11 Oktober 2015

Deel 1 - Hoe moet ons bid om die krag van gebed te beleef?

Ef. 1:15-23 Teksverse 15,16 & 17 (Preek oor gebed in Ef. 1 v 15 tot 23)
27 Sep 2015 GKE
Sb. 2-4 v 1
Sb 7-2 v 1 & 2.
Sb 17-1. v 1 & 6
Sb. 3-4 v 1 & 5

Inleiding
Beleef ons die werklike krag van gebed? Gebed is die belangrikste deel van ons dankbaarheidslewe en tog gebeur dit dat ons nie werklik die volle krag daarvan in ons geloofslewe gebruik nie. Ons fokus so maklik in ons gebede op die fisiese dinge van ons dag tot dag lewe. Kos, klere beskerming teen inbrekers, al die dinge wat deel maak van ons dag tot dag bestaan. Dit is nie verkeerd om vir hierdie dinge te bid nie, want die Here leer ons tog immers om ook te bid vir ons daaglikse brood. As ons egter hoofsaaklik net daarvoor bid, mis ons die ware rykdom van gebed en kan dit selfs vir ons voel of God nie ons gebede verhoor nie want Hy gee nie altyd vir ons al die fisiese dinge waarvoor ons vra nie.

As ons net op die fisiese dinge konsentreer, skeep ons die geestelike dimensie van ons menswees af. Die Here leer ons dat ons volledig liggaam siel en gees is wat onlosmaaklik deel van mekaar is. Dis soos twee kante van ’n muntstuk. Jy kan die kop en stertkant van ’n muntstuk onderskei, maar jy kan hulle nie losmaak van mekaar nie. Net so kan jy nie die fisiese van die geestelike in die mens skei nie. As mens net op die fisiese sy van jou menswees fokus, mis jy uit op die ware vreugde van die lewe. Jy kan ’n miljoenêr wees, maar nog steeds sielsongelukkig. Die ware vrede wat net God kan gee kom juis deur gebed.

In hierdie gebed wat Paulus vir die gemeente in Efese bid leer ons hoe om deur middel van gebed daardie vrede van God deel van ons lewe te maak. In hierdie gebed is daar twee sake wat duidelik uitstaan, naamlik dankie en vra.

Dankie
In Ef. 1 v 15 hoor ons:
Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie.

Dank God vir ons geloof wat in liefde sigbaar word. Ons haak so maklik vas by ons sonde dat ons nie meer raaksien wat God besig is om in ons lewens te doen nie. Ons moet die vrug van die Gees in ons lewens raaksien en God daarvoor dank. Dit is alleen uit sy genade wat dit moontlik is. Ons moet God dank vir die geloofsgroei wat Hy in ons lewens bewerkstellig en ons moet Hom daarvoor prys. Gebede begin met lofprysing en dank aan God Drie-enig, Vader Seun en Heilige Gees.

Ons mag vra ook
Ons moet God prys en dank vir die seëninge wat Hy aan ons skenk, maar ons moet ook vra dat Hy ons oë open om die volheid van sy seëninge te verstaan. In Christus het God ons ryklik geseën, maar ons begryp dit nie altyd nie en sien dit nie raak nie. Christus het nie halwe werk gedoen nie, en daarom ontvang ons nie net gedeeltelik die seëninge nie. Die volle seën van God is daar vir ons, ons moet dit net begin leef.

Ek wil die volgende voorbeeld gebruik om dit te verduidelik. Eskom se beurtkrag was vir my ’n groot frustrasie omdat ek nooit seker was presies wanneer dit gaan inskop nie en ek nie daarvoor kon beplan nie. Tog het ek ’n stuk gereedskap by my gehad wat my presies kon inlig of daar beurtkrag gaan wees of nie en wanneer dit sal plaasvind indien daar wel beurtkrag was. Daar is ’n toepassing op die selfoon wat jou waarsku as daar beurtkrag kom en ook vir jou presies sê wanneer dit gaan plaasvind. Die toepassing was beskikbaar op my selfoon, maar solank ek dit nie gebruik het nie, het ek nie die voordeel daarvan benut nie. Dit is eers nadat ek dit begin gebruik het dat ek die volle voordeel daarvan ervaar het.

In die begin het ek nie die toepassing gebruik nie omdat ek nie geweet het daar is so ’n toepassing nie. Dit was eers nadat iemand my daarvan vertel het dat ek dit kon gebruik. Dit werk net so met God se seëninge in ons lewe. Solank ons dit nie gebruik nie, geniet ons nie die volheid van die nuwe lewe in Christus wat ons uit genade van God ontvang het nie.

Daarom is dit so belangrik dat ons God vra dat Hy deur sy Gees sy seëninge in ons lewens ’n werklikheid maak. Solank as wat ons gebede net om ons fisiese behoeftes draai, sal ons nie die rykdom van God se geestelike gawes beleef nie. Dan gebeur dit dat ons maar net so maklike terugval in ons ou sondige natuur. Daarom gebeur dat in plaas van die vrug van liefde, die bitter vrugte van ons sondige natuur in ons lewens sigbaar word soos byvoorbeeld woede, rusies, verdeeldheid, skeuring.

In hierdie gebed van Paulus leer ons waarvoor ons moet bid. Hy bid dat ons God werklik moet leer ken soos ons hoor in Ef. 1 v 17.
Wanneer ek in my gebede aan julle dink, bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken.
Niemand kan God ooit volledig ken nie, maar ons kan Hom ken ten opsigte van dit wat Hy in sy woord openbaar.

Die Griekse woord wat hier met ken vertaal word, dra die betekenis van om iemand intens te ken. Dit dui op die kennis wat twee persone van mekaar het wat in ’n hegte verhouding saamleef. Dis baie meer as blote kennis. Daar is ’n verskil om bloot net te weet van iemand en om daardie persoon baie goed te ken. Ek weet wie die huidige kaptein is van die Springbok rugbyspan is, maar ek ken hom nie werklik nie. Aan die ander kant ken ek vir Antoinette baie goed. Ek ken haar hart. Ek weet wie sy is.

Paulus bid hier dat ons God intiem persoonlik moet leer ken. Solank ons net weet van God sal ons ook nie ’n ware begrip hê van wat sy ryke seëninge in ons lewe beteken nie. As ek God intiem persoonlik ken, is dit maklik om Hom te vertrou. Dan sal die ou duiwel nêrens kom met sy skinderpraatjies nie. Sy gunsteling taktiek is om ons te laat twyfel in God se liefde en goedheid. Hy wil ons so graag oortuig dat ons God nie kan vertrou nie. As ons God egter intiem persoonlik ken, dan help sy skinderpraatjies egter niks nie, want as hy vir my sê dat God onbetroubaar is, glo ek hom nie, want ek weet wie God is.

As ek God ken dan weet ek wat dit beteken om sy kind te wees. As ek God ken dan sal ek sy liefde verstaan en ook verstaan wat dit in my lewe beteken. As ek God ken dan sal die vrug van my sondige natuur plek maak vir die vrug van die Gees, naamlik liefde wat in vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid sigbaar word. As ek God ken dan sal die moeilike dinge in die lewe my nie moedeloos maak nie, want ek weet God is daar en dat Hy my deur hierdie uitdaging wat voor my lê sal dra. Ek gaan nie alleen in daardie operasiesaal in nie. Ek weet dat God by my is.

As ek God ken dan sal ek die vreugde beleef om na mense om my uit te reik. Dan sal ek verstaan wat dit beteken en watse vreugde dit inhou om ’n verskil te maak in my medemens se lewe.

Samevatting
Hoe moet ons bid om die krag van gebed te beleef? Prys God en dank Hom vir die seëninge in jou lewe. Vra dat jy die volheid van sy seëninge in jou lewe sal raaksien en verstaan wat dit werklik beteken. Deur gebed leer ons God persoonlik ken. Wanneer ek God ken, dan kyk ek anders na die lewe en dan lewe ek anders.  

Prys God en dank Hom. Bid dat Hy ons oë sal open sodat ons die volle heerlikheid van sy seëninge in ons lewens sal raaksien en beleef.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking