maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ’n aanstoot en vir die ander is dit onsin, maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God .....................1 Kor 1:23-24
04 April 2026
29 Maart 2026
Nader aan God 02 – Nader aan God deur genade
Lees:
Luk. 22:31-34; Luk. 22:54-62; Joh. 21:15-19
Inleiding
Waar staan jy in jou verhouding met God? Ons
lewens raak soms so besig en gejaagd dat ons nie eers agterkom dat ons besig is
om weg te dryf van God af nie.
Daarom is dit nodig dat ons net weer so
bietjie stilstaan by wat dit beteken om nader aan God te beweeg, want op die
uiteinde is ons grootste doel in die lewe om in ’n verhouding met God saam te
leef en ons dag tot bestaanstryd maak so maklik dat ons dit uit die oog verloor.
Om nader aan God te kom, begin by die
erkenning van hoe ver ons eintlik weg gedryf het. In die verhaal van Petrus en
die dramatiese gebeure waarin hy betrokke was kort voor Jesus gekruisig is, leer
ons om net weer opnuut na onsself te kyk om ons prioriteite in die lewe weer
raak te sien.
Hierin sien ons ook dat ons nie deur ons eie krag
en inspanning nader aan God kan beweeg nie. Inteendeel, dit is juis dit wat ons
so dikwels verder van God af laat beweeg. Ons het nodig om raak te sien dat ons
net deur God se genade nader aan Hom kan beweeg.
Hierdie verhaal van Petrus kort voor Jesus se
kruisiging wys vir ons hoe om nader aan God deur sy genade te beweeg.
Jesus is hier in gesprek met sy dissipels
tydens die laaste Paasmaal wat Hy saam met hulle gevier het kort voor Hy
gekruisig is. Hy is besig om hulle voor te berei vir dit wat gaan kom. Alhoewel
Hy reeds vir hulle by vorige geleenthede verduidelik het, het hulle nog nie
regtig verstaan nie.
Ons hoor in Mat. 26:31 dat Jesus vir die
dissipels sê dat hulle Hom op daardie selfde aand in die steek sal laat. Lukas
voeg egter ’n belangrike detail van daardie gesprek by soos ons hoor in Luk. 22:31:
Simon,
Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos
koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As
jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.”
Jesus waarsku hier oor die geestelike
oorlogvoering. En dis iets wat ons so maklik miskyk, geliefdes. Ons is so
vasgevang in die rasionele denkraamwerk van ons tyd dat ons dikwels vergeet dat
ons in ’n geestelik oorlog betrokke is.
In Ef. 6:12 hoor ons:
Ons
stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke
gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.
Hierdie geestelike stryd is maar nog steeds
net dieselfde stryd wat reeds daar in die Paradys begin het. Die satan probeer
om ’n wig tussen die mens en God in te dryf.
Ons moet egter nie die fout maak om te dink
dat die satan kan doen net wat hy wil nie. Hy kan net doen wat God hom toelaat
om te doen. Verder ook moet ons ook verstaan dat God hom nie toelaat om sy bose
doelwitte te bereik nie.
Die beeld wat Jesus hier gebruik is die kaf
van die koring te skei. Nadat koring geoes en getrap is om dit los te maak, is
dit in ’n sif of ’n vlak mandjie geplaas. Die persoon het hierdie sif dan
gewelddadig heen en weer geskud.
Jesus waarsku Petrus dat hier ’n baie
moeilike toets voorlê. Petrus kyk egter mis dat dit ’n geestelike stryd is en
hy dink dat hy die toets sal deurstaan deur sterk te probeer wees, want hy sien
dit net as ’n fisiese uitdaging soos ons hoor in Luk. 22:33:
Petrus
sê vir Hom: “Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te
gaan.”
Jesus sê ook vir Petrus hoe hy die stryd moet
aanvoer. Gebed dat jou geloof versterk kan word.
Hoe jy die geestelike stryd benader bepaal of
jy nader aan God beweeg en of jy weg van God af beweeg.
Jesus waarsku Petrus soos ons hoor in Luk. 22:34:
“Petrus, Ek sê vir
jou: Die haan sal vannag nie kraai voordat jy My drie maal verloën het deur te
sê dat jy My nie ken nie.”
Die satan se motief was vernietiging. Hy wou
Petrus so hard "skud" in die hoop dat hy heeltemal uitmekaar sou val
en sy geloof weggooi.
En aanvanklik lyk dit of die satan in sy doel
slaag. Daar waar die dinge begin warm raak het vir Petrus het sy bravade hom in
die steek gelaat. Nou was dit vrees wat hom gedryf het. Hy vergeet wat Jesus
net ’n paar uur van tevore vir hom gesê het.
En is dit nie maar ook hoe dit dikwels met
ons gaan nie geliefdes? Daar waar ons in die spervuur beland en die koeëls om
ons koppe begin vlieg, vergeet ons van God. Dan probeer ons maar net om op
enige manier daaruit te kom en soms begin ons ook twyfel of God regtig vir ons
omgee.
Die draaipunt vir Petrus het gekom nadat hy
die haan hoor kraai het en dit het hom laat opkyk waar hy in Jesus se oë vasgekyk
het. En dis waar Petrus God se genade raakgesien het.
Jesus het nie met oordeel en verwyt na Petrus
gekyk nie. Jesus se kyk het nie vir Petrus gesê: “sien jy nou! Ek het jou mos gesê
nie!” Nee, geliefdes met daardie kyk het Jesus vir Petrus gesê: “Onthou, ek het
vir jou gebid dat jou geloof jou nie sal begewe nie!”
Selfs daar waar Jesus in sy eie krisis was op
pad na die kruis en Godverlatenheid toe, het Hy nog steeds tyd gehad vir Petrus
om inderwaarheid vir hom te sê: “Ek doen dit vir jou!”
En dit was die keerpunt vir Petrus wat hom
tot inkeer laat kom het. Geliefdes, het jy al die haan hoor kraai? Het jy al
opgekyk na Jesus toe? Het jy al saam met Petrus bitterlik gehuil?
Dit was nie Petrus se bravade en sterk wees
wat hom deur die krisis gedra het nie. Dit was God se genade.
Satan wou Petrus skud om hom te vernietig en
dit is wat hy met ons ook wil doen. Maar weet dat God nie toelaat dat satan se
bose planne slaag nie.
God laat toe dat ons soos kaf geskud word,
maar vir ’n ander rede as wat die satan graag wou hê. God laat die sifting toe
om ons kaf te verwyder: ons oormoed en vertroue op eie krag en ons valse
bravade sodat die koring van geloof en vertroue in God se genade oorbly.
In Joh. 21:15-19 sien ons nog verder hoe
groot God se genade is. Petrus het Jesus drie maal verloën. Drie maal vra Jesus
vir Petrus of hy Hom liefhet en drie maal kry Petrus die geleentheid om dit te
bevestig en drie maal gee Jesus vir Petrus die opdrag om te gaan werk in God se
Koninkryk. Dan som Hy dit op met sy opdrag in
Joh. 21:19: “Volg My!”
Slot
Hoe beweeg mens nader aan God? Nie deur eie
krag en bravade om vir God te bewys hoe goed ons is nie.
Weet dat ons betrokke is in ’n geestelike
stryd, maar weet ook dat die vyand, die satan nie mag oor ons het nie en daarom
moet ons nie toelaat dat ons deur vrees oorweldig moet word nie.
God se genade in Jesus Christus sê vir ons: “ons
het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons
reeds deur die liefde net soos Jesus. Waar liefde is, is daar geen vrees nie,
maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees,
het nie volmaakte liefde nie.”
Die kernpunte wat ons moet onthou is dat moet
bid dat ons geloof sterk bly. Verder dat daar waar ons soos koring geskud word,
dat ons moet vashou aan ons geloof en vertroue in God.
Daar waar ons wegdwaal, en begin twyfel in
God omdat die lewe moeilik raak, kyk op na Jesus en sien sy liefde en genade
raak.
Onthou sy opdrag om te werk in die Koninkryk
van God om Jesus se liefde in jou lewe sigbaar te maak vir die wêreld.
Beweeg nader aan God deur sy genade deur ’n volgeling
van Jesus te wees.
Amen
22 Maart 2026
Nader aan God 01 - Wat beteken dit om jou lewenspad saam met God te loop
Psalm 23
God het ons geskep nie vir straf en oordeel
nie, maar om in ’n intieme verhouding saam met Hom te leef. Met die sondeval
het die verhouding tussen God en die mens verwronge geraak, maar in sy groot troue
verbondsliefde het God in Christus herstel gebring en dit is die wonderlike
hoop wat God vir ons bring.
Die antwoord op wat mens te doen staan
wanneer die lewe druk of daar waar jy sukkel op jou geloofspad en dit vir jou
voel of God ver is en jy dalk bietjie begin wegdryf het, is nie om harder te
probeer nie. Die antwoord is om nader aan God te beweeg. Ons gaan met die volgende
paar preke bietjie stilstaan by wat dit beteken om nader aan God te beweeg.
Vandag gaan ons stilstaan by wat dit beteken om jou
lewenspad saam met God te loop aan die hand van Psalm 23 en die tema van
vandag se preek is:
’n lewe van oorvloed saam met God
Psalm 23 beskryf die lewenspad wat ’n gelowige
saam met God loop van die begin af tot en met die eindbestemming van jou lewe. Let
wel, ek het NIE gesê van die begin tot by jou dood nie, want vir iemand
wat in Jesus glo, is die dood nie die eindbestemming nie! ’n Gelowige se
eindbestemming is sy ewige tuiste saam met God.
Psalm 23 begin met ’n belydenis: “Die Here is
my Herder.” Wanneer ons hierdie belydenis saam met Joh. 10:14 & 15 lees dan
sien ons hoe spesiaal dit is:
“Ek is die goeie
herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek
die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape.”
Deur jou geloof in Jesus Christus begin jou lewe
van oorvloed saam met God. Jou geloof in Jesus Christus gee vir jou die
versekering dat jy nie meer alleen is nie.
In Psalm 23:2 en 3 hoor ons so ietsie van wat
dit beteken om jou lewenspad saam met God te stap.
Hy laat my neerlê in
groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.
Hy verkwik my siel;
Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.
Letterlik staan daar dat die Herder sy skape
bring na ’n plek waar die weiding sag en voedsaam is. Op jou lewenspad saam met
God, sorg Hy vir jou met wat die heel beste is vir jou. Verder bring Hy jou na ’n
plek wat tot rus lei. Hy “verkwik jou siel” met ander woorde dit gaan oor baie
meer as net rus van moegheid. Hy herstel die lewenskrag van jou siel en
gemoedsrus.
Alles wat jy het, kos klere, blyplek jou
vaardighede en gawes kom alles uit die hand van God. Dit wat jy het, het jy
omdat God dit vir jou gegee het. En nog meer. Al die mooi en vreugde in jou
lewe kom net van God af en wanneer ons terugkyk na ons lewens en ons sien die
goed en mooi en voorspoed wat daar was, dan kan ons weet dit was daar omdat God
dit vir ons gegee het.
En dan sien ons ook dat die pad wat ons
lewens verloop het, is die “regte” pad wat God vir ons uitgelê het. Ons lewens
verloop nie altyd soos wat ons beplan en dink nie, maar wanneer ons terug kyk
dan sien ons dat die pad wat God vir ons uitgelê het, tog maar die beste was.
Die lewe is egter nie altyd net maklik en
mooi nie. In Ps. 23:4 kry ons die wonderlike troos dat selfs daar waar die lewe
donker word, dit juis daar is waar die Here ons vashou en beskerm.
Ons sien in die verskillende vertalings dat
die vers effens anders vertaal word. Byvoorbeeld in die 20/20 vertaling is die
vertaling: “Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan” teenoor die OAV
33/53 Vertaling, wat vertaal word met: “Al gaan ek ook in 'n dal van
doodskaduwee”. Albei vertalings is reg en dit dui op die nuanse van die
oorspronklike Hebreeuse teks.
Aan die een kant is die betekenis dat dit dui
op donkerste, gevaarlikste deel van die pad waardeur die skape moet gaan om by
weiding uit te kom. Die stok wat die herder met hom saamgedra het, was ’n stewige
knuppel waarmee hy die skape teen roof en ongediertes beskerm het wat hulle
bedreig het en sy staf was daar stok met sy krom punt waarmee die herder gelei
en die pad aangedui het. As ’n skaap bietjie afgedwaal het, het die herder hom
met daardie krom punt terug gelei op die regte pad weg van gevaar af.
Dit skep vir ons ’n mooi beeld hoe die Here
saam met ons deur die donker dieptes van die lewe gaan en dat ons nooit alleen
is daarin nie. Die verdere troos is die versekering dat Hy ons beskerm en lei
wanneer die lewe swaar raak.
Wat ook so mooi is van Psalm 23, is hoe Dawid
hier waar die lewe moeilik raak baie meer persoonlik raak. Tot hiertoe het
gepraat van God en hoe God hom deur sy lewe gelei en beskerm het. Maar hier
waar die lewe donker raak praat hy nie meer van God nie. Hy praat nou
persoonlik met God waar hy sy vertroue teenoor God uitspreek “ek nie
bang vir gevaar nie, want U is by my”
Wanneer jy jou lewenspad saam met God stap,
is die troos dat God intiem naby is, veral daar waar die pad op sy swaarste en
donkerste is. Dit is waar Hy jou dra wanneer jy nie meer kan nie. En wanneer
ons terug kyk dan sal elkeen van ons kan getuig hoe die Here jou gedra het daar
waar die lewe donker was.
Die Hebreeuse teks in Ps. 23:4 dra ook die
nuanse van die diepste donker van die dood en daarom is die 33/53 Vertaling
daarvan dan ook “Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen
onheil vrees nie”.
Daar is een ding wat seker is in hierdie lewe
en dit is dat elkeen op God se bepaalde tyd liggaamlik sterf. En dit is hier
waar die troos van Psalm 23 so duidelik na vore kom.
In Joh. 10:15b hoor ons Jesus sê: “en Ek
lê my lewe af vir die skape.” Ter wille van ons het Jesus alleen deur die donker
vallei van die dood gegaan. Hy het niemand gehad wat Hom beskerm en vertroos
het nie. Hy het dit ter wille van ons gedoen op grond van God se onbeskryflike
liefde vir ons. Hy het in ons plek die Godverlatenheid deurgaan wat ons sonde
verdien het.
Die geweldige troos is dat Hy die mag van die
dood gebreek het met sy opstanding en dit is ons waarborg dat elkeen wat in Jesus
Christus glo nie alleen deur die donker vallei van die dood gaan nie. Dit gee
vir ons die waarborg dat die dood nie meer die verskrikking van Godverlatenheid
vir ons inhou nie.
Ps. 23:5 & 6 gee dan ook vir ons so kykie
wat anderkant die dood vir ons wag. Hier verander die beeld van ’n herder wat
sy skape versorg en beskerm na ’n gasheer wat sy gas in oorvloed onthaal.
In die antieke Nabye Ooste was gasvryheid 'n
heilige plig. As God jou as gas aanvaar, is jy onder Sy beskerming. Om te eet
"in die teenwoordigheid van vyande" beteken dat die vyande gedwing
word om toe te kyk hoe God jou eer en beskerm; hulle kan niks doen nie omdat
die Gasheer te magtig is.
Olie is by feeste gebruik om die droë vel te
verfris en as simbool van verheffing en vreugde en dit dui daarop dat die Here sy
gas met waardigheid en koninklike guns beklee. Die beker wat oorloop simboliseer
dat God se genade nie bereken of suinig is nie, maar oorvloedig meer as wat
nodig is.
Wanneer ’n gasheer ’n gas onthaal het, het die
gasheer letterlik sy gas se beker dopgehou om seker te maak dat hy dit kon
volhou en dit het vir die gas gesê dat hy welkom is. Hier hoor ons dat die
beker nie volgehou word nie. Dit word tot oorlopens tóé volgehou en dit sê vir
ons dat die gas nie net welkom is nie. Die Gasheer sê vir ons dat Hy nie wil hê
dat ons moet weggaan nie. Ons moet permanent by Hom bly en dit is waarmee Ps. 23:6
dan ook afsluit:
Net goedheid en guns
sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in
lengte van dae.
Dit sluit dan ook perfek aan by die groot
troos van Open. 21:3&4
Toe het ek 'n harde
stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense.
Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as
hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer
wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van
vroeër het verbygegaan.”
Hoor u die geweldige troos hier geliefdes?
Die dood wat eens as opperheerser geheers het oor die lewens van mense is nou
finaal oorwin en dit het nie meer ’n houvas op gelowiges nie.
Luister ook na die verdere troos wat ons hoor
in Open. 21:22
'n Tempel het ek nie
in die stad gesien nie, want sy tempel is die Here God, die Almagtige, en die
Lam.
Die huis wat vir ons wag anderkant die donker
vallei van die dood is nie ’n gebou nie, maar die onbeskryflike heerlike teenwoordigheid
van God saam met wie ons, ons lewenspad gestap het en dit is die troos wat die
Here gee vir elkeen wat in Jesus Christus glo as sy enigste Verlosser en
Saligmaker.
Elkeen wat glo, ontvang nou reeds hier op
aarde die oorvloed van die ewige lewe waar ons saam met God op pad is na die
ewige heerlike waar die dood finaal vernietig sal wees sonder trane hartseer of
pen en lyding.
Amen
21 Maart 2026
’n lewe van oorvloed saam met God
Psalm 23
1 'n PSALM van Dawid.
Die Here is my herder; niks sal my ontbreek
nie.
2 Hy laat my neerlê in
groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.
3 Hy
verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.
4 Al
gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is
met my: u stok en u staf dié vertroos my.
5 U berei die tafel
voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker
loop oor.
6 Net goedheid en guns

Wanneer ons by die oop graf van ’n geliefde
staan, is ons hartseer want haar plek in ons lewens is nou leeg, maar ons treur
nie soos hulle wat geen hoop het nie. Ons het ’n lewende hoop van God wat ons
lewenspad saam met ons stap deur die goeie en donker tye in ons lewens en ook
dat Hy ons dra deur die donker vallei van die dood na ’n ewige heerlikheid saam
met God, daar waar daar geen trane hartseer, pyn, lyding of dood meer sal wees
nie.
Amen
15 Maart 2026
Christus het die dood oorwin, leef daarom as oorwinnaar op grond daarvan
1 Kor. 15
Teksverse 1 Kor. 15 v
54-58
Vooraf
1 Kor. 15 is
die omvattendste gedeelte in die Bybel wat oor die opstanding handel. Hiermee
saam ook ons belydenis in Sondag ?? Heidelbergse Kategismus
SONDAG 17
45 Vraag:
Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?
Antwoord:
Ten eerste - het Hy deur sy opstanding die dood oorwin
sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon
maak (a). Ons straf vir sonde is ten volle betaal
Ten tweede - word ons nou ook deur sy krag tot 'n nuwe
lewe opgewek (b). Stel ons in staat om vir God te leef
Ten derde - is die opstanding van Christus vir ons ’n betroubare
waarborg van ons salige opstanding (c).
Ons
gaan vanoggend by die slotgedeelte van 1 Kor. 15:54-58 en die tweede voordeel
wat ons in die Heidelbergse Kategismus bely, stilstaan, naamlik wat die betekenis van die
opstanding vir ons lewens nou is.
Inleiding
Daar
sal ’n tyd kom wanneer ons glo dat ons nou by die einde is. Dit sal die begin
wees. Daardie Vrydag toe Jesus gekruisig is het sy volgelinge gedink dit is die
einde. Alles waarvoor hulle gehoop het, het tot ’n einde gekom. Dit was alles
tevergeefs. Die man waarop hulle hul hoop geplaas het is nou dood. Kan u uself
indink hoe verslae Jesus se volgelinge moes gewees het toe hulle Hom daar aan
die kruis sien hang het? Jesus het wel vir hulle verskeie kere vertel wat die
verloop van gebeure sou wees, maar hulle het nie verstaan nie. Dit het vir
hulle gevoel of die magte van die bose oorwin het.
In
’n sekere sin is ons lewens ook baie soos hulle sin. Ons het gehoor van die
krag van die Jesus se opstanding, maar ons verstaan dit nie eintlik nie. Ons
hoor elke Sondag die Evangelie, die Goeie Nuus van Jesus Christus. Hoe verander
dit jou lewe?
Hoeveel
van ons leef maar net voort asof die gebeure 2000 jaar gelede tydens die Joodse
Paasfees nooit plaasgevind het nie! Ons gaan maar net aan met ons lewens soos
voorheen. Ek is nog steeds nie bereid om te vergewe nie. Ek wil nog steeds ten
alle koste wraak neem. My eie selfsugtige belange dra nog steeds ’n groter
gewig as medemenslikheid.
Lewe
in die plek van dood
As
dit waar is in my lewe dan gebruik ek nog nie volle krag wat Christus se
opstanding vir ons oopgesluit het nie. Jesus se opstanding is diè belangrikste
aspek van ons geloofslewe soos ons ook hoor in 1 Kor. 15:14
En as
Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook
sonder inhoud.
Die
Christelike geloof staan en val by Jesus se opstanding. as Christus nie opgewek
is nie, is ons geloof waardeloos en is ons nog gevange in ons sondes. Dan is
ook dié wat in Christus gesterf het, verlore. As ons net vir hierdie lewe ons
hoop op Christus vestig, is ons inderdaad die bejammerenswaardigste van alle
mense!
Daarom
kan ons nie maar net ongeërg voortgaan asof Jesus se opstanding maar net ’n
teoretiese saak is wat geen impak op ons lewens het nie.
Jesus
se opstanding verander ons swakheid in krag. God bring groot dinge tot stand
deur klein mense. Dit wat soos ’n neerlaag gelyk het verander God in ’n
oorwinning.
God
gebruik alledaagse mense soos ek en jy om sy Koninkryk te bou. Die rede waarom
ons dit kan doen is omdat Jesus met sy opstanding die mag van die ewige dood
gebreek het. Met sy opstanding het Jesus die angel van die sonde gebreek en
daarom het dit nie meer mag oor ons nie, soos ons hoor in 1 Kor. 15:54 - 56
“Die dood is
vernietig, die oorwinning is behaal.”
“Dood, waar
is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”
Die angel van
die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God.
Sonde
is alleen sonde omdat die wet van God sê dat dit sonde is. As daar nie ’n wet
was nie, sou dit nie sonde gewees het nie. Dan sou die oordeel oor die sonde,
naamlik die dood ook nie van krag gewees het nie. Maar God se wet is daar en
die straf vir die sonde is die dood.
Maar
nou hang daardie swaard van doodstraf nie meer oor ons koppe nie omdat Jesus
die wet volmaak nagekom het en omdat Hy die straf vir die sonde betaal het. Sy
opstanding is die bewys daarvan en daarom hang die swaard van die doodstraf oor
sonde nie meer oor ons koppe nie, want Jesus het die prys betaal. Hy het die
dood oorwin en dit gee vir ons die waarborg van lewe.
Met
sy opstanding, gee Christus vir ons lewe en daarom kan ons nou die lewe leef
wat God vir ons beplan het. Daarom is ons nie meer bang vir dit wat anderkant
die liggaamlike dood wag nie, want ons weet dat God daar is. In die plek van
die dood het God vir ons lewe gegee soos ons hoor in 1 Kor. 15:57
Maar ons dank
God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.
Leef
die lewe wat God vir ons gegee het
1
Kor. 15 word afgesluit met ’n opdrag om die lewe te leef wat God vir ons gegee
het soos ons hoor in 1 Kor. 15:58
Daarom, liewe
broers, wees standvastig , onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die
Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie
tevergeefs is nie.
Hoe
kry jy dit reg? – Leef nader aan God. Hoe meer jy tyd aan God spandeer, hoe
meer sal dit vir jou moontlik wees om die lewe te leef wat Hy vir ons gee.
Hier
in 1 Kor. 15:58 gee die Here vir ons ’n paar voorbeelde van wat dit beteken om
die lewe te leef wat Hy vir ons gee:
Wees
standvastig:
Met ander woorde staan stewig. God is daar en daarom kan ons vas staan wanneer
die lewe moeilik raak. Omdat ons nie uit eie krag werk nie, maar uit die krag
van die Heilige Gees wat altyd by ons is, word ons nie vernietig deur die
aanslae van die lewe nie.
Dit
beteken nie dat die lewe nie moeilik sal wees nie. Dit beteken wel dat God ons
sterk maak om die lewe te hanteer wanneer dit moeilik raak. Dit beteken dat ons
sterk staan wanneer ons teenkanting kry omdat ons die werk van die Here doen.
Wees
onwankelbaar:
Met ander woorde ons staan sterk in die geloof. Bly glo in die waarheid en moenie
toelaat dat jou geloof ondermyn word nie, soos byvoorbeeld wanneer die ongelowige
mense vir ons sê dat wonderwerke nie kan plaasvind nie en dat Jesus nie werklik
uit die dood uit opgestaan het nie.
Bly
glo in die waarheid van God se Woord. Wanneer die ongelowige mense sê dat Jesus
maar net ’n mitiese figuur is en dat Hy nie waarlik geleef het nie, bly glo dat
Hy God is wat werklik mens geword het. Glo eerder vir God as die ou satan wat
vir jou lieg. Hou aan met glo dat die Bybel die Woord van God is en dat dit nie
maar net stories is wat deur mense uitgedink is nie.
Wanneer
die lewe moeilik raak, hou moed omdat ons God vertrou. Al verstaan ons nie rede
vir sekere gebeurtenisse in ons lewe nie, vertrou God nog steeds.
Al
sien ons nie dadelik die resultaat van ons werk in God se Koninkryk nie,
vertrou steeds dat God weet wat Hy doen en dat Hy besig is om deur ons swakheid
sy doel te bereik.
Wees
altyd oorvloedig in die werk van die Here: Met ander woorde,
werk met ywer in God se Koninkryk. Hou aan om sy liefdesgebod teenoor alle
mense uit te leef. Hou aan om vir mense van God se genade, dit wil sê die goeie
nuus van Jesus Christus te vertel deur ons leefwyse en ook deur ons woorde.
Wees
betrokke in die gemeente waar God jou geplaas het. Dra mekaar se laste. Wees
daar vir jou broers en susters in die geloof. Wees ’n steunpilaar vir hulle wat
swaarkry. Deel in mekaar se vreugdes. Besef dat wanneer jy as ampsdraer geroep
word, dan is dit die Here wat jou roep, nie die kerkraad nie.
Ons
kan bogenoemde opdragte uitvoer omdat ons weet dat ons inspanning nie
tevergeefs is nie. Die werk wat ons vir God doen is nie sonder resultate nie en
ons weet dat God sy doel bereik deur die werk wat ons doen, hoe gering dit ook
al mag wees. Wanneer ons glo dat Christus deur sy dood en opstanding die mag
van die sonde gebreek het, weet ons dat ons werk in God se Koninkryk is nie
tevergeefs nie.
Slot
Jesus
Christus se opstanding is nie net ’n storie wat ons tydens Paasfees weer onthou
nie. Dit is die krag waaruit ons elke dag leef. God gee aan ons die oorwinning
oor die dood deur ons Here Jesus Christus, leef daarom elke dag uit die krag
van daardie oorwinning!
Amen