24 Augustus 2025

Vertrou God vir uitkoms, veral wanneer die lewe nie sin maak nie.

  “Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.

Skrif: Genesis 22:1-19

Teksvers Gen. 22:6-8

Geliefdes, vertrou jy die Here? Wanneer ons met so ’n vraag gekonfronteer word sal ons sekerlik elkeen antwoord: “Ja, natuurlik vertrou ek die Here.”

Maar geliefdes, sal jy die Here vertrou as Hy vir jou sou vra:

“Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.”

As ons net oppervlakkig na hierdie verhaal kyk, dan kan ons maklik die oppervlakkige morele les daarin lees dat Abraham die Here vertrou het ten spyte daarvan dat die Here die ondenkbare van hom gevra het en dat ons net soos Abraham dit ook moet doen.

Geliefdes, dit is NIE wat die Here vir hier in hierdie gedeelte sê nie!

Dit gaan nie hier daaroor dat ons die Here moet vertrou op grond van wat Abraham gedoen het nie. Ons moet die Here vertrou op grond van wat Hy self vir ons gedoen het.

Die sleutel tot die verstaan van hierdie gedeelte vind ons reeds in Gen. 22:1 waar ons hoor dat God vir Abraham op die proef wou stel. Die Hebreeuse woord wat met “op die proef wou stel” vertaal is, beteken letterlik om die egtheid of karakter van iemand te ondersoek. Dit was ’n toets om sy hartsgesindheid te openbaar.

God het dit nie gedoen om enige voordeel daaruit te ontvang nie. God het nie offers van mense nodig nie. Dit was ter wille van Abraham se geloofsgroei. Toe Abraham nog daar in Ur die land van die Galdeërs gewoon het, het die Here hom geroep om Hom te volg en Abraham het die Here inderdaad gevolg.

Hier moet Abraham leer wat dit beteken om die Here end uit te volg en daardie les is nie om die ondenkbare te doen nie! Die toets kom nadat die Here ’n verbond met Abraham gesluit het en sy beloftes van seën vir Abraham, sy nageslag en deur hulle vir al die nasies, gegee het.

Hierdie toets was nie dat Abraham die toets moes slaag om die Here se seën te ontvang nie. Wanneer die Here ons geloof toets, dan doen Hy dit sodat ons kan sien hoe vorder ons in geloof. ’n Geloofstoets wys vir jou waar jy staan en dit sluit gewoonlik moeite en swaarkry in.

Hierdie toets was vir Abraham ’n bevestiging van sy se verhouding met God. Hier wys die Here vir Abraham dat hy Hom onvoorwaardelik kan vertrou.

Net soos die Here vir Abraham geroep het om Hom te volg, het Hy elkeen van ons wat glo geroep om Hom te volg. Die vraag wat ons vir onsself moet afvra is: “Vertrou ek die Here genoeg dat ek Hom steeds sal volg, selfs wanneer die lewe nie meer sin maak nie.

Wanneer ons kyk na wat die Here hier vir Abraham gevra het, moet ons verstaan dat Hy baie meer gevra het as dat Abraham net sy kind moes doodmaak. Dit is inderdaad iets verskrikliks om te vra, maar dit wat die Here van Abraham gevra het, is nog baie meer as dit.

Isak was Abraham se eersgeborene van die verbond, die seun van sy belofte soos ons hoor in Gen. 17:19

Maar God het gesê: “Inteendeel, Sara, jou vrou gaan vir jou 'n seun in die wêreld bring, en jy moet hom Isak noem. Ek sal my verbond met hom handhaaf, as 'n ewige verbond vir sy nageslag ná hom.

Die eersgeborene het in die tyd van Abraham ’n spesiale status gehad. Hy was die verteenwoordiger van die familie wat die naam, identiteit en verantwoordelikheid van die familie gedra het en hy was die waarborg van die familie se toekoms en voortbestaan.

Dit is dus nie net die lewe van sy kind wat God gevra het nie. Hy het die hele identiteit, toekoms en voortbestaan van die gesin gevra. God het absoluut alles gevra.

God het egter nog meer as dit ook gevra. Isak het nie net Abraham se nageslag verteenwoordig nie, maar die hele verbondslinie. Sy dood sou die toekoms van die verbond beëindig!

Dink net watter gemoedstryd Abraham moes deurmaak terwyl hy en Isak op pad was na die offerplek toe.

Geliefdes, die lewe maak nie altyd sin nie. Dit kon vir Abraham geen sin gemaak het dat God Isak se lewe gevra het na sy beloftes van seën wat in Isak gevestig was nie, want Isak se dood sou die einde van die verbond beteken.

Ten spyte daarvan het Abraham die Here vertrou. Terwyl hulle op pad was het Isak vir Abraham gevra: “Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer?”

Ek kan myself net indink hoe Abraham moes gevoel het by die aanhoor van hierdie vraag. En in sy antwoord, “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.” Sê Abraham: “ek weet nie seun, maar ek vertrou dat die Here weet.”

Die dieper betekenis van die Hebreeuse woord wat hier met “voorsien” vertaal is, is

- Die Here sien die behoefte.

- Hy sal daarop reageer.

- Hy sal voorsien wat nodig is.

Wat is dit wat Abraham laat voortgaan het op daardie tog? Wat het vir hom die krag gegee om dit te kon doen? Dit is verseker nie sy motivering gewees om vir God te bewys dat hy sterk en vasberade genoeg is nie.

Wat hom in staat gestel het om voort te gaan op daardie tog was sy absolute vertroue op die Here. Daardie vertroue dat die Here die behoefte sien. Die vertroue dat die Here sal reageer en voorsien wat nodig is.

Geliefdes, wanneer die lewe jou in die grond in druk, dan is dit nie jou eie krag wat jou staande gaan hou nie. Wanneer die lewe jou omdop, dan hoef jy nie te probeer sterk wees nie.

Wat jou regop gaan hou, wat jou gaan optel wanneer jy op die grond lê, is jou geloof en vertroue dat die Here jou behoefte raaksien. Daardie sekere wete dat Hy daar is, dat jy nie alleen is nie. Jou absolute vertroue dat Hy sal reageer en voorsien wat nodig is.

Abraham se vertroue was nie tevergeefs nie. Toe hy die mes optel om vir Isak te slag, het die Engel van die Here hom gekeer en die Here het ram voorsien wat Abraham in die plek van Isak kon offer.

Wanneer jy hierdie verhaal lees, verstaan mooi. God vra nie kinderoffers nie. Daardie ram was ’n heenwysing na die ware offerlam net soos al die offers in die Ou Testament heenwys na die enigste offerlam wat geoffer is om die wêreld van die ellende van sonde te verlos.

In Joh. 1:16 hoor ons Johannes die Doper sê:

Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

God het sy belofte aan Abraham gestand gedoen. Isak het bly leef en uit sy nageslag is Jesus gebore wat as die Lam van God die sonde van die wêreld weggeneem het. Die HERE het inderdaad in hom al die nasies geseën deur sy Seun te stuur sodat daar versoening tussen God en sondaars kan plaasvind.

God het nie van Abraham verwag om sy seun te offer nie. In sy versoek het hy profeties heengewys dat Hy as ons Vader sy Seun in ons plek aan die kruis geoffer het.

In Hebreërs 11:17-19 hoor ons dat Abraham gereed gestaan het om Isak te offer omdat hy daarvan oortuig was dat God by magte is om uit die dood op te wek. Deur die kragvolle werking van die Heilige Gees het God Jesus opgewek uit die dood en sodoende die mag van die dood verbreek.

Dit is nie jou deursettingsvermoë of krag wat jou optel wanneer die lewe jou omgooi nie. Dit is ook nie dat jy vir God moet bewys dat jy sterk is nie. Dis jou geloof in Jesus Christus wat aan jou die krag gee om God te vertrou dat Hy sal voorsien.

Hierdie verhaal van Abraham en Isak wys vir ons dat ons op God kan vertrou. Die motivering daarvoor is nie dat Abraham God vertrou het en dat ons net soos hy dit ook moet doen nie. Abraham se optrede is nie die motivering nie! In hierdie verhaal wys die Here ons wat Hy gedoen vir ons gedoen het. Hy het sy Seun gestuur om as die Lam van God aan die kruis geoffer te word en DIT is die motivering waarom ons Hom kan en moet vertrou.

Wanneer jy onder beproewing staan, hoef jy nie vir God te wys hoe sterk jy is nie. Beproewings versterk jou geloof sodat jy in vertroue aan God se genade in Jesus Christus kan vashou.

Vertrou God vir uitkoms, veral wanneer die lewe nie sin maak nie.

Amen


17 Augustus 2025

By Jesus is daar rus vir jou onrustige gemoed

 

Skriflesing Mat. 11:25-30 tv 28

 25Daardie tyd het Jesus gesê: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. 26Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.

27“My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.

28“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”

Die een ding in die lewe waaroor ons seker kan wees is dat dit nie sonder sorge is nie. Niemand van ons kan sê dat hy geen bekommernisse het nie. Elkeen van ons het een of ander bekommernis waaroor ons, ons kwel.

Sommige se bekommernisse is groter as ander, maar elkeen het sy eie bekommernisse. Dit is hierdie sorge van die lewe wat ons van gemoedsrus beroof. Dit keer dat ons werklik ware vrede beleef.

By elke mens is daar ’n soeke om van hierdie onrus ontslae te raak. Sommige soek dit in geld en besittings. Ander soek dit drank of selfs dwelms. Party mense soek dit in aansien en roem of om so vêr as moontlik teen die korporatiewe leer te vorder. Ongelukkig bring nie een van hierdie metodes ware vrede vir die mens nie. Die enigste plek waar mens ware rus en vrede vind is by Jesus Christus.

Die sorge van die lewe

Ons teksvers beskryf vir ons wat die sorge van die lewe aan ’n mens doen:

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is

Die sorge van die lewe maak mens uitgeput        en dit oorlaai jou. Die Griekse woord wat met “uitgeput” vertaal is beteken letterlik om emosioneel afgemat te wees as gevolg van ’n groot worstelstryd.

Dit gaan hier oor meer as net fisiese uitputting. Dis daardie emosionele en geestelike uitputting wat die lewe op jou plaas wanneer dinge net nie meer sin maak nie. Wanneer die lewe net te veel word en jy weet nie watter kant toe nie.

Dit beskryf daardie punt in mens se lewe waar jy moed opgee omdat jy nie kans sien om aan te gaan nie. Daardie punt waar die lewe vir jou net te veel word. En dit is omdat jy oorlaai is met bekommernisse en moeilike lewensomstandighede.

Elkeen se bekommernisse is uniek en verskil van mekaar. Dit wat vir my na iets onbenulligs lyk is vir die volgende persoon ’n groot bekommernis en probleem. Die effek daarvan is egter dieselfde naamlik dat dit ’n mens eventueel uitput en oorlaai.

Daar is maar net een rede waarom die sorge en bekommernisse van die lewe so swaar op mens rus. Sonde! My eie sonde en ook die effek wat ander mense se sonde op my lewe het. Ons leef in ’n gebroke wêreld waar sonde ’n direkte en indirekte effek op elkeen van ons het. My sondige en selfsugtige optrede raak my negatief en dit raak die mense om my negatief. Die mense om my se sondige selfsug raak my negatief.

Die oorsprong van ons sorge vind ons in die gebrokenheid van hierdie wêreld. Die uiteinde van sonde is dat dit tussen jou en God kom staan. En dit is op die uiteinde die werklike rede van onvrede en onrus in ’n jou lewe.

Wat is die oplossing vir die sorge van die lewe?

Geld, besittings, aansien, drank of die ander alternatiewe wat die wêreld bied, bring nie rus en vrede van die sorge van die lewe nie.

Ons kan alleen ware rus by Jesus vind.

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”

Wanneer Jesus sê: “Kom na My toe” is dit meer as om net te glo. Dit is ’n uitnodiging om Hom te ken en deur Hom God te vind.

Wanneer Jesus sê: “Ek sal julle rus gee” dan is dit baie meer as net fisiese rus. Dit is ’n uitnodiging vir iemand wat geestelik vermoeid is, om innerlike vrede, verlossing van sonde, en herstel van die siel te vind. Jesus bied verligting vir elkeen wat onder die las van sonde, skuld, en wettisisme gebuk gaan.

Die Sabbat van die Ou Testament is ’n heenwysing na die volheid van die rus wat gelowiges in Jesus Christus vind. Christus roep ons om op te hou werk vir verlossing en rus te vind in God se genade deur die voltooide werk van Christus te vind.

Jesus se uitnodiging is om volledig in elke aspek van jou lewe aan Hom te behoort soos wat ons ook in Sondag 1 van die Heidelbergse Kategismus bely: “My enigste troos in lewe en in sterwe is dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort”

Jesus nooi ons uit om die vervulling van ons diepste behoefte by Hom te vind. Dit is om in gemeenskap met God te leef.

Wanneer Jesus sê: “Neem My juk op julle…” dan gebruik Hy die voorbeeld van die houtraam wat twee osse verbind het.

Jesus gebruik hier ’n voorbeeld uit die landbou van sy tyd. Die juk het twee osse verbind sodat hulle gesamentlik die las kon dra en saamtrek. Jesus gebruik dit as voorbeeld om te verduidelik dat Hy saam met jou die laste van die lewe deel. Jy hoef nie die swaarkry in die lewe alleen te dra nie, want Jesus dra dit saam met jou.

Die juk het verseker dat die osse saamwerk en dat hulle in lyn in dieselfde rigting getrek het. Wanneer jy Jesus se juk opneem, dan bring jy jou siel in lyn met Christus se leer en karakter en jy beweeg in dieselfde rigting as Hy.

Die juk het gesorg dat die twee diere ewe swaar trek. Wanneer jy Jesus se juk opneem dan dra Hy die swaarste las. Jesus neem nie die swaarkry van die lewe weg nie, maar Hy maak dit draaglik omdat Hy dit saam met jou dra.

Die trekosse moes hulle aan die juk onderwerp. Jesus se juk vra van jou nederigheid en dat jy gewillig moet wees om van Hom te leer en wanneer jy dit doen word jy geestelik vervul met rus en vrede en wat alle verstand te bowe gaan.

Wanneer Jesus sê dat sy juk ‘sag’ is, dan sê Hy dat dit goed vir jou sal wees en dat jy vrede daarin sal vind om aan iemand goed, liefdevol en geduldig verbind te wees.

Wanneer Jesus sê: “kom leer van My” dan bedoel Hy nie net kennis nie. Hy nooi ons uit om Hom te volg en sy dissipels te wees.

Dit is nie moeilik om Jesus se volgeling te wees nie, want Hy is nie hardhandig nie, maar sagmoedig en nederig van hart.

Samevatting

Wanneer jou lewenspad te swaar word. Wanneer die lewe nie meer sin maak nie, kom vind jou rus by Jesus, want om by Jesus rus te vind en Hom te volg verander jou lewe. Jesus se juk is nie ’n las nie, maar ’n lewenspad onder sy leiding.

Dit beteken:

•   Jy loop saam met Hom, nie alleen nie.

•   Jy onderwerp jou aan sy wysheid, nie aan die wêreld se eise nie.

•   Sy juk is draaglik omdat Hy dit saam met jou dra.

Deur die tekens van brood en wyn wys die Here vir ons op ’n besonderse wyse hoe om na Jesus toe te kom om rus te vind.

Die heilige Nagmaal is ’n misterie wat baie dieper is as die sigbare tekens van brood en wyn. Met Nagmaal troos die Here ons op ’n sigbare wyse met die wete dat jy deel in die lewe wat Christus met sy lyde, sterwe en opstanding verwerf het.

Deur die Nagmaal versterk die Heilige Gees ons geloof sodat ons die vrede en rus vir ons gemoed kan ervaar wat Christus vir ons in Mat 11:29 belowe.

Kom na Jesus toe almal wat uitgeput en oorlaai is, want by Jesus is daar rus vir jou onrustige gemoed.

Amen

15 Augustus 2025

Wat is die mens dan dat U aan hom dink?

 

Psalm 8

1Vir die koorleier: met musiek.

'n Psalm van Dawid.

2Here, ons Here,

hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde,

hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!

3Kinders en suigelinge besing die magtige werk

wat U tot stand gebring het.

So word u teëstanders,

die vyande en wraakgieriges, tot swye gebring.

4As ek u hemel aanskou,

die werk van u vingers,

die maan en die sterre waaraan U 'n plek gegee het,

5wat is die mens dan

dat U aan hom dink,

die mensekind dat U na hom omsien?

6U het hom net 'n bietjie minder as 'n hemelse wese gemaak

en hom met aansien en eer gekroon,

7U laat hom heers oor die werk van u hande,

U het alles aan hom onderwerp:

8skape en beeste, alles;

selfs die diere in die veld,

9die voëls in die lug,

en die visse in die see

wat die oseane deurkruis.

10Here, ons Here,

hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!


Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!

Wanneer mens na die grootsheid van God se Skepping kyk, dan bring dit die gedagte na vore dat die mens nietig en onbelangrik is.

Wanneer ons kyk na hoe glansryk alles is wat God in die hemelruim geplaas het, dan sien ons die grootsheid van God se almag.

In vergelyking met die grootte van ons son is die aarde maar net ’n klein kolletjie. Ons son is maar een van ongeveer 200 biljoen sterre binne die melkweg sterrestelsel. Binne die sigbare heelal; met ander woorde dit wat ons kan waarneem; is daar bereken dat daar ongeveer 2000 triljoen sterre stelsels is wat elkeen biljoene sterre in het. Dis maar net wat ons kan waarneem met die beste teleskope wat ons tans het.

Maar daar is nog meer as dit. Buiten dit wat ons kan waarneem, strek die heelal in oneindigheid uit. In vergelyking met die ondenkbare groot hoeveelheid sterre en planete in die heelal is die aarde nie eers ’n stofdeeltjie nie.

As ons die hemel aanskou, die werk van die Here se vingers, die maan en die sterre waaraan Hy 'n plek gegee het, kan ons inderdaad saam met Dawid vra:

“wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?”

Die antwoord van die sekulêre denke van ons tyd op hierdie vraag is dat die aarde en die mens geen spesiale betekenis op die groot kosmiese skaal het nie, en inderdaad staan die heelal onverskillig teenoor ons bestaan.

Met ander woorde, binne die groter skema van dinge het jou lewe volgens die sekulêre denke, geen betekenis nie. Wat ’n troostelose boodskap is dit vir jou oor die betekenis van jou eie lewe? Wat ’n troostelose boodskap is dit vir iemand wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het?

Teenoor hierdie troostelose boodskap van die wêreld sê die Here vir ons:

U het hom net 'n bietjie minder as 'n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp:

Psalm 8 begin met lofprysing vir die Here wat hierdie ondenkbare groot en wonderbaarlike heelal waarin ons woon, geskep het. En dit sê vir ons dat God groter is as die verbysterende groot skepping.

In vergelyking met die grootsheid van God en sy skepping is die mens niks. Maar dit is juis hierin waarin ons troos vind in die wonder van God se genade dat Hy juis aan sulke mense dink en na hul omsien.

Dieselfde mens wat niks is nie, beklee ’n ereplek binne God se skepping. God het hom net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak. Hy kroon hom met aansien en eer. Hy maak ons nietige mensies konings en Hy stel ons aan om namens Hom te regeer.

Dit sê vir ons iets van hoe spesiaal die neerbuigende liefde en goedheid van God teenoor die mens is.

In die Nuwe Testament word Psalm 8 ook op verskeie plekke aangehaal om te wys hoe spesiaal ons werklik vir God is en hoe diep sy liefde werklik vir ons strek. Byvoorbeeld in Heb. 2:5-9 hoor ons:

5Dit is nie aan engele dat Hy die toekomstige wêreld, waarvan ons praat, onderwerp het nie. 6Inteendeel, iemand het êrens getuig en gesê:

“Wat is 'n mens dat U aan hom dink,

'n mensekind dat U na hom omsien?

7U het hom 'n kort tydjie minder as die engele gemaak; U het hom met heerlikheid en eer gekroon;

8U het alles aan hom onderwerp.”

By die onderwerping van alle dinge aan die mens is niks uitgesluit nie. Alles is aan hom onderwerp. Nou sien ons nog nie dat alle dinge reeds aan die mens onderwerp is nie. 9Maar ons sien Jesus, met eer en heerlikheid gekroon op grond van sy lyding en dood. Hy is 'n kort tydjie minder gemaak as die engele, sodat Hy deur die genade van God vir almal sou sterwe.

In sy oorspronklike konteks verwys Psalm 8 na die mensdom in die algemeen, as God se verteenwoordiger op aarde. As gevolg van die sonde het hierdie verhouding skipbreuk gely.

Christus vervul die oorspronklike roeping van die mens om oor die skepping te heers en deur sy lyding herstel Hy die mens se waardigheid en roeping.

Psalm 8 vra: “Wat is die mens dat U aan hom dink?” In Hebreërs 2:8&9 is die antwoord: “Kyk na Jesus.” Hy is die volmaakte mens, die ware beeld van God, en deur Hom word ons roeping en waardigheid herstel.

Ons hoor hier dat ons so spesiaal vir God is dat Hy Homself in die persoon van Jesus Christus verneder het tot die status van ’n nietige mens sodat ons, ons roeping kan vervul waarvoor God ons geskep het.

In 1 Kor. 15:25-27 word Psalm 8 ook aangehaal om nog verder vir ons te wys hoe spesiaal ons werklik vir God is:

25Hy moet as koning heers totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het. 26Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27Daar staan immers geskrywe: “Alles het Hy aan Hom onderwerp.

Die dood is die finale vyand van God se skepping en van die mens en daarom hou dit vir ons so ’n verskrikking in.

Hier hoor ons dat Christus deur sy opstanding die mag van die dood gebreek het en daarom hoef gelowiges nie meer bang te wees vir die dood nie. Deur ons geloof in Jesus Christus heers ons saam met Hom oor die dood. Selfs die dood kan ons nie van die liefde van Christus skei nie.

Vir diegene wat God verwerp, is die dood inderdaad ’n droewige troosteloosheid. Maar vir diegene wat glo dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het is daar hoop. Die Here sê vir ons in 1 Tess. 4:14 dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem.

Die wonderlike troos wat die Here hier vir ons gee, is dat die dood nie die einde is nie. Dit is slegs ’n deurgang na die ewige heerlikheid saam met God. Daarom treur ons nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie. Wanneer ons vir ’n geliefde moet groet, is ons hartseer want hulle plekkie in ons lewens is leeg.

Dit is egter nie ’n moedelose hopeloosheid waarmee ons treur nie. Die Here troos ons met die wete dat daar lewe anderkant die dood is. Om net ’n idee te gee van die ewige lewe saam met God wil ek die volgende illustrasie gebruik. Dink aan ’n potloodstreep wat in die oneindigheid in strek. Ons lewe hier op aarde is slegs ’n potlood kolletjie op daardie lyn.

Elkeen wat in Jesus Christus glo is vir God so kosbaar dat Hy die ewigheid saam met hom wil spandeer.

Wat is die mens dan dat U aan hom dink?

Teenoor die wêreld daarbuite wat vir ons sê dat ons maar net ’n produk is van blote toeval wat geen betekenis het nie, sê God vir ons dat ons oneindig kosbaar is vir Hom.

Die troos van Psalm 8 is dat elkeen wat in Jesus Christus glo SO kosbaar is dat God ’n ewigheid saam met hulle wil spandeer.

Amen



10 Augustus 2025

Vertrou jy die Here?


Lees Daniel 3 - teksverse Dan. 3 v 17 & 18 

Vertrou jy die Here? Dit is 'n vraag wat maklik is om te antwoord wanneer alles goed gaan in jou lewe. Dit is egter moeiliker om hierdie vraag te beantwoord wanneer dit nie so goed gaan nie.

'n Vraag wat nog moeiliker is wat hiermee saamgaan is hoekom vertrou jy op die Here? In hierdie verhaal van Daniel se drie vriende maak die Here dit vir ons duidelik dat ons Hom kan vertrou en ook hoekom ons op Hom moet vertrou.

Koning Nebukadneser van Babilonië was 'n baie magtige koning. In Dan. 2 v 38 hoor ons dat hy oor die hele bewoonde wêreld geheers het. Babel was 'n groot en ryk stad en die koning het hoë aansien gehad. In sy droom van die beeld wat Daniel vir hom uitgelê het word hy verteenwoordig deur die beeld se goue kop. Van al die liggaamsdele van die beeld in sy droom is hy dan ook die belangrikste.

In ons teksgedeelte Daniel 3 hoor ons verder dat hy 'n massiewe goue beeld laat oprig het wat sy onderdane moes aanbid. Dit is nogal ironies as ons in ag neem dat hy in
Dan. 2:47 erken het dat die God wat Daniel en sy vriende aanbid het, die grootste oor al die gode.

Ons moet egter mooi verstaan wat hier met Nebukadneser gebeur het. Hy het God ontmoet deurdat Daniel sy droom uitgelê het, maar hy het homself nie aan God toegewy nie. God was nie vir hom die enigste God nie, maar net nog een van die gode. Hy het nie verwag dat net sy beeld aanbid moes word nie, maar hy het wel verwag dat sy beeld ook aanbid moes word.

Verder is dit duidelik dat daar ook 'n bietjie hoogmoed by hom aanwesig was. Hy is tog immers as die belangrikste deel van die beeld in sy droom. Daarom het hy ook besluit om 'n beeld te laat oprig wat as 'n god aanbid en vereer moes word deur sy onderdane. Daardeur sou hy as skepper van die beeld dan ook vereer word.

Dit is ook belangrik dat ons let op hoe hy sy onderdane gemotiveer het om die beeld te aanbid. Aan die een kant d.m.v. oorreding. Musiek is gewoonlik iets aangenaam en vrolik en dit is wat hy as positiewe motivering gebruik het soos ons hoor in Dan. 3 v 5. Aan die ander kant het hy hulle met vrees dwing om die beeld te aanbid. Wie die beeld nie aanbid nie, sou in 'n vuuroond verbrand word.

Daniel se drie vriende het egter ten spyte van die positiewe en negatiewe motivering vas bly staan en nie die beeld aanbid nie. Dit is ook belangrik dat ons oplet hoe hulle die saak hanteer het. Hulle het nie probeer om die beeld af te breek en die res van die bevolking probeer dwing om hulle standpunt na te volg nie. Hulle het bloot net nie met die praktyk saamgegaan nie. Deur hulle voorbeeld het hulle 'n sterker getuienis uitgedra. Die mense het dit ook raakgesien en daarom is hulle aangekla by die koning.

Verder het hulle ook vas by hul oortuiging bly staan. Ten spyte daarvan dat die koning met oorreding en vrees hulle wou oorreed om tog sy bevel te gehoorsaam, het hulle dit nie gedoen nie. In hulle antwoord aan die koning sien ons hoekom hulle dit kon regkry om vas te staan by hul oortuigings soos ons hoor in Dan 3 v 17 & 18:

Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.”

Hulle bely aan wie hulle gehoorsaam is, die enigste ware God. Hulle vertrou op Hom. Hulle glo dat Hy hulle sal red. Hulle vertroue is so groot dat hulle sal bly glo in Hom en op Hom vertrou, selfs al gee Hy nie die uitkoms wat hulle graag sou wou hê nie.

Dan hoor ons ook in hierdie verhaal dat hulle geloof en vertroue in God nie ongegrond was nie. Hulle was nie alleen in die oond nie. God het hulle bewaar. Hulle het God nie vertrou vir dit wat hulle verwag het Hy sou gee nie. Hulle het Hom vertrou omdat Hy die enigste ware God is waarop hulle kon vertrou om na hulle beste belang om te sien op die manier wat Hy bepaal het.

Die rede hoekom hulle God kon glo en vertrou is omdat Hy sy Seun gestuur het. Jesus het in 'n vuuroond van die kruis beland. Anders as Daniel se vriende was daar nie saam met Hom iemand wat Hom beskerm het nie. Jesus het alleen daardeur gegaan sodat ons kan weet dat God sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Maak nie saak in watter vuuroond jy beland nie, jy is nie alleen nie. God is daar. Die Heilige Gees is elke oomblik van elke dag saam met jou. Jy staan nie alleen in die lewe nie.

In die optrede van Nebukadneser sien ons ook 'n ander belangrike saak wat ons kennis van moet neem. Sy optrede het verreikende gevolge gehad vir die mense wat naaste aan Hom was.

In sy woede het hy beveel dat die oond sewe maal warmer gemaak moes word as gewoonlik. Dit het tot gevolg gehad dat die sterkste manne in sy lyfwag wat Daniel se drie vriende in die oond moes gooi ook doodgebrand het.

Sy lyfwagte het sy veiligheid verseker. En nou het sy optrede veroorsaak dat hulle wat die belangrikste was vir daardie taak, naamlik die sterkste manne, doodgebrand het. Nie net het sy optrede die wat naaste aan hom was benadeel nie, maar dit het homself ook benadeel.

Verder het dit ook 'n groot effek op die mense om hom gehad. Daniel se drie vriende wat belangrike manne in sy administrasie was, is aan gevaar blootgestel. Verder het sy opdrag om die beeld te aanbid ook in die pad gestaan dat sy onderdane die enigste ware God kon leer ken.

Wanneer ons na hierdie bekende verhaal van Daniel se drie vriende luister dan is ons geneig onsself met hulle te vereenselwig. Die “goeie manne” en ons moet hulle voorbeeld navolg.

En tog is dit nodig dat ons nadink of ons nie ook maar in 'n sekere mate soos Nebukadneser is nie. Ons hoor van God. Ons sien sy almag raak, maar tog het dit nie 'n blywende effek nie. Dit bring nie 'n verandering in ons lewens nie en daarom kring dit ook daarop uit dat die mense naaste aan ons in gevaar gestel word.

Dit benadeel ook die groter gemeenskap om ons omdat ons nie ligdraers is nie. Die mense om my sien nie dat ek anders as die wêreld is nie, omdat ek maar net soos die wêreld om my lyk.

Dan kan ons ook die alternatief sien wat deur Daniel se drie vriende uitgebeeld word. Hoe kan ek anders lyk in die wêreld? Hoe kan ek 'n ligdraer wees? Daniel se drie vriende het in God geglo. Hulle het vertrou dat Hy hulle beste belang op die hart dra en dat Hy lief is vir hulle.

Jy kan alleen soos Daniel se drie vriende word wanneer jy God glo en vertrou. Wanneer jy glo dat God jou so lief het dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Dan kan jy vertrou dat God jou sal bewaar en dat jou vertroue so groot is dat self al gee God nie die uitkoms wat jy graag sou wou hê nie, dat Hy jou nooit alleen sal laat wanneer jy in die vuuroond van die lewe beland nie.

Glo in God. Vertrou dat Hy jou so lief het dat Hy sy enigste Seun gestuur het sodat jy nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal kry. Vertrou dat Hy jou nooit alleen sal laat wanneer in die vuuroond van die lewe beland nie. Vertrou Hom nie vir dit wat jy verwag Hy vir jou moet gee nie. Vertrou Hom omdat Hy die enigste ware God is waarop jy kan vertrou om na jou beste belang om te sien op die manier wat Hy bepaal het.

Amen

Is God deel van jou lewe?


 Skriflesing: 1 Joh. 1:1 – 2:2

Teksvers: 1 Joh. 1:9


Ons vier DV(Deo Volente - as die Here wil) volgende week die Heilige Nagmaal en daarom gaan ons vandag stilstaan by wat dit beteken wanneer ons van Voorbereiding praat.

Wanneer ons van Voorbereiding praat, dan verwys ons na die selfondersoek wat ons voordat ons Nagmaal gaan gebruik, moet doen. Die Formulier vir die viering van die Heilige Nagmaal beskryf die ware selfondersoek as volg.

ð  Ons moet nadink oor ons sonde en vervloeking en ons met diepe berou voor God verootmoedig.

ð  Ons moet die vaste belofte van God glo dat al ons sondes alleen op grond van die soenverdienste van Christus vergewe is en dat sy volkome geregtigheid ons toegereken en geskenk is.

ð  Ons moet die opregte begeerte hê om met ons hele lewe dank aan God te bewys, opreg voor Hom te wandel en in ware liefde en eensgesindheid met ons naaste te lewe.

Ons gaan hierdie selfondersoek belig soos die Here dit vir ons in 1 Joh. 1 voorhou.

In 1 Joh. 1:1-4 vertel die apostel Johannes ons dat hy ’n ooggetuie was van hoe God wat van ewigheid bestaan het mens geword het in Jesus Christus en dat ons Jesus moet onderskei van God die Vader. Hierdie vier verse bevat genoeg om ons hele lewe mee te vul.

Hierin hoor ons van die perfekte gemeenskap wat daar in die Drie-Eenheid van God bestaan en dat Johannes en sy mede apostels daarin gedeel het. Johannes spreek dan ook sy begeerte uit dat sy mede gelowiges ook daarin moet deel, want om in gemeenskap met God te leef beteken dat jou lewe die doel bereik waarvoor God jou geskape het.

Wat beteken dit om in gemeenskap met iemand te leef? Die Griekse woord ‘koinonia’ wat ons met gemeenskap vertaal het, het ’n ryke betekenis. Dit beteken om in 'n hegte, intieme verhouding met iemand te deel wat gekenmerk word deur wedersydse deelname, gedeelde belangstellings en 'n gevoel van samesyn.

Dit bring ons by die ongemaklike vraag wat elkeen vir hom of haarself moet afvra: “Leef ek in gemeenskap met God?” Is God deel van jou lewe?

Verhoudings word gekenmerk deur:

ð  Weet van iemand: - byvoorbeeld ons weet van die Amerikaanse president Donald Trump, maar ons ken hom nie en hy ken ons ook nie. Daar kan dus nie sprake wees dat ons in ’n verhouding met hom saamleef nie.

ð  Verhouding waar jy iemand ken:- byvoorbeeld, ek kom by ’n vriend en hy stel my voor aan iemand wat daar saam met hom is. Wanneer ek weer daar kom en die persoon is weer daar dan groet ons mekaar, maar ons enigste band met mekaar is dat ons albei vriende is met my vriend.

ð  Intieme verhouding, waar jy in ’n noue intieme verhouding met iemand saamleef, byvoorbeeld jou huweliksmaat.

Daar is verskillende vlakke tussenin, maar dit is eers in die laasgenoemde geval van ’n intieme verhouding waar jy kan sê dat jy in gemeenskap met die persoon saamleef.

Waar staan jy in jou verhouding met God? Weet jy net van Hom of ken jy hom dalk net so in die verbygaan? Is God deel van jou lewe?

In 1 Joh. 1:5 hoor ons:

God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.

Met ander woorde, God is heilig en daar is geen sonde in Hom nie. En dit bring ons by die struikelblok wat keer dat ons in gemeenskap met God kan saamleef. SONDE!

En dit bring ons dan ook by die eerste punt van selfondersoek. Ons moet nadink oor ons sonde en vervloeking en ons met diepe berou voor God verootmoedig.

Dit is juis hier waar ons so dikwels struikel. Ons lewe in ’n samelewing wat nie meer oor sonde wil praat nie. Daar word allerlei mooi woorde en terme uitgedink om sonde sagter op die oor te laat klink.

Dit het die verdere komplikasie dat ons ook nie eintlik meer aan ons eie sonde wil dink of dit erken nie. Ons praat nog oor sonde en ons kan dit maklik uitwys en ons stem saam dat dit ’n skreiende skande is dat die samelewing al hoe meer gemoedkomend is oor sonde. Maar wanneer dit by ons eie sondes kom, dan skram ons weg.

Dis nie maklik om voor die spieël te staan en jouself in die gesig te kyk nie. Ek is mos ’n goeie mens. Ek kom dan kerk toe. Ek gee so dan en wan ietsie vir die armes.

Die ware selfondersoek vra dat ons krities na onsself moet kyk. Die vraag is: “Wat staan tussen my en God?” Wat maak dat God maar net ’n veraf kennis of ’n teoretiese konsep by my is? Hoeveel tyd maak ek vir God in my lewe? Watter prioriteit het God in my kalender en my begroting?

Hoe maklik vind ek ’n gerieflike verskoning om die erediens af te skaf? Of is ek al op daardie punt dat ek nie eers meer verskonings uitdink nie? Ek bly sommer maar net weg!

Hoe lyk my verhouding met my naaste? Hoeveel jaloesie en afguns is daar in my lewe? Hoeveel ongeduld het ek teenoor mense, veral hulle wat volgens my nie so ’n belangrike posisie in die samelewing beklee nie. Die kassiere, skoonmakers.

Tot hoe ’n mate verhef ek myself bo ander mense? Hoe belangrik is die eie ek in my lewe?

Voordat ons nie die harde werklikheid van ons sondes in die oë gekyk het nie, sal ons nie in gemeenskap met God kan saamleef nie en wanneer ons dit gedoen het kan ons eers begin om ’n oplossing daarvoor te vind.

Wat is die oplossing? Die verkeerde antwoord is dat ons nou ons sokkies moet optrek. Daardie gedagte dat ek myself nou moet regruk is totaal nutteloos, want jy gaan dit nie regkry nie! Moontlik gaan dit vir ’n rukkie beter gaan, maar kort voor baie lank is jy maar weer op dieselfde spoor.

In 1 Joh. 1:9 hoor ons:

Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Wanneer jy nog op die gedagte is dat jy jouself moet regruk, is daar nog geen sprake van gemeenskap met God nie. Gemeenskap met God begin wanneer jy bid dat die Gees vir jy wys watter sondes in jou lewe is en dit gebeur wanneer jy na God luister deur besig te wees met sy Woord en dat jy bid dat die Heilige Gees die Woord vir jou oopmaak.

Luister na die Woord in die eredienste, luister na die Woord in gesamentlike Bybelstudie en veral ook in persoonlike Bybelstudie.

Wanneer jy jou sonde teenoor God bely, is jy besig om die sonde struikelblokke wat tussen jou en God staan uit die weg te ruim.

Die volgende punt van die selfondersoek is:

Ons moet die vaste belofte van God glo dat al ons sondes alleen op grond van die soenverdienste van Christus vergewe is en dat sy volkome geregtigheid ons toegereken en geskenk is.

Weereens haak ons hier ook op ’n dwaalspoor vas. Verstaan ons werklik wat dit beteken? Die persepsie vat so maklik grond dat wanneer ons, ons sondes bely dan vergewe Jesus die sondes. Soortgelyk aan vee dit maar onder die mat in. Dit werk nie so nie! Dit is hierdie verkeerde verstaan wat veroorsaak dat daar nie werklike verandering en bekering in ons lewens plaasvind nie.

Om in gemeenskap met God te leef, beteken om werklik te verstaan wat dit God gekos het. In 1 Joh. 1:7 hoor ons dis die bloed van Christus wat ons van ons sondes reinig. Bloed verwys hier na lewe. Deur jou bloed te gee, gee jy jou lewe deur opoffering.

Dit gaan baie verder as net die fisiese pyn en leiding aan die kruis. Dit gaan verder as die vernedering dat Jesus wat God is as ’n nederige mens gebore is en die lyding wat Hy moes verduur hier op aarde. Die dieptepunt van sy lyding was Godverlatenheid. Die perfekte gemeenskap tussen Vader, Seun en Heilige Gees wat van ewigheid bestaan het is versteur.

Dis nie net Jesus wat Godverlatenheid ervaar het nie. Die Vader en Heilige Gees het net sulke erge Godverlatenheid ervaar as Jesus self. Ek dink nie ons sal ooit die werklike diepte van daardie lyding verstaan of die diepte van God se liefde vir ons omdat Hy dit vir ons gedoen het nie.

Ons sondes word nie maar net vergewe of onder die mat ingevee nie. Dit het God ondenkbare lyding gekos, die dood, d.w.s Godverlatenheid.

Wanneer jy begin verstaan watter lyding God uit liefde vir jou ervaar het, begin jy verstaan wat dit beteken om in gemeenskap met God saam te leef. Dit kan nie anders as om lewensveranderend te wees nie.

En dit bring ons by die derde punt van selfondersoek:

Ons moet die opregte begeerte hê om met ons hele lewe dank aan God te bewys, opreg voor Hom te wandel en in ware liefde en eensgesindheid met ons naaste te lewe.

D.w.s ons moet die opregte begeerte hê om in gemeenskap met God saam te leef. Om in 'n hegte, intieme verhouding met God te deel wat gekenmerk word deur wedersydse deelname, gedeelde belangstellings en 'n gevoel van samesyn.

Wanneer dit deel van jou lewe is, kan jy ook nie anders as om dit te deel nie. Wanneer daar iets wonderliks met jou gebeur, wil ons dit mos met ander deel.

Om in gemeenskap met God te leef, beteken ook dat ons in gemeenskap wil leef met ons broers en susters wat ook in gemeenskap met God leef. Dit beteken ook dat ons dit wil deel met hulle wat dit nie ken, want hoe meer deel daarvan word, hoe groter word ons blydskap.

Dis ons roeping om God se liefde uit te dra aan die donker wêreld wat Hom nie ken.

Gaan dink daaroor na. Is God deel van jou lewe? Wil jy hê dat Hy deel van jou lewe moet wees?

Amen


03 Augustus 2025

Dien God en wees lief vir Hom omdat Hy God is


 3 Aug. 2025 GK BSH & RB

Skriflesing Job 1

Teksvers Job 1:9

Kyk na ʼn oorsig oor die boek Job by https://youtu.be/xQwnH8th_fs

Job is moontlik een van die Ou Testament se moeilikste boeke om te verstaan. Tog bied dit sinvolle antwoorde op lewensvrae wat moeilik is om te beantwoord waarop daar nie altyd maklik antwoorde is nie.

Ons stil by die vraag: Hoe help lyding jou om te verstaan hoekom jy God moet dien en vir Hom moet lief wees?

Mooiweersvriende. Almal weet wat ʼn mooiweersvriend is. Iemand wat net in voorspoed jou vriend is, op wie jy nie kan reken nie wanneer jy moeilikheid het nie.

Die satan beskuldig Job dat hy net ʼn mooiweer gelowige is. Wanneer God Job se vroomheid en opregtheid voorhou antwoord die satan Hom: Job 1:9 tot 11

9Toe antwoord die Satan die Here: “Dit is nie sonder rede dat Job U dien nie! 10U beskerm hom dan, en sy huis en al sy goed. U maak alles wat hy doen, voorspoedig. Selfs sy vee teel vinnig aan. 11Maar raak nou net aan sy besittings en kyk of hy U nie in u gesig vervloek nie.”

Die satan se aanklag is, Job is maar slegs ʼn mooiweer gelowige. Hy dien God slegs omdat die Here hom seën. As die omgekeerde gebeur sal Job totaal anders reageer en sal hy sy rug op die Here draai.

Om hierdie gesprek reg te verstaan moet ons net eers bietjie stilstaan by agtergrond van die boek Job. Die boek Job is een van die wysheidsliteratuur boeke in die Bybel soos Spreuke ook is.

Die doel van wysheidsliteratuur is om sekere groot lewens vraagstukke aan te spreek.

Die vraagstuk wat in ons teks na vore kom is of jy sal aanhou om in ʼn verhouding met God te leef as die enigste voordeel wat jy uit die verhouding kry, God self is?

Dit gaan nie hier daaroor of God hier saam met die duiwel besig is met ʼn dobbelspel om die lotgeval van mense te bepaal nie. Die woord satan beteken letterlik “aanklaer.” In Hebreeus is die lidwoord die deel van die woord satan en in daardie konteks gee dit die betekenis van ʼn titel eerder as ʼn eienaam. Hiermee saam is die satan dan ook ʼn moeilikheidmaker. Hierdie gesprek tussen God en die satan bring die vraagstuk na vore. “Wat is jou motivering waarom jy God dien?”

Die aanklaer impliseer dat Job nie getrou en gehoorsaam is ter wille van God self nie, maar slegs omdat hy allerlei byvoordele uit die verhouding kry. Neem daardie byvoordele weg en Job sal God vervloek.

Met ander woorde Job sal God verwerp omdat hy sal reken dat God vir hom waardeloos is. Neem net al die gunste en gawes weg en Job sal sy verhouding met God verbreek omdat hy dan sal reken dat God nie meer sy liefde en vertroue werd is nie.

Die valse evangelie van die voorspoed teologie moedig jou aan om ʼn mooiweer gelowige te wees. Jy moet net glo en dan sal God jou “seën” met rykdom, goeie gesondheid en dit sal baie voorspoedig met jou gaan. In ons teks word die valsheid van hierdie evangelie ontbloot.

Hierdie vraagstuk wat in Job na vore kom is nie maar net ʼn teoretiese akademiese vraagstuk nie. Dit is iets wat elkeen van ons ten diepste raak. Gaan jy God nog steeds dien as Hy alles van jou af wegvat. Jou besittings, jou gesondheid, jou kinders? As jy kaal gestroop word, gaan jy jou rug op God draai of nie?

Alles wat ons het is God se genade. Niks wat jy het, het jy gekry omdat jy dit verdien het deurdat jy ʼn goeie en vroom mens is nie. Jou gesondheid, jou verstand, jou talente en vermoëns, al jou besittings het jy enkel alleen op grond van God se genade. In Job leer ons die ongemaklike waarheid dat dit nie altyd goed gaan in jou lewe nie. Soms neem God tydelik sy materiële seëninge van jou weg en plaas Hy jou in ʼn posisie waar dit op die oog af lyk of Hy eerder jou vyand is.

Job het nooit insig gehad oor wat daar in die troonkamer van God gebeur het nie. Net so weet ons ook nie wat die rede is hoekom God sekere dinge in sy ewige raadsplan toelaat in ons lewens nie. Dit mag dalk voorkom asof God van jou vergeet het. Dat Hy nie omgee wat met jou gebeur nie.

Om sin te maak hiervan moet ons onthou wat die werklike perspektief van lyding is. In Job 1:1 hoor ons dat Job vroom en opreg was en dat hy God gedien het en die kwaad vermy het. Voorwaar ʼn navolgingswaardige voorbeeld. Tog was Job nie perfek nie soos wat ons verder aan in die boek hoor.

Daar was net een mens wat werklik onskuldig was en wat die aller verskriklikste lyding denkbaar deurgaan het. In die persoon van Jesus Christus het God self meer gely as wat Job of enige mens ooit gely het. Jesus het God verlatenheid ervaar sodat ons nooit weer deur God verlaat sou word nie. Hy het alles verloor, sy klere en al sy aardse besittings, selfs sy lewe en ook God se teenwoordigheid.

Jesus was nie die enigste wat gely het nie. In die perfekte verhouding wat daar tussen Vader Seun en Heilige Gees was, was daar nie meer harmonie nie. Die Vader en die Heilige Gees het saam met Christus gely. God het die ergste lyding wat daar denkbaar is verduur sodat Hy daardeur die gebroke verhouding tussen God en mens kon herstel.

Deur sy lyding het God Homself aan die mens terug gegee. Die doel van die evangelie is om die verhouding tussen God en mens te herstel, nie om allerhande beloftes van voorspoed en rykdom te verkry nie.

Job het alles verloor, behalwe sy lewe omdat God die satan verbied het om Job se lewe te neem. Ten spyte daarvan dat Job alles verloor het, het hy een ding nie verloor nie, nl. God self. Job het niks anders as sy lewe en God gehad nie, maar nog steeds het hy God nie verwerp nie soos ons hoor in Job 1 v 20 tot 22:

20Toe het Job opgestaan en sy klere geskeur. Hy het ook sy hare afgeskeer. Daarna het hy op die grond gaan lê en gesê:
21“Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit.
Die Here het gegee en die Here het geneem.
Prys die Naam van die Here.”
22Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie.

Die troos wat ons het is dat al verloor ons alles in die lewe, selfs die lewe self, dan het ons nog steeds vir God. Elkeen wat in Jesus Christus glo kan absoluut vashou aan die troos van Rom. 8:38 & 39

38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Die teendeel is egter ook waar. As jy nie in Jesus Christus glo nie, gaan jy alles verloor, want as jy nie vir God het nie, dan het jy niks.

Geliefdes, Christus het aan die kruis gesterf sodat God deel van jou lewe kan wees. Moenie God verruil vir wêreldse dinge nie. Moenie val vir die leuens van die voorspoed teologie nie.

Die feit dat ʼn boek in ʼn Christelike boekwinkel verkoop word, beteken nie dat dit noodwendig die waarheid bevat nie. As daar ʼn prediker of boodskap in ʼn boek is wat jou beloof dat dit net goed met jou sal gaan en dat jy ryk en voorspoedig sal wees omdat jy glo of dit van God opeis, weet dit is ʼn leuen.

Moenie ʼn mooiweer gelowige wees nie. Dien God en wees lief vir Hom omdat Hy God is.

Amen.