1 Kor 1 v 18 tot 31 tv 23 en 24
Intreepreek ds G. van der Walt – Gereformeerde
Kerk Empangeni – 7 Jul 2013
Inleiding
Wanneer die onderskeid
tussen kerk en wêreld verdwyn, is dit die begin van die einde vir die kerk. Die
kerk werk anders as die wêreld en daarom is dit nodig dat ons hier aan die
begin van ’n nuwe tydvak besin oor wat die doel en rol van die kerk in die
wêreld is. Hoekom is ons kerk? Hoekom offer ons, ons tyd en geld op om vir die
kerk te werk? Hoekom slaap ons nie laat op ’n Sondag of ontspan net nie? Hoekom
woon ons eredienste by? Hoekom word hier vandag ’n nuwe predikant in die
Gereformeerde Kerk Empangeni bevestig?
Agtergrond
Die gemeente in Korinte
het ook met hierdie vrae gesukkel. Hulle het al hoe meer soos die wêreld begin
word. Die gevolg was dat hulle ook begin sukkel het met probleme wat algemeen
in die wêreld is, trots, hoogmoed, statusbewustheid en spoggerigheid. Verdeeldheid
en losbandigheid het groot onmin in die gemeente veroorsaak. Hierdie probleme
het die gemeente binnegesluip as gevolg van die wêreldse invloed wat in die
kerk begin posvat het. Wanneer die kerk soos die wêreld word dan ervaar die
mense nie meer die verlossing van God nie, maar struikel hulle oor die roem van
mense.
Daarom begin Paulus dan
ook hierdie brief aan die gemeente deur ’n duidelike onderskeid tussen kerk en
wêreld te tref. Daar is ’n verskil tussen wêreldse wysheid wat eintlik
dwaasheid is en die wysheid van God wat die wêreld as dwaasheid beskou.
Wêreldse wysheid/dwaasheid
Mense wat in die wêreld bo
wil uitkom, maak van wêreldse wysheid gebruik en hulle dink dikwels dat hulle
hierdeur vir God kan leer ken. Die Jode word beïndruk deur wondertekens en dit
is wat hulle najaag. Ons vind dit vandag nog in die kerk. Mense wat soveel van
wonderwerke maak en sommiges wat selfs aandring dat hulle lewens net deur
wonderwerke gereël word. Jy mag nie dokter toe gaan as jy siek is nie, jy moet
net bid en glo vir ’n wonderwerk en wanneer dit nie gebeur nie dan is jou
geloof skynbaar nie sterk genoeg nie. So word die ware betekenis van
wonderwerke in die Bybel geïgnoreer en word die boodskap van die kruis verander
tot iets wat dit nie is nie.
Die nie-Jode (Grieke) het
op geheime kennis wat net vir sekeres bedoel was, staatgemaak vir verlossing.
So het daar ’n geloofs-snobisme in die gemeente ingesluip. Dit vind ons vandag
nog in die kerk. Dit is veral ’n slaggat waarin ons as gereformeerdes maklik
trap. Ons is so bietjie beter as die res en as jy nie saam met ons siening stem
nie dan word jy veroordeel. Dink maar aan die debat binne die kerk oor Psalms,
vrouens en kelkies. So word die kerk na binne gerig weg van sy roeping af om
God se liefde na ’n stukkende wêreld te bring.
’n Ander aspek van
wêreldse wysheid wat vandag sterk na vore kom is die rasionalistiese
denkrigting van ons tyd. Dit wat die mens nie kan verklaar nie, kan nie wees
nie. Alles moet deur middel van natuurlike prosesse verklaar en verduidelik
word en per definisie sluit dit God en sy betrokkenheid by die wêreld uit.
Hierdie denke sluip ook die kerk binne. Dit wat in die Bybel nie deur middel
van hierdie natuurlike rasionalistiese denke verduidelik kan word nie, word
afgemaak as mites en stories wat die produk is van ongesofistikeerde menslike
denke. Die skeppingsverhaal is nie meer geldig nie. Jesus se maagdelike
geboorte kan nie wees nie en Hy het ook nie werklik opgestaan nie. So word die
krag van God se Woord tot niet gemaak en menslike prestasie en denke as enigste
norm voorgehou. Hierdie sogenaamde wêreldse wysheid is vir God dwaasheid.
Goddelike wysheid en krag
Teenoor die wêreldse
wysheid (wat eintlik ’n dwaasheid is) staan God se krag en wysheid wat Hy deur
die boodskap van die kruis bekendmaak. Vir die wêreld is die boodskap van die
kruis ’n aanstoot en onsin omdat menslike prestasie, kennis en vernuf daarin
niks tel nie.
Maar vir hulle wat deur
God uitgeroep is gee die boodskap van die kruis lewe. Dit gee aan hulle die
krag om op te staan uit die doodsbestaan van die sonde en dit gee aan hulle die
wysheid om die nuwe lewe te leef wat God gee.
Wat beteken die boodskap
van die kruis? Dit stel jou saak met God reg. Sonde het ’n kloof veroorsaak
tussen die mens en God. Die kruis en opstanding van Jesus Christus oorbrug
daardie kloof. Die boodskap van die kruis maak dit vir mense moontlik om heilig
te lewe, met ander woorde nie meer die selfsugtige doodsbestaan van die sonde en
die wêreld nie, maar ’n lewe wat daarop gemik is om liefde na ’n verlore wêreld
uit te dra. Die boodskap van die kruis gee aan die uitverkorenes ’n lewende
hoop op die hiernamaals. Gelowiges hoef nie meer die dood te vrees nie.
Gelowiges kry deel daaraan deur die boodskap van die kruis met geloof aan te
neem wat die Heilige Gees gratis aan elke uitverkore kind van God skenk.
Wat beteken dit prakties
vir die kerk en hiermee saam moet ons vra: “wat beteken dit prakties vir my?” Want
ons IS die kerk? Christus is vir ons die krag van God, met ander woorde die
Heilige Gees is met ons al die dae van ons lewe. Die Heilige Gees gee aan ons
die wysheid om ons vyande lief te hê. Die wysheid om te weet dat ek my krag net
by God moet soek wanneer die lewe vir my te moeilik raak. Die boodskap van die
wêreld is om jou self te help en om sterk te wees, maak nie saak wat oor jou
pad kom nie. Die vraag is net: “wat maak jy as jy nie meer kan sterk wees
nie???” Waar kry ek die krag vandaan om met my lewe aan te gaan as my lewe deur
’n egskeiding uitmekaar geruk is? Waar kry ek krag om die verpletterende nuus
van kanker in my lewe te hanteer? U ken die lewenskrisisse waarmee ons elke dag
stoei.
God het die kerk geroep om
die boodskap van die kruis aan ’n wêreld sonder hoop te bring sodat daar weer
hoop kan wees vir ’n wêreld wat God nie ken nie. Reik ons as kerk nog uit na
die stukkende mense daarbuite? Bring ons hoop of veroordeling aan die
prostituut daar buite? Bring ons vertroosting vir die ou wat net nie meer weet
watter kant toe nie en wat nou selfmoord as die laaste opsie oorweeg? Bring ons
lig en nuwe lewe vir die mens wat die pad byster geraak het? Die mens se
grootste krisis in die lewe is dat hy van God vervreem is. Die kerk is God se
plan om verlore mense weer met Hom te versoen deur die boodskap van die kruis
te verkondig. Daar is nie ’n plan B nie! Vir die wêreld is die kerk onsin, maar
vir God se uitverkorenes is die kerk die voertuig wat God gebruik om weer hoop
vir ’n verlore mensdom te bring. Die oes is groot en die arbeiders min.
Die oplossing van die
wêreld bied geen hoop nie en as die kerk met wêreldse oplossing gevul raak
verloor die kerk haar relevansie in die wêreld. As die kerk haar nie besig hou
met die boodskap van die kruis nie, dan verval die hele rede en doel van die
kerk om te bestaan. Kom ons besin net weer of die Gereformeerde Kerk in
Empangeni steeds haar roeping vervul. Kom ons wees getrou aan ons naam steeds
reformerend, dit wil sê weg te draai van die wêreld en terug te draai na die
boodskap van die kruis. Kom ons draai opnuut weet terug na die kruis sodat ons
met die krag en wysheid van God ’n verskil in ’n stukkende wêreld kan maak wat
God nie ken.
Geliefdes, dit is nie
toevallig dat hier in Empangeni ’n Gereformeerde Kerk is nie. God het ’n doel
met ons. Kom ons rol ons moue op en pak die werk wat God vir ons gegee het met
ywer aan.
Amen.