Ps. 144 v 15 (Lees die hele Psalm)
Gelukkig is die volk met wie dit so
gaan. Dit gaan goed met die volk wie se God die Here is!
This devotion is also available in English
Psalm 144 is 'n gebed om bevryding en seën. Dit bestaan
uit 'n loflied van 'n koning, 'n loflied vir die Skeppergod, 'n gebed dat die HERE
'n Godsverskyning sal maak, 'n gebed om bevryding van vyande en seën op
tuisfront.
Hier hoor ons weereens hoe die Psalmdigter in gebed na
die HERE toe kom om hom te bevry en verlos. In hierdie gebed erken hy dat dit
net God is wat hom kan red en daarom besing hy die Lof van God.
Wanneer jy tot God nader in jou nood, verstaan jy wie Hy
werklik is? Glo jy dat Hy en niemand anders oorwinning oor vyande kan gee? Glo
jy dat Hy onverganklik is? Glo jy dat dit net Hy alleen is wat mense kan red? Glo
jy dat jy alleen op grond van Jesus Christus se soenverdienste aan die kruis
tot God kan nader? Glo jy dat Jesus Christus jou enigste Verlosser en Saligmaker
is?
Glo jy dat dit net God is wat voorspoed gee? Glo jy dat
al die seëninge waarmee jy so ryklik geseën is, alleen uit die hand van God kom?
Glo jy dat jou voorspoed 'n getuienis van God is en gee jy aan Hom erkenning daarvoor?
Ons mag bid dat die HERE ons en ons kinders sal seën. Nader
tot God in gebed en erken wie Hy werklik is. Dra jou nood en bekommernisse aan Hom
op en bedank Hom vir die seëninge wat Hy so mildelik aan jou gee. Moenie net
teen die probleme vaskyk nie. Sien ook God se seëninge in jou lewe raak.
Laat jou lewe 'n lied wees tot eer van die HERE, want dit
gaan goed met die volk wie se God die Here is!
Amen