27 Okt. 2013 Kol. 2 & Eks 20:8-10. Fokusgedeelte : Kol. 2:16 & Art 25
NGB
Lof-Psalm Ps. 42:1
& 7 (OAB)
Na Wet Ps. 116:3
& 4 (OAB)
Na Gebed Ps. 23:2 (NAB)
Slotsang Ps. 84:1
& 2 (OAB)
Hoekom vier ons nie die
sabbat op die sewende dag(Saterdag) nie? As die Here ons dan in Eksodus 20:10
uitdruklik beveel om die sabbat op die sewende dag te vier, waarom vier
Christene dan nou die Sondag (eerste dag van die week) en nie die Saterdag
(sewende dag van die week) nie?
Ons word al hoe meer
gekonfronteer met die aanklag dat Christene wat nie die sewende dag as sabbat
vier nie, besig is om die vierde gebod te oortree en dat hulle daarom
doemwaardig is. Die aanklag is verder ook dat die Sondag wat vandag gevier word
by die kerke, 'n heidense feesdag ter ere van die Songod is. Dit was Konstantyn
gewees wat die Christendom met die heidendom wou laat verbaster, wat die Sondag
ingevoer het en die Roomse kerk was hom behulpsaam om dit te laat geskied.
Om hierdie vraag te
beantwoord gaan ons luister na wat die Here ons in die Skrif oor die sabbat
leer en nie net by een versie wat buite konteks gebruik word, vashaak nie. Die
woord Sabbat beteken "rus". So het God dit na die skeppingsdae
ingestel en dan staan daar dat God gerus het. Vandaar die Sabbat en na
aanleiding van God se rus, word nou ook in die vierde gebod bepaal dat die mens
moet rus.
Indien ons die Ou
Testament onbevange lees, moet erken dat die nadruk nie juis val op uitwendige
seremonies nie, maar juis op die inhoudelike. God eis nie offerandes nie, maar
gehoorsaamheid en oorgawe van hart. (Ps. 51:18-19)
’n Offer
vra U nie, anders sou ek dit bring; ’n brandoffer wil U nie hê nie. Die offer
wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie
gering ag nie, o God.
Op dieselfde wyse antwoord
Christus aan die Samaritaanse vrou, as dit gaan oor Jerusalem of Gerisim, "Daar
kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en
waarheid sal aanbid". (Joh. 4:23). Dit gaan dus nie oor uitwendige
dinge, soos die plek as sodanig nie. Ewe-eens gaan dit nie oor dag en datum
nie, maar oor aanbidding in gees en waarheid. Inderdaad, Paulus voeg hieraan
toe "Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae
gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees". (Rom.
14:5).
Jesus en sy dissipels het
die Sabbat vergeestelik, verdiep, dit in die heilsopenbaring 'n eie plek gegee
het. Dit gaan tog nie om die Sabbat as sodanig nie, maar om die mens en sy
verhouding tot God. Waarlik daar sou tog baie geleenthede gewees het waarop
hierdie eenvoudige gebod aan die kerk van die Nuwe Testament as eis sou gestel
gewees het en tog is dit nie gedoen nie! As bv. die kerk vir die eerste keer in
apostel-samekoms byeen is (Hand. 15), kon tog aan die kerke gesê gewees het:
julle moet die Sabbat hou. Maar ons lees iets gans anders. As na Petrus se
Pinksterrede die skare in radeloosheid vra: Wat moet ons doen, broeders? (Hand.
1:37), kon Petrus tog geantwoord het: Julle moet op die sewende dag Sabbat hou.
Maar ons lees iets gans anders.'
In teenstelling met die
voorstaanders van die sewende dag se wense, vind ons juis dat die apostels van
die begin af aan op die eerste dag van die week saamgekom het en dit ook genoem
het die dag van die HERE. (Hand. 20:7, 1 Kor. 16:2, Openb. 1:10).
Die Christelike Sondag of
rusdag word nie verniet op die eerste dag van die week gevier nie. Ons rus in
die verdienstes van Christus om daarna uit te gaan om in die krag van Christus
te gaan werk. Sondag is opstandingsdag, en dit is 'n opstandingsgeloof wat ons
moet kenmerk. Die lewende Christus is ons Middelaar. Hierdie Christus is ons
alles en Hy het alles vir ons gedoen: gely, gesterf, begrawe, opgestaan, na die
hemel gevaar. Hierdie Christus het ook vir ons en in ons plek gerus. Die
wonderlike is juis dat die Skrif weergee dat Christus drie dae in die graf was:
Vrydag, Saterdag en Sondag. Van hierdie drie dae was Hy net die hele Saterdag
in die graf. Dit is die Sabbatdag van die Ou Testament. Christus volbring die
Sabbatsgebod deur volkome op die Sabbat te rus. En nadat Hy gerus het, staan Hy
op die eerste dag, vroeg in die môre op.
Die rus is voltooi, soos
sy offer aan die kruis vir ons voltooi is. Ons mag en moet nou rus in al die verkreë
verdienstes van ons Here en Meester. Daar is vir die kerk van die Nuwe
Testament net één rusdag, die rus op die eerste dag van die week, die rus in
die opgestane Heiland.
Wat bely ons hieroor?
Artikel 25 NGB
Die
seremoniële wet in Christus vervul
Ons glo dat die seremonies
en heenwysings na die wet met die koms van Christus opgehou het en dat alle
voorafskaduwing tot 'n einde gekom het.
Die gebruik daarvan moet derhalwe onder die Christene afgeskaf word. Die waarheid en inhoud daarvan bly nogtans
vir ons in Christus Jesus bestaan: in
Hom het hierdie seremonies en heenwysings juis hulle vervulling. Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van
die wet en die profete te gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook om
ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig.
Hierdie belydenis staan op
die Woord van God.
Moenie dat iemand julle
mislei nie
Kol 2:16-23
16Daarom moet julle nie dat
iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie of
dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag
moet vier nie. 17Dit is alles maar net die skaduwee van wat
sou kom; die werklikheid is Christus. 18Moenie dat iemand wat behae
skep in danige nederigheid en in die aanbidding van engele en wat voorgee dat hy
allerhande visioene gesien het, julle daarmee mislei nie. So iemand verhef hom
oor wat hy in eiewaan van homself dink, 19en hy hou nie aan die
hoof, aan Christus, vas nie. Uit Christus groei die hele liggaam, ondersteun
deur die gewrigte en saamgebind deur die spiere, soos God dit laat groei.
20Julle het saam met
Christus gesterwe en is dus dood vir die wettiese godsdienstige reëls van
hierdie wêreld. Waarom lewe julle dan nog asof julle aan hierdie wêreld
behoort? Waarom gehoorsaam julle allerhande voorskrifte 21soos:
“Hieraan mag jy nie vat nie!” “Daaraan mag jy jou mond nie sit nie!” “Daaraan
mag jy nie raak nie!”?22Dit gaan alles oor dinge wat bedoel is
om gebruik te word en te vergaan, en dit is maar net gebooie en leerstellings
van mense. 23Hierdie leerstellings het wel ’n skyn van wysheid met
hulle selfgemaakte godsdiens, danige nederigheid en streng beheersing van die
liggaam, maar dit het geen waarde vir die beteueling van die sondige drifte
nie.
Christus alleen is die
Middelaar. Hy alleen is waaragtig God en waaragtig mens. Hy alleen kan en het
die wil van God volkome volbring. Hy alleen het vir ons versoening met sy Vader
bewerk. Deur die geloof in Christus alléén is ons geregverdig – onskuldig
verklaar voor die aangesig van God en ons gewete. Die geloof self is geen
verdienste nie – alleen maar ’n middel aan ons gegee deur die Heilige Gees om
die verdienste van Christus vir ons toe te eien. Selfs ons werke, dade en
liefdesbetoning wat van ons kom, bewerk die Heilige Gees ook maar in ons.
Christus bepaal die inhoud
en betekenis van die Sabbat. Met sy kruisiging het Hy die rus van die Sabbat
voltooi en daarom word die eerste dag as opstandingsdag van die Christus
herdenk. (vgl. Hand 20:7: En op die eerste dag van die week, toe die
dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat
hy die volgende dag sou vertrek, en hy het sy rede gerek tot middernag toe.
Ou Vertaling of Ons het die Sondag bymekaargekom vir die gemeenskaplike
maaltyd)
1 Kor. 16:2 : Elke
Sondag moet elkeen van julle na sy vermoë tuis iets opsy sit en dit opspaar,
sodat die geldinsameling nie eers plaasvind as ek kom nie.
God se doel met die rusdag
is nie om die lewe moeilik te maak en in te perk nie. Christus se dissipels het
self are gepluk en geëet op die Sabbat (Vgl. Mat 12:1-8). Omdat Christus die
wet volkome vervul het, kan elke gelowige nou sy rus in Christus vind. Die rus
wat die gelowige vind is die vrede en wete dat hy/sy in Christus volkome
geregverdig is en daarom kan niemand hom/haar voor God aankla nie. Wat Christus
verwag is ’n dankbaarheidslewe in gehoorsaamheid met sy gebod om liefde aan
mekaar te bewys en daarmee liefde vir God te betoon. Hy verwag nie die nakom
van reël op reël of dit mag jy en dit mag jy nie. As die inhoud van die Sabbat bestaan
uit ’n klomp moets en moenies, dan word die rus in Christus in die Sabbat
gemis.
Kom ons vind ons rus in
die verdienste van Christus sodat ons hiervandaan kan uitgaan om die krag van
Christus in sy koninkryk te werk.
Amen