13 Januarie 2021

Sing van die Here se liefdesdade

 Ps. 89 v 2 - 3

Ek sal altyd sing van die Here se liefdesdade, sy trou verkondig aan komende geslagte. Ek sê: “U liefde en u trou wankel nooit, dit hou vir altyd stand in hemel en op aarde.”

This devotional is also available in English 


Hierdie Psalm is 'n gedig van Etan die Esragiet en die grootste deel van sy gedig bestaan uit 'n lofsang vir die Here. Dit is wat dit beteken om die Here te aanbid, lofsang tot sy eer.

 Mens sal nou dink (met reg ook) dat ons die Here moet aanbid, loof en prys omdat Hy ons so ryklik seën. Maar as ons so deur die Psalms blaai, dan sien ons dat dit nie net in tye van voorspoed is dat die Psalmdigters die Here loof en prys nie. Dit is juis ook in tye van hul diepste nood dat hulle die Here met lofprysing aanbid.

 Daar is 'n baie goeie rede daarvoor. Hierdie lofprysing gaan nie daaroor sodat die Here goed moet voel oor Homself nie. Hy het nie ons lofprysing en aanbidding nodig nie. Ons het dit wel nodig, net soos wat ons die lewensasem nodig het wat ons aan die lewe hou.

 Mens sal nou wel kan redeneer dat dit moeilik is om die Here te loof en te prys wanneer dit swaar met jou gaan en dit is so, dit is nie altyd maklik nie. Dit is veral moeilik, bykans onmoontlik wanneer jy net teen jou omstandighede wat jou so platdruk vaskyk.

 Die Here nooi jou uit om verby dit te kyk na Hom wat iets daaraan kan doen en wat jou daardeur kan dra. Wanneer jy die Here loof en prys midde in jou swaarkry, dan sien jy waar jou redding lê.

 Sing van die Here se liefdesdade want dit herinner jou van wie jy op staatmaak om jou te red. Dan kom jy ook op daardie punt om te sê: “wys my hoe groot jou probleem is, dan wys ek jou (deur my lofprysing en aanbidding) van hoe groot die Here is op wie ek staatmaak om my deur my swaarkry tye te help.”

 Onthou egter, dat jy net kan sing van die Here se liefdesdade wanneer jy in Jesus Christus glo. Wanneer jy jou voor Hom verootmoedig en glo dat net Hy jou van jou sonde en elende kan red.

 Sing van die Here se liefdesdade en leef vanuit sy genade.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking