Rom. 8:18-30
teksverse 26 & 27
3
Mei 2015
Ps.
48-1 : 1, 4 & 5
Ps.
68-1 : 1 & 3
Ps.
Ps. 63-2 : 1
Ps.
46-1 : 1 & 6
Hoekom is die lewe so
swaar? Hoekom moet ons so sukkel? Ek staan verbyster as ek so na die verwoesting
op die foto’s van die aardbewing in Nepal kyk. Ek voel geskok oor die nuus dat
die onderwyseres wat in Port Elisabeth vermoor is se verloofde moontlik agter
’n komplot kan sit wat vir haar dood verantwoordelik was. Soveel boosheid om
ons. Hoekom? As ons so na ons eie lewens kyk dan is daar net soveel hoekoms.
Hoekom veroorsaak siekte soveel lyding? Hoekom moet ons so swoeg om ’n bestaan
te maak? Hoekom, hoekom .................?
Een ding is seker,
swaarkry en lyding is deel van ons daaglikse bestaan en die rede daarvoor hoor
ons in Rom. 8:20a
Die
skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar
omdat God dit daaraan onderwerp het.
As gevolg van die mens se
rebelse opstand teen God se gesag waarvan ons in Gen. 3 hoor is die skepping
onderwerp aan ’n sinlose bestaan soos die Prediker ook bevestig met sy uitroep “Alles
tevergeefs, Alles kom tot niks, ’n gejaag na wind” wat soos ’n refrein deur
die boek loop. Die gebeure wat in Gen. 3 beskryf is, hou verreikende gevolge
vir die hele mensdom in en die skepping sug oor die gevolge.
Wanneer ons so na die
slegte dinge in die wêreld om ons en in ons eie lewens kyk moet ons nie
moedeloos raak nie soos ons in Rom. 8:18 hoor
Ek is
daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die
heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.
Want dit is nie ’n
hopelose saak nie soos ons hoor in Rom. 8:20b & 21
Daarby
het Hy die belofte van hoop gegee: die skepping sal self ook bevry word van sy
verslawing aan die verganklikheid , om so tot die vryheid te kom van die
heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê.
Ons hoop op iets beter
omdat ons gered is soos wat ons Rom. 8:24a hoor.
Ons is
immers gered, en ons het nou hierdie hoop.
Christus het die straf vir
die mens se opstand teen God gedra en daarom kan elkeen wat in Jesus Christus
glo vashou aan die hoop op iets beters. Al lyk dit nou donker om my weet ek dat
God daar is en dat Hy my deur hierdie donkerte sal dra.
Ons is nou in ’n tyd wat
mens kan beskryf as ’n reeds en ’n nog nie. Met sy kruisiging en opstanding het
Christus die vloek van die sonde gebreek, maar ons sien dit nog nie ten volle
nie. Ons ly nog steeds onder die gevolge van die sonde. Ten spyte daarvan hoop ons
op ’n tyd dat ook die gevolge van die sonde nie meer sal wees nie soos ons hoor
in Rom. 8:24b & 25
Wat ’n
mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? Maar
as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.
Dit gebeur egter soms dat
mens moedeloos word. Die lewe het ’n geneigdheid om vir ’n mens ’n dwarsklap
van agter te gee wat jou hele wêreld omkeer. Dit is dan wanneer dit moeilik
raak om aan die hoop vas te hou. Dan sien mens nie verby die hier en die nou
nie. Jy sien net die donkerte van die huidige omstandighede raak. Dit is gebed
wat ons deur hierdie donker tye dra, maar dit gebeur ook soms dat die
omstandighede maak dat mens nie kan bid nie. Ons weet nie wat en hoe ons
behoort te bid nie. Ons het gebed so broodnodig, maar ons kan nie bid nie!
Dit is in hierdie tye wat
God se genade soos ’n helder lig in die donker skyn. Ons moet vashou aan die
troos wat ons in Rom. 8:26 & 27 hoor:
Die Gees
staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid
nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê
word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees
is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.
Wanneer die lewe vir jou
te veel word moet jy weet dat die Heilige Gees ons met gebed deur die donker
tye van swaarkry dra. Die hoop waaraan ons vashou is nie iets wat daar ver in
die toekoms lê nie. Dit is ’n hoop vir die hier en nou. As die hoop maar net
daar ver in die toekoms was, sou die belofte van Rom. 8:18 ons moeilik getroos
het.
Ek is
daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die
heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.
Want ons beleef al reeds
so ’n stukkie van die heerlikheid wat kom wanneer ons sien hoe God ons deur die
moeilike tye dra. Ek sien dit dalk nie wanneer ek binne in die storm is nie,
maar wanneer ek terugkyk dan sien ek hoe God se genade my deur die storm gedra
het.
Wanneer ek terugkyk na my
lewensreis saam met God, dan sien ek twee rye voetspore daar waar die pad
maklik was. Daar waar die pad bitter moeilik was, is daar egter net een ry
spore. God se spore, want dit is waar Hy my gedra het. Hoe dikwels gebeur dit
nie dat ek voor ’n donkerte staan waarvoor ek nie kans sien nie. Daardie groot
operasie wat vir my voorlê. Ek is bang en ek weet nie hoe gaan ek deur dit kom
nie. Die troos is dat die Heilige Gees ons met gebed deur die donker tye van
swaarkry dra. Wanneer ek terugkyk na daardie tye in my lewe besef ek hoe God my
gedra het en dat Hy my nooit verlaat het nie.
Dit is eers wanneer ek
besef hoe God my deur die donker tye in my lewe gedra het dat Rom. 8:28 werklik
sin maak.
Ons weet
dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens
sy besluit geroep is.
Wanneer ek binne in die
storm is dan sien ek nie altyd hoe God dit gebruik om te keer dat die bose sy
doel daarmee bereik nie. Wanneer ek terugkyk dan sien ek dat ek nie alleen was
nie, maar dat God daar was en dat Hy my nooit alleen gelos het nie. Ware vrede
kom nie van die gebrek aan teenspoed nie, maar wel van die teenwoordigheid van
God in my lewe.
Wat is die ergste wat met
’n mens kan gebeur in hierdie lewe? Dit is dat mens jou lewe verloor. Wat meer
kan van jou gevat word as jou lewe? Die verdere troos wat ons hieruit put is
dat selfs met ons dood die bose se nie sy doelwit bereik nie. In Gen. 2:17 hoor
ons dat die dood die straf is vir die sonde. Jesus Christus het met sy
opstanding die angel uit die dood gehaal soos ons in
1 Kor. 15:54b & 55 hoor
“Die
dood is vernietig, die oorwinning is behaal.” “Dood, waar is jou oorwinning? Dood,
waar is jou angel?”
Die dood wat die finale
straf vir die sonde was gebruik God nou ten goede om elkeen wat in Jesus
Christus glo finaal van die gevolge te verlos. Die dood hou vir die gelowige
geen verskrikking in nie, maar is slegs ’n deurgang na ’n ewige heerlikheid
saam met God.
Geliefdes, moenie
moedeloos word oor al die swaarkry in hierdie lewe nie. Kyk terug en sien hoe
God se genade u deur die swaar tye gedra het. Kyk vorentoe met verwagting na
die teenwoordigheid van God in u lewe en na ’n ewigheid saam met God waar die
gevolge van die sonde verby is. Doen dit met die verwagting dat die Heilige
Gees ons met gebed deur die donker tye van swaarkry dra.
Amen