Wys tans plasings met die etiket Vertoue. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Vertoue. Wys alle plasings

26 Julie 2026

Ons vertrou dat God ons Vader in goeie en slegte tye vir ons sorg

 

Habakuk 1, 2 & 3 

Teksverse Hab. 1v2-4; Hab. 1v5-6; Hab. 3:17-19

Heidelbergse Kategismus Sondag 10

27  Vraag:  Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?

Antwoord:  Die almagtige en oralteenwoordige krag van God (a)  waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer (b) dat lower en gras, reën en droogte (c), vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte (d), rykdom en armoede (e) en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom (f).

(a) Hand 17:25-28;  Jer. 23:23, 24;  Jes. 29:15, 16;  Eseg. 8:12.  (b) Heb. 1:3.  (c) Jer. 5:24;  Hand 14:17.  (d) Joh 9:3.  (e) Spr 22:2.  (f) Matt 10:29;  Spr 16:33.

28  Vraag:  Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?

Antwoord:  Dat ons in alle teëspoed geduldig (a) en in voorspoed dankbaar (b) kan wees.  Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader (c) kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie (d), aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie (e).

(a) Rom 5:3;  Jak 1:3;  Ps 39:10;  Job 1:21, 22.  (b) 1 Tess 5:18;  Deut 8:10.  (c) Ps 55:23;  Rom 5:4.  (d) Rom 8:38, 39.  (e) Job 1:12;  2:6;  Spr 21:1;  Hand 17:2.

Hoekom gaan dit nie altyd goed met ons nie? Ons bely op grond van dit wat God vir ons in sy ewige Woord sê dat Hy die hemel en die aarde uit niks geskep het. Verder bely ons dat God sy skepping nog steeds versorg en in stand hou. Net soos ’n ouer vir sy kinders sorg, sorg God vir ons as sy kinders in alle omstandighede.

Dit is tog immers wat ons in Sondag 10 van die Heidelbergse Kategismus bely. Ons bely tog dat niks toevallig gebeur nie. Dit wil sê dat dit wat daagliks met ons gebeur van God af kom. Die seën van die oorvloedige reën kom van God af, maar ook die vloede wat soveel skade veroorsaak en ook die uitmergelende droogtes.

Ons hoor van ou mense op plase wat gemartel word. Ons gesondheid laat ons in die steek. Onverwagse rampe kom oor ons pad. En so is daar baie situasies in ons eie lewens wat aanleiding gee dat ons saam met die profeet Habakuk vra:
(Vgl. Hab. 1v2-4)

2 Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor geweld voordat U red? 3 Waarom laat u my die onreg sien wat gedoen word, waarom kyk U toe as daar soveel ellende is? Oral rondom my is daar onderdrukking en geweld, en word daar getwis en gebaklei. 4 Die wet het nie meer krag nie, en daar geskied nie meer reg nie. Slegte mense het die oorhand oor die goeies, en so word die reg verkrag.

Hoe voel u oor God se antwoord op hierdie vraag?
(Vgl. Hab. 1v5-6)

5 Die Here het geantwoord: Kyk na die ander nasies: julle sal verstom staan oor wat julle sien. Ek gaan nog tydens julle lewe iets doen wat julle nie sal glo as dit vir julle vertel word nie. 6 Ek gaan die Galdeërs laat kom, die wrede, woeste nasie wat dwarsoor die aarde rondtrek om lande te verower wat nie hulle s’n is nie.

En dan gaan die Here aan om te verduidelik hoe wreed en woes die Babiloniërs is wat Israel in ballingskap gaan wegvoer.

Kan u nog steeds bely: dat ek in teëspoed geduldig moet wees? U wonder dalk nou waarheen is hierdie preek op pad? In Sondag 9 bely ons dat God, die Skepper van hemel en aarde in Christus my Vader is op wie ek kan vertrou.

As ons werklik wil bely met ander woorde dit onomwonde stel dat ons vas en seker glo dat God ons Vader is wat vir ons sorg in alles wat ons nodig het, dan moet ons God kan vertrou, veral wanneer ons omstandighede duidelik vir ons sê dat ons God nie kan vertrou nie.

Wat gebeur eintlik hier in Habakuk 1 en 2? God word in die beskuldigingsbank geplaas! Die mens neem God onder kruisverhoor en beskuldig God dat Hy nie die mens se beste belange op die hart dra nie. Presies wat in die Paradys gebeur het met die sondeval.

Daarom moet ons die perspektief van God se antwoord raaksien. Israel wat hardnekkig aangehou het met afgodery. Dit wil sê hulle het iets of iemand anders in die plek van God geplaas. Dit is nie God wat in die beskuldigingsbank hoort nie, maar die mens self wat God beskuldig.

God gebruik die Galdeërs om Israel tot inkeer te bring. Nou moet ons baie mooi verstaan. God beskik nie die kwaad nie, want selfs die boosheid van die Galdeërs gaan gestraf word soos die Here vir ons sê in Habakuk 2v5 tot 20. Telkemale hoor ons “Ellende wag vir hom wat verkeerd doen.”

Wat wel hier gebeur is dat God die kwaad wat van die sonde af kom, gebruik om iets goed te laat voortkom. Die sondigheid van mense veroorsaak baie ellende vir ander mense. Dink maar net hoeveel hartseer veroorsaak gierigheid nie. Mense wat ander mense doodmaak om hulle besittings in die hande te kry. Jaloesie, haat woede onkuisheid noem maar op. Dit veroorsaak baie ellende in hierdie lewe en nie een van ons kan werklik sê dat ons onskuldig is nie.

Nou moet u mooi verstaan. Die aard van sonde en die rimpeleffek daarvan is nie altyd reglynig nie. Met ander woorde: Ek moenie die fout maak om reglynige oorsaak en gevolg vir alle situasies in my lewe te soek nie.

Reglynige oorsake is ook daar, soos byvoorbeeld as ek myself aan drank vergryp en ek hou aan daarmee dan sal ek naderhand die gevolge daarvan op my gesondheid voel.

Daar is egter ook indirekte gevolge. As ek beroof en aangerand word, is dit nie noodwendig die direkte oorsaak van iets wat ek in my lewe verkeerd gedoen nie. Dit is wel die gevolg van die rimpeleffek wat sonde op die mensdom het.

’n Verdere indirekte effek van sonde is dat die Skepping as gevolg van die sondeval aan die verydeling onderwerp is soos die Here vir ons in Rom. 8v2 sê:

Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het.

Dit is die rede hoekom daar natuurrampe en vloede plaasvind. Dit is die rede waarom mense wat nog in die fleur van hul lewens is deur siektes geteister word en dat hulle daarvan doodgaan.

Binne die teëspoed wat deur sonde veroorsaak word kan ons net werklik bely dat ek in teenspoed geduldig sal wees as ek God vertrou. As ek vertrou dat God in beheer is en dat Hy selfs dit wat sleg is in my lewe tot my beswil kan gebruik.

Dink maar net aan die verhaal van Josef. Hoe dink u het Josef gevoel toe hy daar in die put gelê het waar sy broers hom ingegooi het? Hoe het hy gevoel toe hy as slaaf was op pad na Egipte? Dit is eers baie jare later dat hy as tweede in bevel van Egipte vir sy broers wat hom verkoop het kon help uit die gevolg van die hongersnood waarin hulle beland het.

Ons sien nie altyd dadelik die goeie gevolge wat uit die slegte voortspruit nie. Soms neem dit baie jare, tog is ek seker dat elkeen van ons ’n voorbeeld in ons lewens kan aanhaal waar die Here dinge in ons lewens wat aanvanklik sleg was, ten goede laat meewerk het.

Uit die nageslag van Josef se broer Juda is Jesus gebore. Dit is ’n gebeurtenis wat nie in Josef se lewe plaasgevind het nie. Dit het eers baie, baie geslagte later gebeur. Tog het Israel vasgehou aan die belofte van ’n Messias wat sou kom en die verlossing wat Hy sou bring.

Dit is ’n belofte wat die Jode deur die pyn van hul Ballingskap gedra het. Dit is net die verlossingswerk van Jesus Christus wat dit moontlik maak dat ons God kan vertrou. Dat ons dankbaar is wanneer Hy ons seën en dat ons geduldig is wanneer ons beproef word.

Ons geloof in Jesus Christus maak dit moontlik dat ons God ons Vader kan vertrou. Die Heilige Gees is altyd by ons en dra ons deur die goeie en die swaar tye. Die Heilige Gees gee vir ons die geloof om vas te hou in God se genade wat Jesus Christus vir ons gebring het. Daarom kan ons ook saam met Habakuk sing:

(Hab. 3:17-19)

Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

Wanneer die lewe nie altyd die goeie gevolge gee wat ons graag wil hê nie, hou vas aan die belydenis:

Ons vertrou dat God ons Vader in goeie en slegte tye vir ons sorg.

Amen


24 Augustus 2025

Vertrou God vir uitkoms, veral wanneer die lewe nie sin maak nie.

  “Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.

Skrif: Genesis 22:1-19

Teksvers Gen. 22:6-8

Geliefdes, vertrou jy die Here? Wanneer ons met so ’n vraag gekonfronteer word sal ons sekerlik elkeen antwoord: “Ja, natuurlik vertrou ek die Here.”

Maar geliefdes, sal jy die Here vertrou as Hy vir jou sou vra:

“Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.”

As ons net oppervlakkig na hierdie verhaal kyk, dan kan ons maklik die oppervlakkige morele les daarin lees dat Abraham die Here vertrou het ten spyte daarvan dat die Here die ondenkbare van hom gevra het en dat ons net soos Abraham dit ook moet doen.

Geliefdes, dit is NIE wat die Here vir hier in hierdie gedeelte sê nie!

Dit gaan nie hier daaroor dat ons die Here moet vertrou op grond van wat Abraham gedoen het nie. Ons moet die Here vertrou op grond van wat Hy self vir ons gedoen het.

Die sleutel tot die verstaan van hierdie gedeelte vind ons reeds in Gen. 22:1 waar ons hoor dat God vir Abraham op die proef wou stel. Die Hebreeuse woord wat met “op die proef wou stel” vertaal is, beteken letterlik om die egtheid of karakter van iemand te ondersoek. Dit was ’n toets om sy hartsgesindheid te openbaar.

God het dit nie gedoen om enige voordeel daaruit te ontvang nie. God het nie offers van mense nodig nie. Dit was ter wille van Abraham se geloofsgroei. Toe Abraham nog daar in Ur die land van die Galdeërs gewoon het, het die Here hom geroep om Hom te volg en Abraham het die Here inderdaad gevolg.

Hier moet Abraham leer wat dit beteken om die Here end uit te volg en daardie les is nie om die ondenkbare te doen nie! Die toets kom nadat die Here ’n verbond met Abraham gesluit het en sy beloftes van seën vir Abraham, sy nageslag en deur hulle vir al die nasies, gegee het.

Hierdie toets was nie dat Abraham die toets moes slaag om die Here se seën te ontvang nie. Wanneer die Here ons geloof toets, dan doen Hy dit sodat ons kan sien hoe vorder ons in geloof. ’n Geloofstoets wys vir jou waar jy staan en dit sluit gewoonlik moeite en swaarkry in.

Hierdie toets was vir Abraham ’n bevestiging van sy se verhouding met God. Hier wys die Here vir Abraham dat hy Hom onvoorwaardelik kan vertrou.

Net soos die Here vir Abraham geroep het om Hom te volg, het Hy elkeen van ons wat glo geroep om Hom te volg. Die vraag wat ons vir onsself moet afvra is: “Vertrou ek die Here genoeg dat ek Hom steeds sal volg, selfs wanneer die lewe nie meer sin maak nie.

Wanneer ons kyk na wat die Here hier vir Abraham gevra het, moet ons verstaan dat Hy baie meer gevra het as dat Abraham net sy kind moes doodmaak. Dit is inderdaad iets verskrikliks om te vra, maar dit wat die Here van Abraham gevra het, is nog baie meer as dit.

Isak was Abraham se eersgeborene van die verbond, die seun van sy belofte soos ons hoor in Gen. 17:19

Maar God het gesê: “Inteendeel, Sara, jou vrou gaan vir jou 'n seun in die wêreld bring, en jy moet hom Isak noem. Ek sal my verbond met hom handhaaf, as 'n ewige verbond vir sy nageslag ná hom.

Die eersgeborene het in die tyd van Abraham ’n spesiale status gehad. Hy was die verteenwoordiger van die familie wat die naam, identiteit en verantwoordelikheid van die familie gedra het en hy was die waarborg van die familie se toekoms en voortbestaan.

Dit is dus nie net die lewe van sy kind wat God gevra het nie. Hy het die hele identiteit, toekoms en voortbestaan van die gesin gevra. God het absoluut alles gevra.

God het egter nog meer as dit ook gevra. Isak het nie net Abraham se nageslag verteenwoordig nie, maar die hele verbondslinie. Sy dood sou die toekoms van die verbond beëindig!

Dink net watter gemoedstryd Abraham moes deurmaak terwyl hy en Isak op pad was na die offerplek toe.

Geliefdes, die lewe maak nie altyd sin nie. Dit kon vir Abraham geen sin gemaak het dat God Isak se lewe gevra het na sy beloftes van seën wat in Isak gevestig was nie, want Isak se dood sou die einde van die verbond beteken.

Ten spyte daarvan het Abraham die Here vertrou. Terwyl hulle op pad was het Isak vir Abraham gevra: “Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer?”

Ek kan myself net indink hoe Abraham moes gevoel het by die aanhoor van hierdie vraag. En in sy antwoord, “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.” Sê Abraham: “ek weet nie seun, maar ek vertrou dat die Here weet.”

Die dieper betekenis van die Hebreeuse woord wat hier met “voorsien” vertaal is, is

- Die Here sien die behoefte.

- Hy sal daarop reageer.

- Hy sal voorsien wat nodig is.

Wat is dit wat Abraham laat voortgaan het op daardie tog? Wat het vir hom die krag gegee om dit te kon doen? Dit is verseker nie sy motivering gewees om vir God te bewys dat hy sterk en vasberade genoeg is nie.

Wat hom in staat gestel het om voort te gaan op daardie tog was sy absolute vertroue op die Here. Daardie vertroue dat die Here die behoefte sien. Die vertroue dat die Here sal reageer en voorsien wat nodig is.

Geliefdes, wanneer die lewe jou in die grond in druk, dan is dit nie jou eie krag wat jou staande gaan hou nie. Wanneer die lewe jou omdop, dan hoef jy nie te probeer sterk wees nie.

Wat jou regop gaan hou, wat jou gaan optel wanneer jy op die grond lê, is jou geloof en vertroue dat die Here jou behoefte raaksien. Daardie sekere wete dat Hy daar is, dat jy nie alleen is nie. Jou absolute vertroue dat Hy sal reageer en voorsien wat nodig is.

Abraham se vertroue was nie tevergeefs nie. Toe hy die mes optel om vir Isak te slag, het die Engel van die Here hom gekeer en die Here het ram voorsien wat Abraham in die plek van Isak kon offer.

Wanneer jy hierdie verhaal lees, verstaan mooi. God vra nie kinderoffers nie. Daardie ram was ’n heenwysing na die ware offerlam net soos al die offers in die Ou Testament heenwys na die enigste offerlam wat geoffer is om die wêreld van die ellende van sonde te verlos.

In Joh. 1:16 hoor ons Johannes die Doper sê:

Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

God het sy belofte aan Abraham gestand gedoen. Isak het bly leef en uit sy nageslag is Jesus gebore wat as die Lam van God die sonde van die wêreld weggeneem het. Die HERE het inderdaad in hom al die nasies geseën deur sy Seun te stuur sodat daar versoening tussen God en sondaars kan plaasvind.

God het nie van Abraham verwag om sy seun te offer nie. In sy versoek het hy profeties heengewys dat Hy as ons Vader sy Seun in ons plek aan die kruis geoffer het.

In Hebreërs 11:17-19 hoor ons dat Abraham gereed gestaan het om Isak te offer omdat hy daarvan oortuig was dat God by magte is om uit die dood op te wek. Deur die kragvolle werking van die Heilige Gees het God Jesus opgewek uit die dood en sodoende die mag van die dood verbreek.

Dit is nie jou deursettingsvermoë of krag wat jou optel wanneer die lewe jou omgooi nie. Dit is ook nie dat jy vir God moet bewys dat jy sterk is nie. Dis jou geloof in Jesus Christus wat aan jou die krag gee om God te vertrou dat Hy sal voorsien.

Hierdie verhaal van Abraham en Isak wys vir ons dat ons op God kan vertrou. Die motivering daarvoor is nie dat Abraham God vertrou het en dat ons net soos hy dit ook moet doen nie. Abraham se optrede is nie die motivering nie! In hierdie verhaal wys die Here ons wat Hy gedoen vir ons gedoen het. Hy het sy Seun gestuur om as die Lam van God aan die kruis geoffer te word en DIT is die motivering waarom ons Hom kan en moet vertrou.

Wanneer jy onder beproewing staan, hoef jy nie vir God te wys hoe sterk jy is nie. Beproewings versterk jou geloof sodat jy in vertroue aan God se genade in Jesus Christus kan vashou.

Vertrou God vir uitkoms, veral wanneer die lewe nie sin maak nie.

Amen