Kol
3:1-17 teksvers Kol 3:1
28
Jun. 2015
Sb
12-3 : 1 & 2
Sb
9-3 : 1 & 2
Ps.
40-1:4
Ps.
133-1:1 & 2
Inleiding
Jy ontvang ’n geskenk wat jou hele
lewe kan verander. As jy daardie geskenk egter in ’n kas bere om stof te
vergader gaan jy geen voordeel daaruit trek nie. Om werklik die voordele van
hierdie geskenk te geniet, moet jy dit gebruik. In Kol 3:1 sê die Here vir ons
dat ons so ’n geskenk ontvang het.
Aangesien julle
saam met Christus uit die dood opgewek is
Dit is ’n geskenk van lewe saam
met God. ’n lewe hier op aarde, maar ook ’n lewe in die hiernamaals wat op
hierdie aardse lewe volg.
Die geskenk van die lewe
Wie ontvang hierdie geskenk? In
Rom. 10:3 sê die Here vir ons:
As jy met jou
mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood
opgewek het, sal jy gered word.
Elkeen wat in Jesus Christus glo
ontvang die kosbare geskenk van die lewe. As jy nog onseker is of jy ook die
geskenk ontvang mag ontvang, vra jouself net af of jy waarlik in Jesus Christus
glo. Elkeen wat glo is ’n kind van God soos ons in Joh. 1:12 & 13 ook hoor:
Maar aan almal
wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van
God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of
die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore.
In Kol 2:13 & 14 sê die Here
vir ons dat elkeen wat dit glo kan verseker weet:
God het julle
egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het.
Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die
kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.
Die Here sê nie net vir ons dat
ons die geskenk van die lewe ontvang het nie. Hy verduidelik ook hoe ons dit
moet leef om die volle voordeel daarvan te ontvang. In Kol 3:1 sê Hy:
Aangesien julle
saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge
daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit.
Strewe na die dinge daarbo. Leef
die lewe wat Jesus vir jou as geskenk gegee het. Die Here verduidelik ook op ’n
baie praktiese manier hoe. Daar is twee basiese goed. 1) Raak ontslae van jou
ou sondige lewe en 2) wees lief vir mekaar.
1) Raak ontslae van jou ou sondige
lewe
In Kol 3:5-17 word die ou en die
nuwe lewe teenoor mekaar gestel. Hier maak die Here dit duidelik dat jy jou
nuwe lewe moet leef om daarin te deel. In verse 5 tot 7 sê die Here vir ons hoe
om die ou lewe te beëindig. Hier noem die Here die sondes wat deel was van die
gemeente se heidense bestaan voor hulle die Here geken het, naamlik: “onsedelikheid,
onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is.” Daar
waar hierdie sondes nog deel van ons lewens is, moet ons dit doodmaak.
Die tweede groep sondes wat die
Here noem is daardie sondes wat dikwels nog steeds in Christene se lewens
teenwoordig is. Dit is die sondes wat verhoudings tussen mense versuur, naamlik:
“woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom
nie. En moenie vir mekaar lieg nie.” Met hierdie optrede kom gelowiges
mekaar te na en berokken mekaar skade. Met hierdie sondes breek gemeentelede
die eenheid in die gemeente af wat daar moet wees.
Woede en haat . Dit gebeur wanneer
ek myself nie in toom kan hou nie en dan bars ek uit teenoor ander. Dit gaan
hier om ek en myself. Dinge is nie volgens my sin nie en daarom vaar ek uit
teen iemand en dikwels sê ek goed wat die ander persoon bitter seermaak. Ek
veralgemeen in my beskuldigings. In kort kom dit daarop neer dat my kwade
gevoelens by my mond uitborrel.
Nydigheid is daardie behoefte wat
by ons is om die ander persoon seer te maak of kwaad aan te doen. Nyd word
dikwels agter ’n glimlag weggesteek en dit maak nog seerder. Woede is gewoonlik
’n uitbarsting waar mens goed sê voordat jy dink. Nyd gaan egter met fyn
beplanning saam om iemand seer te maak daar waar hy kwesbaar is.
Woede en nyd ontaard dan ook
daarin dat ons mekaar met slegte taal slegsê deur hom te vloek. Dit is ook hier
waar leuens maklik ingespan word om my posisie te versterk of om my swak
optrede mee te verdedig. Soms is ’n leuen baie subtiel. Ek vertel nie
noodwendig ’n onwaarheid nie, maar ek vertel ook nie die volle waarheid nie. Ek
is baie selektief met my feite en los dit uit wat nie my argument ondersteun nie.
Sulke gedrag liefdeloos. Ek neem
net my eie gevoelens in ag, maar nie die ander sin nie. Hierdie is dan ook die
gedrag wat keer dat ons die vreugde van die nuwe lewe in Christus beleef. Wat
ons nie maklik insien nie, is dat woede, haat en nyd meer skade aan myself
aanrig as wat dit doen aan die persoon teen wie dit gerig word.
Hiermee sê die Here vir ons wat
ons nie moet doen nie. Hy sê ook vir ons wat ons wel moet doen:
2) Wees lief vir mekaar
Die Here beskryf vir ons op ’n
baie praktiese manier hoe om lief te wees vir mekaar. Wees meelewend,
goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam. Wees geduldig met mekaar en
vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Vergifnis is een van die
dinge in die lewe wat baie moeilik is. Mense verstaan ook dikwels nie wat
vergifnis werklik is nie. Vergifnis beteken nie dat ek die verkeerde optrede
wat plaasgevind het nou goedpraat nie. Dit wat verkeerd is, is verkeerd.
Vergifnis beteken dat ek nie die reg om wraak te neem vir myself toeëien nie. Die
sleutel tot vergifnis lê daarin dat ons altyd moet onthou hoeveel sonde God in
óns lewens vergewe het. As jy diep onder
die besef van God se vergifnis en liefde is, sal jy ook beter in staat wees om
ander lief te hê en te vergewe.
Ons is nie almal dieselfde nie en
ons dink nie altyd dieselfde nie en daarom gebeur dit dat daar meningsverskille
onder ons plaasvind. Om in liefde en vrede saam te leef beteken dat ons ondanks
ons verskille in liefde moet saamwerk. Hierdie soort liefde is nie ’n gevoel
nie, maar ’n besluit om vir mekaar om te gee en na mekaar uit te reik. As ons
nie in vrede saamleef nie, dan breek ons eerder af as wat ons opbou. Wanneer
ons in vrede met mekaar saamleef word ons bruikbaar in God se koninkryk. Dan
kan ons, ons roeping as gemeente nakom om die evangelie uit te dra.
Samevatting
Raak ontslae van die dinge van jou
ou sondige lewe. Wees lief vir mekaar. Leef die lewe wat Jesus vir jou as
geskenk gegee het.
Amen