Joh. 3:22 - 36; teksverse
Joh. 3:30 & 36
20 Okt. 2013 GKE
Lof-Psalm Sb 4-6
Na Wet Ps. 86 v 1 , 3
& 6 (OAB)
Na Gebed Sb 15-7 v 4
Slotsang Sb 3-4 v 1
& 5
Inleiding
Een
van die mees basiese behoeftes by die mens is die soeke na erkenning. Daardie
soeke daarna dat mense weet en erken dat ek ook iets beteken. Daardie behoefte
om te weet dat ek spesiaal is en dat mense dit raaksien. Daar is niks fout
daarmee nie, inteendeel dit is hoe God ons geskep het. Hy sê tog vir ons dat ons
vir Hom kosbaar is. Dis ’n tema wat soos ’n goue draad dwarsdeur die Bybel loop
dat God vir die mens omgee.
Die
probleem kom egter in dat die sonde hierdie soeke van die mens skeefgetrek het.
In plaas daarvan dat die mens op God fokus om hierdie basiese behoefte te
bevredig, fokus hy op homself en omdat die mens op homself fokus word hierdie
behoefte nooit bevredig nie. Dit laat daardie leë gevoel by jou en daardie
stemmetjie in jou kop wat vir jou sê “jy is nie goed genoeg nie!” Dit is ook
iets wat jy om die dood toe teenoor niemand wil erken nie en daarom ontstaan
daar allerlei negatiewe maniere om jouself te handhaaf en daardie bang klein
mensie wat agter die bravade wegkruip weg te steek. Die wêreld mag net nie sien
hoe ek regtig voel nie! Ek moet ten alle koste agter ’n masker wegkruip en
seker maak dat die mense daarbuite vir my die nodige erkenning gee!
Die
manier waarop jy jouself handhaaf is deur aggressie wat ook fisiese geweld kan
insluit. As mense jou haat sal jy terug haat. As hulle seermaak sal jy terug
seermaak. As hulle diskrimineer sal jy ook. As hulle vloek sal jy ook. As hulle
liefdeloos optree sal jy ook. Ek moet seker maak dat mense weet hoe belangrik
ek is en hulle durf nie waag om dit nie te wys nie! Ek dwing my gesag op mense
af.
Die
probleem is dat hierdie negatiewe benadering nie geluk bring nie. Maak nie saak
hoe suksesvol ek is om mense te kul met hierdie masker van my nie. Ek weet wie
skuil daar agter! Met hierdie benadering is daar nie plek vir God in my lewe
nie, selfs al gee ek ook voor dat daar is, want dit gaan om my en my eer. As
daar egter nie plek vir God is nie bly daar ’n diep leemte in my wat deur niks
anders bevredig kan word nie, maak nie saak hoe hard ek probeer nie.
Hoe
bevredig ek hierdie ingeskape drang binne in my na aanvaarding? In ons
teksgedeelte gee die Here gee vir ons ’n antwoord op hierdie vraag. Ek moet
minder word. Ek moet hierdie eie belangrikheid en selfhandhawing van my
prysgee! In die plek daarvan moet Jesus meer word. Vreemd soos dit mag klink lê
die antwoord daarin dat Jesus meer moet word en ons minder.
Ek
moet minder word!
Dis
die enigste manier uit die spiraal van negatiwiteit en minderwaardigheid te
ontsnap, om los te breek uit hierdie spiraal van aggressie waar ek op mense
trap om bo te kom. Ek moet my eie selfopgelegde status waarvoor ek so hard
baklei opgee. Dan hoef ek nie meer voor te gee dat dit goed gaan nie.
Met
Johannes die Doper se reaksie wanneer sy volgelinge na hom te kom en sê:
“Rabbi, Hy wat oorkant die
Jordaan by u was, van wie u getuig het, weet u, Hy doop ook, en almal gaan na
Hom toe.”
wys
die Here vir ons hoe ons dit moet doen. Vir ’n kort rukkie voor Johannes gevang
is en in die tronk gesit is het hy en Jesus ’n parallelle bediening gehad. Nou
het daar ’n woordewisseling tussen Johannes se volgelinge en ’n Jood ontstaan
oor die reiniging. In hierdie woordewisseling wil Johannes se volgelinge seker
maak dat sy status gehandhaaf word deur hom teenoor Jesus te wil afspeel. Hulle
wil bevestiging hê dat Johannes se doop beter is as die doop wat deur Jesus se
dissipels gedoen word.
Hierdie
reaksie van Johannes se volgelinge is tipies die gedrag wat mens waarneem
wanneer mens op ’n negatiewe manier jouself wil handhaaf. Om my belangrikheid
te bewys moet ek dit ten koste van iemand anders doen. Om bo te kom moet ek op
die mense onder my trap!
Ek
is seker dat Johannes se volgelinge verbaas en dalk ook teleurgesteld was met
Johannes se reaksie toe hulle vir hom kom vertel dat die mense al hoe meer
agter Jesus aanloop. In Joh. 3:30 hoor ons egter wat is die regte manier om my
eie waarde as mens te handhaaf:
Hy moet meer word en ek minder.
Wanneer
ek ten koste van mense myself handhaaf is ek in opstand teen God.
Johannes
verduidelik die beginsel aan sy volgelinge deur gebruik te maak van ’n beeld
wat die verhouding tussen ’n bruidegom en die vriend van die bruidegom. In
vandag se terme sal ons praat van die bruidegom en sy strooijonker. Die vriend
van die bruidegom het ’n baie belangrike taak gehad. Hy moes sorg dat al die
rëelings vir bruilofsfunksie getref word. Wanneer die bruilof egter op hande
was, het hy teruggestaan. Nou was dit nie meer hy wat belangrik is nie. Die
kollig was nou op die bruidegom gerig.
Geliefdes,
dis wat ons moet doen. Ons eie eer en belangrikheid moet terugstaan sodat die
fokus nie op my nie, maar wel op God gerig word. Ek moet minder word en Jesus
moet meer word in my lewe.
Jesus
moet meer word
Hoe
kry mens dit reg om af te sien van jou eie eer en belangrikheid? In Joh. 3:36
sê die Here vir ons:
Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter
aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God
bly op hom.”
Wie
in Jesus glo het die ewige lewe. Wie nie glo nie aanvaar nie God se gesag in sy
lewe nie en daarom is hy ook ongehoorsaam aan God. Ons moet nie die waarskuwing
wat die Here hier vir ons gee ligtelik opneem nie. Wie Jesus verwerp is
onderworpe aan God se straf.
Wat
moet ons dan glo? Wat beteken dit om in die Seun te glo? In Joh. 3:31-35 sê die
Here vir ons wat ons moet glo. Ons moet glo dat Jesus deur God gestuur is. Ons
moet glo in die hemelse oorsprong van Jesus, met ander woorde ons moet glo dat
Hy self ook God is en daarom kan Hy die verlossingswerk doen waarvoor God Hom
gestuur het. Ons moet glo dat dit wat Jesus vir ons vertel in die Bybel God se
boodskap aan die mensdom is en dat die evangelie dit wil sê die goeie nuus dat
Jesus gekom het om ons van ons sondes te verlos die waarheid is. Ons moet glo
dat die Heilige Gees ook God is en dat Jesus die Gees in sy plek gestuur het na
sy hemelvaart. Jesus was deur die Gees gelei terwyl Hy op aarde was en net so
moet ons ook aan die Gees gehoorsaam wees. Ons moet gehoorsaam wees aan die
Gees geïnspireerde woord van God. Ek moet God se gesag in my lewe aanvaar.
Die
belofte wat die Here vir ons gee is dat ons die ewige lewe sal ontvang. Wanneer
Jesus meer word in ons lewe sal ons waarlik lewe. Die ewige lewe wat ons
ontvang begin nou reeds. Wat beteken die ewige lewe vir ons? Daar is ’n
verandering in my lewe. Dit beteken dat as ek Christus volg sal ek sy
goedkeuring en erkenning ontvang. Dat ek as 'n leier sal uitstaan al ken
niemand my nie, want wanneer ek gehaat word, het ek lief. Wanneer ek seergemaak
word, vergewe ek. Wanneer ek gevloek word, seën ek. Wanneer almal in die
duisternis leef, staan ek in die lig.
Die
ewige lewe beteken dat ek my hart na God draai en Hom alleen ten volle vertrou
om my te dra wanneer ek krisisse moet hanteer. Dat ek verstaan dat ware vrede
nie afhang van die gebrek aan probleme in my lewe nie, maar dit afhang van God
se teenwoordigheid in my lewe. Dan sal ek ervaar dat die belofte wat die Here
vir ons in Jes. 40:31 gee ook vir my waar is:
dié wat op die Here vertrou , kry nuwe krag. Hulle
vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak
nie afgemat nie.
Dan
vertrou ek dat selfs binne in die grootste krisis in my lewe die Here in beheer
van sake is. As ek daar by die dokter se spreekkamer uitstap met die nuus dat
ek ook ’n slagoffer is van daardie gevreesde siekte sal ek vertrou dat die Here
my sal dra op die pad vorentoe. Dat ek die vaste wete het dat selfs as die
ergste in hierdie lewe gebeur dat dit nie die einde is nie, maar dat die dood
slegs ’n heerlike deurgang na God is waar ek vir ewig saam met Hom sal wees
sonder trane, hartseer, pyn en dood.
Wanneer
Jesus meer word kan ek God vertrou om beheer van my lewe te neem en dat ek nie
ten alle koste self in beheer moet wees nie.
Slot
Hoe
bevredig ek hierdie ingeskape drang na aanvaarding binne in my? Jesus moet meer
word en ek minder. Ek moet minder word deur my eie eer en belangrikheid terug
te laat staan sodat die fokus nie meer op my nie, maar wel op God gerig word.
Ek moet in Jesus Christus en sy verlossingwerk in my lewe glo sodat Hy meer kan
word in my lewe. Dan kan ek vashou aan sy belofte dat ek die ewige lewe
ontvang, dit wil sê die vaste wete dat ek my lewe met vertroue aan God kan
oorgee met die vrede in my dat God my sal dra selfs deur die grootste krisis in
my lewe. Dat ek die vaste wete het dat selfs as die ergste in hierdie lewe
gebeur dat dit nie die einde is nie, maar dat die dood slegs ’n heerlike
deurgang na God is waar ek vir ewig saam met Hom sal wees sonder trane,
hartseer, pyn en dood.
Geliefdes
kom ons gee die beheer van ons lewens aan God oor deur self minder te word
sodat Jesus meer kan word.
Amen