08 Oktober 2015

Leef die lewe wat Jesus vir jou as geskenk gegee het.

Kol 3:1-17 teksvers Kol 3:1
28 Jun. 2015
Sb 12-3 : 1 & 2
Sb 9-3 : 1 & 2
Ps. 40-1:4
Ps. 133-1:1 & 2

Inleiding
Jy ontvang ’n geskenk wat jou hele lewe kan verander. As jy daardie geskenk egter in ’n kas bere om stof te vergader gaan jy geen voordeel daaruit trek nie. Om werklik die voordele van hierdie geskenk te geniet, moet jy dit gebruik. In Kol 3:1 sê die Here vir ons dat ons so ’n geskenk ontvang het.
Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is
Dit is ’n geskenk van lewe saam met God. ’n lewe hier op aarde, maar ook ’n lewe in die hiernamaals wat op hierdie aardse lewe volg.

Die geskenk van die lewe
Wie ontvang hierdie geskenk? In Rom. 10:3 sê die Here vir ons:
As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.
Elkeen wat in Jesus Christus glo ontvang die kosbare geskenk van die lewe. As jy nog onseker is of jy ook die geskenk ontvang mag ontvang, vra jouself net af of jy waarlik in Jesus Christus glo. Elkeen wat glo is ’n kind van God soos ons in Joh. 1:12 & 13 ook hoor:
Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore.
In Kol 2:13 & 14 sê die Here vir ons dat elkeen wat dit glo kan verseker weet:
God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.

Die Here sê nie net vir ons dat ons die geskenk van die lewe ontvang het nie. Hy verduidelik ook hoe ons dit moet leef om die volle voordeel daarvan te ontvang. In Kol 3:1 sê Hy:
Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit.

Strewe na die dinge daarbo. Leef die lewe wat Jesus vir jou as geskenk gegee het. Die Here verduidelik ook op ’n baie praktiese manier hoe. Daar is twee basiese goed. 1) Raak ontslae van jou ou sondige lewe en 2) wees lief vir mekaar.

1) Raak ontslae van jou ou sondige lewe
In Kol 3:5-17 word die ou en die nuwe lewe teenoor mekaar gestel. Hier maak die Here dit duidelik dat jy jou nuwe lewe moet leef om daarin te deel. In verse 5 tot 7 sê die Here vir ons hoe om die ou lewe te beëindig. Hier noem die Here die sondes wat deel was van die gemeente se heidense bestaan voor hulle die Here geken het, naamlik: “onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is.” Daar waar hierdie sondes nog deel van ons lewens is, moet ons dit doodmaak.

Die tweede groep sondes wat die Here noem is daardie sondes wat dikwels nog steeds in Christene se lewens teenwoordig is. Dit is die sondes wat verhoudings tussen mense versuur, naamlik: “woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie. En moenie vir mekaar lieg nie.” Met hierdie optrede kom gelowiges mekaar te na en berokken mekaar skade. Met hierdie sondes breek gemeentelede die eenheid in die gemeente af wat daar moet wees.

Woede en haat . Dit gebeur wanneer ek myself nie in toom kan hou nie en dan bars ek uit teenoor ander. Dit gaan hier om ek en myself. Dinge is nie volgens my sin nie en daarom vaar ek uit teen iemand en dikwels sê ek goed wat die ander persoon bitter seermaak. Ek veralgemeen in my beskuldigings. In kort kom dit daarop neer dat my kwade gevoelens by my mond uitborrel.

Nydigheid is daardie behoefte wat by ons is om die ander persoon seer te maak of kwaad aan te doen. Nyd word dikwels agter ’n glimlag weggesteek en dit maak nog seerder. Woede is gewoonlik ’n uitbarsting waar mens goed sê voordat jy dink. Nyd gaan egter met fyn beplanning saam om iemand seer te maak daar waar hy kwesbaar is.

Woede en nyd ontaard dan ook daarin dat ons mekaar met slegte taal slegsê deur hom te vloek. Dit is ook hier waar leuens maklik ingespan word om my posisie te versterk of om my swak optrede mee te verdedig. Soms is ’n leuen baie subtiel. Ek vertel nie noodwendig ’n onwaarheid nie, maar ek vertel ook nie die volle waarheid nie. Ek is baie selektief met my feite en los dit uit wat nie my argument ondersteun nie.

Sulke gedrag liefdeloos. Ek neem net my eie gevoelens in ag, maar nie die ander sin nie. Hierdie is dan ook die gedrag wat keer dat ons die vreugde van die nuwe lewe in Christus beleef. Wat ons nie maklik insien nie, is dat woede, haat en nyd meer skade aan myself aanrig as wat dit doen aan die persoon teen wie dit gerig word.

Hiermee sê die Here vir ons wat ons nie moet doen nie. Hy sê ook vir ons wat ons wel moet doen:
2) Wees lief vir mekaar
Die Here beskryf vir ons op ’n baie praktiese manier hoe om lief te wees vir mekaar. Wees meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam. Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Vergifnis is een van die dinge in die lewe wat baie moeilik is. Mense verstaan ook dikwels nie wat vergifnis werklik is nie. Vergifnis beteken nie dat ek die verkeerde optrede wat plaasgevind het nou goedpraat nie. Dit wat verkeerd is, is verkeerd. Vergifnis beteken dat ek nie die reg om wraak te neem vir myself toeëien nie. Die sleutel tot vergifnis lê daarin dat ons altyd moet onthou hoeveel sonde God in óns lewens vergewe het.  As jy diep onder die besef van God se vergifnis en liefde is, sal jy ook beter in staat wees om ander lief te hê en te vergewe.

Ons is nie almal dieselfde nie en ons dink nie altyd dieselfde nie en daarom gebeur dit dat daar meningsverskille onder ons plaasvind. Om in liefde en vrede saam te leef beteken dat ons ondanks ons verskille in liefde moet saamwerk. Hierdie soort liefde is nie ’n gevoel nie, maar ’n besluit om vir mekaar om te gee en na mekaar uit te reik. As ons nie in vrede saamleef nie, dan breek ons eerder af as wat ons opbou. Wanneer ons in vrede met mekaar saamleef word ons bruikbaar in God se koninkryk. Dan kan ons, ons roeping as gemeente nakom om die evangelie uit te dra.

Samevatting
Raak ontslae van die dinge van jou ou sondige lewe. Wees lief vir mekaar. Leef die lewe wat Jesus vir jou as geskenk gegee het.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking