Habakuk 1, 2 & 3
Teksverse Hab. 1v2-4;
Hab. 1v5-6; Hab. 3:17-19
Heidelbergse Kategismus Sondag 10
27 Vraag: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van
God?
Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige krag van
God (a) waardeur Hy hemel en
aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer (b)
dat lower en gras, reën en droogte (c), vrugbare en onvrugbare jare,
voedsel en drank, gesondheid en siekte (d), rykdom en armoede (e)
en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom (f).
(a) Hand 17:25-28; Jer. 23:23, 24; Jes. 29:15, 16; Eseg. 8:12.
(b) Heb. 1:3. (c) Jer.
5:24; Hand 14:17. (d) Joh 9:3. (e) Spr 22:2. (f) Matt 10:29; Spr 16:33.
28 Vraag: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles
geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?
Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig (a)
en in voorspoed dankbaar (b) kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste
vertroue in ons getroue God en Vader (c) kan stel dat geen skepsel
ons van sy liefde sal skei nie (d), aangesien alle skepsels so in sy
hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie (e).
(a) Rom 5:3; Jak 1:3;
Ps 39:10; Job 1:21, 22. (b) 1 Tess 5:18; Deut 8:10.
(c) Ps 55:23; Rom
5:4. (d) Rom 8:38,
39. (e) Job 1:12; 2:6;
Spr 21:1; Hand 17:2.
Hoekom gaan dit nie altyd goed met ons nie? Ons
bely op grond van dit wat God vir ons in sy ewige Woord sê dat Hy die hemel en
die aarde uit niks geskep het. Verder bely ons dat God sy skepping nog steeds
versorg en in stand hou. Net soos ’n ouer vir sy kinders sorg, sorg God vir ons
as sy kinders in alle omstandighede.
Dit is tog immers wat ons in Sondag 10 van die
Heidelbergse Kategismus bely. Ons bely tog dat niks toevallig gebeur nie. Dit
wil sê dat dit wat daagliks met ons gebeur van God af kom. Die seën van die
oorvloedige reën kom van God af, maar ook die vloede wat soveel skade
veroorsaak en ook die uitmergelende droogtes.
Ons hoor van ou mense op plase wat gemartel word. Ons
gesondheid laat ons in die steek. Onverwagse rampe kom oor ons pad. En so is
daar baie situasies in ons eie lewens wat aanleiding gee dat ons saam met die
profeet Habakuk vra:
(Vgl. Hab. 1v2-4)
2 Hoe lank moet ek om hulp roep
voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor geweld voordat U red? 3
Waarom laat u my die onreg sien wat gedoen word, waarom kyk U toe as daar
soveel ellende is? Oral rondom my is daar onderdrukking en geweld, en word daar
getwis en gebaklei. 4 Die wet het nie meer krag nie, en daar geskied
nie meer reg nie. Slegte mense het die oorhand oor die goeies, en so word die
reg verkrag.
Hoe voel u oor God se antwoord op hierdie vraag?
(Vgl. Hab. 1v5-6)
5 Die Here het geantwoord: Kyk
na die ander nasies: julle sal verstom staan oor wat julle sien. Ek gaan nog
tydens julle lewe iets doen wat julle nie sal glo as dit vir julle vertel word
nie. 6 Ek gaan die Galdeërs laat kom, die wrede, woeste nasie wat
dwarsoor die aarde rondtrek om lande te verower wat nie hulle s’n is nie.
En dan gaan die Here aan om te verduidelik hoe
wreed en woes die Babiloniërs is wat Israel in ballingskap gaan wegvoer.
Kan u nog steeds bely: dat ek in teëspoed geduldig
moet wees? U wonder dalk nou waarheen is hierdie preek op pad? In Sondag 9 bely
ons dat God, die Skepper van hemel en aarde in Christus my Vader is op wie ek
kan vertrou.
As ons werklik wil bely met ander woorde dit
onomwonde stel dat ons vas en seker glo dat God ons Vader is wat vir ons sorg
in alles wat ons nodig het, dan moet ons God kan vertrou, veral wanneer ons
omstandighede duidelik vir ons sê dat ons God nie kan vertrou nie.
Wat gebeur eintlik hier in Habakuk 1 en 2? God word
in die beskuldigingsbank geplaas! Die mens neem God onder kruisverhoor en
beskuldig God dat Hy nie die mens se beste belange op die hart dra nie. Presies
wat in die Paradys gebeur het met die sondeval.
Daarom moet ons die perspektief van God se antwoord
raaksien. Israel wat hardnekkig aangehou het met afgodery. Dit wil sê hulle het
iets of iemand anders in die plek van God geplaas. Dit is nie God wat in die
beskuldigingsbank hoort nie, maar die mens self wat God beskuldig.
God gebruik die Galdeërs om Israel tot inkeer te
bring. Nou moet ons baie mooi verstaan. God beskik nie die kwaad nie, want
selfs die boosheid van die Galdeërs gaan gestraf word soos die Here vir ons sê
in Habakuk 2v5 tot 20. Telkemale hoor ons “Ellende wag vir hom wat verkeerd
doen.”
Wat wel hier gebeur is dat God die kwaad wat van
die sonde af kom, gebruik om iets goed te laat voortkom. Die sondigheid van
mense veroorsaak baie ellende vir ander mense. Dink maar net hoeveel hartseer
veroorsaak gierigheid nie. Mense wat ander mense doodmaak om hulle besittings
in die hande te kry. Jaloesie, haat woede onkuisheid noem maar op. Dit
veroorsaak baie ellende in hierdie lewe en nie een van ons kan werklik sê dat
ons onskuldig is nie.
Nou moet u mooi verstaan. Die aard van sonde en die
rimpeleffek daarvan is nie altyd reglynig nie. Met ander woorde: Ek moenie die
fout maak om reglynige oorsaak en gevolg vir alle situasies in my lewe te soek
nie.
Reglynige oorsake is ook daar, soos byvoorbeeld as
ek myself aan drank vergryp en ek hou aan daarmee dan sal ek naderhand die
gevolge daarvan op my gesondheid voel.
Daar is egter ook indirekte gevolge. As ek beroof
en aangerand word, is dit nie noodwendig die direkte oorsaak van iets wat ek in
my lewe verkeerd gedoen nie. Dit is wel die gevolg van die rimpeleffek wat
sonde op die mensdom het.
’n Verdere indirekte effek van sonde is dat die
Skepping as gevolg van die sondeval aan die verydeling onderwerp is soos die
Here vir ons in Rom. 8v2 sê:
Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse
nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het.
Dit is die rede hoekom daar natuurrampe en vloede
plaasvind. Dit is die rede waarom mense wat nog in die fleur van hul lewens is
deur siektes geteister word en dat hulle daarvan doodgaan.
Binne die teëspoed wat deur sonde veroorsaak word
kan ons net werklik bely dat ek in teenspoed geduldig sal wees as ek God
vertrou. As ek vertrou dat God in beheer is en dat Hy selfs dit wat sleg is in
my lewe tot my beswil kan gebruik.
Dink maar net aan die verhaal van Josef. Hoe dink u
het Josef gevoel toe hy daar in die put gelê het waar sy broers hom ingegooi
het? Hoe het hy gevoel toe hy as slaaf was op pad na Egipte? Dit is eers baie
jare later dat hy as tweede in bevel van Egipte vir sy broers wat hom verkoop
het kon help uit die gevolg van die hongersnood waarin hulle beland het.
Ons sien nie altyd dadelik die goeie gevolge wat
uit die slegte voortspruit nie. Soms neem dit baie jare, tog is ek seker dat
elkeen van ons ’n voorbeeld in ons lewens kan aanhaal waar die Here dinge in
ons lewens wat aanvanklik sleg was, ten goede laat meewerk het.
Uit die nageslag van Josef se broer Juda is Jesus
gebore. Dit is ’n gebeurtenis wat nie in Josef se lewe plaasgevind het nie. Dit
het eers baie, baie geslagte later gebeur. Tog het Israel vasgehou aan die
belofte van ’n Messias wat sou kom en die verlossing wat Hy sou bring.
Dit is ’n belofte wat die Jode deur die pyn van hul
Ballingskap gedra het. Dit is net die verlossingswerk van Jesus Christus wat
dit moontlik maak dat ons God kan vertrou. Dat ons dankbaar is wanneer Hy ons
seën en dat ons geduldig is wanneer ons beproef word.
Ons geloof in Jesus Christus maak dit moontlik dat
ons God ons Vader kan vertrou. Die Heilige Gees is altyd by ons en dra ons deur
die goeie en die swaar tye. Die Heilige Gees gee vir ons die geloof om vas te
hou in God se genade wat Jesus Christus vir ons gebring het. Daarom kan ons ook
saam met Habakuk sing:
(Hab. 3:17-19)
Al sou die vyeboom nie bot
nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en
die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees
nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die
Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir
my krag. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok, op hoë plekke laat Hy my
veilig loop.
Wanneer die lewe nie altyd die goeie gevolge gee
wat ons graag wil hê nie, hou vas aan die belydenis:
Ons vertrou dat God ons Vader in goeie en slegte
tye vir ons sorg.
Amen

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking