9 Sep. 2018 GKE HKE
Skriflesing
Job 1
Teksvers
Job 1:9
Kyk na ʼn oorsig oor die boek Job by https://youtu.be/xQwnH8th_fs
Sing:
Toetredelied: Lied
158 v 1 Bring my na u woning, Here.
Lofsang Ps.
46-1 v 1
Verootmoediging Ps.
119-2 v 1 & 11
Geloofsbelydenis Sb.
12-3 v 1 & 2 / Lied 265 v 1 & 2 Enigste Here, enkele Wese.
Antwoord op prediking Ps.
42-1 v 1 / Lied 163 Soos ʼn wildsbok
Job
is moontlik een van die Ou Testament se moeilikste boeke om te verstaan. Tog
bied dit sinvolle antwoorde op lewensvrae wat moeilik is om te beantwoord.
Oor
die volgende paar weke gaan ons op ʼn reis om saam met Job om antwoorde op
lewensvrae te kry waarop daar nie altyd maklik antwoorde is nie.
Hierdie
week staan ons stil by die vraag: Hoe help lyding jou om te verstaan hoekom jy
God moet dien en vir Hom moet lief wees?
Mooiweersvriende.
Almal weet wat ʼn mooiweersvriend is. Iemand wat net in voorspoed jou vriend is,
op wie jy nie in teenspoed of by ongeleentheid kan reken nie.
Die
satan beskuldig Job dat hy net ʼn mooiweersgelowige is. Wanneer God Job se
vroomheid en opregtheid voorhou antwoord die satan Hom: Job 1:9 tot 11
9Toe antwoord die Satan die Here: “Dit is nie sonder rede dat
Job U dien nie! 10U beskerm hom dan, en sy huis en al sy goed. U
maak alles wat hy doen, voorspoedig. Selfs sy vee teel vinnig aan. 11Maar
raak nou net aan sy besittings en kyk of hy U nie in u gesig vervloek nie.”
Die
satan se aanklag is, Job is maar slegs ʼn mooiweersgelowige. Hy dien God slegs
omdat die Here hom seën. As die omgekeerde gebeur sal Job totaal anders reageer
en sal hy sy rug op die Here draai.
Om
hierdie gesprek reg te verstaan moet ons net eers bietjie stilstaan by
agtergrond van die boek Job. Die boek Job is een van die wysheidsliteratuur
boeke in die Bybel soos Spreuke ook is. Die doel van wysheidsliteratuur is om
sekere groot lewensvraagstukke aan te spreek. Die vraagstuk wat in ons teks na
vore kom is of jy sal aanhou om in ʼn verhouding met God te leef as die enigste
voordeel wat jy uit die verhouding kry, God self is?
Dit
gaan nie hier daaroor of God hier saam met die duiwel besig is met ʼn dobbelspel
om die lotgeval van mense te bepaal nie. Die woord satan beteken letterlik
“aanklaer.” In Hebreeus is die lidwoord die deel van die woord satan en in
daardie konteks gee dit die betekenis van ʼn titel eerder as ʼn eienaam. Hiermee
saam is die satan dan ook ʼn moeilikheidmaker. Hierdie gesprek tussen God en die
satan bring die vraagstuk na vore. “Wat is jou motivering waarom jy God dien?”
Die
aanklaer impliseer dat Job nie getrou en gehoorsaam is ter wille van God self
nie, maar slegs omdat hy allerlei byvoordele uit die verhouding kry. Neem
daardie byvoordele weg en Job sal God vervloek. Met ander woorde Job sal God
verwerp omdat hy sal reken dat God vir hom waardeloos is. Neem net al die
gunste en gawes weg en Job sal sy verhouding met God verbreek omdat hy dan sal
reken dat God nie meer sy liefde en vertroue werd is nie.
Die
valse evangelie van die voorspoedteologie moedig jou aan om ʼn mooiweersgelowige
te wees. Jy moet net glo en dan sal God jou “seën” met rykdom, goeie gesondheid
en dit sal baie voorspoedig met jou gaan. In ons teks word die valsheid van
hierdie evangelie ontbloot.
Hierdie
vraagstuk wat in Job na vore kom is nie maar net ʼn teoretiese akademiese
vraagstuk nie. Dit is iets wat elkeen van ons ten diepste raak. Gaan jy God nog
steeds dien as Hy alles van jou af wegvat. Jou besittings, jou gesondheid, jou
kinders? As jy kaal gestroop word, gaan jy jou rug op God draai of nie?
Alles
wat ons het is God se genade. Niks wat jy het, het jy gekry omdat jy dit
verdien het deurdat jy ʼn goeie en vroom mens is nie. Jou gesondheid, jou
verstand, jou talente en vermoëns, al jou besittings het jy enkel alleen op
grond van God se genade. In Job leer ons die ongemaklike waarheid dat dit nie
altyd goed gaan in jou lewe nie. Soms neem God tydelik sy materiële seëninge
van jou weg en plaas Hy jou in ʼn posisie waar dit op die oog af lyk of Hy
eerder jou vyand is.
Job
het nooit insig gehad oor wat daar in die troonkamer van God gebeur het nie.
Net so weet ons ook nie wat die rede is hoekom God sekere dinge in sy ewige
raadsplan toelaat in ons lewens nie. Dit mag dalk voorkom asof God van jou
vergeet het. Dat Hy nie omgee wat met jou gebeur nie.
Om
sin te maak hiervan moet ons onthou wat die werklike perspektief van lyding is.
In Job 1:1 hoor ons dat Job vroom en opreg was en dat hy God gedien het en die
kwaad vermy het. Voorwaar ʼn navolgingswaardige voorbeeld. Tog was Job nie
perfek nie soos wat ons verder aan in die boek hoor.
Daar
was net een mens wat werklik onskuldig was en wat die allerverskriklikste
lyding denkbaar deurgaan het. In die persoon van Jesus Christus het God self
meer gely as wat Job of enige mens ooit gely het. Jesus het God verlatenheid
ervaar sodat ons nooit weer deur God verlaat sou word nie. Hy het alles
verloor, sy klere en al sy aardse besittings, selfs sy lewe en ook God se
teenwoordigheid.
Jesus
was nie die enigste wat gely het nie. In die perfekte verhouding wat daar
tussen Vader Seun en Heilige Gees was, was daar nie meer harmonie nie. Die Vader en die Heilige Gees het saam met Christus
gely. God het die ergste lyding wat daar denkbaar is verduur sodat Hy daardeur
die gebroke verhouding tussen God en mens kon herstel.
Deur
sy lyding het God Homself aan die mens terug gegee. Die doel van die evangelie
is om die verhouding tussen God en mens te herstel, nie om allerhande beloftes
van voorspoed en rykdom te verkry nie. Job het alles verloor, behalwe sy lewe
omdat God die satan verbied het om Job se lewe te neem. Ten spyte daarvan dat
Job alles verloor het, het hy een ding nie verloor nie, nl. God self. Job het
niks anders as sy lewe en God gehad nie, maar nog steeds het God nie verwerp
nie soos ons hoor in Job 1 v 20 tot 22:
20Toe het Job opgestaan en sy klere geskeur. Hy het ook sy hare
afgeskeer. Daarna het hy op die grond gaan lê en gesê:
21“Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan
ek daaruit.
Die Here het
gegee en die Here het geneem.
Prys die Naam
van die Here.”
22Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie.
Die
troos wat ons het is dat al verloor ons alles in die lewe, selfs die lewe self,
dan het ons nog steeds vir God. Elkeen wat in Jesus Christus glo kan absoluut
vashou aan die troos van Rom. 8:38 & 39
38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte
of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of
diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei
nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
Die
teendeel is egter ook waar. As jy nie in Jesus Christus glo nie, gaan jy alles
verloor, want as jy nie vir God het nie, dan het jy niks.
Geliefdes,
Christus het aan die kruis gesterf sodat God deel van jou lewe kan wees. Moenie
God verruil vir wêreldse dinge nie. Moenie val vir die leuens van die voorspoed
teologie nie. Die feit dat ʼn boek in ʼn Christelike boekwinkel verkoop word,
beteken nie dat dit noodwendig die waarheid bevat nie. As daar ʼn prediker of
boodskap in ʼn boek is wat jou beloof dat dit net goed met jou sal gaan en dat
jy ryk en voorspoedig sal wees omdat jy glo of dit van God opeis, weet dit is ʼn
leuen.
Moenie
ʼn mooiweersgelowige wees nie. Dien God en wees lief vir Hom omdat Hy God is.
Amen.