Wys tans plasings met die etiket Markus 6:30-44. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Markus 6:30-44. Wys alle plasings

19 Julie 2026

Kom vind jou rus in Jesus

Skrif: Mar. 6:30 – 44

Teksverse: Mar. 6:34, 37 & 39

Inleiding

Soms loop die lewe ’n ander draai met jou as wat jy verwag het. Jy beland soms in ’n situasie waarin jy nie graag wou wees nie en wanneer jy daar is werk jou planne nie altyd uit nie omdat jy die verkeerde oplossing soek.

Die Illusie van "Ontsnap-Rus"

Jesus se dissipels het teruggekeer na ’n uitputtende tyd nadat Jesus hulle uitgestuur het om die evangelie te verkondig en om mense van bose geeste te verlos. Nadat hulle teruggekeer het van wat ’n baie uitputtende tyd moes gewees het is hulle nog steeds omring deur mense, soveel so dat hulle selfs nie eens kans kry om iets te eet nie.

Mens kan jouself maar net indink wat hul verwagting was toe hulle in ’n boot vertrek na ’n verlate plek toe. Hulle verwagting was dat hulle op hul eie gaan wees, maar dis nie wat gebeur het nie. Toe hulle daar aankom was daar ’n groot menigte mense.

Is dit nie maar hoe dit ook met ons gaan nie geliefdes? Wil ons nie ook maar soms net ’n bietjie ontsnap uit die chaos van die lewe nie?

Maar dis nie waar ware rus gevind word nie. Dit is wat die dissipels hier moes leer en daaruit leer ons ook waar ons ook ware rus kan vind wanneer die lewe te veel word.

Ontsnap rus bied nie werklik rus nie, want toe die boot waarin die dissipels gevaar het aan die oewer land het die eise van die skare reeds daar vir hulle gewag. As ons rus slegs definieer as "die afwesigheid van probleme of werk," gaan ons nooit werklik rus vind nie, want die lewe se krisisse wag altyd op die oewer vir ons.

Die groot les wat die dissipels (en ons) in Markus 6 leer, is dat ware rus nie die afwesigheid van storms of werk is nie, maar die teenwoordigheid van Jesus midde-in dit.

Dis net die Herder wat ware rus kan gee

Ons hoor in Mar. 6:34:

Toe Jesus uitklim, het Hy die groot skare gesien en hulle innig jammer gekry, omdat hulle soos skape sonder 'n herder was, en Hy het begin om hulle uitvoerig te onderrig.

Daar waar hulle land wag ’n groot skare en hier sien ons hoeveel God werklik omgee. Die beeld wat hier gebruik word is skape wat herderloos in hul nood ronddwaal en Jesus sien dit raak as ons Herder.

Jesus kry die skare innig jammer want Hy sien nie net hul nood raak nie. Hy deel daarin. Hy voel self hul nood aan die lyf. Hy voel hul behoeftes op die diepste vlak. Hy voel hul honger asof dit homself oorkom. Hy voel die pyn van hul siektes en hul beserings. Dit gryp Hom aan die hart en dit raak hom tot in sy diepste wese. Hy voel hul vermoeidheid en hul verlorenheid weens hul sondes. Daar is diepe deernis in Jesus.

Jesus weet ook wat die grootste nood van die mensdom is. Dit is nie in die eerste plek jou fisiese nood nie. Jou diepste nood is om geestelik met God verenig te word en daarom het Hy begin om hulle uitvoerig te onderrig.

En dit is hoe ons Here ook na ons kyk geliefdes. Hy sien nie net ons nood raak nie. Hy beleef dit saam met ons. Hy is nie ’n God wat van ver af op ons neerkyk nie. Hy sien nie net jou pyn van ver af raak nie. So naby is Hy dat Hy jou pyn saam met jou beleef.

Jesus kyk vandag met presies dieselfde deernis na jou uitputting, jou finansiële bekommernis en jou brose gesondheid. Hy stuur jou nie weg na jou eie genade toe nie; Hy trek jou nader. Die enigste ware rus is net by ons Herder te vinde.

Die pad van geloof om rus in Jesus te vind.

Hoe vind jy rus in Jesus? Ons sien hoe wanneer ons kyk na die dissipels se oplossing teenoor Jesus se oplossing van die probleem om die mense kos te gee.

Die dissipels se plan is om die probleem te systap. Hulle oplossing is die skare weg te stuur om hul eie kos op te vind en dan gee Jesus vir hulle die onmoontlike opdrag: “Gee julle vir hulle iets te ete.”

Die dissipels se reaksie is dis onmoontlik en menslik gesproke, was dit. Die geld wat benodig sou word is ongeveer agt maande se salaris vir ’n gewone handearbeider en vir hierdie groepie vissers en volgelinge was dit ’n astronomiese bedrag geld wat hulle eenvoudig nie byderhand gehad het nie.

Dan sê Jesus vir hulle om te kyk wat hulle wel het. En die vyf brode en twee vissies was nie genoeg om 5000 mans tesame met die vroue en kinders te voed nie.

En dan gee Jesus vir hulle die opdrag om in groepe te gaan sit en al wat daar is, is vyf brode en twee vissies. Om daardie mense te organiseer en te sê: "Sit asseblief in rye, die kos is op pad," terwyl daar niks is nie, het radikale geloof en gehoorsaamheid van die dissipels gevra. Geloof tree hier op voordat die antwoord fisies sigbaar is.

Moenie kyk na wat jy nie het nie. Kyk na wat jy het, hoe gering dit ookal is. Die dissipels het begin by dit wat hulle nie het nie. Die dagloon van 200 handearbeiders teenoor wat hulle wel gehad het. Twee vissies en vyf brode.

Bring jou vyf garsbroodjies en twee klein soutvissies (jou bitter min krag, jou laaste bietjie geloof) na Hom toe. Rus begin waar ons ophou probeer om die "onmoontlike" in eie krag op te los, en ons tekortkominge in die hande van Jesus plaas.

Beleef die oorvloed van God se genade

In Mar. 6:39 hoor ons dat Jesus hulle opdrag gegee het om almal in groepe te gaan sit op die groen gras. Die verwysing na groen gras sê vir ons dit in die lente of vroegsomer plaasgevind het, maar daar is ’n belangriker boodskap agter die groen gras.

In Mar. 6:37 word die beeld van skape sonder ’n herder gebruik en die groen gras sluit mooi aan by Psalm 23:2

In groen weivelde laat Hy my rus;

na water waar daar rusplek is, lei Hy my.

Die skape wat sonder ’n herder was het rus gevind by Jesus as hul Herder wat hulle versorg. Dit sluit ook aan by Psalm 23:5

U dek vir my 'n tafel voor die oë van my teenstanders.

U verfris my kop met olie; my beker loop oor.

Almal het geëet en het versadig geword. Hulle het twaalf mandjies vol van die stukke brood en van die vis wat oorgebly het, opgetel.

In Joh. 6:35 sê Jesus:

“Ek is die brood van die lewe. Wie na My toe kom, sal nooit honger word nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors word nie.

En dit sluit ook aan by die teken van brood by die Nagmaal. Jesus het Homself gegee sodat ons die oorvloed van God se genade kan beleef. Om deel te hê aan daardie genade vra geloof. Glo dat Jesus vir jou sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het. Glo dat Hy die dood oorwin het deur sy opstanding.

Uit die chaos van die skare se nood bring Jesus rus en Hy skep orde. Hy voed hulle geestelike nood met sy Woord en voorsien ook in hul fisiese behoeftes. Ons sien so ietsie van sy orde in die bevel dat hulle in groepe van vyftig en honderd moet gaan sit.

Uit die chaos skep Hy orde en om die ware vrede van rus in Jesus te beleef moet ons ook inskakel by sy orde. Die mense wat in groepe by mekaar gesit het, wys heen na sy kerk wat in gemeentes saamkom om mekaar te ondersteun in gemeenskap met mekaar. Daarom is dit so belangrik dat ons gesamentlik kom luister na God se Woord en dat ons verder mekaar as broers en susters moet ondersteun deur mekaar se laste te dra.

Verder moet ons ook orde in ons roetine kry. Maak tyd in jou dag om te luister na wat God in sy Woord vir ons sê en maak tyd om God te antwoord deur gebed.

Samevatting

Geliefdes, is ons nie ook maar soms soos ’n klomp skape sonder ’n Herder is nie? Die lewe bring ons by plekke waar ons nie wil wees nie en dan soek ons na rus om uit die chaos daarvan te ontsnap.

Onthou dat ware rus nie die afwesigheid van storms of werk is nie, maar die teenwoordigheid van Jesus midde-in dit.

Jesus is die Herder by wie ons rus vind. Hy kyk vandag met deernis na jou uitputting, jou finansiële bekommernis en jou brose gesondheid en Hy stuur jou nie weg na jou eie genade toe nie; Hy trek jou nader.

Geloof is nodig om jou rus in Jesus te vind. Bring jou vyf garsbroodjies en twee klein soutvissies (jou bitter min krag, jou laaste bietjie geloof) na Hom toe. Rus begin waar ons ophou probeer om die "onmoontlike" in eie krag op te los, en ons tekortkominge in die hande van Jesus plaas.

Deel in die oorvloed van God se genade deur jou geloof dat Jesus jou enigste Verlosser en Saligmaker is. Vind jou rus in Jesus deur in te skakel in sy orde. Maak tyd om in gemeenskap met jou medegelowiges te leef in die eredienste en ook deur tyd te maak om na God te luister in sy Word en om Hom te antwoord in gebed.

Geliefdes, Kom vind jou rus in Jesus

Amen