14 Januarie 2021

Dit gaan goed met die volk wie se God die HERE is!

 Ps. 144 v 15 (Lees die hele Psalm)

Gelukkig is die volk met wie dit so gaan. Dit gaan goed met die volk wie se God die Here is!

 This devotion is also available in English



Psalm 144 is 'n gebed om bevryding en seën. Dit bestaan uit 'n loflied van 'n koning, 'n loflied vir die Skeppergod, 'n gebed dat die HERE 'n Godsverskyning sal maak, 'n gebed om bevryding van vyande en seën op tuisfront.

 Hier hoor ons weereens hoe die Psalmdigter in gebed na die HERE toe kom om hom te bevry en verlos. In hierdie gebed erken hy dat dit net God is wat hom kan red en daarom besing hy die Lof van God.

 Wanneer jy tot God nader in jou nood, verstaan jy wie Hy werklik is? Glo jy dat Hy en niemand anders oorwinning oor vyande kan gee? Glo jy dat Hy onverganklik is? Glo jy dat dit net Hy alleen is wat mense kan red? Glo jy dat jy alleen op grond van Jesus Christus se soenverdienste aan die kruis tot God kan nader? Glo jy dat Jesus Christus jou enigste Verlosser en Saligmaker is?

 Glo jy dat dit net God is wat voorspoed gee? Glo jy dat al die seëninge waarmee jy so ryklik geseën is, alleen uit die hand van God kom? Glo jy dat jou voorspoed 'n getuienis van God is en gee jy aan Hom erkenning daarvoor?

 Ons mag bid dat die HERE ons en ons kinders sal seën. Nader tot God in gebed en erken wie Hy werklik is. Dra jou nood en bekommernisse aan Hom op en bedank Hom vir die seëninge wat Hy so mildelik aan jou gee. Moenie net teen die probleme vaskyk nie. Sien ook God se seëninge in jou lewe raak.

 Laat jou lewe 'n lied wees tot eer van die HERE, want dit gaan goed met die volk wie se God die Here is!

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking