18 Julie 2013

By Jesus vind ek rus vir my onrustige gemoed

19 Mei. 2013 Mat. 11:25 - 30 Fokusgedeelte : Mat 11:28
Lof-Psalm Ps. 18:1                  (OAB)
Na Wet Ps. 40:4                      (OAB)
Na Gebed Ps. 33:5                   (OAB)
Slotsang Ps. 84:2 & 6              (OAB)

Inleiding
Die een ding in die lewe waaroor ons seker kan wees is dat dit nie sonder sorge is nie. Niemand van ons kan sê dat hy geen bekommernisse het nie. Elkeen het een of ander bekommernis waaroor ons, ons kwel. Sommige se bekommernisse is groter as ander, maar elkeen het sy eie bekommernisse. Dit is hierdie sorge van die lewe wat ons van gemoedsrus beroof. Dit keer dat ons werklik ware vrede beleef.

By elke mens is daar ’n soeke om van hierdie onrus ontslae te raak. Sommige soek dit in geld en besittings. Ander soek dit drank of selfs dwelms. Party mense soek dit in aansien en roem of om so vêr as moontlik teen die korporatiewe leer te vorder. Ongelukkig bring nie een van hierdie metodes ware vrede vir die mens nie. Die enigste plek waar mens ware rus en vrede vind is by Jesus Christus.

Verlede week het ons gehoor dat die ware rus van die Sabbat in Jesus Christus is. Hierdie week luister ons na hoe mens rus vind in Jesus Christus want dit is net by Jesus waar ons rus vind vir ons onrustige gemoed.

Die sorge van die lewe
Ons teksvers beskryf vir ons wat die sorge van die lewe aan ’n mens doen
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, .....
Die sorge van die lewe maak mens uitgeput en dit oorlaai mens. Die Griekse woord wat met “uitgeput” vertaal is beteken letterlik om emosioneel afgemat te wees as gevolg van ’n groot worstelstryd. Dit beskryf daardie punt in mens se lewe waar jy moed opgee omdat jy nie kans sien om aan te gaan nie. Daardie punt waar die lewe vir jou net te veel word. En dit is omdat jy oorlaai is met bekommernisse en moeilike omstandighede.

Elkeen se bekommernisse is uniek en verskil van mekaar. Dit wat vir my na iets onbenulligs lyk is vir die volgende persoon ’n groot bekommernis en probleem. Die effek daarvan is egter dieselfde naamlik dat dit ’n mens eventueel uitput en oorlaai. Elkeen van ons dra die las van die sorge van die lewe. Vir party is dit ’n huweliksverhouding wat maar net nie wil uitwerk nie, vir ander finansiële oorlewing. Gaan ek more nog ’n werk hê? Of dalk is dit eensaamheid. Noem maar op. Elkeen van ons weet maar alte goed watter bekommernisse ons in die lewe het.

Daar is maar net een rede waarom die sorge en bekommernisse van die lewe so swaar op mens rus. Sonde! My eie sonde en ook die effek wat ander mense se sonde op my lewe het. Ons leef in ’n gebroke wêreld waar sonde ’n direkte en indirekte effek op elkeen van ons het. My sondige en selfsugtige optrede raak my negatief en dit raak die mense om my negatief. Die mense om my se sondige selfsug raak my negatief. Kom ons neem ’n eenvoudige voorbeeld om dit prakties te verduidelik. Wanneer ek van iemand skinder benadeel dit persoon van wie ek skinder. Dit benadeel my en diegene teenoor wie ek skinder. Wanneer iemand van my skinder word ek die slagoffer van ’n ander mens se selfsug en die hartseer is dat ek ook skuldig is om ander mense ongelukkig te maak. En so kan ons elk van ons sorge se oorsprong in die gebrokenheid van hierdie wêreld vind.

Die uiteinde van sonde is dat dit tussen mens en God kom staan. En dit is op die uiteinde die werklike rede van onvrede en onrus in ’n mens se lewe.

Wat is die oplossing vir die sorge van die lewe?
As geld of besittings of aansien of drank nie rus en vrede bring van die sorge van die lewe nie, wat dan? Daar is maar net een antwoord:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput  en oorlaai  is, en Ek sal julle rus  gee.
In Mat 11:27 is dit duidelik dat dit net Jesus is wat hierdie gebroke verhouding met die Vader kan herstel en dit is eers wanneer hierdie verhouding met God herstel is dat ons ware vrede kan vind.

In Mat 11:26 sê die Here vir ons dat dit slegs uit God se genade is en in vers 25 sê Hy vir ons dat God se genade nie iets is wat mens met jou verstand kan uitredeneer of verdien nie. Dit is iets wat ons met kinderlike geloof moet aanvaar. God se genade word met Nagmaal dan ook op ’n sigbare wyse deur die brood en wyn vir ons uitgebeeld. Dis ’n misterie wat baie dieper is as die sigbare tekens van brood en wyn. Die Heilige Gees versterk hiermee ons geloof sodat ons die vrede en rus vir ons gemoed kan ervaar wat Christus vir ons in Mat 11:29 belowe.

Die troos wat ons ontvang is dat die lewe saam met Christus nie ’n sware las is wat mens moet dra nie. Die beeld wat hier gebruik word van ’n juk verduidelik dit mooi. ’n Juk is ’n swaar hout wat op ’n os wat ’n wa moes trek se nek gesit is wat ’n las en moeite was. Nou sê Jesus vir ons dat sy las lig is en glad nie so swaar is soos die juk wat op ’n os se nek gesit is nie. Die swaar juk verwys na die swaar las van die wet terwyl Jesus se juk verwys na ’n liefdevolle verhouding met God. Hiermee sê die Here vir ons dat ons nie nodig het om ’n klomp godsdienstige reëls na te kom om rus en vrede by Hom te vind nie. Jesus se uitnodiging is eenvoudig:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput  en oorlaai  is, en Ek sal julle rus gee.
Kom ons gaan sit nou aan by die tafel van die Here sodat ons kan deel in die enigste ware rus wat net by Jesus beskikbaar is.
Amen


Hoekom vier ons nie die sabbat op die sewende dag(Saterdag) nie?

12 Mei. 2013 Kol. 2 & Eks 20:8-10. Fokusgedeelte : Kol. 2:16 & Art 25 NGB
Lof-Psalm Ps. 42:1 & 7           (OAB)
Na Wet Ps. 116:3 & 4              (OAB)
Na Gebed Ps. 23:2                   (NAB)
Slotsang Ps. 84:1 & 2              (OAB)

Hoekom vier ons nie die sabbat op die sewende dag(Saterdag) nie? As die Here ons dan in Eksodus 20:10 uitdruklik beveel om die sabbat op die sewende dag te vier, waarom vier Christene dan nou die Sondag (eerste dag van die week) en nie die Saterdag (sewende dag van die week) nie?

Ons word al hoe meer gekonfronteer met die aanklag dat Christene wat nie die sewende dag as sabbat vier nie, besig is om die vierde gebod te oortree en dat hulle daarom doemwaardig is. Die aanklag is verder ook dat die Sondag wat vandag gevier word by die kerke, 'n heidense feesdag ter ere van die Songod is. Dit was Konstantyn gewees wat die Christendom met die heidendom wou laat verbaster, wat die Sondag ingevoer het en die Roomse kerk was hom behulpsaam om dit te laat geskied.

Om hierdie vraag te beantwoord gaan ons luister na wat die Here ons in die Skrif oor die sabbat leer en nie net by een versie wat buite konteks gebruik word, vashaak nie. Die woord Sabbat beteken "rus". So het God dit na die skeppingsdae ingestel en dan staan daar dat God gerus het. Vandaar die Sabbat en na aanleiding van God se rus, word nou ook in die vierde gebod bepaal dat die mens moet rus.

Indien ons die Ou Testament onbevange lees, moet erken dat die nadruk nie juis val op uitwendige seremonies nie, maar juis op die inhoudelike. God eis nie offerandes nie, maar gehoorsaamheid en oorgawe van hart. (Ps. 51:18-19)
’n Offer vra U nie, anders sou ek dit bring; ’n brandoffer wil U nie hê nie. Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God.

Op dieselfde wyse antwoord Christus aan die Samaritaanse vrou, as dit gaan oor Jerusalem of Gerisim, "Daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid". (Joh. 4:23). Dit gaan dus nie oor uitwendige dinge, soos die plek as sodanig nie. Ewe-eens gaan dit nie oor dag en datum nie, maar oor aanbidding in gees en waarheid. Inderdaad, Paulus voeg hieraan toe "Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees". (Rom. 14:5).

Jesus en sy dissipels het die Sabbat vergeestelik, verdiep, dit in die heilsopenbaring 'n eie plek gegee het. Dit gaan tog nie om die Sabbat as sodanig nie, maar om die mens en sy verhouding tot God. Waarlik daar sou tog baie geleenthede gewees het waarop hierdie eenvoudige gebod aan die kerk van die Nuwe Testament as eis sou gestel gewees het en tog is dit nie gedoen nie! As bv. die kerk vir die eerste keer in apostel-samekoms byeen is (Hand. 15), kon tog aan die kerke gesê gewees het: julle moet die Sabbat hou. Maar ons lees iets gans anders. As na Petrus se Pinksterrede die skare in radeloosheid vra: Wat moet ons doen, broeders? (Hand. 1:37), kon Petrus tog geantwoord het: Julle moet op die sewende dag Sabbat hou. Maar ons lees iets gans anders.'

In teenstelling met die voorstaanders van die sewende dag se wense, vind ons juis dat die apostels van die begin af aan op die eerste dag van die week saamgekom het en dit ook genoem het die dag van die HERE. (Hand. 20:7, 1 Kor. 16:2, Openb. 1:10).

Die Christelike Sondag of rusdag word nie verniet op die eerste dag van die week gevier nie. Ons rus in die verdienstes van Christus om daarna uit te gaan om in die krag van Christus te gaan werk. Sondag is opstandingsdag, en dit is 'n opstandingsgeloof wat ons moet kenmerk. Die lewende Christus is ons Middelaar. Hierdie Christus is ons alles en Hy het alles vir ons gedoen: gely, gesterf, begrawe, opgestaan, na die hemel gevaar. Hierdie Christus het ook vir ons en in ons plek gerus. Die wonderlike is juis dat die Skrif weergee dat Christus drie dae in die graf was: Vrydag, Saterdag en Sondag. Van hierdie drie dae was Hy net die hele Saterdag in die graf. Dit is die Sabbatdag van die Ou Testament. Christus volbring die Sabbatsgebod deur volkome op die Sabbat te rus. En nadat Hy gerus het, staan Hy op die eerste dag, vroeg in die môre op.

Die rus is voltooi, soos sy offer aan die kruis vir ons voltooi is. Ons mag en moet nou rus in al die verkreë verdienstes van ons Here en Meester. Daar is vir die kerk van die Nuwe Testament net één rusdag, die rus op die eerste dag van die week, die rus in die opgestane Heiland.

Wat bely ons hieroor?
Artikel 25 NGB
Die seremoniële wet in Christus vervul
Ons glo dat die seremonies en heenwysings na die wet met die koms van Christus opgehou het en dat alle voorafskaduwing tot 'n einde gekom het.  Die gebruik daarvan moet derhalwe onder die Christene afgeskaf word.  Die waarheid en inhoud daarvan bly nogtans vir ons in Christus Jesus bestaan:  in Hom het hierdie seremonies en heenwysings juis hulle vervulling.  Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van die wet en die profete te gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig.

Hierdie belydenis staan op die Woord van God.
Moenie dat iemand julle mislei nie
Kol 2:16-23
16Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. 17Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus. 18Moenie dat iemand wat behae skep in danige nederigheid en in die aanbidding van engele en wat voorgee dat hy allerhande visioene gesien het, julle daarmee mislei nie. So iemand verhef hom oor wat hy in eiewaan van homself dink, 19en hy hou nie aan die hoof, aan Christus, vas nie. Uit Christus groei die hele liggaam, ondersteun deur die gewrigte en saamgebind deur die spiere, soos God dit laat groei.
20Julle het saam met Christus gesterwe en is dus dood vir die wettiese godsdienstige reëls van hierdie wêreld. Waarom lewe julle dan nog asof julle aan hierdie wêreld behoort? Waarom gehoorsaam julle allerhande voorskrifte 21soos: “Hieraan mag jy nie vat nie!” “Daaraan mag jy jou mond nie sit nie!” “Daaraan mag jy nie raak nie!”?22Dit gaan alles oor dinge wat bedoel is om gebruik te word en te vergaan, en dit is maar net gebooie en leerstellings van mense. 23Hierdie leerstellings het wel ’n skyn van wysheid met hulle selfgemaakte godsdiens, danige nederigheid en streng beheersing van die liggaam, maar dit het geen waarde vir die beteueling van die sondige drifte nie.

Christus alleen is die Middelaar. Hy alleen is waaragtig God en waaragtig mens. Hy alleen kan en het die wil van God volkome volbring. Hy alleen het vir ons versoening met sy Vader bewerk. Deur die geloof in Christus alléén is ons geregverdig – onskuldig verklaar voor die aangesig van God en ons gewete. Die geloof self is geen verdienste nie – alleen maar ’n middel aan ons gegee deur die Heilige Gees om die verdienste van Christus vir ons toe te eien. Selfs ons werke, dade en liefdesbetoning wat van ons kom, bewerk die Heilige Gees ook maar in ons.

Christus bepaal die inhoud en betekenis van die Sabbat. Met sy kruisiging het Hy die rus van die Sabbat voltooi en daarom word die eerste dag as opstandingsdag van die Christus herdenk. (vgl. Hand 20:7: En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag sou vertrek, en hy het sy rede gerek tot middernag toe. Ou Vertaling of Ons het die Sondag bymekaargekom vir die gemeenskaplike maaltyd)
1 Kor. 16:2 : Elke Sondag moet elkeen van julle na sy vermoë tuis iets opsy sit en dit opspaar, sodat die geldinsameling nie eers plaasvind as ek kom nie.

God se doel met die rusdag is nie om die lewe moeilik te maak en in te perk nie. Christus se dissipels het self are gepluk en geëet op die Sabbat (Vgl. Mat 12:1-8). Omdat Christus die wet volkome vervul het, kan elke gelowige nou sy rus in Christus vind. Die rus wat die gelowige vind is die vrede en wete dat hy/sy in Christus volkome geregverdig is en daarom kan niemand hom/haar voor God aankla nie. Wat Christus verwag is ’n dankbaarheidslewe in gehoorsaamheid met sy gebod om liefde aan mekaar te bewys en daarmee liefde vir God te betoon. Hy verwag nie die nakom van reël op reël of dit mag jy en dit mag jy nie. As die inhoud van die Sabbat bestaan uit ’n klomp moets en moenies, dan word die rus in Christus in die Sabbat gemis.


Kom ons vind ons rus in die verdienste van Christus sodat ons hiervandaan kan uitgaan om die krag van Christus in sy koninkryk te werk.                                         Amen

By Jesus is dood nie regtig dood nie en daarom kan ek ook lewe

28 Apr. 2013 Joh. 11:1-44; Teksverse – Joh. 11:25 & 26

Lof-Psalm Ps. 33 v 1 &           (OAB)
Na Wet Ps. 40 v 4                             (OAB)
Na Gebed Ps. 33 v 5                (NAB)
Slotsang Ps. 46 v 1 & 6           (OAB)

Wat is lewe? Wat is ware lewe? Wat is dood en wat veroorsaak die dood? Lewe, dood, twee begrippe wat onlosmaaklik deel is van elke mens se bestaan. Met hierdie verhaal van Lasarus verduidelik die Here vir ons wat dit beteken om waarlik te leef en wat veroorsaak dood.

Jesus was besig om die mense te leer toe Hy die onstellende berig ontvang dat sy goeie vriend Lasarus siek is. By die aanhoor van die nuus tree Jesus baie vreemd op. Hy verklaar dat die siekte nie op die dood sal uitloop nie, en Hy is ook nie juis haastig om na Lasarus toe gaan nie! Wanneer Jesus uiteindelik by Lasarus en sy susters uitkom groet Marta met so half verwytend: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra.” Sy glo, maar tog is dit nog net ’n teoretiese abstrakte geloof wat nog nie werklik ’n impak op haar lewe het nie. Toe Jesus die graf wou oopmaak waarsku sy: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.” Vir haar is die opstanding van haar broer net ’n teoretiese geloofsaak wat nie praktiese implikasies in haar lewe het nie.

Voel ons nie ook dikwels so nie? Ons bid tot die Here en dan wag ons en ons wag. Dit is dan wanneer ons die fout maak om te dink dat God nie omgee nie. Soms sê ons ook dat ons God vertrou, maar dit bly maar net ’n teoretiese saak wat nie werklik ’n impak op ons lewens het nie. Dit is dan wanneer ons moet verstaan dat God besig is met iets wat beter is as wat ons nou vra en dat ons ook moet vertrou dat Hy wel uitkoms sal gee. Ons moenie vra en dan dink dit sal nie gebeur nie. Soms moet ons wag op die Here met die wete dat sy vertragings met sy seën gepaardgaan. Toe Jesus die berig van Lasarus se siekte ontvang het Hy vir sy dissipels
gesê
“Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.”
Hiermee verduidelik Jesus dat die opwekking van Lasarus wys op die betekenis van sy se eie opstanding uit die dood. Sy dissipels het gehoor dat Lasarus se dood ’n groter doel gehad het, maar Marta en Maria het nie geweet nie. Hulle moes net vertrou en geduldig op die Here wag.

Wanneer Jesus by Marta kom verstaan sy nog steeds nie toe Hy vir haar vertel dat Lasarus gaan opstaan uit die dood nie. Sy glo in ’n opstanding wat eendag daar ver teen die einde gaan plaasvind. Jesus sê vir haar egter vir haar dat dit nou gaan gebeur, maar nog steeds verstaan sy nie. Dan sê Jesus vir haar:
“Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”
Hierin lê ’n geweldige troos vir elke gelowige met die versekering dat ek sal lewe al het ek gesterwe as ek in Jesus Christus glo. Dit sê ook vir my dat as ek eers die ewige lewe ontvang het, dat ek dit nooit in alle ewigheid weer sal verloor nie.

Jesus se “Ek is” uitspraak is baie belangrik. Marta se stelling dat sy in die opstanding glo is vir haar nog net ’n abstrakte begrip sonder dat dit nog werklik betekenis vir haar het. Jesus stel dit as ’n feit wat met Hom as persoon geïdentifiseer word. Hy sê nie dat Hy die dooies sal laat opstaan nie. Hy IS die opstanding want Hy is die lewe. Hy beklemtoon dat die mens alleen onsterflik kan wees deur onlosmaaklik in geloof aan Hom verbind te wees. Teenoor die Fariseërs wat die opstanding aan die einde verkondig, kom sê Jesus nou ook dat ons deur Hom die opstanding en lewe in die hede kan ervaar. Dit kan nie deur die dood vernietig kan word nie. Lewe bly gebonde aan Jesus Christus deur geloof. Elkeen wat glo in Jesus, betree die ewige lewe en sal geestelik in alle ewigheid nooit sterwe nie.

Voordat Jesus vir Lasarus opwek gebeur daar egter eers iets baie belangriks. Jesus huil! Die Jode wat daar was het gedink dat Jesus hartseer was omdat Lasarus gesterf het. Maar dit is nie hoekom Jesus gehuil het nie. Hy het tog geweet dat Hy binnekort vir Lasarus gaan opwek. Jesus se trane wys vir ons dat Hy omgee vir ons hartseer en pyn in die lewe. Hy is nie ongevoelig vir ons swaarkry in die lewe nie. Jesus huil oor die sonde wat soveel ellende in die lewe veroorsaak. Hy huil oor die sonde wat ons so maklik in ’n doodloopstraat laat beland. Jesus huil oor my sondes! Jesus huil omdat Hy mens geword het en dat Hy daarom weet wat se hartseer ons in die lewe ervaar. Jesus huil vir en saam met ons!

Dan bewerk Jesus die wonderwerk van Lasarus se opstanding toe Hy met ’n harde stem roep” “Lasarus kom uit!” Die wonder lê nie daarin dat Hy Lasarus wat al vier dae dood was weer lewend gemaak het nie want Lasarus sou tog weer liggaamlik sterf. Die wonder is dat Jesus die mag het om die ewige lewe te gee aan elkeen wat in Hom glo. Vir die ongelowige beteken die dood die einde, maar iemand wat in Jesus glo, bly lewe al het hy ook fisiek gesterf.

Omdat Jesus vir ons sê “Ek is die opstanding en die lewe” kan elkeen van ons sê:
·        Ek is vergewe
·        Ek is weer heel gemaak
·        Ek is weer herstel as God se kind
·        Ek is weer vry van die slawebande van die sonde
·        Ek is weer lewendig en ek lewe ’n lewe van oorvloed
·        Ek is beskerm
·        Ek is geliefd
·        Ek is voorspoedig
·        Ek is ’n oorwinnaar
·        Ek is geseënd en
·        Ek is ’n seën vir ander.
In die plek van hopeloosheid het ek hoop vir die toekoms omdat ek weet dat die toekoms in God se hand is. Ek weet nie wat die toekoms inhou nie, maar ek weet dat God my nooit alleen sal laat nie. God sal my nooit eenkant gooi en van my vergeet nie. Die tydelike hartseer wat ek in hierdie lewe ervaar sal verander in vreugde omdat ek weet dat ek ewig saam met God is.

Die opwekking van Lasarus wys op die betekenis van Jesus se eie opstanding uit die dood en die groot betekenis wat dit vir ons het wat in Jesus Christus glo. By Jesus is dood nie regtig dood nie en daarom kan ek ook lewe. Solank as wat dit egter net ’n teoretiese geloof is, hou dit nog nie veel troos in nie. Kom ons gryp Jesus se verlossing met geloof aan sodat die lewe wat daar in Hom en sy opstanding is prakties deel van my lewe kan word want by Jesus is dood nie regtig dood nie.

Amen

Jesus is die Goeie Herder wat ons beskerm teen die gevare in die lewe omdat ons vir Hom kosbaar is

14 Apr. 2013 Joh. 10:1-21; Teksverse – Joh. 10:14 & 15

Lof-Psalm Ps. 136 v 1 & 2      (OAB)
Na Wet Ps. 84 v 1 & 3            (OAB)
Na Gebed Ps. 23 v 1 - 3          (OAB)
Slotsang Ps. 119 v63               (OAB)

Inleiding
Besef ons werklik hoe kosbaar ons vir God is? Met die beeld van ’n Herder teenoor sy skape verduidelik die Here vir ons hoe kosbaar ons werklik is. Verlede week het ons stilgestaan by die “Ek is die deur vir die skape” uitspraak van Jesus waar Hy vir ons verduidelik het dat Hy die enigste ingang tot God is. Hierdie week fokus ons op sy “Ek is die goeie Herder” uitspraak waar Hy aan ons verduidelik hoe kosbaar ons vir Hom is.

Wanneer Jesus sê: “Ek is die goeie herder” dan verduidelik Hy met hierdie beeld van ’n skaapboerdery hoe kosbaar ons vir Hom is. In die teks kom daar vyf aspekte van ’n goeie Herder na vore naamlik:
1) Die liefde van die Herder vir sy skape
2) Elke skaap het ’n naam en is daarom spesiaal
3) Skape ken die stem van die Herder
4) Diewe en rowers wil die skape van koers af bring
5) Jesus se bedoeling vir ons is ’n lewe in oorvloed
Ons kan dit saamvat deur te sê:
Jesus is die Goeie Herder wat ons beskerm teen die gevare in die lewe omdat ons vir Hom kosbaar is.

1 Die liefde van die Herder vir die skape – bereid om sy lewe af te lê
Die omstandighede waarin skape in Israel moes oorleef is weerbarstig, droog en hard. Daar is baie gevare wat hulle bedreig soos byvoorbeeld dat hulle kan verdwaal en in ’n rotsskeur val of deur wilde diere oorval word. Daarom kan die kudde nie sonder ’n herder oorleef nie. Wanneer Jesus sê: “Ek is die goeie Herder” dan sê Hy vir ons dat net soos die skape ’n herder nodig het om na hulle om te sien het ons ook ’n Herder nodig om na ons om te sien sodat ons nie verlore gaan nie.

’n Skaap wat in die sorg van ’n goeie herder is, beleef geborgenheid en vrede. Net so beleef ons vrede en geborgenheid in die sorg van Jesus. Jesus sorg vir ons deur middel van die Heilige Gees wat na ons toe gestuur is na Jesus se hemelvaart. Wanneer Jesus my Herder is, is ek nie meer in die mag van die ou duiwel nie omdat ek nou die eiendom van my Herder is soos ons ook in Sondag 1 van die Heidelbergse Kategismus bely:
My enigste troos in lewe en in sterwe is dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.

Omdat Jesus my Herder is beteken dit dat Hy wil hê dat dit met my goed sal gaan omdat Hy deel van my lewe is. Omdat Jesus my Herder is weet ek dat Hy my nooit in die steek sal laat nie. Hy sal ons nie verlore laat gaan nie en sal die 99 skape wat veilig is los om na my wat verlore is te gaan soek. As ek op een van die afdwaalpaaie in die lewe beland wat mens weg van God af lei, sal Jesus my kom soek omdat Hy my oneindig baie lief het. Ek is so spesiaal dat Jesus bereid was om sy lewe vir my af te lê soos ons hoor in Joh. 10:17
Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af.

2 Elke skaap is so spesiaal dat hy/sy persoonlik op die naam geroep word
In Joh. 10:3b hoor ons:
Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit.
Dit sê vir ons dat Jesus elkeen van sy skape persoonlik ken soos ons hoor in Joh. 10:14
Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken
Die diep verbondenheid tussen Herder en skape weerspieël die verbondenheid tussen Vader en Seun. Die verhouding tussen Vader en Seun is ’n volmaakte verhouding.

Omdat Jesus my Herder is, is daar ook ’n verhouding tussen my en die Vader en dit bring vir my die wonderlike troos dat die Vader vir my persoonlik omgee en kan ek ook getroos word met woorde van Jes. 43:1-3:
Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder.

Die Here gee vir my om!

3. Skape ken die stem van die Herder – volg Hom. Loop ons op sy spoor?
’n Mens sou dink dit is onmoontlik om uit al die stemme wat vandag op ons afkom en ons van alles belowe, om daarin die stem van die Goeie Herder te herken. Die wonder van God se genade is egter dat Jesus se skape sy stem tussen al die verwarring uitken. Ons het ’n verantwoordelikheid om na die Herder se stem te luister.

Hoe weet ons wanneer is dit Jesus se stem? Jesus praat met ons deur sy Woord. As dit wat ons hoor strydig is met die Woord, dan is dit nie Jesus se stem nie. Ons hoor sy stem deur suiwere Woordverkondig. Ons sien sy stem in die suiwere bediening van die sakramente soos Hy dit in sy Woord aan ons openbaar. Ons voel sy stem in die toepassing van die tug en daarom is dit dan ook die kenmerke van die ware kerk.

Net soos die skape nooit ’n vreemde sal volg nie en van Hom af sal weghardloop, moet ons net na Jesus se stem luister en weghardloop van die vreemde stemme van die wêreld. Onthou hoe Josef van Potifar se vrou af weggehardloop het toe sy hom wou verlei. Daar is in ons tyd baie vreemde stemme wat in stryd is met God se Woord. Om werklik te weet of ons Jesus se stem hoor, moet ons die stem wat ons hoor aan sy woord gaan toets.

4 Pas op vir die diewe en rowers want daar is magte en kragte in hierdie wêreld wat ons van koers af wil bring
In Joh. 10:11-13 hoor ons:
“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. ’n Huurling is geen herder nie, en dit is nie sy eie skape nie. As hy ’n wolf sien kom, los hy die skape en hardloop weg, en die wolf vang die skape en jaag die trop uitmekaar. Hy is ’n huurling en bekommer hom nie oor die skape nie.
Daar is mense wat hulself as herders voordoen en voorgee dat hulle na die skape omsien. Hulle gee egter nie werklik vir die skape om nie en stel die skape aan gevaar bloot. Wanneer die gevaar dreig hardloop hulle weg.

Wanneer Jesus en sy opoffering aan die kruis nie sentraal staan in ’n predikant of pastoor se boodskap nie, is hy soos ’n huurling wat die skape aan die gevaar bloot stel. Moenie agter hulle aanloop nie. As Jesus nie sentraal in ons lewe staan nie, is ons op die verkeerde pad, want dit is slegs Jesus wat werklik vir sy skape omgee.

5 Jesus se bedoeling: lewe, en dit in oorvloed.
In Joh. 10:9-10 hoor ons:
Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry. 10’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.
Net soos ’n goeie Jesus se doel is om sy skape by die beste weiding uit te bring, is Jesus se doel dat ons ’n lewe in oorvloed kan hê.

Ons moet egter nie die oorvloed met die wêreldse definisie daarvan verwar nie. Oorvloed in diè sin verwys nie na ’n oorvloed materiële besittings en rykdom nie. Geld kan nie geluk en vrede koop nie. Die oorvloed waarna hier verwys word, is die oorvloed van God se genade. Sy eindelose geduld met ons en dat Hy ons elke slag weer optel wanneer ons geval het. Die oorvloed waarna hier verwys word, is die voorreg om God persoonlik te ken en om sy liefde te ervaar deur die soenverdienste van Jesus Christus.

Slot
Wanneer Jesus vir ons sê “Ek is die goeie Herder”, dan vertel Hy vir ons:
1) van sy liefde vir sy skape en dat Hy bereid is om sy lewe vir hulle af te lê;
2) dat elke skaap so spesiaal is dat Hy hom/haar persoonlik op die naam roep;
3) die skape die stem van die Herder ken en dat hulle net vir Hom volg.
4) om op te pas vir die diewe en rowers want daar is magte en kragte in hierdie wêreld wat ons van koers af wil bring en
5) dat sy bedoeling met ons die lewe is en dit in oorvloed!

Kom ervaar die vrede en geborgenheid van ons goeie Herder want Jesus is die Goeie Herder wat ons beskerm teen die gevare in die lewe omdat ons vir Hom kosbaar is.

Amen

Jesus is die enigste ware deur tot God

7 Apr. 2013 Joh. 10:1-21; Teksverse – Joh. 10:7 & 9

Lof-Psalm Ps. 100 v 1 & 4      (OAB)
Na Wet Ps. 25 v 2                   (OAB)
Na Gebed Ps. 33 v 11             (OAB)
Slotsang Ps. 23 v1                  (OAB)

Inleiding
Kan ons God sonder Jesus leer ken? Jesus gebruik hier in Joh. 10 die beeld van ’n skaapboerdery om hierdie vraag te beantwoord. God as Herder en sy volk as skape is ’n beeld wat baie in die Bybel gebruik word. Dink maar aan die geliefde Ps. 23. Die beeld van ’n herder en sy skape is ook die beeld wat Jesus gebruik om die groot verskil tussen Hom en die Joodse leiers te verduidelik. Hiermee verduidelik Jesus waarom dit noodsaaklik is dat ons in Hom moet glo. Verse een tot vyf is ’n storie wat Jesus vertel sodat die ons die beeld skaapboerdery sal verstaan wat Hy hier gebruik. Vanaf vers sewe pas Hy die beeld dan op Homself toe om aan ons te verduidelik dat Hy uniek is en dat daar geen ander alternatief is om weer met God versoen te word nie.

In Joh. 10:1 & 2 word twee groepe mense teenoor mekaar gestel, naamlik die rowers wat nie by die hek ingaan nie teenoor die herder wat wel daar ingaan. Die ingang tot die skaapkraal is die plek waar besluit word of iemand eg is of nie. In Joh. 10:3 vertel Jesus van die verhouding tussen die herder en sy skape is. Die skape luister net na die herder se stem en sal nie ’n vreemde volg nie. In Joh. 10:4&5 word ons vertel van die vertroue wat die skape in die herder het en die noue band wat daar tussen hulle is. In die hierdie teksgedeelte hoor ons dat Jesus die ingang en die Herder vir sy skape is. Vandag fokus ons op die ingang gedeelte waar Jesus met nog ’n “Ek is” uitspraak verduidelik wie en wat Hy werklik is. Met die volgende diens gaan ons op die Herder fokus.

Agtergrond
Om die beeld wat Jesus hier gebruik te verstaan moet ek net eers kortliks verduidelik hoe die skaapboerdery in die Bybelse tyd gewerk het. Elke trop skape het ’n spesifieke herder gehad wat hulle opgepas het. Bedags het die herder hulle na die weiveld geneem en snags het hy hulle weer terug gebring na die veiligheid van die skaapkraal. Hierdie krale het gewoonlik klipmure gehad wat hoog genoeg was sodat die skape nie oor dit kon klim nie.

Daar was net een opening wat dan as ingang tot die skaapkraal gedien het. Verder het hy ook gewoonlik doringtakke bo-op die mure gepak om die ongediertes uit te hou. Daar was dus net een manier om by die kraal in te kom, naamlik deur die opening wat as deur gedien het. In die nag het die herder dan ook binne daardie ingang geslaap. Die skape kon dus nie uitgaan sonder dat die herder dit geweet het nie en geen ongewenste persone of ongediertes kon sonder sy medewete inkom nie.

Wanneer Jesus dus sê “Ek is die ingang vir die skape” verduidelik Hy dat Hy die enigste ingang na die ewige lewe en God is. Hy is die Herder wat ingang daartoe bewaak en niemand kon sonder Hom inkom nie. In hierdie konteks het die beeld van ’n deur of ingang dan ook ’n baie spesifieke betekenis.

’n Deur bring skeiding.
In die eerste plek skei ’n deur die wat binne is af van die wat buite is. Diegene wat binne is lyk anders as hulle wat buite is. Uitverkore kinders van God leef anders as hulle wat God nie ken nie. Die wêreld se manier van doen en die wêreld se waardes lyk anders as die gelowiges se waardes en manier van doen. Gelowiges word baie maal verkleineer omdat hulle anders as die wêreld lewe. Dit moet ons weet dat ons nie gewild sal wees onder die wêreld nie en dat ons ook nie enigsins moet poog om deur die wêreld aanvaar te word nie. Wie werklik binne in Jesus se skaapkraal is moet verwag dat die wêreld hulle sal spot en verkleineer net soos Jesus ook bespot en verkleineer is.

’n Deur beteken ’n besluit om nie die waarheid vir die leuen te veruil nie
Ons leef vandag in ’n wêreld waar die leuen as waarheid voorgehou word en waarheid as leuen. Daar word verkondig dat elkeen sy eie waarheid het. Wat waar is vir een is nie noodwendig waar vir ’n ander nie. In wese kom dit daarop neer dat daar geen waarheid is nie! Hiermee word dan verkondig dat elkeen deur sy eie geloof by God uitkom. Die Christen deur sy geloof in Christus, die Hindoe deur sy geloof, die Moslem deur sy geloof in Mohammed, selfs al is al hierdie gelowe verskillend van mekaar. Jesus ontbloot die onwaarheid hiervan wanneer Hy in Joh. 10:9 sê:
Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry.

Die onsinnigheid van die post modernistiese siening word duidelik wanneer mens logies daaroor nadink. As daar gesê word dat daar geen waarheid is nie, hoe kan ons weet of die stelling dat daar geen waarheid is nie waar is? In ons dag tot dag lewe leef ons ook nie so nie. As ek iemand R100 skuld kan ek mos nie R10 betaal deur te redeneer dat vir my is ’n Rand eintlik R10 werd en daarom kan ek met R10 my skuld van R100 afbetaal nie!

Die waarheid is dat daar net een deur is na die ewige lewe saam met God, naamlik Jesus Christus. ’n Geloof wat nie Jesus Christus as die middelpunt het nie kan mens nie by God uitbring nie.

’n Deur beteken verlossing.
Jesus Christus beteken vir ons dat ons gered word en dit beteken dat ons lewe en daarom sê Jesus vir ons:
as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry
Ons gaan by die deur in wanneer ons glo dat Jesus Christus vir ons sondes gesterf het en dat Hy met sy opstanding aan ons die ewige lewe gee. Verlossing beteken dat al ons sondes vergewe is en dat ons daarom kinders van God is. Verlossing gee aan ons die sekerheid dat ons gered is. Ons hoef nie daaroor te twyfel nie. As ek in Jesus Christus glo kan ek verseker weet dat ek verlos is.

Verlossing beteken dat ons vry is. Vryheid beteken nie dat ons maar kan voortgaan om te sondig nie. Dis nie vryheid nie, want dan is ons nog slawe van die sonde! Vryheid beteken dat ons die voorreg het om Jesus Christus te volg en die lewe te leef tot Gods eer wat Hy van die begin af vir ons beplan het. Dan word ons deur waarheid beheer en deur liefde aangespoor. Dan is ons los van die negatiwiteit van ons sondige lewe. Dan het ons hoop en nie meer die wanhoop van ’n troostelose bestaan waar alles tot niks kom nie.

Verlossing beteken geluk en vrede selfs wanneer ons deur moeilike tye gaan. Dit beteken dat wanneer die storms van die lewe om my begin woed dat ek by God gaan skuiling soek met die wete dat Hy my deur dit sal dra.

Slot
Jesus is die deur wat vir ons toegang tot God en die ewige lewe gee. As ons deur die deur gegaan het is daar skeiding tussen ons en die wêreldse manier van doen. Ons voel anders en tree anders op. Jesus Christus as deur beteken vir ons die waarheid dat ons slegs deur sy soenverdienste met God versoen kan word. Jesus Christus as deur beteken dat ons waarlik lewe vanuit sy genade. Moenie deur ’n ander deur tot God probeer nader nie want Jesus Christus is die enigste ware deur tot God.

Amen

26 Maart 2013

Jesus is die lig vir die wêreld en daarom kan ons ligmense wees


24 Mar. 2013 Gen. 1:1-3 ; Joh. 1:1-12; ; Joh. 3:19-21; Joh. 8:12; Joh. 12:35-36
Teksverse – Joh. 8:12

Lof-Psalm Ps. 107 v 1             (OAB)
Na Wet Ps. 19 v 4                   (OAB)
Na Gebed Ps. 1 v 1 & 4          (NAB)
Slotsang Ps. 119 v39               (OAB)

Vooraf
Soos ons verlede Sondag gehoor het, is ons tans besig met die sewe “Ek is....” uitsprakevan Jesus.
i      Ek is die Brood wat lewe gee – Joh. 6:35
ii     Ek is die Lig vir die wêreld – Joh. 8:12
iii     Ek is die opstanding en die lewe – Joh. 11:25
iv     Ek is die ingang vir die skape – Joh. 10:7,9
v     Ek is die goeie Herder – Joh. 10:11
vi     Ek is die weg en die waarheid en die lewe – Joh. 14:6
vii    Ek is die ware wingerdstok – Joh. 15:1
Ons het verlede stilgestaan by “Ek is die Brood wat lewe gee” waar ons gehoor het dat Jesus ons geestelike honger versadig met die Brood wat lewe gee. Vandag is ons by die tweede “Ek is...” uitspraak:  Ek is die Lig vir die wêreld; waar die Here vir ons sê dat ons ligmense is omdat Jesus die Lig vir die wêreld is.

Inleiding
Sonder lig is lewe onmoontlik. Voordat daar lig was daar nie lewe nie. In Gen. 1:2 hoor ons dat voor daar lig was, was die aarde heeltemal onbewoonbaar en alles was in duisternis gehul. Maar God vat die duisternis uit sy skepping weg deur net te sê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig. Hierna volg die skeppings gebeure waarvan ons in Gen. 1 hoor. God skep lewe en Hy sê dit is baie goed. Die oomblik toe God lig bring, kom daar lewe. Lewe vir plante, diere, voëls en eindelik vir die mens.

Wanneer Jesus dus in Joh. 8:12 sê: “Ek is die lig vir die wêreld” verwys Hy terug na hierdie skeppingsgebeure. Hy verduidelik vir ons hiermee wie en wat Hy werklik is en Hy vertel ook vir ons daarmee wat Hy vir ons doen en wat ons deur Hom kan word. In Joh. 1:2-5 hoor ons:
Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.
Jesus is die bron van lig en lewe en lig en lewe is onafskeidbaar deel van mekaar. Wanneer Jesus dus vir ons sê: “Ek is die lig vir die wêreld”, sê Hy vir ons Hy is die Bron, die Kern en die Oorsprong van alle lig.

Duisternis
Direk nadat Jesus daar in die tempel by die offergawekiste uitgeroep het “Ek is die lig vir die wêreld”, sê Hy:
Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie
Lig wys na God en duisternis na dit wat boos is, sonde en die in sonde gevalle wêreld. Kort na die skeppings gebeure kom daar weer ’n diep donkerte oor die aarde. Die mens val in sonde en dit bring die swart donkerte van sonde, dood en die hel.

In die plek van vreugde en vrede kom daar, hopeloosheid, ongeluk, onmin. Weer is daar duisternis oor God se skepping, maar tog hou God aan om lig te wees. Die duisternis van die sonde kon nie die lig uitdoof nie soos ons hoor in Joh. 1:5:
Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.
Jesus is die ware Lig wat na die wêreld toe gekom het. Jesus het die houvas van donkerte op ons lewens gebreek en daarom hoef die uitverkore kinders van God nie meer in die duisternis van die sonde te leef nie.

Hoe weet mens of hierdie belofte vir jou bedoel is? In Joh. 1:12 hoor ons:
Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.
Elkeen wat die Lig van Jesus in geloof aanneem hoef nie meer in die duisternis te leef nie. Die teendeel is egter ook waar soos ons hoor in Joh. 3:19-20:
En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie.

Hoe weet mens dus dat jy ’n kind van God is? In Joh. 3:21 hoor ons:
Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.
As jy na die Lig toe kom, dan weet jy dat jy ’n kind van die Lig is. As jy Jesus volg hoef jy nie meer in duisternis te leef nie.

Kinders van die Lig
Wat ’n wonderlike troos is dit nie! Ons kan kinders van die Lig wees! Volgelinge van Jesus kry die wonderlike troos dat hulle nie meer in die donkerte van die sonde vasgevang is nie, inteendeel hulle sal die lig hê wat lewe gee. Dit is die belofte wat Jesus maak wanneer Hy sê: “Ek is die Lig vir die wêreld. Wie My volg sal die lig hê wat lewe gee.” Die vraag wat elkeen vanoggend van ons vir onsself moet vra is: “Is ek ’n volgeling van Jesus Christus?” Want om die Here se ligglans in my lewe te ervaar moet ek Jesus ken en liefhê. As ek deur die Gees gelei word om te sê: “ja Here, ek het U waarlik lief met alles wat in my is, dan het ek die Lig wat lewe gee!

Wat beteken dit vir my as ek die Lig het wat lewe gee? Dit beteken ek is ’n kind van die LIG. Iets van God se Lig moet nou deurbreek in my lewe, in my gedagtes, in my beplanning, in my besluite en my dade. My lig is moontlik die enigste Bybel wat baie mense ooit sal lees!

Dit is belangrik dat ons moet verstaan dat dit nie my eie krag is wat my lig laat skyn nie. Ons is soos hierdie ligte wat mens in die son los sodat sy battery gelaai kan word en wanneer die donker kom dan skyn dit omdat die son die batterye gelaai het.

Hoe laai ek my geestelike batterye sodat ek as ligdraer vir Jesus kan skyn? In Ps. 119:105 sê die Here vir ons:
U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.
As ek gereeld die Woord lees en daarmee besig is in Bybelstudies en eredienste, word my geestelike batterye gelaai. As ek nie my geestelike batterye laai nie raak dit al hoe moeiliker om op die donker onseker pad van die lewe te beweeg. As my battery gelaai is, kan die lig van die Woord so skyn dat ek weet wat om te doen wanneer ek voor moeilike keuses in die lewe te staan kom.

Hoe skyn my lig om die donkerte van die mense wat die Here oor my pad stuur te verlig? Hoe reageer ek wanneer die besige winkel assistent ’n fout maak? Hoe reageer ek wanneer die ou mens net so ’n bietjie geselsskap en tyd uit my besige skedule vra? Maak ek tyd vir my gesin? Is ek net so ongeskik terug wanneer ek met ’n ongepoetse ongeskikte mens gekonfronteer word? In kort kan ek myself afvra: “is ek ’n ligmens?”
Amen

Jesus versadig ons geestelike honger met die Brood wat lewe gee


17 Mar. 2013         Joh. 6:22-59 . Teksvers Joh. 6:35

Lof-Psalm Ps. 18 v 1              (OAB)
Na Wet Ps. 86 v 3 & 6            (OAB)
Na Gebed Ps. 33 v 11             (NAB)
Slotsang Sb. 17-1 v1 & 6        (OAB)

Vooraf
Ons het verlede week gehoor dat God Homself as “Ek is wat Ek is” bekendstel. Vandag hoor ons hoe Jesus Homself ook as “Ek is” bekendstel. In die evangelie volgens Johannes vind ons die sewe bekende “Ek is” uitsprake van Jesus:
i   Ek is die Brood wat lewe gee – Joh. 6:35
ii   Ek is die Lig vir die wêreld – Joh. 8:12
iii  Ek is die opstanding en die lewe – Joh. 11:25
iv  Ek is die ingang vir die skape – Joh. 10:7,9
v  Ek is die goeie Herder – Joh. 10:11
vi  Ek is die weg en die waarheid en die lewe – Joh. 14:6
vii Ek is die ware wingerdstok – Joh. 15:1
Met hierdie “Ek is” uitsprake verduidelik Jesus nie net wie en wat Hy werklik is nie, maar Hy vertel ook daarmee wat Hy vir ons doen en wat ons deur Hom kan word. Met die eerste “Ek is” uitspraak sê Hy vir ons, “as julle geestelik honger is, kom kry by My die Brood van die lewe.”

Inleiding
Elke mens het ’n natuurlike geestelike behoefte wat bevredig moet word. By baie mense word daardie behoefte nie bevredig nie omdat hulle op die verkeerde plekke bevrediging daarvoor soek. Die Bybel bied die enigste ware antwoord vir hierdie diepste soeke van die mens, maar die mens wil nie daar gaan soek nie, want die Bybel is ’n spieël wat vir ons wys hoe ons werklik lyk. Die prentjie wat ons vir die wêreld wys lyk heelwat anders, mooi, beskaaf, baie vroom! Die ware prentjie, daardie een wat ons nie eens vir hulle wat die naaste aan ons is wil wys nie, lyk egter heelwat anders. Ons sien daar wat in ons harte skuil en dit is nie ’n mooi prentjie nie!

Ons soek op die verkeerde plek na geestelike voedsel
Elkeen van ons glo dat ons eintlik goeie mense is en daarom is dit nie lekker wanneer mens sien dat dit nie waar is nie. Die algemene reaksie wat ons het is om dit wat ons daar sien te ontken. Ek wil nie werklik die donker geheime sien wat in my hart weggesteek is nie, want dit wys vir my dat ek nie werklik hierdie goeie mens is wat ek dink ek is nie. As ek in die lig van God se Woord na myself kyk dan sien ek hoe vuil die sonde in my lewe my werklik gemaak het. Dan sien ek dat ek eintlik hierdie selfsugtige mens is wat net sy eie belange wil bevorder ten koste van almal om hom. Dan sien ek in myself raak dit wat ek so verafsku wanneer ek dit in ander mense sien.

Wat is die maklikste om weg te kom van hierdie ontstellende prentjie? Ontkenning! Dit kan nie waar wees nie, daar MOET iewers ’n fout wees! Solank as wat ons dit egter ontken gaan ons nooit ware vrede ervaar nie omdat hierdie sonde in ons lewens, dit wat ons nie eens teenoor onsself wil erken nie veroorsaak dat daar tussen my en God ’n afstand is. Hierdie afstand veroorsaak ’n gemis in my lewe. Daardie gevoel van hier kort iets.

Dit sien ons ook by die mense wat Jesus gevolg het. Net kort nadat Hy hulle gevoed het met die wonder van die vermeerdering van die brood vra die mense vir Jesus “Rabbi, wanneer het u hierheen gekom?” In Jesus se antwoord wys Hy hulle dat hulle Jesus maar net volg om hul eie selfsugtige redes soos ons hoor in Joh. 6:26
“Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het. Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen.”

Nou vra die mense wat moet hulle doen? Jesus se antwoord is heel eenvoudig: “Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.” Dit is egter nie wat die mense wil hoor nie en daarom vra hulle : “Watter wonderteken kan u doen sodat ons dit kan sien en in u kan glo?” Dit is ons probleem ook. Ons wil nie hoor wat God vir ons sê nie. Hierdie mense het nie werklik agter Jesus aangekom ter wille van Homself nie. Hulle wou net die vermaak ervaar van sy wonders. Dit is die probleem wat ons ook het. Solank as wat ons nie die waarheid van ons sonde in onsself konfronteer nie, gaan ons op die verkeerde manier na God soek. Dan kom ons ook net na God toe vir dit wat Hy vir ons kan doen om ons eie selfsugtige behoeftes te bevredig.

Dit veroorsaak ook dat ons na die verkeerde oplossing gryp om hierdie diepe soeke in ons stil te maak. Dan soek ons na emosionele bevrediging in plaas van ’n diepe geestelike verhouding met God. Dit is dan wanneer ek kerk toe kom met die verwagting oor wat gaan ek daaruit kry terwyl ek eerder kerk toe moet kom om die Lewende God te ontmoet en die vrede van sy teenwoordigheid te ervaar. Ek wil my behoeftes bevredig in plaas daarvan die sondigheid van my hart aanspreek. Ek sien Jesus as ’n goeie leermeester en ’n goeie voorbeeld om na te volg, maar ek sien Hom nie as my Here en Verlosser nie. In kort kom dit daarop neer dat ek ’n god soek wat my kan dien eerder as wat ek God dien! Die Here ken ons en daarom vra Hy ook vir ons (Jes. 55:2):
Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie, waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie?

Die enigste bron wat ons geestelike honger bevredig
Jesus gebruik die voorbeeld van brood wat mens se liggaam voed om te verduidelik wat is die ware oplossing vir die diepe soeke wat ons hier in ons hart ervaar soos ons hoor in Joh. 6:35
“Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.
Die Here het die mens so gemaak dat hy honger word om hom te herinner dat hy kos moet eet om sy liggaam te voed. Net so is daar ’n geestelike honger na die teenwoordigheid van God in ons lewe. Soos mens brood eet en dit deel word van jou en dit jou liggaam voed en sterk maak en lewe gee, moet ons Jesus deur geloof ontvang en dit voed ons geestelik en gee aan ons die ewige lewe.

Dit is net Jesus wat die Brood van die lewe is. Enige iets anders is nie brood nie en dit kan ons nie versadig maak nie. Net soos wat ons sal sterf as ons nie eet nie, sal ons geestelik doodgaan as ons nie Jesus Christus in geloof ontvang nie.

Hoe eet en drink ons die liggaam en bloed van Jesus Christus? Ons doen dit deur in Hom te glo en sy lewende Woord deur die Heilige Gees in ons harte te ontvang. Wanneer ons dit doen dan word hierdie geestelike honger na God versadig. Dit is eers dan wanneer ons ware vrede in ons gemoed ervaar, selfs al staan ons binne in ’n verwoede lewensstorm. Dit is dan dat ons nie bang is nie omdat ons weet dat God hier langs my is en dat Hy my vashou wanneer die lewe te veel word.

Slot
Ek wil nie graag binne in die donkerheid van ons harte inkyk nie omdat ek nie graag wil sien dat ek nie werklik so ’n goeie mens is as wat ek voorgee nie. Diep hier binne in my skuil ’n stuk selfsug wat veroorsaak dat ek van God vervreem word. Dit veroorsaak ’n diepe geestelike honger en verlange binne in my gemoed. As ek nie die ware oorsaak van hierdie geestelike honger vierkantig in die oë kyk nie, dan soek ek verlossing daarvan op die verkeerde plek. As ek dit nie by God soek nie sal ek nooit daarvan ontslae kan raak nie. Jesus Christus is die Brood van die lewe. Ons eet hierdie lewende Brood deur in Jesus te glo en deur die Heilige Gees sy Woord in ons harte te ontvang.

Om ontslae te raak van hierdie diepe geestelike honger en soeke na God, kom na Jesus toe want dit is net Hy wat ons geestelike honger kan versadig met die Brood wat lewe gee.
Amen