08 Oktober 2015

God bring verlossing uit die verslawing van sonde.

5 Jul 2015
Jes. 40:1-11
Ps. 100-1 v 1 – 4
Ps. 25-1 v 1 & 2
Ps. 119-1 v 39 & 52
Ps. 86-1 v 1 & 3

Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar 'n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem.  Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.

Hoekom glo ons dit? Ons glo dit omdat God Homself aan ons openbaar. As God Homself nie aan ons bekend stel nie, sal ons nooit kan weet dat daar ’n God is nie en ook nie wie en wat Hy is nie. Hier in Jes. 40 leer ons God op ’n besondere manier ken. Ons leer Hom ken as die almagtige God wat omgee vir die swaarkry van mense.

In Jesaja 1-39 hoor ons hoe sonde en ongehoorsaamheid aan God veroorsaak dat Israel as slawe in Babilon beland. Dit is wat sonde in ’n mens lewe doen. Aanvanklik lyk dit so onskuldig. Sonde beloof dat mens gelukkig en beter af sal wees en dat jy vry sal wees om te doen wat jy wil. Op die uiteinde is die nare werklikheid egter iets totaal anders. In plaas van geluk en vreugde bring sonde hartseer, verdriet en verlies aan vryheid. ’n Rower dink aan die geluk en vryheid wat hy sal kan geniet wanneer hy ’n bank beroof. Op die uiteinde beland hy egter in die tronk en daar is die lewe allesbehalwe lekker. Hy smaak niks van die lekker lewe en vryheid wat hy aanvanklik gedink het hy sou kry nie. Dit is wat sonde in ’n mens se lewe bring. Daar in Babel het Israel die bitter vrugte van sonde geproe.

In Jes. 40 hoor ons dat daar hoop is om los te kom uit die doodloopstraat waarin sonde mens laat beland.
Die uitkoms is hier! Die uitkoms is hier!
Dit, sê julle God, moet julle vir my volk sê.
Letterlik staan hier Troos, troos my volk. Dit is die boodskap wat die ballinge hoor wat op moedverloor se vlakte daar in Babel vasgevang is. Hulle hoor die troosvolle boodskap dat die Here uitkoms gaan gee vir die slegte omstandighede van die ballingskap. Dit bring vir hulle die verwagting dat iets totaal nuuts gaan gebeur met die volk wat sonder hoop of toekomsperspektief daar in ballingskap vasgevang is.

Bring vir Jerusalem die goeie tyding ,sê vir hom sy swaarkry is verby,
hy het geboet vir sy sonde,
hy het van die Here die volle straf ontvang vir al sy sondes.
Die inhoud van die troosboodskap is die goeie nuus dat hulle tyd van swaarkry verby is. Hulle het geboet vir hulle sonde, die skuld is betaal. God het hulle vergewe en nou gaan Hy met sy ballingskapsvolk ’n nuwe begin maak.

Dan hoor hulle die opdrag van die Here:
“Maak vir die Here ’n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld
’n grootpad vir ons God! Elke laagte moet opgevul word, elke berg en rant
moet gelykgrond word. Elke bult moet ’n gelykte word en elke koppie ’n vlakte.
Dan sal die mag van die Here geopenbaar word; al wat leef, sal dit sien.
Die Here self het dit gesê.”

Die gebruik in daardie tyd van Babel was dat die pad vir ’n koning wat ’n oorwinning behaal het gereed gemaak moet word sodat hy triomfantlik in die stad ingelei kan word. Wanneer die mense sien hoe daar gewerkskaf word weet hulle dat die koning op pad is en dat hulle, hulself gereed moet maak. Hierdie boodskap het dus vir ballinge gesê om hulself gereed te maak om terug te keer na hulle land toe en dat God self hulle uit die ballingskap gaan uitlei. Dit herinner hulle ook aan die verlossing uit Egipte waar God saam met die volk na die beloofde land getrek het.

Altwee hierdie verlossings het profeties vooruitgewys na nog ’n groter verlossing wat sou kom. In Mat 3:1-3 hoor ons hoe Johannes die Doper met hierdie selfde boodskap die koms van Jesus Christus aankondig:
In daardie tyd het Johannes die Doper in die woestyn van Judea begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.
”Hy is die een wat die profeet Jesaja bedoel het toe hy gesê het:
“Iemand roep in die woestyn: Maak die pad vir die Here gereed, maak
die paaie vir Hom reguit.”

In Jesaja hoor ons hoe Israel verlos word uit die slawerny van hul ballingskap en dit is die profesie van Christus wat gekom het om sondaars te verlos uit die slawerny van hul eie sonde. Dit is God wat die volk uit ballingskap verlos het en dit is Hy in die persoon van Jesus Christus wat ons kom verlos uit die slawerny van die sonde. Christus het die volle straf vir die sonde namens ons gedra en daarom kan ons ook van die slawerny van sonde verlos word.

In Jes. 40:6 & 7 hoor ons:
Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak, is soos ’n veldblom:
gras verdor en blomme verwelk as die Here sy wind daaroor laat waai.”
Die vraag wat dit vooraf gaan is “wat kan ek roep?” Wat kan daar vir ’n volk in ballingskap gesê word wat alles verloor het, hulle land, hulle tempel en hul God? Watter hoop kan daar vir nietige mense wees wat verdor soos gras en so maklik soos ’n veldblom vergaan?

Die antwoord is dat alhoewel die mens maar nietig is, kom die verlossing van God self af. Die mens kan nie self uit die kloue van die sonde loskom nie, maar God kan hom vrymaak. Teenoor ons tydelikheid en nietigheid staan die ewige belofte van God vas.
Gras verdor en blomme verwelk,
maar die woord van ons God bly vir ewig.

Hoe maklik raak ons nie maar weer vasgevang in die kloue van die sonde nie? Hoe maklik neem selfsug en haatdraendheid my nie weer gevange nie? Die Here som sy wet op met liefde. Hoekom vind ons dit so moeilik om die Here se liefdesgebod te gehoorsaam? Is dit nie maar omdat ek vasgevang is in my eie belange nie? Die gevolg is dat ons vasgevang word in ons eie wêreldjie waar ons nooit die vreugde smaak van wat dit beteken om vir ander om te gee nie. Ons hoef nie in hierdie tronk van die sonde te bly sit nie. Ons kan wel nie op ons eie daarvan loskom nie, maar God kan ons verlos. Dit is die goeie nuus, die evangelie wat God vir ons in sy ewige Woord gee. Jesus het die straf vir die sonde namens ons gedra omdat God omgee vir gebroke mense.

Wie moet hierdie goeie nuus in die wêreld uitdra? In Jes. 40:9-11 hoor ons die opdrag:
Klim op ’n hoë berg en roep  hard, Sion, jy wat die goeie tyding moet bring;
roep hard, Jerusalem, jy wat die goeie tyding moet bring,
moenie bang wees nie. Sê vir die stede van Juda:
“Julle God is hier!” Die Here God kom,
Hy is die Magtige, Hy regeer. Hy bring die volk saam wat Hy Syne gemaak het,
dié wat aan Hom behoort, is by Hom.
Soos ’n herder versorg Hy sy kudde:
 die lammers maak Hy bymekaar in sy arms
en Hy dra hulle teen sy bors Hy sorg vir die lammerooie
Dit is Sion, met ander woorde die gebroke Israel wat in ballingskap weggevoer is. Hulle wat verlos word moet ook die boodskap van verlossing in die wêreld uitdra. Dit is ook die opdrag wat ons ontvang. Ons, die gebroke sondaars wat Jesus uit die kloue van die sonde kom red het, moet die goeie nuus, die evangelie van Jesus se verlossing na die wêreld uitdra.

Hou vas aan God se genade en verkondig dit aan die hele wêreld: God gee om vir elke gebroke mens. Hy sorg vir jou. In sy arms is jy veilig.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking