17 Aug. 2013 Jes. 42:18 – 43:28
Fokusgedeelte
: Jes. 43:1
Lof-Psalm Ps. 42:1
& 3 (OAB)
Na Wet Ps.
38:1 & 17 (OAB)
Na Gebed Ps. 118:1
2 (OAB)
Slotsang Ps. 42:5
& 7 (OAB)
Inleiding
Vandag
is ons voorbereidingsdiens vir Nagmaal volgende week. Die rede daarvoor vind
ons 1 Kor. 11:28
Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van
die brood eet en uit die beker drink
Dit
is ’n geleentheid wat God ons gee om weer te gaan nadink oor wat die Nagmaal
werklik vir ons beteken. Die vraag is nou geliefdes: “Hoe berei ons, ons voor
vir die Heilige Nagmaal?”
In
die Nagmaalsformulier word dit vir ons soos volg verduidelik:
Die ware selfondersoek bevat drie hoofpunte:
1) Ons moet nadink oor ons sonde en vervloeking en
ons met diepe berou hieroor voor God verootmoedig. (Erken dat ek verkeerd
gedoen het)
2) Ons moet die vaste belofte van God glo dat al
ons sondes alleen op grond van die soenverdienste van Christus vergewe is en
dat sy volkome geregtigheid ons toegereken en geskenk is.
3) Ons moet die opregte begeerte hê om met ons
hele lewe dank aan God te bewys, opreg voor Hom te wandel en in ware liefde en
eensgesindheid met ons naaste te lewe.
In
ons teksgedeelte gee die Here vir ons so ’n bietjie perspektief oor bogenoemde
drie sake wat soos ’n goue draad dwarsdeur die Bybel loop: sonde, verlossing en
dankbaarheid.
Sonde
Die
boek Jesaja kan in twee hoofdele opgedeel word. Jes. 1-39 en Jes. 40-66. Die
eerste deel handel oor die tyd toe Juda en Israel gevaar geloop het om deur die
Assiriërs ingeneem en in ballingskap weggevoer te word. Die tweede deel handel
oor die tyd toe Juda in ballingskap was, ongeveer een en ’n half eeu na die tyd
van die profeet Jesaja. Die gedeelte is gerig aan ’n platgeslane volk en
verkondig dat die Here die Skepper en Verlosser is, die regeerder van alles.
Daarom kan Hy red.
Die
Here het sy volk telkemale gewaarsku om hulself te bekeer, maar hulle wou nie
luister nie en daarom is hulle in ballingskap weggevoer soos ons hoor in
Jes. 42:24 & 25a
Wie het van Jakob ’n gevangene gemaak, wie het vir
Israel oorgegee aan dié wat buit gemaak het? Is dit nie die Here nie, Hy teen
wie ons gesondig het? Ons wou nie sy wil doen nie, ons wou nie na sy woord
luister nie. Daarom het Hy sy toorn teen hulle laat ontvlam: die geweld van
oorlog.
Sonde
beteken om in opstand teen God te kom deur ongehoorsaam te wees aan Hom. Dit
beteken om nie God se gesag in ons lewens te aanvaar nie. Om net mooi die
teenoorgestelde te doen wat God vir ons sê om te doen. Dit beteken om liefde
vir selfsug en haat te veruil. Sonde is om teen my beterwete van God af weg te
draai en dit hou baie ernstige gevolge vir in. In Jes. 42:25b
waarsku die Here sy volk hierteen:
Daar was vlamme rondom hulle, maar hulle wou nie
verstaan nie; dit het hulle gebrand, maar hulle wou dit nie ter harte neem nie.
Die
gevolg vir Israel was dat hulle in ballingskap weggevoer is na ’n vreemde land
weg van alles wat vir hulle kosbaar was. Hulle het nie meer grond besit nie. Hulle
was weg van die tempel af waar hulle God aanbid het.
Dit
is wat sonde in ons lewens ook doen. Dit bring verwydering tussen ons en God en
daarom sien ons dat die gevolge van hierdie opstand teen God ook in ons lewens
raak. Die vrug hiervan is vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid,
skeuring en afguns wat in ons lewens teenwoordig is.
Die
eerste aspek van my voorbereiding is dus dat ek teenoor God moet erken dat ek
’n probleem het (verootmoediging) met die verhouding tussen my en God en dat ek
moet besef dat ek dit nie self kan oplos nie. Dit is seker een van die
moeilikste dinge vir ’n mens om te doen. As dit nie vir die Heilige Gees was
wat my daartoe lei nie sal ek dit uit my eie nooit kan doen nie.
Verlossing
Vir
die Israeliete wat in sak en as in Ballingskap sit kom daar ’n wonderlike troos
van verlossing soos ons hoor in Jes.43:1-3a
Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob,
wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op
jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur
riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou
nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God,
die Heilige van Israel, jou Redder.
Israel
is as ’n klomp slawe weggevoer na ’n vreemde land toe en hulle kan absoluut
niks daaraan doen nie. Vir hierdie slawevolk bring die Here die wonderlike
troos: “Alhoewel julle niks kan doen nie, Ek kan alles doen!” Moenie bang
wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne
Die
klem val hier op die Here wat sy volk red en hulle verlos uit die slawerny
waarin hulle vasgevang is. Die Here sê: “Ek verlos jou” en in Jes. 43:11
sê die Here
Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder
nie.
Dit
is dikwels hier waar ons die denkfout maak oor voorbereiding. Ons kry so maklik
die persepsie dat ek vir die Here moet wys dat ek eintlik nie so sleg is nie.
Ja, ek het nou wel so bietjie droog gemaak, maar ek gaan van nou af harder
probeer. As ons mooi luister na wat die Here hier en in die res van die Bybel
vir ons sê, sal ons agterkom dat dit nie ek is wat myself moet regruk en
verander nie. Ek kan nie al wil ek ook. Die Here vat my en Hy red my omdat Hy
vir my lief is soos Hy vir ons sê:
Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.
Hy
dra ons wanneer ons deur diep waters moet gaan in die lewe. Daar waar die lewe
te swaar word dra Hy ons. Daar waar dit vir my voel ek kan nie meer nie, gee Hy
vir ons die krag om aan te gaan. Daar waar die vuur van my opstandigheid teen
die Here dreig om my heeltemal te verskroei beskerm Hy ons omdat Hyself deur
die water en vuur van die kruis vir ons gegaan het. Christus het die duurste
prys betaal wat ’n mens kan. Hy het met sy lewe betaal en dit is wat ons met die
Heilige Nagmaal kom herdenk sodat die Heilige Gees daarmee ons geloof kan
versterk. En die troos wat ons ontvang is die sekere en vaste wete dat ons met
Christus verenig is deur ’n onbreekbare band van die Heilige Gees.
Dit
beteken prakties dat ek verseker kan weet dat selfs in my slegste tye en
diepste oomblikke van donkerte God nooit spyt was dat Hy my gered het nie.
NOOIT NIE! Soos Hy in Jes. 43:4 bevestig:
Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en
jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe.
Die
tweede aspek van my voorbereiding gaan dus daaroor dat ek besef dat ek nie meer
kan nie en dat die enigste uitweg by God self lê. Dat ek sal besef dat die
waarborg van my verhouding met God nie in my swak hande lê nie, maar in die
sterk band van geloof wat God self in persoon van die Heilige Gees aan my gee.
Dis nie ek wat moet goed wees nie. Dit is God se genade wat my red.
Dankbaarheid
In
Jes. 43:18 sê die Here vir die volk
Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by
die verlede stilstaan nie.
Dit
wat in die verlede is, is klaar afgehandel. Wanneer die Here sonde vergewe het
dink Hy nooit weer daaraan nie soos ons hoor in Ps. 103:12
So ver as die ooste van die weste af is,
so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.
so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.
Nou
is dit vorentoe. Dit is hoe dit vir ons ook moet wees. Die sonde in my verlede
is soos ’n donker gat in die diepste binneste van ’n tronk. As ek daarvan gered
is en vrygemaak is, gaan ek tog nie weer vrywillig daarnatoe terugkeer nie! God
het vir my ’n nuwe lewe gegee waar ek verlos is van die selfsug en haat en
ongeluk. Waarom sou ek daarnatoe wou terugkeer? Uit dankbaarheid wil ek weer
leef en nie vasgevang wees in die doodsheid van die sonde nie. Ek kan hierdie
nuwe lewe leef omdat die Gees my dra en in staat stel om dit te doen.
Slot
Waaroor
gaan voorbereiding? Drie eenvoudige sake. Sonde, verlossing en dankbaarheid.
Geliefdes kom ons maak hierdie week wat voorlê erns met ons voorbereiding sodat
ons die volle troos kan ontvang wat die Here vir ons met die Nagmaal gee.
Amen.