11 Oktober 2015

Deel 2 - Hoe moet ons bid om die krag van gebed te beleef?

Ef. 1:15-23 Teksverse 18 – 23
11 Okt. 2015 GKE
Ps. 111-2 v 1 tot 4
Ps. 112-2 v 1 & 2.
Ps. 130-1. v 1 & 4
Sb. 15-1 v 1 tot 4

Inleiding
In die vorige preek oor Ef. 1:13-23 waar ons gefokus het op verse 13 – 17 oor die vraag: “Hoe moet ons bid om die krag van gebed te beleef?” het ons gehoor dat ons God moet prys en dank vir die seëninge in ons lewens. Ons moet vra dat ons die volheid van sy seëninge in ons lewens sal raaksien en verstaan wat dit werklik beteken. Deur gebed leer ons God persoonlik ken. Wanneer ek God ken, dan kyk ek anders na die lewe en dan lewe ek anders. 

Vandag hoor ons wat is die seëninge wat God aan ons gee. In hierdie teksgedeelte beskryf die Here dit in terme van drie dinge. In die eerste plek is dit die hoop wat sy roeping inhou. Tweedens die rykdom van sy heerlike erfenis en derdens hoe groot God se krag is wat in ons werk.

Die hoop van God se roeping
Die hoop waarvan ons hier hoor is nie ’n onsekere verwagting dat van die wêreld nie. Soos byvoorbeeld die hoop wat ons almal het dat die bokke die Wêreldbeker gaan huis toe bring. Ons hou duim vas dat dit sal gebeur, maar daar is ’n moontlikheid dat hulle dit nie gaan regkry nie. Die hoop in Ef. 1:18 verwys na die vaste wete dat dit wat ons hoop waar gaan wees. Verder wys dit op die verwagting op iets beters. Hoop in die Bybelse sin beteken dus die vaste sekere verwagting op iets beters.

Wat is die iets beters wat ons hoop? Dit is om vry te wees van die slawekettings van die sonde. Die sekere wete dat God se oordeel nie meer op ons rus nie. Die sekere wete dat my saak met God reg is en dat hierdie herstelde verhouding die basis is van my verhoudings met my medemens. Die vrug van my sondige natuur naamlik: vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns het nou plek gemaak vir die vrug van die Gees naamlik: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Die vaste sekere wete dat die evangelie, dit wil sê die goeie nuus van Jesus Christus se verlossing vir my waar is.

Hierdie hoop is terselfdertyd ook ons roeping om die goeie nuus aan die wêreld te gaan verkondig. Ons moet bid dat die Heilige Gees ons al hoe meer sal laat verstaan wat is ons hoop wat op die fondament van die evangelie staan en dat die Gees ons bemagtig om hierdie hoop in die manier hoe leef en wat ons sê aan die wêreld te verkondig.

Die rykdom van ons heerlike erfenis.
Die hoop en ons roeping kyk terug na ons verlossing wat Jesus Christus vir ons gegee het. Ons erfenis kyk vorentoe na die nuwe lewe wat God vir ons beplan het. Ons het nou reeds deel aan hierdie erfnis en dit wys vir ons heen na die perfektheid daarvan wat vir ons in die hiernamaals wag.

Ons kry nou reeds ’n voorsmaak daarvan om in vrede met God en ons medemens te leef, maar daardie vrede is nog nie volmaak nie en daarom sien ons met verlange uit na die volmaaktheid daarvan. Daardie verwagting dat ons God sal sien en dat ons soos Jesus verheerlik sal wees.

Daarom moet ons ook bid dat die Heilige Gees die rykdom van ons erfenis al hoe duideliker aan ons sal wys.

Die grootheid van God se krag wat in ons werk
Daar is twee dinge in hierdie wêreld waaroor ons geen mag het nie. Dit is die dood en die doodsheid van sonde. Maak nie saak wat ons doen nie, ons kan die dood nie vryspring nie. In Ef. 19b tot 21 hoor ons dat God wel mag oor die dood het:
Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek het

Jesus se opstanding uit die dood is vir ons die ewige bewys dat daar ook lewe anderkant die liggaamlike dood is. Daarom hoef ons nie meer in vrees en onsekerheid vasgevang te wees oor ons liggaamlike dood nie, want God wat die hemel en die aarde geskep het is nou hier by ons. Hy stap die pad saam met ons deur die doodsvallei en Hy sal daar wees saam met ons aan die anderkant van die dood.

Die ander saak waaroor ons geen mag het nie is die doodsheid van ons sonde. In Ef. 1:20 & 21 hoor ons dat Christus ook mag het oor die sonde:
en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom.

Christus regeer en daar is niks en niemand wat nie daaraan onderwerp is nie. Selfs diegene wat nie sy heerskappy wil erken nie staan ten spyte daarvan steeds daaronder. Diegene wat volhard in hul rebelsheid teenoor God sal die verskriklike gevolge daarvan dra.

Christus het ook mag oor die sonde deur die Heilige Gees kan ons ook die sonde oorwin. Wanneer ons, ons lewens deur die Gees laat beheers dan kan ons die sonde oorwin. As ons egter in eie krag die sonde aanvat, gaan ons dit nie regkry nie. Hoe laat mens jou lewe deur die Heilige Gees beheers word? Eenvoudig, bid daarvoor. Bid dat die Gees kragtig in jou lewe teenwoordig sal wees en dat jy in God se mag stry en baklei teen die sonde.

Paulus sluit hierdie eerste gebed af deur die eenheid van Christus en sy kerk te erken. Hy gebruik die beeld van ’n kop en ’n liggaam wat onlosmaaklik deel van mekaar is. Verder bely hy dat dit net God is wat ons volledig kan maak. Daar is niks anders in hierdie wêreld wat die plek van God kan inneem nie. As mens probeer om dit met iets anders soos byvoorbeeld die soeke na rykdom en beroemdheid of die oppervlakkige gejaag na wêreldse geluk sal jy teleurgesteld wees.

Dit is net deur die krag van God wat daardie leegheid in jou lewe volgemaak kan word.

Samevatting
Gebed is die belangrikste deel van ons dankbaarheidslewe. Doel van gebed is om God beter te leer ken. Ons Leer God ken deur Hom in dankbaarheid te loof en prys vir die seëninge wat Hy vir ons bestem het. Ons leer God ken wanneer ons werklik verstaan wat die hoop van ons verlossing beteken en wat ons roeping ten opsigte van hierdie hoop is. Ons leer God ken wanneer ons weet wat die rykdom van ons ewige erfnis is. Ons leer God ken in sy groot krag wat Hy deur die Gees in ons lewens uitoefen.

Om die krag van gebed te beleef moet ons bid. Prys God in jou gebed vir al die seëninge wat hy so ryklik oor ons uitstort. Bid dat jy God werklik kan leer ken. Bid dat jy die hoop van jou roeping sal verstaan. Bid dat jy die rykdom van jou erfnis sal begryp. Bid dat die Gees kragtig in jou lewe sal werk en dat jou lewe deur die Gees beheers sal word.
Wanneer jy so bid, sal jy die volheid van God in jou lewe ervaar.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking