde.”

Dis hier waar die sleutel lê om self ook by die mooi belydenis uit te kom wat ons in hierdie Psalm vind:

God is vir ons 'n skuilplek en 'n bron van krag

Weereens moet ons mooi luister na wat die Heilige Gees hier vir ons in die Psalm sê. Dis nie maar net ’n “toemaar, moenie bekommer, alles sal regkom nie.” Nee, dis beslis nie BAIE MEER as dit. Dit is NIE 'n sagte uitnodiging om rustig te raak nie. Dit is die koninklike bevel van God wat sê: “Laat los! Sak jou hande!

Die Hebreeuse woord wat hier met “bedaar” vertaal is beteken letterlik “laat los en sak jou hande.” Wat God hier sê is: “Gee oor. Hou op om in julle eie krag te veg. Los jou greep op die situasie, sodat julle kan erken dat Ek alleen God is.”

Wanneer die aarde om jou bewe en dit vir jou lyk asof alles rondom jou besig is om in chaos te ontaard, is ons natuurlike reaksie om paniekerig te probeer red wat te redde is. Ons gryp na allerhande strooihalms om die situasie te probeer red en klou in krampagtige moedeloosheid vas! Wanneer die koeëls oor jou kop vlieg is dit moeilik om nie paniekerig rond te tas of om in moedeloosheid te verval nie.

Dis hier waar God vir ons sê: “Kry jou fokus reg. Laat los. Bedaar!” En dan voeg God die rede by vir sy bevel: “Ek is verhewe bo die nasies, Ek is verhewe bo die aarde.” God sê hier vir ons “weet wie Ek is!” Dis nie net kop kennis van “kry jou feite reg nie.” Wat God hier sê is: “kom tot die diep, lewende besef en erkenning van My absolute oppermagtigheid, want Solank as wat jou hande toegeklem is, kan jy niks anders vashou of raaksien nie.”

En dan sluit die Psalm af deur te herhaal wat ons in Ps. 46:8 gehoor het:

Die Here, Heerser oor alle magte, is met ons,

'n toevlugsoord is die God van Jakob vir ons.

Hierdie verandering in die Psalm waar daar oor God gepraat word na waar God self aan die woord kom, wys vir ons God se genade. Die Almagtige God wat die absolute opperbevelvoerder is waar alles wat in die heelal is aan sy gesag onderworpe is, die natuur, elke atoom in die heelal, die ontelbare engele magte, elke menslike gesag, alles, buig Homself neer na ons as mense.

God sê hier vir ons: “moenie net van My weet deur wat ander oor My sê nie. Kom leer my persoonlik ken.” Weereens kry ons hier die belofte van God wat neerbuig na ons as mense. Die Psalmdigter het vooruitgekyk na hierdie belofte en ons kyk terug na Hoe God dit gedoen het.

God die Vader het sy Seun gestuur. Jesus wat God is, het Homself klein gemaak vir ons deur Mens te word om die struikelblok van ons sonde uit die weg te neem. Hy het die dood oorwin sodat ons kan lewe. Die Heilige Gees gee vir ons die geloof om hierdie groot opoffering van God in geloof vas te gryp en ons eie te maak.

Hoe kan ons die belydenis: “God is vir ons 'n skuilplek en 'n bron van krag” ons eie maak? In Mat. 11:28 sê Jesus vir ons:

Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee.

Moenie in die verwoesting van die aardbewing vaskyk nie. Gee oor. Hou op om in julle eie krag te veg. Los julle greep op die situasie, sodat julle kan erken dat God alleen God is.” Sien raak dat God groter is as die chaos van die lewe en maak die belydenis: “God is vir ons 'n skuilplek en 'n bron van krag” jou eie.

Amen