07 Junie 2015

Die Heilige Gees dra ons met gebed deur die donker tye van swaarkry

Rom. 8:18-30 teksverse 26 & 27

3 Mei 2015
Ps. 48-1 : 1, 4 & 5
Ps. 68-1 : 1 & 3
Ps. Ps. 63-2 : 1
Ps. 46-1 : 1 & 6

Hoekom is die lewe so swaar? Hoekom moet ons so sukkel? Ek staan verbyster as ek so na die verwoesting op die foto’s van die aardbewing in Nepal kyk. Ek voel geskok oor die nuus dat die onderwyseres wat in Port Elisabeth vermoor is se verloofde moontlik agter ’n komplot kan sit wat vir haar dood verantwoordelik was. Soveel boosheid om ons. Hoekom? As ons so na ons eie lewens kyk dan is daar net soveel hoekoms. Hoekom veroorsaak siekte soveel lyding? Hoekom moet ons so swoeg om ’n bestaan te maak? Hoekom, hoekom .................?

Een ding is seker, swaarkry en lyding is deel van ons daaglikse bestaan en die rede daarvoor hoor ons in Rom. 8:20a
Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het.
As gevolg van die mens se rebelse opstand teen God se gesag waarvan ons in Gen. 3 hoor is die skepping onderwerp aan ’n sinlose bestaan soos die Prediker ook bevestig met sy uitroep “Alles tevergeefs, Alles kom tot niks, ’n gejaag na wind” wat soos ’n refrein deur die boek loop. Die gebeure wat in Gen. 3 beskryf is, hou verreikende gevolge vir die hele mensdom in en die skepping sug oor die gevolge.

Wanneer ons so na die slegte dinge in die wêreld om ons en in ons eie lewens kyk moet ons nie moedeloos raak nie soos ons in Rom. 8:18 hoor
Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.
Want dit is nie ’n hopelose saak nie soos ons hoor in Rom. 8:20b & 21
Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid , om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê.

Ons hoop op iets beter omdat ons gered is soos wat ons Rom. 8:24a hoor.
Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop.
Christus het die straf vir die mens se opstand teen God gedra en daarom kan elkeen wat in Jesus Christus glo vashou aan die hoop op iets beters. Al lyk dit nou donker om my weet ek dat God daar is en dat Hy my deur hierdie donkerte sal dra.

Ons is nou in ’n tyd wat mens kan beskryf as ’n reeds en ’n nog nie. Met sy kruisiging en opstanding het Christus die vloek van die sonde gebreek, maar ons sien dit nog nie ten volle nie. Ons ly nog steeds onder die gevolge van die sonde. Ten spyte daarvan hoop ons op ’n tyd dat ook die gevolge van die sonde nie meer sal wees nie soos ons hoor in Rom. 8:24b & 25
Wat ’n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.
Dit gebeur egter soms dat mens moedeloos word. Die lewe het ’n geneigdheid om vir ’n mens ’n dwarsklap van agter te gee wat jou hele wêreld omkeer. Dit is dan wanneer dit moeilik raak om aan die hoop vas te hou. Dan sien mens nie verby die hier en die nou nie. Jy sien net die donkerte van die huidige omstandighede raak. Dit is gebed wat ons deur hierdie donker tye dra, maar dit gebeur ook soms dat die omstandighede maak dat mens nie kan bid nie. Ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie. Ons het gebed so broodnodig, maar ons kan nie bid nie!

Dit is in hierdie tye wat God se genade soos ’n helder lig in die donker skyn. Ons moet vashou aan die troos wat ons in Rom. 8:26 & 27 hoor:
Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.

Wanneer die lewe vir jou te veel word moet jy weet dat die Heilige Gees ons met gebed deur die donker tye van swaarkry dra. Die hoop waaraan ons vashou is nie iets wat daar ver in die toekoms lê nie. Dit is ’n hoop vir die hier en nou. As die hoop maar net daar ver in die toekoms was, sou die belofte van Rom. 8:18 ons moeilik getroos het.
Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.
Want ons beleef al reeds so ’n stukkie van die heerlikheid wat kom wanneer ons sien hoe God ons deur die moeilike tye dra. Ek sien dit dalk nie wanneer ek binne in die storm is nie, maar wanneer ek terugkyk dan sien ek hoe God se genade my deur die storm gedra het.

Wanneer ek terugkyk na my lewensreis saam met God, dan sien ek twee rye voetspore daar waar die pad maklik was. Daar waar die pad bitter moeilik was, is daar egter net een ry spore. God se spore, want dit is waar Hy my gedra het. Hoe dikwels gebeur dit nie dat ek voor ’n donkerte staan waarvoor ek nie kans sien nie. Daardie groot operasie wat vir my voorlê. Ek is bang en ek weet nie hoe gaan ek deur dit kom nie. Die troos is dat die Heilige Gees ons met gebed deur die donker tye van swaarkry dra. Wanneer ek terugkyk na daardie tye in my lewe besef ek hoe God my gedra het en dat Hy my nooit verlaat het nie.

Dit is eers wanneer ek besef hoe God my deur die donker tye in my lewe gedra het dat Rom. 8:28 werklik sin maak.
Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.
Wanneer ek binne in die storm is dan sien ek nie altyd hoe God dit gebruik om te keer dat die bose sy doel daarmee bereik nie. Wanneer ek terugkyk dan sien ek dat ek nie alleen was nie, maar dat God daar was en dat Hy my nooit alleen gelos het nie. Ware vrede kom nie van die gebrek aan teenspoed nie, maar wel van die teenwoordigheid van God in my lewe.

Wat is die ergste wat met ’n mens kan gebeur in hierdie lewe? Dit is dat mens jou lewe verloor. Wat meer kan van jou gevat word as jou lewe? Die verdere troos wat ons hieruit put is dat selfs met ons dood die bose se nie sy doelwit bereik nie. In Gen. 2:17 hoor ons dat die dood die straf is vir die sonde. Jesus Christus het met sy opstanding die angel uit die dood gehaal soos ons in 1 Kor. 15:54b & 55 hoor
“Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.” “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”

Die dood wat die finale straf vir die sonde was gebruik God nou ten goede om elkeen wat in Jesus Christus glo finaal van die gevolge te verlos. Die dood hou vir die gelowige geen verskrikking in nie, maar is slegs ’n deurgang na ’n ewige heerlikheid saam met God.

Geliefdes, moenie moedeloos word oor al die swaarkry in hierdie lewe nie. Kyk terug en sien hoe God se genade u deur die swaar tye gedra het. Kyk vorentoe met verwagting na die teenwoordigheid van God in u lewe en na ’n ewigheid saam met God waar die gevolge van die sonde verby is. Doen dit met die verwagting dat die Heilige Gees ons met gebed deur die donker tye van swaarkry dra.

Amen

26 April 2015

Hoekom moet ons bid?

Hoekom moet ons bid?
26 Apr 2015 GKE
Mat 6:5-15 teksvers 8

Sing
Ps. 31-1:1, 2 & 3
Ps. 25-1:1, 2, 3 & 5
Ps. 86-1:1,3 & 6
Sb 15-1:1 - 4

Hoekom moet ons bid? As God alwetend is, dan weet Hy mos wat ons nodig het soos ons ook in Mat 6:8 hoor:
julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.

Tog loop die opdrag om te bid soos ’n goue draad dwarsdeur die Bybel. In Jak 4:2 hoor ons byvoorbeeld:
Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ’n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie.

Hier in ons teksgedeelte hoor ons hoe Jesus sy dissipels leer hoe om te bid, want as mens verkeerd bid, dan kom daar nie veel van nie soos ons hoor in Jak 4:3:
As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.
Verder bely ons (Sondag 45 Heidelbergse Kategismus) dat gebed ’n noodsaaklike deel van ons dankbaarheidslewe is. Sonder gebed gaan mens geestelik dood.

In Mat 6:6 sê Jesus vir ons dat ons nie soos die skynheiliges moet bid nie. Die skynheiliges hou daarvan dat mense sien hoe hulle bid en dit is hoekom Jesus hulle skynheilig noem, want die gaan net oor hulleself. Almal moet sien hoe goed hulle kwansuis is. Hulle maak asof God vir hulle baie belangrik is, maar eintlik gaan dit nie oor God nie. Dit gaan net oor hulleself! As dit mens se gesindheid is, sê die Here duidelik vir ons dat so ’n gebed niks werd is nie. Dit is net so goed asof mens glad nie bid. Hoe maklik trap ons nie ook in die slaggat om skynheilig te wees nie? As dit vir my voel asof God nie my gebede hoor nie, moet ek gaan kyk of my gebede nie net my eie selfsugtige begeertes wil bevredig nie.

In Mat 6:6 sê Jesus vir ons dat gebed ’n intieme gesprek met God is. As jy ’n persoonlike gesprek met ’n geliefde voer, basuin jy dit tog nie op die straathoeke uit nie! Nee, jy sorg dat julle op ’n private plek is waar julle rustig met mekaar kan gesels. Daarom sê Jesus dat ons in ons kamer in privaatheid tot God moet bid.

Dit beteken egter nie dat openbare gebede soos byvoorbeeld ons gemeente se gebed tydens die erediens of die gebede wat ons doen om ’n vergadering te open of af te sluit, nie toegelaat word nie. Dit gaan oor die gesindheid wat met gebed openbaar word. Bid ek om aan almal te wys hoe vroom en godsdienstig ek is, of bid ek in afhanklikheid om God se leiding te vra en om Hom te dank vir al sy seëninge wat Hy so mildelik oor ons uitstort.

In Mat 6:7 hoor ons dat ’n gebed nie hoogdawerend of ’n stortvloed van woorde moet wees nie. Jesus sê dat ons nie soos die heidene moet maak nie. Die heidene van daardie tyd het geglo dat hulle hul gode se guns moes wen. Hoe beter hul gebed was, hoe beter was die kans dat hulle die god tot wie hul gebid het, kon oortuig om te doen wat hulle wou hê. Ons mag nou dink dat dit darem nie op ons van toepassing is nie. Dit is nie meer algemene gebruik dat die gode van die ou Grieke aanbid word nie. Ons vind egter tog dieselfde gesindheid selfs by Christene. God word beskou as ’n outoteller wat maar net moet gee as ons die kaart (gebed) indruk. Die Here sê hier vir ons dat gebed nie ’n manier is waarmee ons God se arm kan draai om aan ons te gee wat ons harte begeer nie. Die doel van ’n gebed is nie ’n inkopielys by God nie. Ons moet ook oppas vir die kettinggebed gesindheid. As ons net genoeg mense kan kry om vir ’n saak te bid, dan moet God luister! Baie maal gebruik ons God ook net soos wat mens ’n spaarwiel gebruik. Jy dink net daaraan die dag as jy ’n papwiel het. Jy onthou God net wanneer jy in die knyp is en nou bid jy vinnig dat God jou uit die gemors moet help.

Gebed gaan nie daaroor dat ons God daarmee oortuig om vir te gee wat ons wil hê nie. Die Here leer ons in hierdie teksgedeelte dat die hoofsaak van gebed daaroor gaan dat ons daarmee vir God vra wat sy wil in ons lewens is. Verder gaan dit daaroor dat ons daarmee moet besef hoe afhanklik ons van Hom is. God weet wat ons nodig het. Deur middel van ons gebede leer ons hoe nodig ons God het om na ons om te sien, fisies en geestelik. Ons gebed moet eenvoudig en vol vertroue wees. Ons moet soos kinders na ons Vader kom, gretig om sy wil te doen, bewus van ons tekortkomings.

In Mat 6:5-8 sê die Here vir ons wat gebed nie is nie. Nou sê Hy in vers 9 en verder vir ons, so moet julle bid:” en dan volg die Onse Vader gebed wat ons almal so goed ken. Dit staan ook bekend as die model gebed. Hiermee bedoel die Here nie dat ons dit maar net onnadenkend soos ’n towerformule opsê nie. As ons dit doen, dan maak ons inderdaad net soos die heidene waarteen die Here ons waarsku, ’n onnadenkende stortvloed van woorde wat niks beteken nie.

Met die Onse Vader leer die Here vir ons waaroor gebed wel gaan. Die inleiding “ons Vader wat in die hemel is” sê vir ons aan wie ons gebed gerig moet word. Ons moet die die enigste lewende ware God aanbid wat die hemel en die aarde uit niks uit geskep het. Ons het die voorreg om vir Hom te sê Vader. In Mar 14:36, Rom. 8:15 en Gal 4:6 leer die Here ons om Hom “Abba, Vader” te noem. Die woord “Abba” beteken dat die gesprek met God baie intiem is, net soos wat ’n klein kindjie liefdevol sy vader pappa sal noem. Hierdie voorreg wat ons het om God Abba Vader te noem kry ons alleen op grond van die offer wat Jesus Christus vir ons aan die kruis gebring het.

Dan volg daar ses gebedsversoeke wat ons twee afdelings kan verdeel. Die eerste drie
“laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.”
fokus op God. In die eerste bede erken ons wie God werklik is. Die twee wat daarop volg fokus op God se wil. Wat wil God vir my hê. Nie wat ek wil en God moet maar daarby inpas nie. Ons maak so maklik die fout om vir God voor te skryf en dan moet Hy maar net laat gebeur wat ons in ons eie selfsugtigheid reeds besluit het. Wat is God se wil vir ons gemeente? Nie ons eie prioriteite nie, maar God se prioriteite.

Die laaste drie bedes
Gee ons vandag ons daaglikse brood ; en vergeef ons, ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.
fokus op ons totale afhanklikheid van God. Hier erken ons dat ons op ons eie nêrens kan kom nie. Dit is maar net God se genade wat ons dra.

In die ou Afrikaanse vertaling word die lofprysing
“Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”
aan die einde van die gebed bygevoeg terwyl dit nie in die 1983 vertaling voorkom nie. Die rede daarvoor is dat daar met die vertaling van die 1983 vertaling van ’n ouer manuskrip gebruik gemaak is waarin die lofprysing nie voorkom nie. Dit beteken egter nie dat die afsluitings-lofprysing nie deel van die gebed moet wees nie. Hoewel die bekende lofprysing: “Aan U behoort die koninkryk …”in die grondteks ontbreek, sou ’n gebed sonder slot vreemd gewees het. Waarskynlik is die lofprysing aanvanklik telkens vry geformuleer soos destyds die gebruik was en daarom is dit nie in die oudste vorm van die gebed opgeskryf nie. Daarom laat ons ook nie slot lofprysing uit wanneer ons die Onse Vader bid nie, want in 1 Kron. 29:11–12 leer die Here ons dat dit wel deel van ons gebede moet wees.

Hoekom moet ons bid? Ons gebede is nie ’n inkopielys waar ons, ons begeertes aan God bekend maak en ons Hom dan probeer oorreed om dit vir ons te gee nie. Nee, ons moet bid om te vra na die wil van die Here en om ons totale afhanklikheid van sy genade teenoor Hom te erken. Ons bid omdat ons dankbaar is om vanuit God se genade in Jesus Christus as sy kinders ’n nuwe lewe kan leef.

Bid sonder ophou, maar doen dit vir die regte rede met die regte gesindheid.

Amen

29 Maart 2015

Jesus, dink ook aan my!


GKE 29 Mar 2015
Luk. 23:26-43 & Mat. 1:21
Teks Luk. 23:43
Sing:
Sb 5-3v1 & 2
Ps. 51-1 v 8
Sb 5–1 v 2
Ps. 73–1 v 9, 10 & 11

Inleiding
Kruisig Hom! Kruisig Hom! So het die skare nog kort tevore geskreeu tydens Jesus se verhoor. En nou is Hy op pad na Golgota, die kopbeenplek toe. So uitgeput is Hy dat Hy nie in staat is om selfs die dwarsbalk van sy kruis dra nie. ’n Sekere Simon van Serena word gedwing om dit te dra. Hoe eensaam is dit nie? Niemand is bereid om Hom te help nie.

Jesus word gekruisig
’n Groot klomp mense loop agterna om te sien wat gaan gebeur. Onder hulle is daar ook ’n groep vroue wat by voorbaat oor Hom getreur en gehuil het. Jesus se reaksie hieroor is op die oog af vreemd. Hy sê vir die vroue om nie oor Hom te huil nie, maar dat hulle oor hulself moet huil. Wat Hy hiermee bedoel is dat die oordeel van God oppad is daarom moet hulle daaroor bekommerd wees want niemand gaan dit vryspring nie. Jesus verwag nie simpatie nie. Wat Hy verwag is geloof, berou en bekering.

Uiteindelik bereik die stoet Golgota met die skedelagtige voorkoms net buite Jerusalem langs ’n groot pad. Die Romeinse soldate het die regop paal in die grond ingeplant. Nadat hulle Jesus se klere uitgetrek het moes Hy op sy rug met sy arms oopgesper bo-op die dwarsbalk gaan lê sodat hulle Hom daarop kon vasspyker. Daarna is Hy met dwarsbalk en al aan die regop paal opgehys en daarna is die twee balke aan mekaar vasgebind. Laastens is sy voete aan die regop paal vasgespyker. Bokant sy kop is daar ’n bord wat sy sogenaamde misdaad aangedui het: “die Koning van die Jode” in drie tale sodat almal kon verstaan, maar hoeveel het werklik verstaan?

So is daar ook twee misdadigers saam met Hom gekruisig en nou hang Hy tussen hulle, een aan sy linkerkant en een aan sy regterkant. So is die profesie van Jes. 53 en Ps. 22 vervul. Hy is as misdadiger beskou. Die soldate verdeel sy klere onder mekaar, maar loot oor wie sy onderkleed moet kry.

Jesus se reaksie
Jesus se reaksie hierop is nie woede en verbittering nie, maar vergifnis:
“Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”
Hier demonstreer Jesus sy opdrag, julle moet julle vyande liefhê (Mat 5:44)
“Julle moet julle vyande liefhê en julle moet bid vir dié wat julle vervolg”
maar ten spyte van hierdie liefdesdaad is daar nog steeds mense wat onaangeraak is daardeur. Die raadslede lag Hom uit en spot Hom. Smalend snou hulle Hom toe (vgl. Luk. 23:25):
Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is.
Die soldate neem ook deel aan hierdie gespottery. Selfs een van die misdadigers wat saam met Hom die pyn van die kruis ervaar, doen mee aan die gespottery.

Twee antwoorde op God se genade: negatief of positief:
Negatief
In hierdie misdadiger sien ons die kenmerkende reaksie van mense wat geen berou het oor hul dade nie. Hulle sien nie hul eie foute raak nie, maar die foute van ander mense sien hulle alte maklik raak. Hulle sien nie die erns van hul probleem raak nie. Mense sonder sondebesef mis die genade van God. Dis mense wat God die skuld gee vir hul eie sondige optrede. Dit is nooit hulle skuld wanneer dinge verkeerd loop nie, maar altyd iemand anders se skuld. Dis een van die belangrikste kentekens van ’n geharde sondaar en ons sien dit reeds direk na die sondeval daar in die paradys. Dis nie my skuld, maar altyd iemand anders se skuld. Eva het die slang blameer, Adam het Eva blameer en op die uiteinde het hy God blameer. Dit is wat hierdie misdadiger doen. Hy blameer God.

Positief
Teenoor hierdie misdadiger se optrede is die ander misdadiger. Tot hier toe het hulle dieselfde lot gehad. Beide het ’n lewe van misdaad gekies. Beide ontvang nou die straf waarmee misdaad beloon word, maar op die kruis langs Christus loop hul paaie uitmekaar. Die een kies die ewige dood en die ander kies die ewige lewe. Beide het Jesus se gebed gehoor: (vgl. Luk 23:33)
“Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”

In hierdie gebed hoor ons die Evangelie, die goeie nuus van verlossing deur Jesus Christus. In dit wat Hy hier bid, vra Hy die Vader: “moet hulle nie straf nie, maar straf my!” Een misdadiger verhard sy hart en die een hoor die Evangelie, die goeie nuus dat daar deur Christus vergifnis van sonde is omdat Hyself die straf daarvoor dra. Die Evangelie van die kruis stel elke mens voor ’n besliste keuse: verharding of bekering. Die kruise aan weerskante van die Christus dui die pad na bo, maar ook die pad na onder.

In die gebed van die tweede misdadiger (Luk. 23:42):
“Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”
hoor ons die onmisbare vereiste vir die gebed van iemand wat Hom voor God verootmoedig. Hy het sy skuld ontdek en besef hoe verlore hy voor die regverdige oordeel van God staan. Hy besef dat hy reeds verlore is, maar hy gryp na die reddingstou van liefde wat Jesus met die gebed van sy eerste kruiswoorde na hom toe uitgegooi het. Hy besef dat Hy in homself niks goed het wat hom kan red nie. Al waarop hy sy hoop kan plaas is God se genade.

Die inhoud van die gebed van verootmoediging is dit wat net ’n mens wat sy eie onvermoë besef kan bid. Hy smeek nie vir ’n plek in die koninkryk nie, want hy besef dat hy geen aanspraak daarop kan maak nie. Al wat hy vra is dat Jesus maar net aan DINK. Hy smeek nie om saligheid of iets spesifiek nie, hy vra net die aandag van Jesus die Koning. Al wat hy vra is maar net ’n krummeltjie van God se genade want hy besef dat hy op niks aanspraak kan maak nie. Hy het alles prys gegee.

Hoe is so ’n eenvoudige, maar diep opregte gebed moontlik? Dit is alleen maar net moontlik wanneer die Heilige Gees ’n mens se hart verbrysel. Dit is wanneer die Gees die eiegeregtigheid en eie belangrikheid, die eie ek in my afbreek. Dit sien ons wanneer hy die ander misdadiger met sy verharde hart bestraf (vgl. Luk. 23:40&41):
“Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.”
Daarom durf hy eintlik nie om iets van Jesus te vra nie. Hy smeek maar net “Jesus, dink ook aan my!” God se genade vra nie, ’n hoogdawerende gebed nie. In eenvoud kan ons ook maar net gelowig bid, “Jesus, dink ook aan my!”

In Jesus se antwoord sien ons die grootheid van God se liefde en genade. Jesus kan en wil verlossing gee en daarom antwoord Hy hierdie misdager (vgl. Luk. 23:43):
“Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”
In plaas van die krummeltjie wat hierdie misdadiger vra, gee Jesus alles, nie net kwytskelding van skuld nie, maar ook die heerlikheid van die Paradys. Om die Paradys te ontvang moet mens eers gelowig by Golgota verbygaan.

In sy antwoord maak Jesus ook die belofte “....... saam met My”. Wanneer Ek gaan, gaan jy ook! Dit is die klimaks van God se genade, naamlik om gemeenskap met God te beleef. God is by my en ek is in sy teenwoordigheid. Dit is ook nie maar net ’n vae belofte nie, nee dit is vas en seker. Jesus sê: “Ek verseker jou, vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees.” Nie eers eendag daar ver nie, maar VANDAG nog. Die ewige lewe saam met God begin vandag nog waar ons die heerlike teenwoordigheid van God kan beleef.

Persoonlike boodskap
Die vraag is nou geliefdes: “wat hou die kruiswoorde van Jesus vir my in?” Wanneer ons voor die kruis van Jesus Christus te staan kom, kan ons nie maar net passief daaroor wees nie. Niemand word onaangeraak agtergelaat nie! Die kruis vra van elkeen wat is jou antwoord? Is dit die onverskilligheid van die eerste misdadiger? Ten spyte van die Evangelie wat ek gehoor het, gaan ek hier weg asof niks verander het nie. Ek onthou dalk vir so ’n kort rukkie die mooi preek, maar dit verander niks aan my lewe nie. Ek gaan maar net nog steeds aan en leef my lewe asof God nie bestaan nie. Die eerste misdadiger was so naby aan God, maar tog het Hy vir ewig verlore gegaan! Hy het sy Verlosser gesien en gehoor. Hy is gewaarsku, maar het nie gehoor gegee nie.

Of is my reaksie ook die eenvoudige gebed van die tweede misdadiger? “Jesus, dink ook aan my!” Die belofte op hierdie gebed word egter net vir my ontsluit wanneer ek dit in ware ootmoed bid. Dit tree slegs in werking wanneer ek my eie skuld ontdek en besef hoe verlore ek werklik is wanneer ek voor die regverdige oordeel van God staan. Luister ek na die stem van die Heilige Gees in my lewe? Gryp ek God se genade in geloof aan deur hulpeloos met opregte bekering uit die diepte van my elende te smeek: “Jesus, dink ook aan my!” As dit my reaksie is, dan kan ek met vaste sekerheid weet dat Jesus se antwoord: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” ook vir my bedoel is.

Geliefdes, wat is my reaksie op die kruisboodskap van Jesus Christus? Is ek soos die eerste misdadigers wat ten spyte daarvan dat ek die Evangelie gehoor my hart verhard, of is ek soos die tweede misdadiger wat sy eie skuld ontdek het in die diepe besef van sy verlorenheid bid: “Jesus, dink ook aan my!”
Amen

27 Maart 2015

By die Here is daar weer ’n geleentheid om weer te begin

15 Maart 2015 GKE
Mar 14:26-31 : Petrus se voortvarendheid – Voortvarende oppervlakkige Christene
Teksvers Mar 14:29
Luk. 22:54-62: Petrus se verraad & berou – Die dieptepunt van my sonde en                 ellende.
Teksvers Luk. 22:62
Joh. 21:15-19 Petrus ontvang vergifnis - God se genade
Teksvers Joh. 21:19
Sing        Lofsang:   Ps. 8 v 1 & 4          (OAB)
              Na wet:           Ps. 91 v 1 & 3   (OAB)
              Na gebed  Ps. 86 v 1 & 3        (OAB)
              Tydens Nagmaal Ps. 23 v 3 & Ps. 116 (OAB)
              Slotsang   Ps. 18 v 1 & 2        (OAB)


Inleiding
Die verhaal van Petrus is kenmerkend van ons lewens saam met ons Here. Dit is ’n verhaal van bittere teleurstelling. ’n Verhaal van hartseer. ’n Verhaal van vergifnis. ’n Verhaal van ’n nuwe lewe saam met ons Here.

Voordat hy Jesus ontmoet het was Petrus ’n eenvoudige visserman sonder enige geleerdheid. Sy ontmoeting met Jesus verander sy hele lewe. Hy het ’n nuwe mens met nuwe doelwitte en prioriteite geword. Hy het egter nie ’n volmaakte mens geword nie, maar het nog altyd Simon Petrus gebly.
Simon die seun van Johannes,
Simon die voortvarende een.
Simon die een wat eers gedoen en dan gedink het.
Simon die een wat Jesus in sy uur van nood en benoudheid bitter teleurgestel het
       .

Wanneer ons na die lewe van Petrus kyk dan sien ons, ons eie lewens saam met die Here raak. Alhoewel ons ontmoeting met die Here ’n nuwe mens van ons gemaak het, bly ons nog steeds wie ons is. Die Here verander nie ons persoonlikheid en menswees nie. Hy gebruik dit in sy diens. Ons het nie nou skielik volmaakte mense geword na ons ontmoeting met die Here nie. Wat wel verander is dat ons nou nuwe doelwitte en prioriteite in ons lewens het.

In ons voorgelese gedeeltes hoor ons dat daar drie fases in Petrus se lewe saam met Christus was.
1) Die eerste fase was die tyd van sy voortvarendheid.
    Kom ons noem dit die fase van voortvarende oppervlakkige Christenwees.
2) Die tweede fase is Petrus se verraad & berou.
     Kom ons noem dit die dieptepunt van my sonde en ellende.
3) Die derde fase is waar Petrus vergifnis ontvang.
     Kom ons noem dit God se genade in ons lewens.

Petrus se voortvarendheid – Voortvarende oppervlakkige Christene
Nadat Jesus sy dissipels van sy dood en opstanding vertel hoor ons in Mar 14:29 hoe Petrus ewe selfvoldaan verklaar:
“Al sal hulle ook almal van U afvallig word, ek sal nie.”

Kenmerkend van Christene wat in hierdie fase is, is ’n selfvoldane trotsheid. Dis tipies daai houding van die Fariseër wat saam met die tollenaar gebid het soos ons hoor in Luk 18:11 & 12:
O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee ’n tiende van my hele inkomste.’

Dis die Christene wat baie maklik hulle medebroers en susters veroordeel omdat hulle manier van aanbidding nie volgens hulle oordeel korrek is nie.

Hoe maklik beland ons self nie ook daar nie? My lewe is reg, kyk maar self hoe goeie lewe ek ly! As die ander in die gemeente maar net soos ek kon wees soos Petrus verklaar, “al sal hulle ook, ek sal nie!”

’n Christen met so ’n houding en gesindheid is nie baie bruikbaar in God se koninkryk nie en doen selfs die koninkryk skade aan deur mense af te sit met hulle arrogansie en selfvoldaanheid. Die Here waarsku ons ook inderdaad daarteen soos ons hoor in 1 Kor. 10:12:
Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.

Dit is inderdaad wat ook met Petrus gebeur het soos ons in die volgende deel van sy verhaal hoor.

Petrus se verraad & berou – Die dieptepunt van my sonde en ellende

Kan u, uself indink hoe Petrus gevoel het toe hy opkyk en hy kyk in die hartseer oë van Jesus vas? Ons hoor so ietsie daarvan in Luk 22:62:
En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.



Dit was nie maar net ’n oppervlakkige berou nie. Dit wat ons so maklik doen wanneer ons met ons sonde gekonfronteer word: ja ek het dit of dat gedoen, maar ......  en dan voer ons allerlei verskonings aan om ons sondige gedrag te regverdig. Hierdie oppervlakkige berou is nog steeds deel van die voortvarende oppervlakkige Christen!

Petrus het ’n diepe berou gehad waar hy in absolute wanhoop besef het wat sy sonde aan die Here gedoen het. Geliefdes, het u al opgekyk en die pyn en hartseer in Jesus se oë raakgesien? Besef ek werklik die erns van my sonde wat ek daagliks teenoor die Here begaan? Is ek al op daardie punt dat ek vra: “hoekom doen die Here nog moeite met my?”

Geliefdes, voordat ek nie die dieptepunt van my sonde ellende ervaar nie Voordat dit my nie aan my hart gryp nie, voordat ek nie op daai punt is waar ek besef wat het ek nou gedoen nie, sal ek nooit werklik die diepere betekenis van God se genade ervaar nie. Ek sal nie werklik verstaan wat Jesus aan die kruis vir my deurgemaak het nie.

Het ek al soos Petrus buitentoe gegaan en bitterlik gehuil oor my sonde en ellende? Is ek op daai punt waar ek in absolute wanhoop oor my sonde treur? Is daar by my daai absolute sielesmart oor die elende wat my sonde aan ander mense gedoen het?

Nie die oppervlakkige spyt wat eintlik daaroor gaan dat ek jammer is omdat ek uitgevang is nie, maar daardie diepe berou oor my lewe? Sien ek die hartseer in Jesus se oë raak en gryp dit my aan die hart? Dis wat verootmoediging is. Daardie diepe besef in my dat ek nie die mens is wat ek graag wil wees nie. Dat ek nie die goeie mens is wat ek so graag aan ander voorhou om te wees nie.

Het ek al soos Petrus buitentoe gegaan en bitterlik gehuil oor my sonde en ellende? Wanneer ek op daardie punt kom is ek reg vir die genesende salf van God se genade. Dit bring ons by die derde deel van Petrus se verhaal:
Petrus ontvang vergifnis - God se genade
Petrus het Jesus langs ’n vuur verloën en nou langs ’n vuur ervaar Petrus die helende salf van God se genade. Drie maal vra die Here vir Petrus of hy Hom liefhet en driemaal antwoord Petrus positief. Wanneer Jesus vir Petrus vra of hy Hom liefhet, vra Hy vir Petrus of hy lojaal teenoor Jesus is en of hy bereid is om homself op te offer. Die derde maal antwoord Petrus deur middel van totale onderwerping wanneer hy erken dat Jesus alles weet.

Petrus het Jesus regtig lief, hoe skeef en krom sy optrede ook al is. Hy ken Jesus en het Hom werklik lief, al is sy menslike pogings vol gebreke. Jesus verwyt nie. Hy beskuldig nie. Hy vra: Het jy my waarlik lief????????? Dis die vraag wat elkeen van ons vanoggend moet beantwoord: “het ek Jesus waarlik lief?”

Die wonder van God se genade is dat Hy nie verwag dat ons volmaak moet wees voordat ons in sy diens kan staan nie. Al is ons menslike pogings ook krom en skeef, het Hy ons onvoorwaardelik lief. Daarom moet ons nie by die dieptepunt van ons sonde en ellende in wanhoop bly vassteek nie. My diepe berou bring my by die wonder van God se genade waar ek waarlik sy liefde ervaar.

Jesus sluit sy gesprek met Petrus af met die opdrag “Volg My!” En ja dit is nie altyd ’n maklike pad om Jesus te volg nie soos Hy Petrus ook gewaarsku het. Maar dit is die moeite werd want dit sal jou lewe verander!!!!

Alhoewel die pad moeilik is, is ons nie alleen nie. Die Heilige Gees is daar om ons oor die pad te help. Ons doen dit nie in eie krag nie, maar in sy krag. Al wat ons moet doen is om te bid en die Here waarborg ons dat Hy ons gebed sal verhoor. As ek tot die Here bid “Here help my om U te volg, waar U ook al gaan”, dan sal Hy dit doen! Maak nie saak wat in my verlede lê nie, daar is vir my ’n nuwe begin by Jesus.
Hy sê vir ons “Volg My!”

Kom ons volg Hom!
Amen

17 Maart 2015

Jesus wys sy liefde deur die kruis en sy voorbeeld van nederigheid

Joh. 13:1-17 Teksvers Joh. 13:8b en 14
GKE 15 Mar 2015-03-13
Sing:
Ps. 9-1 : 1 & 7
Ps. 1-1: 1 & 4
Sb 15-7 : 1 & 4
Sb 2-4 : 1 – 3

Geliefdes, wat sal jy bereid wees om te doen om ’n eens hegte verhouding wat iemand met jou verbreek het te herstel. Veral as mens in gedagte hou dat hierdie voormalige vriend jou in die rug gesteek het. Hierdie vriend het nou so sleg geword dat hy die doodstraf gekry het. Sal jy bereid wees om in die plek van hierdie gewese vriend te sterf? Onthou hierdie voormalige vriend of vriendin het absolute verraad teenoor jou gepleeg en het nou sy rug op jou gedraai. Hy of sy wil niks met jou te doen hê nie! Hierdie is eintlik die tipe vriend vir wie die spreukwoord “met sulke vriende het mens nie vyande nodig nie” gemaak is. Dit is wat ons as gevolg van ons sondes met God gedoen het. Hy dra net ons beste belange op die hart en Hy wil vir ons alles gee wat goed is, maar ons het al sy goedheid as te ware gevat en in sy gesig teruggegooi. Ons het ons rug op Hom gedraai.

Dit is die toestand van ons verhouding met God gewees voordat Hy ingegryp het om dit te verander. In ons teksgedeelte hoor ons wat God bereid was om te doen om die gebroke verhouding tussen Hom en ons te herstel. Ons sien hier so ietsie van die ware karakter van God. Jesus wys vir ons sy diepe besorgheid oor die mens wat op ’n pad van selfvernietiging loop. As Hy nie ingegryp het nie was die hele mensdom op pad na ’n totale ramp waar hulle vir ewig sonder God sou wees.

In hierdie verhaal wat vir ons beskryf hoe Jesus sy dissipels se voete gewas het, hoor ons ’n dieper betekenis as wat dit op die oog af mag klink. Ons kan so maklik die fout maak om te dink dat die Here ons hier wil leer om gaaf teenoor mekaar te wees. As ons egter mooi luister sal ons gou agterkom dat dit hier om baie meer as dit gaan. Soos in so baie plekke in die Bybel gebruik die Here hier ook ’n alledaagse praktiese aspek van die mens se lewe om ’n dieper geestelike beginsel te verduidelik. Hy gee aan ons die opdrag dat ons mekaar behoort lief te hê. Liefde is egter een van daai begrippe wat baie moeilik is om te verduidelik. Dit is egter maklik om te demonstreer wat liefde is en dit is wat Jesus hier doen.

Om egter hierdie voorbeeld wat Jesus vir ons gee te verstaan is dit nodig dat ons net weer gaan kyk waaroor voetewas in die Bybelse tyd gegaan het. Vandag klink dit eintlik vreemd dat iemand ’n ander persoon se voete was. Ons moet onthou dat die leefwêreld van destyds baie anders was as eie ons leefwêreld. Die mense van daardie tyd het nie BMW’s , Mercedese of 4 x 4 bakkies gehad waarin hulle kon ry nie. Daarom moes hulle maar stap na waarheen hulle ook al op pad was. Hulle het ook nie teerpaaie of geplaveide sypaadjies gehad nie. Dit was alles maar stofstrate. Die skoene van destyds was oop sandale en derhalwe het hulle voete so deur die loop van die dag vuil geword.

Verder het hulle ook nie op stoele aangesit by ’n tafel soos wat ons vandag doen nie. 

Die gebruik daardie tyd was ’n lae tafel met kussing om die tafel waarop die mense op hul sy gelê het. 

Die gevolg was dus dat die een se gesig nie ver van die ander se voete was nie en daarom was dit belangrik dat hulle voete voor ete gewas word. Net soos wat ons vandag geleentheid aan gaste gee om voor ete te gaan hande was het ’n gasheer destyds ’n slaaf gehad wat die gaste se voete gewas het voor ete.

Tydens hierdie ete van Jesus en sy dissipels was daar egter nie ’n slaaf beskikbaar nie en het Jesus begin om die dissipels se voete te was. Wat dit so merkwaardig maak is die feit dat dit gewoonlik die mees onbelangrikste slaaf was wat hierdie taak moes verrig. ’n Joodse slaaf kon ook nie gedwing word om dit te doen nie. As daar Joodse slawe en nie Joodse[1] slawe was, dan moes een van die nie Joodse slawe die werk doen. Nie een van die dissipels was bereid om hierdie vernederende werk te doen nie. Inteendeel hulle het nog net kort vantevore onder mekaar geredekawel oor wie van hulle die belangrikste is.

Dit is teen hierdie agtergrond wat ons moet verstaan hoe buitegewoon dit was dat Jesus sy dissipels se voete gewas het. Hy wat die hoogste in aansien onder hulle was het die werk gedoen van die mees onbelangrikste persoon. Daarom is dit ook verstaanbaar hoekom Petrus so heftig reageer soos ons hoor in Joh. 13:8a hoor:
Maar Petrus sê vir Hom: “U sal in alle ewigheid nooit my voete was nie!”
Hy wil nie meedoen aan iets wat sy meester so verneder nie.

In Jesus se antwoord is dit egter duidelik dat hierdie handeling van Hom nie oor eer en oneer gaan nie, maar dat dit wat Hy besig is om te doen ’n baie diepere betekenis het (Joh. 13:8b):
Daarop sê Jesus vir hom: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.”
Petrus moet begryp dat dit nie net om die uiterlike was van die voete gaan nie, maar wat Jesus doen, dui op die reiniging van die sonde. Die opoffering wat Jesus aan die kruis gedoen het om ons van ons sondes skoon te was. Jesus wat God is het gekom om te dien.

Petrus verstaan nou dat die voetewas eintlik gaan oor ’n verbondenheid met Jesus, maar hy verstaan nog nie so mooi nie. Hy spring nou van een uiterste na die ander uiterste, nie net sy voete nie, maar sommer sy hande en gesig ook. Petrus dink dat sy verbondenheid oor die uiterlike was gaan terwyl Jesus dit net as ’n voorbeeld gebruik om ’n dieper geestelike begrip te verduidelik. Jesus antwoord Petrus met verdere beeldspraak: iemand wat na ’n fees gaan, bad eers tuis. Hy is dus skoon. By sy aankoms hoef net sy voete gewas te word, dan is hy “heeltemal skoon”. Hiermee verduidelik Jesus oor hoe hy ons skoonwas van die sonde deur sy bloed. Wie eenmaal deur Christus gereinig (gered) is, bly skoon (gered). Tog kom hy daagliks met die sonde in aanraking en het hy daagliks reiniging nodig (daaglikse bekering). Daarom leer Jesus sy volgelinge om te bid: “vergeef ons, ons oortredinge, soos ons ook dié vergewe wat teenoor ons oortree”

Hierdie gedeelte wys vir ons dat ons versigtig moet wees om nie meer te maak van die beeldspraak as wat Jesus daarmee bedoel nie. Dit gaan nie hier oor letterlik voetewas nie. As ons dus vandag ’n ritueel sou inbring dat ons elke Sondag mekaar se voete moet was voor of na die diens want dit is wat die Bybel ons beveel om te doen (vgl. Joh. 13:14
As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was.
dan sal ons heeltemal die punt mis van hierdie verhaal.

Wat sê die Here vir ons hier in vers 14? Hy bedoel beslis nie hier ’n letterlike gebruik van voetewas soos destyds nie. Met vers 14 sê Hy vir ons dat daar ’n dubbele betekenis is aan dit wat Hy hier met voetewas gedemonstreer het. In die eerste plek wys dit daarop dat Hy met sy kruisiging en opstanding ons van ons sondes skoongewas (gered) het. Verder wys dit ook hoe ons teenoor mekaar moet optree uit dankbaarheid dat ons skoongewas is van ons sondes.

Hy bedoel nie letterlik dat ons mekaar se voete moet was nie. Hy bedoel wel dat ons vir mekaar moet omgee. Dat ons, onself nie te belangrik moet ag nie. Die wêreld bekommer hulself oor wie is belangrik en wie moet status en eer ontvang. Burgers van die koninkryk van God doen dit egter nie. Vir ons gaan dit nie oor status en eer nie. Vir ons moet dit gaan oor omgee vir mekaar. As ons werklik mekaar se belange op die hart dra, dan was ons mekaar se voete.

Geliefdes, Jesus wys sy liefde deur die kruis en sy voorbeeld van nederigheid vir ons. Kom ons dank Hom daarvoor deur mekaar te dien in nederigheid.
Amen



[1] Joodse slawe het gewoonlik in die posisie beland vanweë skuld wat hulle nie kon betaal nie en daarom het hulle hulself as slaaf aangebied. Na sewe jaar moes hulle egter vrygelaat word.

12 Maart 2015

God is lig. LEEF in sy lig

1 Joh. 1:1 – 2:2 Teksverse 1 Joh. 1:5-7
GKE – 8 Maart 2015
Ps. 148-1:1 & 5
Ps. 99-1:1, 4 & 5
Ps. 27-2:1, 2 & 8
Ps. 116-2:1, 5 & 10

Wat is die een ding in my lewe wat bepaal of ek gelukkig is of nie? Verhoudings. As ek in die verhoudings met my medemense om my ongelukkig is, is my lewe ongelukkig. Dink bietjie daaroor na. Jou hele lewe bestaan uit verhoudings. Daarom is die straf om iemand in afsondering toe te sluit so erg omdat jy geen kontak met jou medemens het nie. Selfs nie eens met die wag wat jou kos vir jou bring nie. Kontak met jou medemens so belangrik en dit bestaan uit verhoudings.

Hoekom is daar soveel elende in hierdie wêreld waarin ons leef? Is dit nie omdat mense in hul kontak met mekaar nie gesonde verhoudings uitleef nie? Wat is die oorsaak daarvan dat mense in soveel vyandskap met mekaar saamleef. Dit is omdat die mens se verhouding met God skeefgeloop het.

Die mens se opstand teen God se gesag in sy lewe is die bron oorsaak van skeefgetrekte verhoudings. God mag nie vir my sê wat goed en reg is nie. Ek sal self besluit. Hierdie vyandskap wat my opstandigheid teenoor God veroorsaak, kring uit na vyandigheid in my verhoudings met my medemens. Selfs mense wat baie na aan mekaar is, leef nie altyd in harmonie met mekaar saam nie. Die rede daarvoor is dat die mens se verhouding met God skeefgetrek is.

Is daar hoop vir hierdie droewige toestand van die wêreld? JA, geliefdes. Die Here sê vir ons hier in ons teksgedeelte daar is goeie nuus. Ons is nie maar net uitgelewer aan hierdie droewige en ellendige toestand van gebroke verhoudings in hierdie wêreld nie.

Hier in 1 Joh. hoor ons dat Jesus Christus die verhouding tussen God en die mens herstel het met sy dood en opstanding 2000 jaar gelede. Johannes wat hierdie boodskap bring verseker ons dat dit die waarheid is en die rede waarom hy dit bring is sodat die wat die boodskap van goeie nuus hoor en glo kan weet dat die skeefgetrekte verhouding tussen hulle en God herstel is soos ons hoor in 1 Joh. 1:3:
Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.

Wat beteken dit om met die Vader en sy Seun, Jesus Christus gemeenskap te hê? Heel eenvoudig. Dit beteken dat ons in ’n intieme persoonlike verhouding met hulle kan saamleef.

In ons teksverse verduidelik die Here nou deur middel van beeldspraak oor Lig en donker wat dit beteken om in ’n intieme persoonlike verhouding met Hom saam te leef. In 1 Joh. 1:5 hoor ons:
God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.
Lig verteenwoordig alles wat goed en mooi en reg is. Dit beskryf vir ons die heiligheid van God. Om heilig te wees beteken om sonder sonde te wees. Teenoor die lig is duisternis wat alles wat sleg en verkeerd is verteenwoordig.

In verse 6 en 7 sê die Here vir ons wat dit nie is om in ’n verhouding met Hom te leef nie en wat dit wel is:
6As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. 7Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.
Jy kan nie maar net sê dat jy in ’n intieme verhouding met God leef nie, jou lewe moet ’n getuienis daarvan wees. Die bewys dat ek ’n Christen is, is nie omdat ek so sê nie, maar wel omdat my lewe daarvan getuig.

Nou moet ons nie die fout maak om te dink dat ek met my goeie lewe vir God moet bewys dat ek goed genoeg is vir Hom nie. Nee, dit is die bloed van Jesus wat ons reinig. Beteken dit dat ons nou sondeloos is? Nee. In 1 Joh. 1:8 hoor ons tog:
As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie.
En in vers 10 hoor ons:
As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

Hoe nou gemaak geliefdes? Ons is nog nie sondeloos nie, maar die sonde keer dat ons in God se lig wandel. In 1 Joh. 1:9 hoor ons die oplossing:
Maar as ons, ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons, ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Dit is sonde wat my verhouding met God skeeftrek en dit is die oorsaak dat my verhoudings met my medemens ook nie vlot is soos wat ek dit graag sal wil hê nie. God is Lig en daarom is dit in my belang dat ek met Hom in ’n intieme persoonlike verhouding saamleef. Met ander woorde ek moet in sy lig leef. Hoe doen ek dit prakties? Soos in enige verhouding is kommunikasie die sleutel tot groei in daardie verhouding. Ek moet na God luister en ek moet met Hom praat. Met ander woorde ek moet Bybel lees en ek moet bid. In die Bybel hoor ek wat is werke van die duisternis soos byvoorbeeld vyandskap, woede, rusies, verdeeldheid, afguns ens. ens. Kommunikasie in enige verhouding is luister en praat.

Ons moet egter mooi verstaan wat beteken dit om met God te praat. Gebed beteken nie dat ek daarmee God moet oortuig om sekere goed vir my te doen nie, want as my gebed net uit ’n inkopielys bestaan van wat ek wil hê, dan is dit ook maar net eenrigting kommunikasie. Ek praat en God moet luister. Die waarde van gereelde gebed is nie dat God ons moet hoor nie. Hy weet in elk geval. Dit lê daarin dat ons Hom sal hoor.

Dit is waar die Heilige Gees in my lewe na vore kom, wanneer ek Hom vra om my bewus te maak van sonde wat nog in my lewe teenwoordig is. Wanneer ek bewus word van my sonde dan bely ek dit met die versekering wat Hy gee dat dit in Jesus Christus vergewe is. Verder vra ek ook dat die Heilige Gees my help om teen daardie sonde te stry en dat ek dit doen met die sekere wete dat ek dit in God se krag kan oorwin.

Geliefdes, God wil hê dat ons in ’n intieme persoonlike verhouding met Hom moet saamleef en dat ons moet groei in daardie verhouding. Ek groei in my verhouding met God wanneer ek besef dat sekere optredes van my, my verhoudings skade aandoen, met ander woorde dat dit sonde is en dat ek van daardie sonde in my lewe wil ontslae raak. Die manier hoe ek daarvan ontslae raak is om teenoor God te erken dat dit sonde in my lewe is en dat ek vir die Heilige Gees vra om my te help om dit uit my lewe weg te weer. Dat ek verder ook vas glo en vertrou dat ek deur die bloed van Jesus vergewe is.

Ons moet egter ook nie die fout maak om God se genade goedkoop te maak nie. Hoe maak ek sy genade goedkoop? As ek met die houding leef, dat dit nie saak maak as ek nou maar hierdie sondetjie pleeg nie, want na die tyd bely ek dit mos maar net en ek word weer vergewe. As dit ons houding is leef ons in die duister en nie in die lig nie. Ek leef in die lig wanneer ek ’n intense afkeur ontwikkel teenoor die sonde in my lewe en dat ek ten bloede toe daarteen stry met die wete dat ek as kind van God die sonde in sy krag kan oorwin.

God is Lig. LEEF in sy lig.

Amen

Ons is kleipotte wat maklik breek, maar dit is die skat van God se genade wat ons deur die lewe dra.


1 Maart 2015 - Nagmaal
Skriflesing 2 Kor. 4 : 1 – 15 en Mat 13:44 tot 46
Teksvers 2 Kor. 4:7
Ons het ’n skat wat kosbaarder is as enige iets anders in hierdie wêreld.
Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.
2 Kor. 4:7
Wat is hierdie skat? In 2 Kor. 4:4-6 hoor ons dit is lig van die evangelie, met ander woorde die Goeie Nuus dat Jesus Christus vir ons aan ’n vervloekte kruishout gesterf het sodat ons verhouding met God weer herstel is. Die skat wat ons in ons dra is die sekere wete dat ons nie meer verlore is nie, maar dat ons aan God behoort. (Herhaal)

Dan hoor ons ook in vers 7 dat God die beeld van ’n kleipot wat maklik kan breek gebruik. Ons is soos daardie kleipot wat maklik breek, maar tog gebruik God ons om die skat van sy liefde in te bere. Met ander woorde, God sê vir ons dat ons nie nodig het om iets te doen om sy liefde te ontvang nie. Ek hoef nie vir God te bewys dat ek sterk genoeg en goed genoeg is voordat Hy sy liefde aan my gee nie. Dit is nie iets wat ek doen nie, maar dit gaan oor wat God doen.

Daarom moet ons ook nie die fout maak om dink dat ek eers my hart vir God moet gee voordat Hy my aanvaar nie. Ek gee nie my hartjie vir God nie, Hy vat my soos ek is, selfs al is ek ’n kleipot vol krake. Dan gee Hy vir my die geloof sodat ek kan weet Hy het my gevat en daarom glo ek dat ek ’n kind van God is. Daarom is die vraag nie “Is jy bereid om jou hart vir Jesus te gee nie?” NEE, die vraag is glo jy? Glo jy die evangelie? Glo jy die goeie nuus dat Jesus Christus vir jou sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het?

Ons was vandag as getuies teenwoordig toe Mariska erken en bely het dat sy glo dat Jesus Christus vir haar sondes gesterf het en dat Hy daarmee haar verhouding met God herstel het. Die vraag aan elkeen van ons vandag is: “Glo jy die evangelie?” “Glo jy die goeie nuus dat Jesus met sy sterwe en opstanding jou verhouding met God herstel het?” Glo jy dit werklik???????

God weet dat ons maar net kleipotte is wat maklik breek en daarom gee Hy ook aan ons die sakrament van die Heilige Nagmaal sodat ons daardeur kan weet dat die krag wat alles oortref van Hom af kom en nie van ons. Die sigbare tekens van wyn en brood herinner ons dat ons aan Hom behoort en dat die Heilige Gees aan ons die geloof gee om dit te glo. Net soos wat brood en wyn ons liggame voed, net so word ons geloof deur die krag van die Heilige Gees in die Nagmaal gevoed.

Nabetragting:
Ons het nou met die gebruik van die Nagmaal weer bevestiging ontvang dat God die skat van sy genade en liefde aan ons gegee het. Die goeie Nuus dat Jesus deur sy sterwe en opstanding weer my verhouding met God herstel het.

Die vraag is nou geliefdes: “Wat gaan ek met daardie skat doen wat God aan my toevertrou het? Ek staan in ’n verhouding met God en ek moet myself afvra: “Hoe gaan ek optree in hierdie verhouding?”

Met die twee kort gelykenisse wat ons in Mat 13:44 -46 hoor verduidelik Jesus wat ons met ons skat behoort te doen. Wanneer ons na ’n gelykenis luister moet ons verstaan dat ’n gelykenis ’n spesifieke saak wil beklemtoon. Deur middel van ’n wêreldse storie verduidelik Jesus aan ons hoe ons die verhouding tussen ons en God moet troetel en bewaar.

Kom ons luister nou na hierdie twee gelykenisse in Mat 13:44-46
44“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ’n skat wat in ’n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.
45“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ’n handelaar wat op soek is na goeie pêrels. 46As hy ’n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel.

Die gelykenis van die skat wat die man in die saailand gevind het wys vir ons hoe bly hy was toe hy daardie skat gevind het. So bly was hy dat hy alles opgee het om daardie skat te beskerm. Dit word beklemtoon met die juwelier wat ’n kosbare pêrel gevind het. Hy was bereid om alles op te gee vir daardie pêrel.
God het die skat van sy liefde vir ons gegee en Hy het die waarheid daarvan ook vandag weer met die Nagmaal bevestig. Die vraag waarvoor ons nou te staan kom is: Wanneer ek hiervandaan uitgaan, wat gaan ons met daardie skat doen? Sien ek raak dat my verhouding met God so kosbaar is dat dit die belangrikste ding in my lewe moet wees? Is ek bereid om alles op te gee om hierdie skat, my verhouding met God te vertroetel en bewaar?

Is ek bereid om gereeld na God se stem te luister? Gaan ek moeite maak om gereeld na die woordverkondiging tydens eredienste te kom luister? Gaan ek bietjie my Bybel afstof en weer gereeld elke dag oopmaak vir persoonlike Bybelstudie? Gaan ek aktief betrokke wees binne die familie van die gemeente waar God my geroep het? Gaan ek my gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aanwend soos ek teenoor God beloof het? Gaan ek erns maak met Jesus se opdrag dat ons mekaar behoort lief te hê? Of gaan ek maar hierdie skat in ’n laai bere sodat dit daar kan stof opgaar terwyl ek aangaan met my lewe?

Ek sluit af met die volgende aanhaling oor iets wat kosbaar is.
As jy wil hê iets moet vir ewig hou, dan troetel jy dit met meer spesiale sorg. Jy beskut en beskerm dit. Jy verwaarloos of mishandel dit nooit nie. Jy maak dit nie gewoon of ordinêr nie. As dit sy glans verloor en begin verdof, dan poleer jy dit weer totdat dit sprankel soos nuut. Dan word dit spesiaal omdat jy dit so gemaak het en dit groei mooier as ooit vantevore en word kosbaarder soos die tyd aanstap.

Is dit wat ek met die skat gaan doen wat God aan my, sy kleipot toevertrou het?
Amen