“Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.”
Skrif: Genesis 22:1-19
Teksvers Gen. 22:6-8
Geliefdes, vertrou jy die Here? Wanneer ons
met so ’n vraag gekonfronteer word sal ons sekerlik elkeen antwoord: “Ja,
natuurlik vertrou ek die Here.”
Maar geliefdes, sal jy die Here vertrou as Hy
vir jou sou vra:
“Vat jou seun, jou
enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer
jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.”
As ons net oppervlakkig na hierdie verhaal
kyk, dan kan ons maklik die oppervlakkige morele les daarin lees dat Abraham
die Here vertrou het ten spyte daarvan dat die Here die ondenkbare van hom
gevra het en dat ons net soos Abraham dit ook moet doen.
Geliefdes, dit is NIE wat die Here vir hier
in hierdie gedeelte sê nie!
Dit gaan nie hier daaroor dat ons die Here
moet vertrou op grond van wat Abraham gedoen het nie. Ons moet die Here vertrou
op grond van wat Hy self vir ons gedoen het.
Die sleutel tot die verstaan van hierdie
gedeelte vind ons reeds in Gen. 22:1 waar ons hoor dat God vir Abraham op die
proef wou stel. Die Hebreeuse woord wat met “op die proef wou stel” vertaal is,
beteken letterlik om die egtheid of karakter van iemand te ondersoek. Dit was ’n
toets om sy hartsgesindheid te openbaar.
God het dit nie gedoen om enige voordeel
daaruit te ontvang nie. God het nie offers van mense nodig nie. Dit was ter
wille van Abraham se geloofsgroei. Toe Abraham nog daar in Ur die land van die Galdeërs
gewoon het, het die Here hom geroep om Hom te volg en Abraham het die Here
inderdaad gevolg.
Hier moet Abraham leer wat dit beteken om die
Here end uit te volg en daardie les is nie om die ondenkbare te doen nie! Die
toets kom nadat die Here ’n verbond met Abraham gesluit het en sy beloftes van seën
vir Abraham, sy nageslag en deur hulle vir al die nasies, gegee het.
Hierdie toets was nie dat Abraham die toets
moes slaag om die Here se seën te ontvang nie. Wanneer die Here ons geloof
toets, dan doen Hy dit sodat ons kan sien hoe vorder ons in geloof. ’n Geloofstoets
wys vir jou waar jy staan en dit sluit gewoonlik moeite en swaarkry in.
Hierdie toets was vir Abraham ’n bevestiging
van sy se verhouding met God. Hier wys die Here vir Abraham dat hy Hom onvoorwaardelik
kan vertrou.
Net soos die Here vir Abraham geroep het om
Hom te volg, het Hy elkeen van ons wat glo geroep om Hom te volg. Die vraag wat
ons vir onsself moet afvra is: “Vertrou ek die Here genoeg dat ek Hom steeds
sal volg, selfs wanneer die lewe nie meer sin maak nie.
Wanneer ons kyk na wat die Here hier vir
Abraham gevra het, moet ons verstaan dat Hy baie meer gevra het as dat Abraham net
sy kind moes doodmaak. Dit is inderdaad iets verskrikliks om te vra, maar dit
wat die Here van Abraham gevra het, is nog baie meer as dit.
Isak was Abraham se eersgeborene van die
verbond, die seun van sy belofte soos ons hoor in Gen. 17:19
Maar God het gesê:
“Inteendeel, Sara, jou vrou gaan vir jou 'n seun in die wêreld bring, en jy
moet hom Isak noem. Ek sal my verbond met hom handhaaf, as 'n ewige verbond vir
sy nageslag ná hom.
Die eersgeborene het in die tyd van Abraham ’n
spesiale status gehad. Hy was die verteenwoordiger van die familie wat die naam,
identiteit en verantwoordelikheid van die familie gedra het en hy was die
waarborg van die familie se toekoms en voortbestaan.
Dit is dus nie net die lewe van sy kind wat
God gevra het nie. Hy het die hele identiteit, toekoms en voortbestaan van die
gesin gevra. God het absoluut alles gevra.
God het egter nog meer as dit ook gevra. Isak
het nie net Abraham se nageslag verteenwoordig nie, maar die hele
verbondslinie. Sy dood sou die toekoms van die verbond beëindig!
Dink net watter gemoedstryd Abraham moes deurmaak
terwyl hy en Isak op pad was na die offerplek toe.
Geliefdes, die lewe maak nie altyd sin nie.
Dit kon vir Abraham geen sin gemaak het dat God Isak se lewe gevra het na sy
beloftes van seën wat in Isak gevestig was nie, want Isak se dood sou die einde
van die verbond beteken.
Ten spyte daarvan het Abraham die Here
vertrou. Terwyl hulle op pad was het Isak vir Abraham gevra: “Hier is vuur
en hout, maar waar is die lam om te offer?”
Ek kan myself net indink hoe Abraham moes
gevoel het by die aanhoor van hierdie vraag. En in sy antwoord, “My seun,
God sal sy eie offerlam voorsien.” Sê Abraham: “ek weet nie seun, maar ek
vertrou dat die Here weet.”
Die dieper betekenis van die Hebreeuse woord
wat hier met “voorsien” vertaal is, is
- Die Here sien die behoefte.
- Hy sal daarop reageer.
- Hy sal voorsien wat nodig is.
Wat is dit wat Abraham laat voortgaan het op
daardie tog? Wat het vir hom die krag gegee om dit te kon doen? Dit is verseker
nie sy motivering gewees om vir God te bewys dat hy sterk en vasberade genoeg
is nie.
Wat hom in staat gestel het om voort te gaan op
daardie tog was sy absolute vertroue op die Here. Daardie vertroue dat die Here
die behoefte sien. Die vertroue dat die Here sal reageer en voorsien wat nodig
is.
Geliefdes, wanneer die lewe jou in die grond
in druk, dan is dit nie jou eie krag wat jou staande gaan hou nie. Wanneer die
lewe jou omdop, dan hoef jy nie te probeer sterk wees nie.
Wat jou regop gaan hou, wat jou gaan optel
wanneer jy op die grond lê, is jou geloof en vertroue dat die Here jou behoefte
raaksien. Daardie sekere wete dat Hy daar is, dat jy nie alleen is nie. Jou
absolute vertroue dat Hy sal reageer en voorsien wat nodig is.
Abraham se vertroue was nie tevergeefs nie.
Toe hy die mes optel om vir Isak te slag, het die Engel van die Here hom gekeer
en die Here het ram voorsien wat Abraham in die plek van Isak kon offer.
Wanneer jy hierdie verhaal lees, verstaan
mooi. God vra nie kinderoffers nie. Daardie ram was ’n heenwysing na die ware
offerlam net soos al die offers in die Ou Testament heenwys na die enigste
offerlam wat geoffer is om die wêreld van die ellende van sonde te verlos.
In Joh. 1:16 hoor ons Johannes die Doper sê:
Dáár is die Lam van
God wat die sonde van die wêreld wegneem!
God het sy belofte aan Abraham gestand
gedoen. Isak het bly leef en uit sy nageslag is Jesus gebore wat as die Lam van
God die sonde van die wêreld weggeneem het. Die HERE het inderdaad in hom al
die nasies geseën deur sy Seun te stuur sodat daar versoening tussen God en
sondaars kan plaasvind.
God het nie van Abraham verwag om sy seun te
offer nie. In sy versoek het hy profeties heengewys dat Hy as ons Vader sy Seun
in ons plek aan die kruis geoffer het.
In Hebreërs 11:17-19 hoor ons dat Abraham
gereed gestaan het om Isak te offer omdat hy daarvan oortuig was dat God by
magte is om uit die dood op te wek. Deur die kragvolle werking van die Heilige
Gees het God Jesus opgewek uit die dood en sodoende die mag van die dood
verbreek.
Dit is nie jou deursettingsvermoë of krag wat
jou optel wanneer die lewe jou omgooi nie. Dit is ook nie dat jy vir God moet
bewys dat jy sterk is nie. Dis jou geloof in Jesus Christus wat aan jou die
krag gee om God te vertrou dat Hy sal voorsien.
Hierdie verhaal van Abraham en Isak wys vir
ons dat ons op God kan vertrou. Die motivering daarvoor is nie dat Abraham God
vertrou het en dat ons net soos hy dit ook moet doen nie. Abraham se optrede is
nie die motivering nie! In hierdie verhaal wys die Here ons wat Hy gedoen vir
ons gedoen het. Hy het sy Seun gestuur om as die Lam van God aan die kruis
geoffer te word en DIT is die motivering waarom ons Hom kan en moet vertrou.
Wanneer jy onder beproewing staan, hoef jy
nie vir God te wys hoe sterk jy is nie. Beproewings versterk jou geloof sodat
jy in vertroue aan God se genade in Jesus Christus kan vashou.
Vertrou God vir uitkoms, veral wanneer die
lewe nie sin maak nie.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking