GKE
14 Jun. 2015
Luk
18:1-8
Ps.
34-1:1,2 & 5
Ps.
130-1:1,2 & 4
Ps.
119-2:7,11 & 18
Ps.
68-1 : 1 & 3
Hoe lank nog? Dit is ’n
versugting wat die mens deur al die eeue heen teenoor God uiter. In Ps. 94:3
hoor ons hoe die Psalmdigter byna 3000 jaar van tevore teenoor God sug:
Hoe
lank, Here, hoe lank sal die goddeloses hulle nog verlustig in die leed van
ander mense?
As ons so na die misdaad
en die onreg in die samelewing van ons tyd kyk, dan voel dit of daardie
noodroep van die Psalmdigter vir ons bedoel is. Ons het twee weke gelede by
Fanie van Geopende deure gehoor hoe Christene vervolg word en selfs doodgemaak
word. Elke week hoor ons van al hoe meer gruweldade wat van die IS teenoor
Christene pleeg.
In ons eie land lyk dit
ook nie so rooskleurig nie. Daar word al hoe meer teenoor Christene
gediskrimineer. Dink nou maar aan die hofsaak wat aanhandig gemaak is teen 6
skole om hulle te verbied om ’n Christelike etos in die skool uit te leef. Sou
daardie hofsaak slaag sal die verbod spoedig op alle skole van toepassing
gemaak word.
Die krimpende getalle in
ons kerke is ’n verdere bekommernis. Ons is bekommerd oor ons eie gemeente. Verder
is daar nog die misdaad wat ons so teister om nie eens te praat van die korrupsie
en morele verval wat so hoogty vier nie. As ons so oor dit als nadink dan kan
ons maklik moedeloos word. As mens so moedeloos word kan dit maklik gebeur dat
jy ophou bid. Moedeloosheid kan mens maklik by daai punt bring waar jy sê: “wat
help dit tog? Dit lyk tog nie of God luister of omgee nie?” Het u nie al gewens
dat die wederkoms nou maar moet gebeur sodat ons van al hierdie sonde en
ellende om ons ontslae kan raak nie? Wanneer vind die wederkoms dan plaas?
Dit is ’n vraag wat die
Fariseërs ook graag antwoorde op wou hê soos ons in Luk 17:20 hoor waar die
hulle vir Jesus gevra het: “wanneer gaan die koninkryk van God dan kom?” Jesus
verduidelik vir hulle dat die koms van die koninkryk van God nie iets is wat ’n
mens kan voorspel nie. Na dit vertel Jesus vir sy dissipels ’n gelykenis om aan
sy dissipels te verduidelik wat hulle moet doen om nie moedeloos te raak terwyl
hulle wag nie. Hulle moet aanhou bid. Dit geld natuurlik vandag nog vir ons
ook. Wanneer ons deur die moeilikhede van die lewe in die gesig gestaar word, terwyl
ons op die wederkoms wag moet ons nie moedeloos word nie, maar ons moet aanhou
bid terwyl ons bly glo dat God steeds in beheer is. Daarom is dit so belangrik
dat ons ’n biddende kerk moet wees want gebed voed ons geloof.
Om dit te verduidelik
vertel Jesus vir hulle ’n gelykenis oor ’n arm weduwee en ’n onregverdige
regter . Om hierdie gelykenis behoorlik te verstaan is dit nodig dat ons kennis
neem van die omstandighede van die karakters in hierdie gelykenis. Die
dissipels het geweet wat dit is sonder dat dit vir hulle verduidelik moes word.
Die howe van daardie tyd was nie in ’n hofgebou soos ons dit vandag ken nie.
Die regter het met ’n paar handlangers rondgereis van plek tot plek en dan ’n
tent opgeslaan en daar sake aangehoor. Om jou saak verhoor te kry was dit
gewoonlik nodig om omkoopgeld aan een van die handlangers te betaal en dan het
hy met die regter gereël om die saak aan te hoor.
Vir die weduwee aan die
ander kant het alles teen haar getel. Sy het geen aansien in die samelewing
gehad nie omdat sy ’n vrou was en verder was sy brandarm omdat sy nie meer ’n
man gehad wat vir haar kon sorg nie. Sy kon dus nie enige omkoopgeld bekostig
nie en dit sou beteken dat haar saak nie verhoor sou word nie. Die persoon wat
haar verontreg het sou dus daarmee wegkom.
Die weduwee het egter een
ding in haar guns gehad. Sy was knaend en het sonder ophou by die regter
aangedring om haar saak te verhoor. Soveel so dat die regter naderhand ingestem
het om aan haar reg te laat geskied. Sy motivering daarvoor was nie omdat hy
nou skielik ’n hartsverandering ondergaan het nie. Sy motivering was eintlik
baie selfsugtig. Hy wou maar net van die verpesting van die weduwee ontslae
raak wat sy lewe so versuur het.
As ’n onregverdige regter
tog op die uiteinde aan die weduwee vir wie hy geen agting of ontsag gehad nie,
reg laat geskied hoeveel te meer sal die Regverdige God nie omsien na sy
uitverkorenes vir wie Hy omgee en liefhet nie? Die weduwee word dus met die
kerk vergelyk terwyl die regter met God vergelyk word. Dit is egter nie ’n
vergelyking van ooreenkomste nie. Nee, dit is ’n vergelyking van
teenoorgesteldes!
Die weduwee was ’n
vreemdeling waarvoor niemand omgegee het nie. Teenoor dit sorg God vir sy
kinders. Die weduwee het nie direkte toegang tot die regter gehad nie, terwyl
die kinders van God enige tyd direk by Hom kan aanklop. Die weduwee het niemand
gehad wat vir haar kon instaan nie terwyl Jesus ’n tussenganger vir die
gelowiges is. Hy onderhandel nie net nie, maar Hy het ons skuld op Hom geneem.
Die weduwee was die verontregte party in die saak terwyl ons die skuldiges is.
Jesus neem egter ons skuld op Hom sodat ons vrygespreek kan word.
Die grootste verskil is
egter dat die weduwee na ’n hof moes gaan terwyl ons voor God se genadetroon
verskyn, nie as beskuldiges nie, maar as kinders van God wat ’n liefdevolle
Vader het wat sy kinders beskerm en na hulle omsien. Die ander kontras is die
onregverdige regter teenoor die regverdige God. Die regter tree uit selfsug op
terwyl God se optrede deur sy opregte liefde en geregtigheid gedryf word.
Met hierdie gelykenis het
Jesus verduidelik hoe absoluut seker dit is dat God vir sy uitverkore kinders
wat in Hom glo sal sorg.
Sal God
dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy
hulle lank laat wag? Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook!
Jesus bedoel nie met
hierdie gelykenis dat ons God met ons gebede moet verpes soos die weduwee die
regter verpes het nie, totdat Hy naderhand nie anders kan as om ons te help nie.
Wat Jesus wel hier sê is
dat gebed so natuurlik deel van ’n gelowige se lewe is soos wat asemhaal vir ’n
mens is. Die mens dink nie eers daaraan dat hy moet asemhaal nie, hy doen dit
outomaties. Net so moet gebed so natuurlik deel van ons lewens wees dat ons nie
daaroor moet nadink om te bid nie, maar dat ons dit doen omdat dit deel van ons
lewe is. As mens sou ophou asemhaal sal jy doodgaan. As jy ophou bid, gaan jy
geestelik doodgaan.
Maar tog is hier ook ’n
spanning teenwoordig in Jesus se uitspraak. “Hy sal hulle help, en gou ook!”
Dit is hier waar die probleem inkom wat ons moedeloos maak. Vir ons voel
dit nie of dit “gou” is nie omdat ons nie God se tydsraamwerk verstaan nie.
Jesus het voor sy hemelvaart belowe dat Hy gou weer sou terugkom en nou is dat
reeds 2000 jaar later en ons ly nog steeds as gevolg van die gevolge van sonde.
Dit is hier waar geloof en vertroue in God so noodsaaklik is. Ons moet aanhou
glo dat God in beheer is, veral wanneer dit nie so lyk nie.
Jesus sluit die gelykenis
af deur te vra: (vgl. Luk 18:8)
“Maar
sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?”
Hiermee wys Jesus dat Hy
weet dat ’n mens se geloof swak is en daarom het Hy die Heilige Gees gestuur om
ons te dra in ons gebede soos ons hoor in Rom. 8:26
Die Gees
staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid
nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê
word nie.
In Jud. 20 hoor ons
Julle,
geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste
geloof. Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees.
Hoe bid mens deur die krag
van die Heilige Gees? Eenvoudig. Erken maar net dat jy nie in eie krag kan nie
en vra vir God dat Hy jou sterk maak in jou geloofstryd. Wanneer die
omstandighede jou tot moedeloosheid dryf, bid. Hou aan om te bid en hou aan om
te glo terwyl jy geduldig op God wag.
Amen