12 Januarie 2014

God is getrou aan sy verbond, daarom is daar vir ons hoop in ’n toekoms wat donker lyk.

Teks: Pred. 4v17 - 5v6; Ef. 3v14 – 20. Teksvers Pred. 5v3
GK Empangeni 15 Des 2013
175 jaar gelede het ons voorvaders ’n gelofte teenoor die Here afgelê. Daarmee het hulle ’n verpligting op ons geplaas omdat daardie gelofte onder andere gemeld het dat: “ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte” Alhoewel daar sommige van ons volkgenote is wat daarteen rebelleer, bly ons gebonde aan daardie gelofte. Die Here waarsku ons dat ons versigtig moet wees wanneer ons ’n vrywillige gelofte teenoor Hom aflê soos ons hoor in Pred. 5v3:
As jy aan God ’n gelofte gedoen het, moet jy nie versuim om dit te betaal nie. Hy hou nie van ligsinnige mense nie. Wat jy beloof het, moet jy betaal.
Op ’n ander plek in Deut. 23V21-23 sê die Here:
21“Wanneer jy ’n gelofte aflê teenoor die Here jou God, moet jy nie traag wees om dit na te kom nie, anders sal die Here jou God jou tot verantwoording roep en sal jy skuldig wees. 22 Wanneer jy nie ’n gelofte aflê nie, sal jy nie skuldig wees nie, 23 maar as jy vrywillig ’n gelofte teenoor die Here jou God aflê, moet jy versigtig wees met wat jy sê en moet jy die gelofte nakom.

Die vraag is nou: “kom ons daardie gelofte wat afgelê is na?”

Voordat ons dit kan doen moet ons net eers kortliks weer gaan kyk presies wat die inhoud van die gelofte is en hoekom dit afgelê is? Daarna gaan ons stilstaan by die verpligting wat op ons rus vanweë die gelofte en wat is die Bybelse perspektief t.o.v. die gelofte.

Wat het aanleiding tot die gelofte gegee?

Die Voortrekkers in Natal het totale uitwissing in die gesig gestaar. Dit het met hulle bitter ellendig gegaan.
•     In Febr. 1838 is Piet Retief en sy afvaardiging
       op ʼn verraderlike wyse deur Dingaan by sy kraal vermoor.
•     Kort daarna volg die gruwel massamoorde
       teen die hange van die Drakensberge: Moordspruit, Bloukrans,        Weenen.
•     In April het Piet Uys en sy seun Dirkie in ’n mislukte vergeldingspoging by Italeni gesneuwel
•     Om sake te vererger trek Andries Potgieter terug na Transvaal
•     In Aug./Sept. seëvier die doodsengel weer eens toe ’n maselepidemie die reeds moedelose en verswakte Voortrekkers nog verder uitgedun het.
•     Die kroon op hulle ellende was toe die 41 jarige Gerrit Maritz op 23 Sept. aan die Klein Tugela sterf.

Die Voortrekkers was nou uitgedun, leierloos, moedeloos – ja, weerloos uitgelewer. Hulle het op daardie stadium geen toekoms vir hulself meer gesien nie. In sy voorsienigheid beskik God dat die bekwame Andries Pretorius twee maande later (in Nov.) hom by die Voortrekkers in Natal aansluit. Binne enkele dae het hy die hele situasie daar in Natal opgesom en besluit dat hulle nie anders kan as om in geloof teen Dingaan op te tree nie.

Dit word vertel dat toe die boere kommando opgeruk het na die vesting van Dingaan, Sarel Cilliers en Andries Pretorius volgens gewoonte alleen vooruit gery het. Dit was volgens oorlewering by dié geleentheid terwyl hulle oor die gevare en probleme van hul onderneming en die geweldige getalle oormag van die vyand gepraat het, dat Sarel Cilliers aan die generaal voorgestel het dat hulle ’n gelofte voor die Here God moet aflê – hulle moet hul krag van Hom alleen soek.

Op die aand van 7 Des 1838 is die gelofte die 1ste maal afgelê in die vorm van ’n erediens onder leiding van Sarel Cilliers. Die gelofte kan kortliks soos volg uiteengesit word:

Die voorneme om ’n gelofte te doen:

"Hier staan ons voor die heilige GOD van hemel en aarde om 'n gelofte aan Hom te doen

Voorwaarde:- dit wil sê wat van God gevra is

dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee,

Belofte:- wat in ruil vir dit wat van God gevra is, gedoen sal word

1) ons die dag en datum elke jaar as 'n dankdag soos 'n Sabbat sal deurbring,
2) en dat ons 'n huis tot sy eer sal oprig waar dit Hom behaag,
3) en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte

Doel:- om aan God alleen die eer te gee

want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan hom te gee."

Die gelofte is daarna elke aand herhaal en op Sondag 16 Des 1838 het God die onmoontlike moontlik gemaak. Minder as 500 Boere kommandolede met ongeveer 200 agterryers het ’n oormag van meer as 10 000 Zoeloe krygers verslaan. Nie een van die boeremagte is gedood nie en slegs ’n paar het ligte snywonde opgedoen. God het aan die noodroep van sy kinders gehoor gegee en Hy het hulle beskerm en die vyand in hul hand gegee. God HET gedoen wat hulle van Hom gevra het.

Hiermee is egter ’n verpligting op die nageslag van die verbondmakers geplaas. Wat is die verpligting wat op ons as die nageslag geplaas is? In kort dat ons moet herdenk dat die Here in ’n tyd van nood vir ons voorvaders uitkoms gegee het en dat ons dit aan die volgende geslag moet oordra sodat die Here se Naam daardeur geëer kan word. Nou kom ons weer by die vraag wat ons in die begin gevra het, het ons die verpligting van die gelofte nagekom? Is ons gehoorsaam aan wat die Here in Pred. 5:3 vir ons sê?
As jy aan God ’n gelofte gedoen het, moet jy nie versuim om dit te betaal nie.

As ons doodeerlik moet wees dan moet ons sê “NEE”. 16 Des. is eers na 1910 as ’n nasionale gedenkdag ingestel. Tot watter mate het ons werklik aan ons kinders oorgedra hoe God vir ons voorvaders in tyd van nood gesorg het? Ken ons kinders die geskiedenis van Bloedrivier? Ken ons kinders die geskiedenis van Bloedrivier en dat die herdenking van geloftedag nie oor politiek gaan nie, maar dat dit gaan oor hoe God sy kinders wat op Hom vertrou het beskerm het? Weet ons kinders dat die hoofsaak nie hier gaan oor ’n oorwinning van witmense oor swartmense nie? Daar was tog immers ook bykans 200 swartmense in daardie laer wat saam met die boere geveg het. Leer ons, ons kinders dat Geloftedag nie oor rassehaat gaan nie? Weet hulle dat ons Geloftedag herdenk om aan God die eer te gee omdat Hy sy gelowige kinders teen ’n oormag ongelowiges beskerm het?

Tot watter mate getuig ons lewens daarvan dat ons net van God afhanklik is om vir ons te sorg? Sien ons kinders in ons voorbeeld dat ons op God se alleen vertrou? Gee ons met dit wat ons doen en sê die eer aan God alleen? Nee geliefdes, ons lewens getuig eerder van rebelse opstand teenoor God!

Toe Sarel Cilliers daardie gelofte in die week voor die slag van Bloedrivier teenoor die Here afgelê het, het die Here geweet dat ons nie 100% getrou gaan wees aan die beloftes wat gemaak is nie. Ten spyte daarvan het Hy nog steeds in sy groot genade gehoor gegee aan die pleidooi van die Voortrekkers, want Hy het lank reeds van sy kant af ’n ewige verbond met sy uitverkore kinders aangegaan waarin Hy sy ewige trou beloof het. Alhoewel ons nie getrou die beloftes kan nakom wat ons teenoor die Here maak het nie, is daar Een wat wel 100% getrou in alles is en was.
In Heb. 3v1 & 2:
Daarom, broers wat vir die Here afgesonder is en deelgenote is van die hemelse roeping, moet julle noukeurig let op Jesus, die Apostel en Hoëpriester van die geloof wat ons bely. Hy is getrou aan God wat Hom aangestel het
Watter troos kan ons daaruit put? Toe die toekoms vir ons voorvaders donker gelyk het na die moord op Retief, Andries Potgieter wat na Transvaal teruggetrek het en die dood van Maritz het hulle, hulle krag in die Here en in sy groot mag gesoek (Ef. 6v10). Hulle het deur die Heilige Gees krag ontvang om innerlik sterk te word. (Efesiërs 3:16). Christus het deur die geloof in hulle harte gewoon en hulle was in sy liefde gegrondves. (Efesiërs 3:17). Hulle was in staat om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus gestrek het! (Efesiërs 3:18).

Hier is baie dinge wat die toekoms vir ons ook donker laat lyk. Die ekonomie wat maar net nie op dreef wil kom nie. Die dreigemente van ons plase wat deur herverdeling van grond afgevat kan word. Regstellende aksie wat ons en ons kinders van loopbaangeleenthede ontneem. Die golf van misdaad en korrupsie wat so oor ons spoel. Ons kan en ons moet net soos ons voorvaders ons krag in die Here en in sy groot mag soek. Ons kan dit alleen doen wanneer ons deur die Heilige Gees krag ontvang om innerlik sterk te wees. Ons kan dit alleen doen wanneer Christus deur die geloof in ons harte woon en wanneer ons in sy liefde gegrondves is. Dit is eers wanneer ons Christus soek vir wie Hy is en nie omdat hy net nuttig is vir die seëninge wat Hy gee nie. Dit is eers wanneer ons Christus onweerstaanbaar vind net vir wie Hy is dat ons werklik op God kan vertrou.

In wese behels die gelofte dat ons, ons kinders van God se troue verbondliefde leer. Kom ons bly getrou aan die gelofte van ons voorvaders deur ons kinders met die voorbeeld wat ons stel te leer: God is getrou aan sy verbond, daarom is daar vir ons hoop in ’n toekoms wat donker lyk.

Amen

12 Desember 2013

Jesus gee lewende water aan almal wat dors het

Skriflesing:     Joh. 4v1 – 30 Teksverse Joh. 4v10
Preek Sondag 8 Des. 2013 (GKE)
na Votum Sb 4-6  
Na Wet Ps. 99-2 v 1 & 4 (NAB)
Na gebed Ps. 119-2 v 8 & 9  (NAB)
Slotsang Ps. 84-1 v 1 tot 3 (OAB)

Woorddiens
Een van die dae herdenk ons weer die geboorte van Jesus Christus. Dit is weer ’n tyd om te besin wat die menswording van God almagtig in die persoon van Jesus Christus werklik vir ons beteken.

Die verhaal van die Samaritaanse vrou by die put wys vir ons hoe Jesus ’n mens se lewe verander. Dit is ’n bekende verhaal wat so baie sê dat daar elke slag iets nuut uitstaan wanneer ons weer daarna luister.

Dit vertel die verhaal van ’n vrou wat deur die lewe eenkant toe gestoot is. Verder het sy die lewe vir haarself nog moeiliker gemaak met die verkeerde keuses wat sy gemaak het. En dan onverwags kom Jesus in haar lewe in met ’n versoek vir ’n bietjie water. Dit is egter ’n versoek wat die vrou bewus maak van ’n veel dieper dors as ’n fisiese dors na water.

So half onwillig word sy gelei om na binne te kyk, daardie selfondersoek wat ’n mens maar eerder wil vermy omdat dit ongemaklike waarhede aan die lig bring. Aanvanklik is sy so half ongeërg met Jesus: “Hoe vra jy, wat ’n Jood is, vir my, ’n Samaritaanse vrou, water om te drink?”

Die Samaritane en die Jode het nie goed met mekaar oor die weg gekom nie omdat die Jode die Samaritane as tweede klas burgers behandel het omdat die Samaritane van gemengde afkoms was. Hulle was die nageslag van die Israeliete wat met die Assiriërs ondertrou het nadat dié hulle in Ballingskap weggevoer het.

Jesus laat Hom egter nie deur hierdie rassediskriminasie tussen die Jode en die Samaritane afsit nie. Sy antwoord bring die diepste nood van hierdie vrou na vore: “As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee My ’n bietjie water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.”

Die vrou verstaan egter nog nie werklik nie. Sy dink dit gaan nog steeds oor fisiese water en sy antwoord so half en half met ’n afjak. “Meneer, jy het nie eens ’n skepding nie, en die put is diep. Waar gaan jy die lewende water vandaan kry? Jy is tog nie tot meer in staat as ons voorvader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie?”

Geliefdes is dit nie hoe dit ook maar in ons lewens gaan nie? Hierdie vrou het ’n behoefte na iets meer in die lewe as wat sy tans het. En dan kom die Here in haar lewe in en wys dit vir haar, maar sy sien dit nog nie raak nie. Hoeveel keer gryp die Here nie in ons lewens in en dan sien ons nie die werklike rede daarvoor raak nie?

Hoeveel maal sien ons net soos hierdie vrou net die fisiese materiële behoeftes raak, maar ons mis die geestelike behoeftes? Here help tog net asb. met hierdie probleem wat ek het. Laat dit asb. tog net beter gaan met my geldsake. Here as ek tog net ’n ander motor kan kry. As dit tog maar net beter met my gesondheid kan gaan. En so raak ons verstrengel in die oppervlakkigheid van die materialistiese hier en nou. Is ons slegs bekommerd oor die tydelike dinge in ons lewens, maar ons mis die dieper geestelike sake wat ewigheidswaarde het.

Jesus raak egter nie ongeduldig met die vrou nie. Hy verduidelik nog verder vir haar dat enige iemand wat maar net van hierdie fisiese water drink, dit wil sê vashaak by die wêreldse dinge maar net weer dors gaan kry. Solank as wat ons, ons geestelike dors met wêreldse dinge probeer les gaan dit nooit geles word nie. Partytjies, drank, dwelms rykdom, mag gaan nooit ons geestelike dors les nie.

Net die lewende water wat Jesus self vir ons gee kan daardie dors les. .....wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.

Die lewende water wat Jesus verniet gee, het Hom baie duur gekos. Hy moes met sy lewe aan ’n vervloekte kruishout daarvoor betaal sodat ons kan lewe. Sodat ons in vrede met mekaar en in vrede met God kan leef. Sodat ons werklik by die dinge kan uitkom wat saak maak in die lewe deur vir mekaar om te gee.

Nou eers besef die vrou waarvan Jesus praat en sy vra vir Hom om vir haar van daardie water te gee. Voordat sy egter van die water kan kry moet daar nog iets gebeur. Sy moet eers haar eie hulpeloosheid vanweë haar sonde raaksien en daarom sê Jesus vir haar: “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.”

Sy probeer nog wegskram deur te sê dat sy nie ’n man het nie, maar daar is niks wat ’n mens vir God kan wegsteek nie. Wanneer Jesus die volle werklikheid vir haar blootlê probeer sy nog ’n maal. Sy maak gebruik van die taktiek wat ons as kinders vervolmaak het. So binne die eerste vyf minute vra iemand vir die wiskunde onnie iets oor die naweek se rugby en voor jy jou oë kan uitvee is die periode om.

So probeer sy om die aandag van haarself af weg te lei met vraag oor waar daar aanbid moet word. Ons doen dit vandag nog geliefdes. So neem ons ook die fokus van Jesus af weg deur ons besig te hou met allerlei kleinighede soos wat die presiese modestyl moet wees waaraan ons kleredrag moet voldoen of watter liedere ons mag en nie mag sing nie of wat die grote moet wees van die houers waaruit ons Nagmaalwyn moet drink.

Jesus laat egter nie toe dat die vrou die fokus verskuif nie. Hy bring die gesprek weer terug na wat werklik saak maak. As ons nie met Gees en in waarheid ons fokus op Jesus gerig hou nie raak ons die spoor byster.

Ons sien ook in hierdie verhaal watter radikale invloed Jesus se lewende water het op die lewe van hierdie vrou. Sy wat uitgestoot was en haarself eenkant gehou het en wat nie eens water saam met die ander vroue by die put water kom haal het nie, gaan nou uit en vertel aan almal wat sy tot nou toe vermy het die Goeie Nuus van die lewende water wat Jesus vir haar gegee het.

As ons eers eenmaal van Jesus se lewende water gedrink het kan ons nie maar net op die ou trant aangaan nie. As Jesus se lewende water nog nie soos ’n fontein in my opborrel en oorloop nie moet ek myself afvra of ek nie nog steeds besig is met die vermydingstaktieke wat hierdie vrou probeer het nie.

Hierdie verhaal hou ook vir elkeen ’n geweldige troos in. As Jesus bereid was om geduldig tyd te spandeer aan ’n vrou wat deur die samelewing eenkant toe gestoot is sodat sy van die lewendgewende water kon drink wat net by Hom beskikbaar is, kan ek ook weet dat Jesus vir my ook van sy lewende water wil gee.

Jesus is soos water wat lewe oor die dor woestyn van my lewe bring. Hierdie verhaal bring elkeen van ons voor ’n besliste keuse. Gaan ek aanvaar dat Jesus die Messias is wat my van die dorre sondeslawerny kom verlos het? En as ek dit aanvaar, is ek bereid om die implikasies daarvan te aanvaar dat ek ’n nuwe lewe saam met God gaan stap? Gaan ek aanvaar dat ek God se wil in my lewe moet aanvaar?

Geliefdes, het jy dors? Kom dan na Jesus toe want Hy gee lewende water aan almal wat dors het.

Amen

Die Wet van God is die spieël waarin ons die werklikheid van ons sonde leer ken

Preek Rom. 3 Sondag 2 op 10 Nov. 2013

Tema: Die Wet van God is die spieël waarin ons die werklikheid van ons sonde leer ken
Ps. 42-2 v 1
Ps. 38-1 v 1 & 17
Sb. 15-1 v 1 - 4
Ps. 130-1 v 1 – 4
Sondag 2
Vraag:  Waaruit ken jy jou ellende?
Antwoord:  Uit die wet van God (a).
(a) Rom 3:20.
Vraag:  Wat eis die wet van God van ons?
Antwoord:  Dit leer Christus ons samevattend in Matteus 22:37-40:  Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.  Dit is die eerste en groot gebod.  En die tweede wat hiermee gelyk staan:  Jy moet jou naaste liefhê  soos jouself.  Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete (a).
(a) Deut 6:5;  Lev 19:18;  Mark 12:30;  Luk 10:27
Vraag:  Kan jy dit alles ten volle nakom?
Antwoord:  Nee (a), want ek is van nature geneig om God en my naaste te haat (b).
(a) Rom 3:10, 20, 23;1 Joh 1:8, 10.  (b) Rom 8:7;  2:3;  Tit 3:3;  Gen 6:5;  8:21;  Jer 17:9;  Rom 7:23.

Inleiding

Ons ly almal aan ’n dodelike siekte! Die probleem is net dat ons dit nie eintlik van self kan agterkom nie. Dit is nie ’n siekte soos griep waar mens duidelik aan die simptome kan voel dat jy siek is nie. Dit is ’n siektetoestand soos byvoorbeeld hoë bloeddruk wat geen simptome wys nie. As die dokter nie jou bloeddruk met ’n bloeddruk apparaat meet nie, kom jy nie sommer agter dat jy aan hoë bloeddruk ly nie. Hierdie siekte is net so, as jy dit nie met ’n eksterne apparaat meet nie, sal jy nie maklik agterkom dat jy daaraan ly nie. Die gevolge van hierdie siekte is egter baie ernstig. As daar nie iets aan gedoen word nie, is daar maar net een uiteinde. Die ewige dood!

Wat is hierdie vreeslike siekte geliefdes?
Dit is die vloek van God wat Hy oor die oor die mensdom uitgespreek het omdat hulle in ’n rebelse sondige opstand teen Hom gerebelleer het. Elke mens wat hieraan skuldig is staan onder doodsvonnis wat deur God in Gen. 2v17 uitgespreek is:
“Die dag as jy van die boom van kennis, goed en kwaad eet sterf jy!”

Alhoewel daar mense is wat dink dat hulle nie aan die vloek onderwerp is nie, is elke mens op aarde skuldig: Rom. 3v10b – 12
10b“Daar is nie een wat regverdig is nie,
selfs nie een nie.
11Daar is nie een wat verstandig is nie;
daar is nie een wat na die wil van God vra nie.
12“Almal het afgedwaal, almal het ontaard.
Daar is nie een wat goed doen nie,
selfs nie een nie.

Die probleem waarmee ons egter hier te make het is dat ons dikwels hierdie vorige teksgedeelte baie onpersoonlik benader. Met ons verstand sê ons baie maklik, ja dit is waar, maar met ons hart aanvaar ons nie werklik dat dit op my persoonlik van toepassing is nie. As iemand vir jou sê dat jy moontlik aan hoë bloeddruk ly gaan ons dit nie sommer meer net so aanvaar nie. Dit is eers wanneer ek by die dokter was en hy my bloeddruk geneem het en op grond daarvan vir my sê dat ek aan hoë bloeddruk ly dat ek dit sal aanvaar.

Hoe weet ons dat ons skuldig staan voor God?
In Sondag 2 van die Heidelbergse Kategismus kry ons ’n goeie riglyn. Daar bely ons met vraag en antwoord 3:
Vraag 3 Waaruit ken jy jou ellende?
Die antwoord is misleidend eenvoudig: Uit die wet van God. Dan kry ons ’n verklaring in vraag en antwoord 4 oor wat die essensie van die Wet van God is, naamlik soos Jesus die wet in Mat. 22:37-40 opsom: Jy moet God bo alles liefhê en jy moet jou naaste soos jouself liefhê. In Vraag en antwoord 5 bely ons dat ons hierdie eenvoudige gebod nie kan nakom nie omdat ons van nature geneig is om God en ons naaste te haat. Soos ek gesê het, misleidend eenvoudig!

Maar as ons werklik by die volle betekenis van hierdie belydenis van ons stilstaan dan is dit nie heeltemal so eenvoudig nie geliefdes! Die saak raak baie ongemaklik, want dit raak my persoonlik. Dit raak ’n aspek van my lewe wat ek liewers nie na vore wil bring nie. Ons wil nie graag hê dat ons sondes en oortredings onder die vergrootglas geplaas moet word nie. Dit is alles in orde wanneer ons na ander se sondes en ellende kyk solank my eie nie deel van die pakket uitmaak nie. In Rom. 3v20b sê God vanoggend vir ons dat die doel van die wet is om juis my sonde aan die lig te bring!
“deur die wet  leer  ’n mens wat sonde  is.”

Daarom gaan ons vanoggend stilstaan by twee aspekte naamlik:
1)    Wat doen die wet van God?
2)    Wat doen die wet van God nie?

Wat doen die wet van God?

Vraag 3 in Sondag twee vra die eenvoudige vraag “Waaruit ken jy jou ellende?” en verskaf dan ’n ewe eenvoudige antwoord “Uit die wet van God”. Solank ons hierdie saak nie as ’n persoonlike saak hanteer nie, bly dit maklik en eenvoudig. Solank dit ander mense se sondes is wat onder die vergrootglas geplaas word is dit maklik. Dit moet net nie na my kant toe kom nie.

Om te keer dat ek onder die vergrootglas geplaas word het ek gewoonlik verskillende verdedigingsmeganismes. Daar is diegene wat sê dat ons tog nie so verknog moet raak aan die wet nie. So het ek byvoorbeeld op ’n keer by iemand gehoor dat hulle van ’n sekere kerk se eredienste hou omdat nie die wet daar voorlees nie. Aan die ander kant gaan ons op “autopilot” wanneer ons wel in ’n erediens is waar die wet voorgelees word. Sodra die ds. die wet begin lees skakel ek af totdat dit verby is. As ek nie toelaat dat die Heilige Gees met my praat deur die wet nie, dan word ek mos nie in die ongemaklike posisie geplaas dat my sondes onder die vergrootglas geplaas word nie.

Nog ’n populêre verdedigingsmeganisme is dat ons, ons goeie hoedanighede voor hou om ons sondes daaragter weg te steek. Ek kom mos gereeld kerk toe. Ek vloek nie en ek drink nie. Kyk net hoe gereeld gee ek iets vir die armes! Noem maar op, daar is baie goeie werke waaragter ek kan wegkruip. Die probleem is dat hierdie strategie soms so goed werk dat ek self nie eers meer eie sondes raak sien! Dit is dan wanneer ek begin dink dat ek so ’n bietjie beter is as ander mense. Dan begin ek so bietjie hooghartig raak en ek begin neersien op die mense om my wat nie aan my maatstawwe voldoen nie. Dan begin ek selfs teenoor God grootdoenerig raak. Kyk net hoe getrou is ek. God kan nie anders as om my te beloon nie.

Dit is op hierdie punt dat ek nie eers meer raaksien hoe liefdeloos ek teenoor God en my naaste is nie! Dit is presies op hierdie punt waar die Jode was toe Paulus die brief aan die Christene in Rome geskryf het. Die Joodse Christene het hulself so ’n bietjie beter as die ander geag. Hulle was mos die uitverkore volk van God aan wie God sy wet gegee het. Is ons nie maar ook in ’n groot mate so nie geliefdes? Ons is mos Doppers wat vashou aan die suiwer woordverkondiging! Ons is so ’n bietjie beter as die ander Christene wat nie saam met ons in die gemeente is nie. Verder is ons nogal baie krities teenoor mekaar wat nie presies met my manier van doen wil saamgaan nie. Paulus skryf vir die Jode wat daardie meerderwaardigheids gevoel het om aan hulle presies te verduidelik wat dit beteken om die wet te hê.
Rom. 3v1
“Het dit dan enige voordeel om ’n Jood te wees, en het die besnydenis enige nut?

In Rom. 3v20 sê Paulus met klem dat geen mens op grond van wetsonderhouding regverdig of onskuldig verklaar sal word nie. Hy voeg daaraan toe: inteendeel, deur die wet leer ’n mens wat sonde is. Die ironie is dat die wet nie in staat is om ’n mens van sonde kwyt te skeld nie soos ons ook bely in vraag en antwoord 5 in Sondag 2.
Kan jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en kan jy jou naaste soos jouself liefhê?

Antwoord:  Nee, want ek is van nature geneig om God en my naaste te haat.

Dit is by hierdie punt dat ons leer wat die wet nie doen nie.

Wat doen die wet van God nie?

Die wet spreek ons nie vry nie. Dit wys juis daarop dat ons tot die dood toe skuldig is. Voordat ek nie by daardie punt kom dat ek besef dat ek vanweë my sonde tot die dood toe skuldig is nie, is ek nie gereed om God se genade te ontvang nie. Solank as wat ek in eiegeregtigheid agter my eie goeie hoedanighede wegkruip is ek nog besmet met die dodelike siekte. Dan is my eie sonde nog steeds ’n doodsvonnis wat bo my kop hang. Dit help nie dat ek met my mond bely dat ek glo in die genade van Jesus Christus terwyl my dade en lewenswandel net mooi die teenoorgestelde bewys nie! Terwyl ek in hierdie doodstoestand verkeer raak die wet van God my nie aan nie en hoor ek dit nie eers wanneer dit in die kerk voorgelees word nie.

Dit is eers wanneer ek deur die wet aan die hart gegryp word en ek werklik voor die besef staan dat ek tot die dood toe skuldig is dat ek by God se genade kan uitkom. Dit is nie ek wat die wet lewendig maak nie, maar wel die Heilige Gees wat dit doen. Eers as ek nie die Gees bedroef nie, kom ek voor die werklikheid van Rom. 3v20 te staan:
Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet  leer  ’n mens wat sonde  is

Voordat ek nie by die punt kom dat ek besef dat ek in myself niks kan doen om God se genade te verdien nie, kan ek ook nie deel daarin nie. Eers wanneer ek besef ek is net so skuldig soos die beste voorbeeld van ’n sondige mens wat ek aan kan dink dat ek reg is vir God se genade. Eers wanneer ek vir seker weet en ten volle verstaan dat ek in my wese in rebelse opstand is teenoor God dat ek kan baat vind by sy genade wat Hy in Rom. 3v21-22 aan ons meedeel.
21Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, 22maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo. 23Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, 24maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.

Dit is ook nie ’n eenmalige proses nie. Ons word wel net eenmaal vrygespreek en weergebore. Christus het net eenmaal aan die kruis vir ons sondes gesterf. Dit is egter nodig dat ons daagliks daaraan herinner moet word, want anders gebeur dit so maklik dat ek in eie geregtigheid hooghartig word en op grond van my eie verdienste aanspraak maak op God se seën en guns. Dan behels my daaglikse bekering niks meer as dat ek dink dat ek elke dag my sokkies moet optrek sodat ek God se wet kan onderhou. Dit is nie wat dit is nie geliefdes. My daaglikse bekering behels dat ek elke dag besef dat ek uit my eie niks voor God kan verdien nie en dat ek maar net op Jesus Christus se soenverdienste en sy oorwinning van die dood moet staatmaak.

Dit is wat die Heilige Gees deur middel van God se wet vir my doen. Dan leef ek uit God se genade en besef ek dat dit wat ek hoe sukkelend ook al in ooreenstemming met God se wet doen, slegs genade is en dat ek daarom geen rede het om op myself te roem of daarom te dink dat ek beter is as iemand wat ook maar net uit God se genade leef nie. Dan sal ek wanneer ek in ’n ander amp as gelowige geroep word uit God se genade onberispelik leef soos Hy in sy Woord vir ons sê. Kom ons hou vas aan die wete dat die Wet van God die spieël is waarin ons die werklikheid van ons sonde leer ken. Dan sal ons inderdaad ook uit genade die lewe begin leef wat God vir ons beplan het.

Amen

Vind rus by Jesus wanneer die sorge van die léwe jou vasdruk

3 Nov. 2013 Mat 11. Fokusgedeelte : Mat. 11:28-30
Lof-Psalm Ps. 92-1:1 & 6
Na Wet Ps. 25-2:5
Na Gebed Ps. 119-2:10 , 11 7 26
Slotsang Ps. 34-1:4 & 5

Inleiding
Verlede Sondag het ons gehoor dat die Sabbat van die Ou Testament ’n heenwysing is na die rus wat ons in Christus vind. Hierdie week gaan ons fokus op HOE ons in Christus moet rus. Om te verstaan hoe ons in Christus moet rus gaan ons in die eerste plek luister na hoekom ons rus nodig het. Daarna gaan ons net weer stilstaan by waar ware rus vandaan kom en laastens gaan ons spesifiek kyk hoe ons moet rus.

Hoekom het ons rus nodig?
Die mense aan wie Jesus hierdie uitnodiging oorspronklik gerig het was die Jode wat gebuk gegaan het onder die swaar las van die wet wat die Fariseërs op hulle neergelê het. Die Fariseërs het daarop aangedring dat mense met intense toewyding elke reël van die wet van Moses tot op die letter moes nakom. Die Fariseërs het ’n lys van 39 dinge opgestel wat op die Sabbat verbode was. Deur vir elke moontlike geval ’n gebod op te stel, wou hulle verseker dat elkeen sou weet wat geoorloof en wat nie geoorloof is nie. Daardie lys was gegrond op die Joodse tradisies en op hulle interpretasie van God se wet.

Volgens die leerstellings van die rabbi’s van daardie tyd moes jy deur die presiese nakoming van die reëls bewys dat jy goed genoeg is vir God. Daar was geen sprake van rus nie, inteendeel dit was BAIE harde werk! Hierdie juk van wettisisme het ’n ondraaglike swaar las om te presteer op die volk geplaas. Daarmee moes jy bewys dat jy goed genoeg is.

Ons is egter tog nie meer gekoppel aan al die Joodse reëls en wette nie, so wat het dit dan nou eintlik met ons te doen? Alhoewel ons nie meer aan die presiese reëls van daardie tyd gebonde is nie, is daar nog steeds ’n druk op ons om te presteer. Net soos die Fariseërs van destyds is daar vandag ook godsdienstige leiers wat ons probeer oortuig dat ons deur ons optrede moet bewys dat ons “goeie” mense is. Verder is dit ook ’n verwagting wat deur ons samelewing geskep word. Daar is nie tyd of plek vir sukkelaars nie. Mense wat nie die pas kan volhou nie word eenkant toe gestoot.

U weet hoe gejaag die lewe is. Selfs die kinders spring dit nie vry nie. Hulle tyd word deesdae so ingedeel dat hulle heel dikwels eers laataand tyd kry om huiswerk te doen. Die druk op kinders om te presteer neem al hoe meer toe. Ouers is ook so besig dat daar min tyd vir die gesin oor is. Man en vrou leef by mekaar verby. Dis nie om dowe neute dat die moderne lewe vergelyk word met ’n muis wat op ’n oefenwieletjie hardloop nie. Jy hardloop jou vrek en jy kom nêrens nie.

Die gejaagde lewe bring mee dat ons geestelik uitgeput raak want daar is nie meer tyd om by die Bron rus en vrede te vind nie. Ons lewens is so volgemaak met die daaglikse aktiwiteite dat daar nie tyd is vir Bybellees nie. Daar is nie tyd vir gebed nie. Dit is wat veroorsaak dat klein dingetjies in die lewe naderhand so oorweldigend raak dat ons nie weet watter kant nie. Wanneer daar dan ’n groot krisis oor ons pad kom word ons heeltemal op die grond neergegooi!

Ons het rus nodig omdat ons nie in eie krag die sorge van die lewe kan oorkom nie.

Waar kry ons rus?
Die Fariseërs was die slim en geleerde mense van daardie tyd, maar ten spyte daarvan kon hulle nie begryp wat die ware doel van die Sabbat was nie. Hulle het op die verkeerde manier probeer om die rus van die Sabbat te vind. Dit wat vir hulle rus moes gee het baie harde werk geword wat nog net meer uitputtend was.

Net soos die Fariseërs soek ons vandag ook maar op die verkeerde plek na rus. Ons soek dit in die najaag van geld en materiële besittings. Ons soek dit in status en erkenning. Wanneer iets in my lewe so belangrik raak dat dit alles anders oorheers is dit ’n gevaarteken dat ek my rus op ’n verkeerde plek soek.

Die ander gevaar is dat ek wel by die regte plek kom soek, maar dat ek dit op ’n verkeerde manier soek. Dit is waar die Fariseërs gestruikel het. Hulle het God met hulle verstand probeer uitredeneer en dit het nie gewerk nie. Wanneer ons beter as God probeer weet moet ons die gevaartekens raaksien. Al wat ons moet doen is om God te vertrou soos wat ’n klein kindjie sy vader en moeder vertrou om vir hom te sorg.

Hoe weet ek dat ek rus op die verkeerde manier soek? Wanneer dit vir my moeite word om God te dien. As dit vir my moeite is om die eredienste by te woon of betrokke te wees by die gemeente se aktiwiteite en ek dit nou maar net doen om die ouderling, eggenoot of ouers tevrede te probeer hou dan weet ek dat ek besig is om my rus op ’n verkeerde manier by God te soek. Die gevolg is natuurlik ook dat ek geen rus kry op die manier nie! Die langtermyn gevolg is dat ek wegraak. Hoeveel van ons broeders en susters is maar net in naam op die lidmaatregister deel van die gemeente? In terme van meelewing met die gemeente is hulle lankal nie meer deel van die kerk nie. As my meelewing met die gemeente vir my moeite is en ek nie werklik rus vind nie, moet ek weet dat die logiese uiteinde is dat ek wegdryf van die kerk af!

Nog ’n teken dat ek op die verkeerde manier rus soek is dat ek so bietjie trots daarop voel dat ek darem nog ’n “goeie” Christen is! Ek kyk so ’n bietjie neer op die ander sondaars. Ek moet so ’n bietjie self ondersoek gaan instel of ek nie ook maar soos die Fariseër bid wat saam met die tollenaar daar in die tempel gaan bid het nie. Klink my gebed dalk soos die Fariseër sin? (Luk. 18:11)
‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie.

Dan moet ek maar weer bietjie mooi gaan luister na wat Jesus daaroor sê soos ons hoor in Luk 18:14 (Lees gerus weer die hele gedeelte Luk 18:9-14
“Ek sê vir julle: Hierdie tollenaar, en nie die Fariseër nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.”

Daar is maar net een plek waar ons rus kan vind en dit is by Jesus Christus soos ons hoor in Mat 11:27:
“My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.

En dit bring ons nou by die vraag:
Hoe moet ons rus?
Met Jesus se uitnodiging: “
Kom  na My toe, almal wat uitgeput  en oorlaai  is, en Ek sal julle rus  gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”
sê Hy vir ons hoe ons dit moet doen.

Kom na My toe:
Begin elke dag met gebed waarin jy jouself en die dag se gebeure aan God se leiding toevertrou. Praat met God (gebed) en luister na Hom (Bybellees). Moenie van jou gebede ’n noodwiel maak waar jy net in tye van krisis van God onthou en dan dringend by Hom smeek om jou te red nie. Moet ook nie van jou gebed ’n inkopielys maak waar jy net vrae en vra dat God aan elke gril en gier van jou moet voldoen nie.

Kommunikeer met Hom. Wanneer mens in ’n ware verhouding met God leef vind jy rus. Dan hanteer jy jou besige dag met die Krag wat God vir jou gee. Dan is dit moontlik om die dinge wat oor jou pad kom (groot en klein) te hanteer met die wete dat God in beheer is. Dan bepaal jy jou prioriteite met God se wysheid en nie met jou eie gebrekkige selfsugtige wysheid nie.

leer van My
Vertrou dat die Here om jou lewe te bestuur. Baseer jou besluite op die beginsels en norme wat Hy in sy Woord vir ons gee. Wanneer jou dag nie presies loop soos beplan nie (wat nogal dikwels gebeur) vertrou die Here en vra na sy wysheid om die veranderde skedule te hanteer.

Ek is sagmoedig en nederig van hart
Baseer jou aksies op Jesus se voorbeeld. Wees sagmoedig en nederig en nie aggressief en arrogant nie. Moenie ongeduldig en gefrustreerd raak nie en moet veral nie jou frustrasie en ongeduld op ander uithaal nie! Wees nog steeds vriendelik, geduldig. Moenie boek hou van die kwaad wanneer ander moedswillig jou dag laat verkeerd loop en jou benadeel nie. Vergewe nog steeds en moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Bly by die waarheid in alles wat jy doen en sê.

Neem my juk, want My juk is sag en my las is lig
Weet dat jy ’n bevoorregte kind van God is wat nie nodig het om vir God en die wêreld te bewys dat jy goed genoeg is nie. Jy hoef nie voor te gee wat jy nie is nie. Jy kan maar net jy wees en weet dat dit goed genoeg is vir God.

Om Jesus se las te dra beteken dat ek weet dat ek ’n kind van God is omdat Christus vir my sondes aan die kruis gesterf het. Dit beteken dat ek weet dat ek nou ’n nuwe herstelde mens is wat na die beeld van God geskep is en dat ek Hom kan eer met alles wat ek doen en sê. My las is lig want ek weet dat die Heilige Gees my dra en help om werklik die lewe te leef wat God vir my beplan het. My las is lig omdat ek God vertrou met die wete dat dit wat Hy oor my pad bring ten goede sal uitwerk en dat Hy in beheer is van my lewe.

Slot
Ons het rus nodig omdat ons nie in eie krag die sorge van die lewe kan oorkom nie. Ons kan net by Jesus Christus ware rus vind. Ons rus in Jesus Christus wanneer ons in ’n verhouding met Hom saamleef deur gereeld met Hom te praat (gebed) en gereeld na Hom te luister (Bybellees). Ons vind rus by Jesus Christus wanneer ons by Hom leer en luister na dit wat Hy vir ons in sy Woord leer. Ons vind rus by Jesus wanneer ons sy voorbeeld van sagmoedigheid en nederig navolg en dat ons nie aggressief en arrogant is nie. Ons vind rus by Jesus wanneer ons sy juk opneem met die wete dat dit sag is en die las lig is omdat ons God ten volle vertrou en die lewe te leef wat Hy vir ons beplan het.

Geliefdes kom ons vind ons rus by Jesus wanneer die sorge van die léwe ons vasdruk
Amen


Hoekom vier ons nie die sabbat op die sewende dag(Saterdag) nie?

27 Okt. 2013 Kol. 2 & Eks 20:8-10. Fokusgedeelte : Kol. 2:16 & Art 25 NGB
Lof-Psalm Ps. 42:1 & 7           (OAB)
Na Wet Ps. 116:3 & 4              (OAB)
Na Gebed Ps. 23:2                   (NAB)
Slotsang Ps. 84:1 & 2              (OAB)

Hoekom vier ons nie die sabbat op die sewende dag(Saterdag) nie? As die Here ons dan in Eksodus 20:10 uitdruklik beveel om die sabbat op die sewende dag te vier, waarom vier Christene dan nou die Sondag (eerste dag van die week) en nie die Saterdag (sewende dag van die week) nie?

Ons word al hoe meer gekonfronteer met die aanklag dat Christene wat nie die sewende dag as sabbat vier nie, besig is om die vierde gebod te oortree en dat hulle daarom doemwaardig is. Die aanklag is verder ook dat die Sondag wat vandag gevier word by die kerke, 'n heidense feesdag ter ere van die Songod is. Dit was Konstantyn gewees wat die Christendom met die heidendom wou laat verbaster, wat die Sondag ingevoer het en die Roomse kerk was hom behulpsaam om dit te laat geskied.

Om hierdie vraag te beantwoord gaan ons luister na wat die Here ons in die Skrif oor die sabbat leer en nie net by een versie wat buite konteks gebruik word, vashaak nie. Die woord Sabbat beteken "rus". So het God dit na die skeppingsdae ingestel en dan staan daar dat God gerus het. Vandaar die Sabbat en na aanleiding van God se rus, word nou ook in die vierde gebod bepaal dat die mens moet rus.

Indien ons die Ou Testament onbevange lees, moet erken dat die nadruk nie juis val op uitwendige seremonies nie, maar juis op die inhoudelike. God eis nie offerandes nie, maar gehoorsaamheid en oorgawe van hart. (Ps. 51:18-19)
’n Offer vra U nie, anders sou ek dit bring; ’n brandoffer wil U nie hê nie. Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God.

Op dieselfde wyse antwoord Christus aan die Samaritaanse vrou, as dit gaan oor Jerusalem of Gerisim, "Daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid". (Joh. 4:23). Dit gaan dus nie oor uitwendige dinge, soos die plek as sodanig nie. Ewe-eens gaan dit nie oor dag en datum nie, maar oor aanbidding in gees en waarheid. Inderdaad, Paulus voeg hieraan toe "Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees". (Rom. 14:5).

Jesus en sy dissipels het die Sabbat vergeestelik, verdiep, dit in die heilsopenbaring 'n eie plek gegee het. Dit gaan tog nie om die Sabbat as sodanig nie, maar om die mens en sy verhouding tot God. Waarlik daar sou tog baie geleenthede gewees het waarop hierdie eenvoudige gebod aan die kerk van die Nuwe Testament as eis sou gestel gewees het en tog is dit nie gedoen nie! As bv. die kerk vir die eerste keer in apostel-samekoms byeen is (Hand. 15), kon tog aan die kerke gesê gewees het: julle moet die Sabbat hou. Maar ons lees iets gans anders. As na Petrus se Pinksterrede die skare in radeloosheid vra: Wat moet ons doen, broeders? (Hand. 1:37), kon Petrus tog geantwoord het: Julle moet op die sewende dag Sabbat hou. Maar ons lees iets gans anders.'

In teenstelling met die voorstaanders van die sewende dag se wense, vind ons juis dat die apostels van die begin af aan op die eerste dag van die week saamgekom het en dit ook genoem het die dag van die HERE. (Hand. 20:7, 1 Kor. 16:2, Openb. 1:10).

Die Christelike Sondag of rusdag word nie verniet op die eerste dag van die week gevier nie. Ons rus in die verdienstes van Christus om daarna uit te gaan om in die krag van Christus te gaan werk. Sondag is opstandingsdag, en dit is 'n opstandingsgeloof wat ons moet kenmerk. Die lewende Christus is ons Middelaar. Hierdie Christus is ons alles en Hy het alles vir ons gedoen: gely, gesterf, begrawe, opgestaan, na die hemel gevaar. Hierdie Christus het ook vir ons en in ons plek gerus. Die wonderlike is juis dat die Skrif weergee dat Christus drie dae in die graf was: Vrydag, Saterdag en Sondag. Van hierdie drie dae was Hy net die hele Saterdag in die graf. Dit is die Sabbatdag van die Ou Testament. Christus volbring die Sabbatsgebod deur volkome op die Sabbat te rus. En nadat Hy gerus het, staan Hy op die eerste dag, vroeg in die môre op.

Die rus is voltooi, soos sy offer aan die kruis vir ons voltooi is. Ons mag en moet nou rus in al die verkreë verdienstes van ons Here en Meester. Daar is vir die kerk van die Nuwe Testament net één rusdag, die rus op die eerste dag van die week, die rus in die opgestane Heiland.

Wat bely ons hieroor?
Artikel 25 NGB
Die seremoniële wet in Christus vervul
Ons glo dat die seremonies en heenwysings na die wet met die koms van Christus opgehou het en dat alle voorafskaduwing tot 'n einde gekom het.  Die gebruik daarvan moet derhalwe onder die Christene afgeskaf word.  Die waarheid en inhoud daarvan bly nogtans vir ons in Christus Jesus bestaan:  in Hom het hierdie seremonies en heenwysings juis hulle vervulling.  Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van die wet en die profete te gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig.

Hierdie belydenis staan op die Woord van God.
Moenie dat iemand julle mislei nie
Kol 2:16-23
16Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. 17Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus. 18Moenie dat iemand wat behae skep in danige nederigheid en in die aanbidding van engele en wat voorgee dat hy allerhande visioene gesien het, julle daarmee mislei nie. So iemand verhef hom oor wat hy in eiewaan van homself dink, 19en hy hou nie aan die hoof, aan Christus, vas nie. Uit Christus groei die hele liggaam, ondersteun deur die gewrigte en saamgebind deur die spiere, soos God dit laat groei.
20Julle het saam met Christus gesterwe en is dus dood vir die wettiese godsdienstige reëls van hierdie wêreld. Waarom lewe julle dan nog asof julle aan hierdie wêreld behoort? Waarom gehoorsaam julle allerhande voorskrifte 21soos: “Hieraan mag jy nie vat nie!” “Daaraan mag jy jou mond nie sit nie!” “Daaraan mag jy nie raak nie!”?22Dit gaan alles oor dinge wat bedoel is om gebruik te word en te vergaan, en dit is maar net gebooie en leerstellings van mense. 23Hierdie leerstellings het wel ’n skyn van wysheid met hulle selfgemaakte godsdiens, danige nederigheid en streng beheersing van die liggaam, maar dit het geen waarde vir die beteueling van die sondige drifte nie.

Christus alleen is die Middelaar. Hy alleen is waaragtig God en waaragtig mens. Hy alleen kan en het die wil van God volkome volbring. Hy alleen het vir ons versoening met sy Vader bewerk. Deur die geloof in Christus alléén is ons geregverdig – onskuldig verklaar voor die aangesig van God en ons gewete. Die geloof self is geen verdienste nie – alleen maar ’n middel aan ons gegee deur die Heilige Gees om die verdienste van Christus vir ons toe te eien. Selfs ons werke, dade en liefdesbetoning wat van ons kom, bewerk die Heilige Gees ook maar in ons.

Christus bepaal die inhoud en betekenis van die Sabbat. Met sy kruisiging het Hy die rus van die Sabbat voltooi en daarom word die eerste dag as opstandingsdag van die Christus herdenk. (vgl. Hand 20:7: En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag sou vertrek, en hy het sy rede gerek tot middernag toe. Ou Vertaling of Ons het die Sondag bymekaargekom vir die gemeenskaplike maaltyd)
1 Kor. 16:2 : Elke Sondag moet elkeen van julle na sy vermoë tuis iets opsy sit en dit opspaar, sodat die geldinsameling nie eers plaasvind as ek kom nie.

God se doel met die rusdag is nie om die lewe moeilik te maak en in te perk nie. Christus se dissipels het self are gepluk en geëet op die Sabbat (Vgl. Mat 12:1-8). Omdat Christus die wet volkome vervul het, kan elke gelowige nou sy rus in Christus vind. Die rus wat die gelowige vind is die vrede en wete dat hy/sy in Christus volkome geregverdig is en daarom kan niemand hom/haar voor God aankla nie. Wat Christus verwag is ’n dankbaarheidslewe in gehoorsaamheid met sy gebod om liefde aan mekaar te bewys en daarmee liefde vir God te betoon. Hy verwag nie die nakom van reël op reël of dit mag jy en dit mag jy nie. As die inhoud van die Sabbat bestaan uit ’n klomp moets en moenies, dan word die rus in Christus in die Sabbat gemis.


Kom ons vind ons rus in die verdienste van Christus sodat ons hiervandaan kan uitgaan om die krag van Christus in sy koninkryk te werk.                                         
Amen

Jesus moet meer word en ons minder

Joh. 3:22 - 36; teksverse Joh. 3:30 & 36
20 Okt. 2013 GKE
Lof-Psalm Sb 4-6
Na Wet Ps. 86 v 1 , 3 & 6 (OAB)
Na Gebed Sb 15-7 v 4
Slotsang Sb 3-4 v 1 & 5
Inleiding
Een van die mees basiese behoeftes by die mens is die soeke na erkenning. Daardie soeke daarna dat mense weet en erken dat ek ook iets beteken. Daardie behoefte om te weet dat ek spesiaal is en dat mense dit raaksien. Daar is niks fout daarmee nie, inteendeel dit is hoe God ons geskep het. Hy sê tog vir ons dat ons vir Hom kosbaar is. Dis ’n tema wat soos ’n goue draad dwarsdeur die Bybel loop dat God vir die mens omgee.

Die probleem kom egter in dat die sonde hierdie soeke van die mens skeefgetrek het. In plaas daarvan dat die mens op God fokus om hierdie basiese behoefte te bevredig, fokus hy op homself en omdat die mens op homself fokus word hierdie behoefte nooit bevredig nie. Dit laat daardie leë gevoel by jou en daardie stemmetjie in jou kop wat vir jou sê “jy is nie goed genoeg nie!” Dit is ook iets wat jy om die dood toe teenoor niemand wil erken nie en daarom ontstaan daar allerlei negatiewe maniere om jouself te handhaaf en daardie bang klein mensie wat agter die bravade wegkruip weg te steek. Die wêreld mag net nie sien hoe ek regtig voel nie! Ek moet ten alle koste agter ’n masker wegkruip en seker maak dat die mense daarbuite vir my die nodige erkenning gee!

Die manier waarop jy jouself handhaaf is deur aggressie wat ook fisiese geweld kan insluit. As mense jou haat sal jy terug haat. As hulle seermaak sal jy terug seermaak. As hulle diskrimineer sal jy ook. As hulle vloek sal jy ook. As hulle liefdeloos optree sal jy ook. Ek moet seker maak dat mense weet hoe belangrik ek is en hulle durf nie waag om dit nie te wys nie! Ek dwing my gesag op mense af.

Die probleem is dat hierdie negatiewe benadering nie geluk bring nie. Maak nie saak hoe suksesvol ek is om mense te kul met hierdie masker van my nie. Ek weet wie skuil daar agter! Met hierdie benadering is daar nie plek vir God in my lewe nie, selfs al gee ek ook voor dat daar is, want dit gaan om my en my eer. As daar egter nie plek vir God is nie bly daar ’n diep leemte in my wat deur niks anders bevredig kan word nie, maak nie saak hoe hard ek probeer nie.

Hoe bevredig ek hierdie ingeskape drang binne in my na aanvaarding? In ons teksgedeelte gee die Here gee vir ons ’n antwoord op hierdie vraag. Ek moet minder word. Ek moet hierdie eie belangrikheid en selfhandhawing van my prysgee! In die plek daarvan moet Jesus meer word. Vreemd soos dit mag klink lê die antwoord daarin dat Jesus meer moet word en ons minder.

Ek moet minder word!
Dis die enigste manier uit die spiraal van negatiwiteit en minderwaardigheid te ontsnap, om los te breek uit hierdie spiraal van aggressie waar ek op mense trap om bo te kom. Ek moet my eie selfopgelegde status waarvoor ek so hard baklei opgee. Dan hoef ek nie meer voor te gee dat dit goed gaan nie.

Met Johannes die Doper se reaksie wanneer sy volgelinge na hom te kom en sê:
“Rabbi, Hy wat oorkant die Jordaan by u was, van wie u getuig het, weet u, Hy doop ook, en almal gaan na Hom toe.”
wys die Here vir ons hoe ons dit moet doen. Vir ’n kort rukkie voor Johannes gevang is en in die tronk gesit is het hy en Jesus ’n parallelle bediening gehad. Nou het daar ’n woordewisseling tussen Johannes se volgelinge en ’n Jood ontstaan oor die reiniging. In hierdie woordewisseling wil Johannes se volgelinge seker maak dat sy status gehandhaaf word deur hom teenoor Jesus te wil afspeel. Hulle wil bevestiging hê dat Johannes se doop beter is as die doop wat deur Jesus se dissipels gedoen word.

Hierdie reaksie van Johannes se volgelinge is tipies die gedrag wat mens waarneem wanneer mens op ’n negatiewe manier jouself wil handhaaf. Om my belangrikheid te bewys moet ek dit ten koste van iemand anders doen. Om bo te kom moet ek op die mense onder my trap!

Ek is seker dat Johannes se volgelinge verbaas en dalk ook teleurgesteld was met Johannes se reaksie toe hulle vir hom kom vertel dat die mense al hoe meer agter Jesus aanloop. In Joh. 3:30 hoor ons egter wat is die regte manier om my eie waarde as mens te handhaaf:
Hy moet meer word en ek minder.
Wanneer ek ten koste van mense myself handhaaf is ek in opstand teen God.

Johannes verduidelik die beginsel aan sy volgelinge deur gebruik te maak van ’n beeld wat die verhouding tussen ’n bruidegom en die vriend van die bruidegom. In vandag se terme sal ons praat van die bruidegom en sy strooijonker. Die vriend van die bruidegom het ’n baie belangrike taak gehad. Hy moes sorg dat al die rëelings vir bruilofsfunksie getref word. Wanneer die bruilof egter op hande was, het hy teruggestaan. Nou was dit nie meer hy wat belangrik is nie. Die kollig was nou op die bruidegom gerig.

Geliefdes, dis wat ons moet doen. Ons eie eer en belangrikheid moet terugstaan sodat die fokus nie op my nie, maar wel op God gerig word. Ek moet minder word en Jesus moet meer word in my lewe.

Jesus moet meer word
Hoe kry mens dit reg om af te sien van jou eie eer en belangrikheid? In Joh. 3:36 sê die Here vir ons:
Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom.”
Wie in Jesus glo het die ewige lewe. Wie nie glo nie aanvaar nie God se gesag in sy lewe nie en daarom is hy ook ongehoorsaam aan God. Ons moet nie die waarskuwing wat die Here hier vir ons gee ligtelik opneem nie. Wie Jesus verwerp is onderworpe aan God se straf.

Wat moet ons dan glo? Wat beteken dit om in die Seun te glo? In Joh. 3:31-35 sê die Here vir ons wat ons moet glo. Ons moet glo dat Jesus deur God gestuur is. Ons moet glo in die hemelse oorsprong van Jesus, met ander woorde ons moet glo dat Hy self ook God is en daarom kan Hy die verlossingswerk doen waarvoor God Hom gestuur het. Ons moet glo dat dit wat Jesus vir ons vertel in die Bybel God se boodskap aan die mensdom is en dat die evangelie dit wil sê die goeie nuus dat Jesus gekom het om ons van ons sondes te verlos die waarheid is. Ons moet glo dat die Heilige Gees ook God is en dat Jesus die Gees in sy plek gestuur het na sy hemelvaart. Jesus was deur die Gees gelei terwyl Hy op aarde was en net so moet ons ook aan die Gees gehoorsaam wees. Ons moet gehoorsaam wees aan die Gees geïnspireerde woord van God. Ek moet God se gesag in my lewe aanvaar.

Die belofte wat die Here vir ons gee is dat ons die ewige lewe sal ontvang. Wanneer Jesus meer word in ons lewe sal ons waarlik lewe. Die ewige lewe wat ons ontvang begin nou reeds. Wat beteken die ewige lewe vir ons? Daar is ’n verandering in my lewe. Dit beteken dat as ek Christus volg sal ek sy goedkeuring en erkenning ontvang. Dat ek as 'n leier sal uitstaan al ken niemand my nie, want wanneer ek gehaat word, het ek lief. Wanneer ek seergemaak word, vergewe ek. Wanneer ek gevloek word, seën ek. Wanneer almal in die duisternis leef, staan ek in die lig.

Die ewige lewe beteken dat ek my hart na God draai en Hom alleen ten volle vertrou om my te dra wanneer ek krisisse moet hanteer. Dat ek verstaan dat ware vrede nie afhang van die gebrek aan probleme in my lewe nie, maar dit afhang van God se teenwoordigheid in my lewe. Dan sal ek ervaar dat die belofte wat die Here vir ons in Jes. 40:31 gee ook vir my waar is:
dié wat op die Here vertrou , kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.

Dan vertrou ek dat selfs binne in die grootste krisis in my lewe die Here in beheer van sake is. As ek daar by die dokter se spreekkamer uitstap met die nuus dat ek ook ’n slagoffer is van daardie gevreesde siekte sal ek vertrou dat die Here my sal dra op die pad vorentoe. Dat ek die vaste wete het dat selfs as die ergste in hierdie lewe gebeur dat dit nie die einde is nie, maar dat die dood slegs ’n heerlike deurgang na God is waar ek vir ewig saam met Hom sal wees sonder trane, hartseer, pyn en dood.

Wanneer Jesus meer word kan ek God vertrou om beheer van my lewe te neem en dat ek nie ten alle koste self in beheer moet wees nie.

Slot
Hoe bevredig ek hierdie ingeskape drang na aanvaarding binne in my? Jesus moet meer word en ek minder. Ek moet minder word deur my eie eer en belangrikheid terug te laat staan sodat die fokus nie meer op my nie, maar wel op God gerig word. Ek moet in Jesus Christus en sy verlossingwerk in my lewe glo sodat Hy meer kan word in my lewe. Dan kan ek vashou aan sy belofte dat ek die ewige lewe ontvang, dit wil sê die vaste wete dat ek my lewe met vertroue aan God kan oorgee met die vrede in my dat God my sal dra selfs deur die grootste krisis in my lewe. Dat ek die vaste wete het dat selfs as die ergste in hierdie lewe gebeur dat dit nie die einde is nie, maar dat die dood slegs ’n heerlike deurgang na God is waar ek vir ewig saam met Hom sal wees sonder trane, hartseer, pyn en dood.

Geliefdes kom ons gee die beheer van ons lewens aan God oor deur self minder te word sodat Jesus meer kan word.

Amen

God is met ons wanneer dit goed gaan en Hy dra ons wanneer ons swaarkry

Gen. 39; teksverse Gen. 39 v 2 ; 20 en 21
13 Okt. 2013 GKE
Lof-Psalm Ps. 9 v 1 & 7 (OAB)
Na Wet Ps. 25 v 1 & 2 (OAB)
Na Gebed Ps. 30 v 1 (OAB)
Slotsang Ps. 34 v 1 , 2 & 5 (OAB)

Inleiding

Dinge werk in hierdie lewe werk nie altyd uit soos ons wil hê dit moet nie. Soms droom ons groot drome van wat ons in die lewe wil bereik en baie gevalle werk daardie droom nie uit nie. Hoe bly mens staande wanneer jou drome in skerwe by jou voete lê?

Wat het van Josef se drome geword? Hy het hierdie visie gekry dat hy ’n heerser gaan wees en waar staan hy nou? ’n Slaaf![1] Wat het hy nou eintlik gedoen om dit te verdien? Hy was wel bietjie grootpraterig en ja, hy het sekerlik sy broers geïrriteer met sy klikbek, maar is dit dan nou so erg? Elkeen van ons wat met boeties of sussies te doen het sal weet dat dit is wat boeties of sussies doen. Op ’n stadium dra hulle stories by ma of pa aan wat maar kon gebly het.

As ons mooi na die saak kyk dan sal ons sien dat Josef nie so sleg was nie. Hy was ’n gehoorsame seun wat sonder teenpraat sy pa se opdragte uitgevoer het. Verder was hy pligsgetrou ook. Sy pa het vir hom gesê om sy broers by Sigem te besoek. Toe hy hulle nie daar kry nie, het hy moeite gedoen om uit te vind waar hulle is. Hy het nie tou opgegooi nie. En wat het daarvoor gekry? Hy is as ’n slaaf verkoop. Ons kan ons maar net indink hoe bang en benoud hy moes gewees het. Dink maar net hoe dit vir ’n sewentienjarige seun moes gevoel het om alleen daar op die slawemark as slaaf verkoop te word. In Gen. 42 v 21 hoor ons hoe benoud hy was:
“Dit het ons nou van alles wat ons destyds ons broer aangedoen het. Ons het sy angs gesien toe hy ons om genade gesmeek het, maar ons het nie geluister nie.

Tog gaan dit nie net sleg met Josef nie. In Gen. 39 v 2 hoor ons:
2 Die Here was by Josef en dit het baie goed gegaan met hom. Hy het in die huis van sy eienaar, die Egiptenaar, gebly. 3 Toe Potifar, Josef se eienaar, sien dat die Here by Josef is en dat die Here alles wat Josef aanpak, laat slaag
Dit het so goed gegaan dat Josef die hoofslaaf geword het in Potifar se huis. Josef was in beheer van die hele huishouding en die Here het die huishouding geseën. Ek skat as mens ’n slaaf moet wees dan is dit nogal waar mens wil wees.

En net toe dit begin goed gaan met Josef kom die volgende probleem. Potifar se vrou begin by hom aanlê. Ten spyte daarvan dat hy op ’n mooi manier vir haar gesê het dat dit verkeerd is, het sy aangehou daarmee. (Vgl. Gen. 39v10)
Sy het dag vir dag by Josef aangehou, maar hy het bly weier om by haar te gaan slaap.
Arme Josef. Hy is al weer onskuldig in die moeilikheid want die uiteinde daarvan is dat Potifar se vrou hom aangekla het. Weereens het sy kleed hom in die moeilikheid laat beland net soos die vorige keer wat sy jas wat sy pa vir hom gegee het hom in die moeilikheid by sy broers laat beland het, het sy jas wat Potifar se vrou gegryp het, weereens gesorg dat hy in die moeilikheid is.

Genadiglik spring hy weereens die dood vry, want vir so ’n oortreding het ’n slaaf in daardie tyd die doodstraf gekry. Tog word Josef net in die tronk gegooi. Wat ’n droewige situasie is dit nie geliefdes? Hier sit Josef in die tronk. Net toe dit lyk of dit beter begin gaan tref die ongeluk hom ten spyte daarvan dat hy alles in sy vermoë gedoen het om reg op te tree. Hierdie teks gedeelte word dikwels voorgehou as ’n voorbeeld hoe om seksuele versoekings te weerstaan. Moenie toegee nie, vlug weg daarvan. En ja, ons moenie toegee aan seksuele versoekings nie, maar wat het dit vir Josef in die sak gebring? Tronkstraf en amper weer doodgemaak!

Hoe dikwels gaan dit nie maar met ons ook so nie geliefdes? Hoeveel keer het dit nie al gebeur dat ’n persoon wat ongerymdhede aan die lig bring sy werk verloor nie. Die eerlike persoon word gestraf en die oneerlikes leef maar net lekker voort! Ek is seker dat elkeen van ons al ’n soortgelyke ondervinding gehad het. Ek tree reg op en op die uiteinde word ek as die skuldige gebrandmerk. Potifar se vrou kom skotvry daarvan af en arme Josef moet in die tronk gaan sit! Hy kon homself nie verdedig nie. Onthou hy was ’n slaaf en slawe het geen regte gehad nie. Dit sal nie eens gehelp dat hy sy onskuld probeer bewys nie, want wie gaan nou die woord van ’n slaaf glo? Dit was sy woord teen die vrou van die hoof van die koninklike lyfwag. Hy het nie eens ’n kans gekry om sy kant van die saak te stel nie. Hy is summier net in die tronk gegooi!

En dan hoor ons die wonderlike troos van die Here in Gen. 39 v 20 en 21:
20 ........... Terwyl Josef daar in die tronk was, 21 was die Here by hom, en Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind
Toe hy ’n slaaf was het ons ook gehoor dat die Here by Josef was (Gen. 39 v 2). Nou kom daar ’n ekstra versekering by. “Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind.” Dit is moeilik om die Hebreeuse woord wat met troue liefde vertaal is ten volle in een woord in Afrikaans uit te druk. In die ou Afrikaanse vertaling is dit met goedertierenheid vertaal. Dit kan ook met troue verbondsliefde vertaal word omdat dit daarop dui dat dit liefde is wat die Here Homself voorgeneem het om te betoon. Dis ’n verpligting wat Hy op homself geneem het en dat Hy vasbeslote is om na te kom. Dit is voorwaar ’n besondere liefde en sorg wat die Here hier aan Josef bewys.

Hier in Gen. 39 kry ons tot vier keer die versekering dat die Here by Josef was. Dit is egter belangrik dat ons moet let daarop dat die Here hom nie uit die omstandighede geneem het nie. Hy was nog steeds ’n slaaf en nadat hy in die tronk gegooi was het hy steeds in die tronk gebly. Wat God wel gedoen het was om die omstandighede draaglik te maak. Josef het die hoofslaaf geword en in die tronk het die tronkbewaarder hom in beheer geplaas van al die gevangenes. As ons na die uiteinde van die verhaal kyk dan sien ons hoe God Josef se omstandighede gebruik het om Josef op te lei vir die groot taak wat vir hom voorgelê het. As slaaf daar in Potifar se huishouding en daar in die tronk het Josef die nodige vaardighede aangeleer sodat hy in staat kon wees om Egipte onder die Farao te regeer.

Die Here was met Josef. Die Here is met ons ook. In Mat. 1 v 23 sê die Here vir ons:
“Die maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons.
Jesus Christus het as mens aarde toe gekom. Hy het ’n vervloekte kruisdood gesterf en bange Godverlatenheid verduur sodat ons nooit weer deur God verlaat sal word nie. Na sy hemelvaart het Hy die Heilige Gees in sy plek as Trooster en Helper gestuur sodat ons nooit weer alleen sal wees nie.

Soms beland ons ook onverdiend in die tronke van die lewe. Ek sit in ’n doodloopstraat by my werk. My drome lê aan skerwe en niks wil uitwerk nie. ’n Huwelik wat nie wou werk nie. Hier sit ek eensaam en alleen op my oudag met my kinders wat ver van my af is. Die Here is met ons geliefdes. Hy neem ons nie noodwendig uit die omstandighede uit, maar Hy dra ons daardeur. Alhoewel Josef in beheer geplaas is van die gevangenis, was hy nog steeds in die tronk. Hy is as sewentienjarige seun vir ’n slaaf verkoop toe en hy het eers op dertigjarige ouderdom uit die tronk gekom.

Die Here haal ons nie noodwendig uit slegte omstandighede uit nie, maar Hy dra ons daardeur na iets beter. Soms kan dit ’n lang tyd neem, maar ons weet dat God besig is om ons voor te berei vir iets beter. In sommige gevalle is die iets beter eers in die volgende bedeling wanneer ons ewig saam met God gaan wees sonder hartseer, trane pyn of dood. Daarom geliefdes, hou vas aan die hoop want ons weet dat God met ons is wanneer dit goed gaan en dat Hy ons dra wanneer ons swaarkry.
Amen




[1] (Gen. 39v1) Potifar, ’n amptenaar van die Farao en hoof van die lyfwag, ’n Egiptenaar van geboorte, het vir Josef by die Ismaeliete gekoop wat hom Egipte toe gevat het.