Wys tans plasings met die etiket soeke na erkenning. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket soeke na erkenning. Wys alle plasings

12 Desember 2013

Jesus moet meer word en ons minder

Joh. 3:22 - 36; teksverse Joh. 3:30 & 36
20 Okt. 2013 GKE
Lof-Psalm Sb 4-6
Na Wet Ps. 86 v 1 , 3 & 6 (OAB)
Na Gebed Sb 15-7 v 4
Slotsang Sb 3-4 v 1 & 5
Inleiding
Een van die mees basiese behoeftes by die mens is die soeke na erkenning. Daardie soeke daarna dat mense weet en erken dat ek ook iets beteken. Daardie behoefte om te weet dat ek spesiaal is en dat mense dit raaksien. Daar is niks fout daarmee nie, inteendeel dit is hoe God ons geskep het. Hy sê tog vir ons dat ons vir Hom kosbaar is. Dis ’n tema wat soos ’n goue draad dwarsdeur die Bybel loop dat God vir die mens omgee.

Die probleem kom egter in dat die sonde hierdie soeke van die mens skeefgetrek het. In plaas daarvan dat die mens op God fokus om hierdie basiese behoefte te bevredig, fokus hy op homself en omdat die mens op homself fokus word hierdie behoefte nooit bevredig nie. Dit laat daardie leë gevoel by jou en daardie stemmetjie in jou kop wat vir jou sê “jy is nie goed genoeg nie!” Dit is ook iets wat jy om die dood toe teenoor niemand wil erken nie en daarom ontstaan daar allerlei negatiewe maniere om jouself te handhaaf en daardie bang klein mensie wat agter die bravade wegkruip weg te steek. Die wêreld mag net nie sien hoe ek regtig voel nie! Ek moet ten alle koste agter ’n masker wegkruip en seker maak dat die mense daarbuite vir my die nodige erkenning gee!

Die manier waarop jy jouself handhaaf is deur aggressie wat ook fisiese geweld kan insluit. As mense jou haat sal jy terug haat. As hulle seermaak sal jy terug seermaak. As hulle diskrimineer sal jy ook. As hulle vloek sal jy ook. As hulle liefdeloos optree sal jy ook. Ek moet seker maak dat mense weet hoe belangrik ek is en hulle durf nie waag om dit nie te wys nie! Ek dwing my gesag op mense af.

Die probleem is dat hierdie negatiewe benadering nie geluk bring nie. Maak nie saak hoe suksesvol ek is om mense te kul met hierdie masker van my nie. Ek weet wie skuil daar agter! Met hierdie benadering is daar nie plek vir God in my lewe nie, selfs al gee ek ook voor dat daar is, want dit gaan om my en my eer. As daar egter nie plek vir God is nie bly daar ’n diep leemte in my wat deur niks anders bevredig kan word nie, maak nie saak hoe hard ek probeer nie.

Hoe bevredig ek hierdie ingeskape drang binne in my na aanvaarding? In ons teksgedeelte gee die Here gee vir ons ’n antwoord op hierdie vraag. Ek moet minder word. Ek moet hierdie eie belangrikheid en selfhandhawing van my prysgee! In die plek daarvan moet Jesus meer word. Vreemd soos dit mag klink lê die antwoord daarin dat Jesus meer moet word en ons minder.

Ek moet minder word!
Dis die enigste manier uit die spiraal van negatiwiteit en minderwaardigheid te ontsnap, om los te breek uit hierdie spiraal van aggressie waar ek op mense trap om bo te kom. Ek moet my eie selfopgelegde status waarvoor ek so hard baklei opgee. Dan hoef ek nie meer voor te gee dat dit goed gaan nie.

Met Johannes die Doper se reaksie wanneer sy volgelinge na hom te kom en sê:
“Rabbi, Hy wat oorkant die Jordaan by u was, van wie u getuig het, weet u, Hy doop ook, en almal gaan na Hom toe.”
wys die Here vir ons hoe ons dit moet doen. Vir ’n kort rukkie voor Johannes gevang is en in die tronk gesit is het hy en Jesus ’n parallelle bediening gehad. Nou het daar ’n woordewisseling tussen Johannes se volgelinge en ’n Jood ontstaan oor die reiniging. In hierdie woordewisseling wil Johannes se volgelinge seker maak dat sy status gehandhaaf word deur hom teenoor Jesus te wil afspeel. Hulle wil bevestiging hê dat Johannes se doop beter is as die doop wat deur Jesus se dissipels gedoen word.

Hierdie reaksie van Johannes se volgelinge is tipies die gedrag wat mens waarneem wanneer mens op ’n negatiewe manier jouself wil handhaaf. Om my belangrikheid te bewys moet ek dit ten koste van iemand anders doen. Om bo te kom moet ek op die mense onder my trap!

Ek is seker dat Johannes se volgelinge verbaas en dalk ook teleurgesteld was met Johannes se reaksie toe hulle vir hom kom vertel dat die mense al hoe meer agter Jesus aanloop. In Joh. 3:30 hoor ons egter wat is die regte manier om my eie waarde as mens te handhaaf:
Hy moet meer word en ek minder.
Wanneer ek ten koste van mense myself handhaaf is ek in opstand teen God.

Johannes verduidelik die beginsel aan sy volgelinge deur gebruik te maak van ’n beeld wat die verhouding tussen ’n bruidegom en die vriend van die bruidegom. In vandag se terme sal ons praat van die bruidegom en sy strooijonker. Die vriend van die bruidegom het ’n baie belangrike taak gehad. Hy moes sorg dat al die rëelings vir bruilofsfunksie getref word. Wanneer die bruilof egter op hande was, het hy teruggestaan. Nou was dit nie meer hy wat belangrik is nie. Die kollig was nou op die bruidegom gerig.

Geliefdes, dis wat ons moet doen. Ons eie eer en belangrikheid moet terugstaan sodat die fokus nie op my nie, maar wel op God gerig word. Ek moet minder word en Jesus moet meer word in my lewe.

Jesus moet meer word
Hoe kry mens dit reg om af te sien van jou eie eer en belangrikheid? In Joh. 3:36 sê die Here vir ons:
Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom.”
Wie in Jesus glo het die ewige lewe. Wie nie glo nie aanvaar nie God se gesag in sy lewe nie en daarom is hy ook ongehoorsaam aan God. Ons moet nie die waarskuwing wat die Here hier vir ons gee ligtelik opneem nie. Wie Jesus verwerp is onderworpe aan God se straf.

Wat moet ons dan glo? Wat beteken dit om in die Seun te glo? In Joh. 3:31-35 sê die Here vir ons wat ons moet glo. Ons moet glo dat Jesus deur God gestuur is. Ons moet glo in die hemelse oorsprong van Jesus, met ander woorde ons moet glo dat Hy self ook God is en daarom kan Hy die verlossingswerk doen waarvoor God Hom gestuur het. Ons moet glo dat dit wat Jesus vir ons vertel in die Bybel God se boodskap aan die mensdom is en dat die evangelie dit wil sê die goeie nuus dat Jesus gekom het om ons van ons sondes te verlos die waarheid is. Ons moet glo dat die Heilige Gees ook God is en dat Jesus die Gees in sy plek gestuur het na sy hemelvaart. Jesus was deur die Gees gelei terwyl Hy op aarde was en net so moet ons ook aan die Gees gehoorsaam wees. Ons moet gehoorsaam wees aan die Gees geïnspireerde woord van God. Ek moet God se gesag in my lewe aanvaar.

Die belofte wat die Here vir ons gee is dat ons die ewige lewe sal ontvang. Wanneer Jesus meer word in ons lewe sal ons waarlik lewe. Die ewige lewe wat ons ontvang begin nou reeds. Wat beteken die ewige lewe vir ons? Daar is ’n verandering in my lewe. Dit beteken dat as ek Christus volg sal ek sy goedkeuring en erkenning ontvang. Dat ek as 'n leier sal uitstaan al ken niemand my nie, want wanneer ek gehaat word, het ek lief. Wanneer ek seergemaak word, vergewe ek. Wanneer ek gevloek word, seën ek. Wanneer almal in die duisternis leef, staan ek in die lig.

Die ewige lewe beteken dat ek my hart na God draai en Hom alleen ten volle vertrou om my te dra wanneer ek krisisse moet hanteer. Dat ek verstaan dat ware vrede nie afhang van die gebrek aan probleme in my lewe nie, maar dit afhang van God se teenwoordigheid in my lewe. Dan sal ek ervaar dat die belofte wat die Here vir ons in Jes. 40:31 gee ook vir my waar is:
dié wat op die Here vertrou , kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.

Dan vertrou ek dat selfs binne in die grootste krisis in my lewe die Here in beheer van sake is. As ek daar by die dokter se spreekkamer uitstap met die nuus dat ek ook ’n slagoffer is van daardie gevreesde siekte sal ek vertrou dat die Here my sal dra op die pad vorentoe. Dat ek die vaste wete het dat selfs as die ergste in hierdie lewe gebeur dat dit nie die einde is nie, maar dat die dood slegs ’n heerlike deurgang na God is waar ek vir ewig saam met Hom sal wees sonder trane, hartseer, pyn en dood.

Wanneer Jesus meer word kan ek God vertrou om beheer van my lewe te neem en dat ek nie ten alle koste self in beheer moet wees nie.

Slot
Hoe bevredig ek hierdie ingeskape drang na aanvaarding binne in my? Jesus moet meer word en ek minder. Ek moet minder word deur my eie eer en belangrikheid terug te laat staan sodat die fokus nie meer op my nie, maar wel op God gerig word. Ek moet in Jesus Christus en sy verlossingwerk in my lewe glo sodat Hy meer kan word in my lewe. Dan kan ek vashou aan sy belofte dat ek die ewige lewe ontvang, dit wil sê die vaste wete dat ek my lewe met vertroue aan God kan oorgee met die vrede in my dat God my sal dra selfs deur die grootste krisis in my lewe. Dat ek die vaste wete het dat selfs as die ergste in hierdie lewe gebeur dat dit nie die einde is nie, maar dat die dood slegs ’n heerlike deurgang na God is waar ek vir ewig saam met Hom sal wees sonder trane, hartseer, pyn en dood.

Geliefdes kom ons gee die beheer van ons lewens aan God oor deur self minder te word sodat Jesus meer kan word.

Amen