3 Aug. 2025 GK BSH & RB
Skriflesing
Job 1
Teksvers
Job 1:9
Kyk na ʼn oorsig oor die boek Job by https://youtu.be/xQwnH8th_fs
Job is moontlik een
van die Ou Testament se moeilikste boeke om te verstaan. Tog bied dit sinvolle
antwoorde op lewensvrae wat moeilik is om te beantwoord waarop daar nie altyd
maklik antwoorde is nie.
Ons stil by die
vraag: Hoe help lyding jou om te verstaan hoekom
jy God moet dien en vir Hom moet lief wees?
Mooiweersvriende.
Almal weet wat ʼn mooiweersvriend is. Iemand wat net in voorspoed jou vriend is,
op wie jy nie kan reken nie wanneer jy moeilikheid het nie.
Die satan beskuldig
Job dat hy net ʼn mooiweer gelowige is. Wanneer God Job se vroomheid en
opregtheid voorhou antwoord die satan Hom: Job 1:9 tot 11
9Toe antwoord die Satan die
Here: “Dit is nie sonder rede dat Job U dien nie! 10U beskerm hom
dan, en sy huis en al sy goed. U maak alles wat hy doen, voorspoedig. Selfs sy
vee teel vinnig aan. 11Maar raak nou net aan sy besittings en kyk of
hy U nie in u gesig vervloek nie.”
Die satan se aanklag
is, Job is maar slegs ʼn mooiweer gelowige. Hy dien God slegs omdat die Here hom
seën. As die omgekeerde gebeur sal Job totaal anders reageer en sal hy sy rug
op die Here draai.
Om hierdie gesprek
reg te verstaan moet ons net eers bietjie stilstaan by agtergrond van die boek
Job. Die boek Job is een van die wysheidsliteratuur boeke in die Bybel soos
Spreuke ook is.
Die doel van wysheidsliteratuur
is om sekere groot lewens vraagstukke aan te spreek.
Die
vraagstuk wat in ons teks na vore kom is of jy sal aanhou om in ʼn verhouding
met God te leef as die enigste voordeel wat jy uit die verhouding kry, God self
is?
Dit gaan nie hier
daaroor of God hier saam met die duiwel besig is met ʼn dobbelspel om die
lotgeval van mense te bepaal nie. Die woord satan beteken letterlik “aanklaer.”
In Hebreeus is die lidwoord die deel van die woord satan en in daardie konteks
gee dit die betekenis van ʼn titel eerder as ʼn eienaam. Hiermee saam is die
satan dan ook ʼn moeilikheidmaker. Hierdie gesprek tussen God en die satan bring
die vraagstuk na vore. “Wat is jou motivering waarom jy God dien?”
Die aanklaer
impliseer dat Job nie getrou en gehoorsaam is ter wille van God self nie, maar
slegs omdat hy allerlei byvoordele uit die verhouding kry. Neem daardie
byvoordele weg en Job sal God vervloek.
Met ander woorde Job
sal God verwerp omdat hy sal reken dat God vir hom waardeloos is. Neem net al
die gunste en gawes weg en Job sal sy verhouding met God verbreek omdat hy dan
sal reken dat God nie meer sy liefde en vertroue werd is nie.
Die valse evangelie
van die voorspoed teologie moedig jou aan om ʼn mooiweer gelowige te wees. Jy
moet net glo en dan sal God jou “seën” met rykdom, goeie gesondheid en dit sal
baie voorspoedig met jou gaan. In ons teks word die valsheid van hierdie
evangelie ontbloot.
Hierdie vraagstuk wat
in Job na vore kom is nie maar net ʼn teoretiese akademiese vraagstuk nie. Dit
is iets wat elkeen van ons ten diepste raak. Gaan jy God nog steeds dien as Hy alles
van jou af wegvat. Jou besittings, jou gesondheid, jou kinders? As jy kaal
gestroop word, gaan jy jou rug op God draai of nie?
Alles wat ons het is
God se genade. Niks wat jy het, het jy gekry omdat jy dit verdien het deurdat
jy ʼn goeie en vroom mens is nie. Jou gesondheid, jou verstand, jou talente en
vermoëns, al jou besittings het jy enkel alleen op grond van God se genade. In
Job leer ons die ongemaklike waarheid dat dit nie altyd goed gaan in jou lewe
nie. Soms neem God tydelik sy materiële seëninge van jou weg en plaas Hy jou in
ʼn posisie waar dit op die oog af lyk of Hy eerder jou vyand is.
Job het nooit insig
gehad oor wat daar in die troonkamer van God gebeur het nie. Net so weet ons
ook nie wat die rede is hoekom God sekere dinge in sy ewige raadsplan toelaat
in ons lewens nie. Dit mag dalk voorkom asof God van jou vergeet het. Dat Hy
nie omgee wat met jou gebeur nie.
Om sin te maak
hiervan moet ons onthou wat die werklike perspektief van lyding is. In Job 1:1
hoor ons dat Job vroom en opreg was en dat hy God gedien het en die kwaad vermy
het. Voorwaar ʼn navolgingswaardige voorbeeld. Tog was Job nie perfek nie soos
wat ons verder aan in die boek hoor.
Daar was net een mens
wat werklik onskuldig was en wat die aller verskriklikste lyding denkbaar
deurgaan het. In die persoon van Jesus Christus het God self meer gely as wat
Job of enige mens ooit gely het. Jesus het God verlatenheid ervaar sodat ons
nooit weer deur God verlaat sou word nie. Hy het alles verloor, sy klere en al
sy aardse besittings, selfs sy lewe en ook God se teenwoordigheid.
Jesus was nie die
enigste wat gely het nie. In die perfekte verhouding wat daar tussen Vader Seun
en Heilige Gees was, was daar nie meer harmonie nie. Die Vader en die Heilige
Gees het saam met Christus gely. God het die ergste lyding wat daar denkbaar is
verduur sodat Hy daardeur die gebroke verhouding tussen God en mens kon
herstel.
Deur sy lyding het
God Homself aan die mens terug gegee. Die doel van die evangelie is om die
verhouding tussen God en mens te herstel, nie om allerhande beloftes van
voorspoed en rykdom te verkry nie.
Job het alles
verloor, behalwe sy lewe omdat God die satan verbied het om Job se lewe te
neem. Ten spyte daarvan dat Job alles verloor het, het hy een ding nie verloor
nie, nl. God self. Job het niks anders as sy lewe en God gehad nie, maar nog
steeds het hy God nie verwerp nie soos ons hoor in Job 1 v 20 tot 22:
20Toe het Job opgestaan en sy
klere geskeur. Hy het ook sy hare afgeskeer. Daarna het hy op die grond gaan lê
en gesê:
21“Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek
daaruit.
Die Here het gegee en die Here het geneem.
Prys die Naam van die Here.”
22Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie.
Die troos wat ons het
is dat al verloor ons alles in die lewe, selfs die lewe self, dan het ons nog
steeds vir God. Elkeen wat in Jesus Christus glo kan absoluut vashou aan die
troos van Rom. 8:38 & 39
38Hiervan is ek oortuig: geen
dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte
39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van
die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
Die teendeel is egter
ook waar. As jy nie in Jesus Christus glo nie, gaan jy alles verloor, want as
jy nie vir God het nie, dan het jy niks.
Geliefdes, Christus
het aan die kruis gesterf sodat God deel van jou lewe kan wees. Moenie God
verruil vir wêreldse dinge nie. Moenie val vir die leuens van die voorspoed
teologie nie.
Die feit dat ʼn boek
in ʼn Christelike boekwinkel verkoop word, beteken nie dat dit noodwendig die
waarheid bevat nie. As daar ʼn prediker of boodskap in ʼn boek is wat jou beloof
dat dit net goed met jou sal gaan en dat jy ryk en voorspoedig sal wees omdat jy
glo of dit van God opeis, weet dit is ʼn leuen.
Moenie ʼn mooiweer
gelowige wees nie. Dien God en wees lief vir Hom omdat Hy God is.
Amen.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking