21 Jul. 2013 Ef. 2:1-10 Fokusgedeelte
: Ef. 2:8 & 9 Sondag 1 HK
Lof-Psalm Ps. 18:1 &
3 (OAB)
Na Wet Ps. 1:1 &
3 (OAB)
Na Gebed Ps. 18:13
& 4 (OAB)
Slotsang Ps. 8:1, 4,
5 & 8 (OAB)
SONDAG 1.
1 Vraag: Wat is jou
enigste troos in lewe en in sterwe?
Antwoord: Dat
ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar
aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort (c). Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes
ten volle betaal (d) en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (e). Hy bewaar my op so 'n wyse dat sonder die wil
van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (g). Alles moet inderdaad tot my saligheid dien
(h). Daarom verseker (i) Hy my ook deur
sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid
om voortaan vir Hom te lewe (k).
(a) Rom
14:8. (b) 1 Kor 6:19. (c) 1 Kor 3:22; Tit 2:14:
(d) 1 Pet 1:18, 19;1 Joh 1:7;
2:2, 12. (e) Heb 2:14;1 Joh
3:8; Joh 8:34-36. (f) Joh 6:39;
10:28; 2 Tess 3:3; 1 Pet 1:5.
(g) Matt 10:30; Luk 21:18. (h) Rom 8:28.
(i) 2 Kor 1:22; 5:5; Ef 1:14;
Rom 8:16. (k) Rom 8:14;1 Joh 3:3:
2 Vraag: Hoeveel dinge moet jy weet om in
hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?
Antwoord: Drie dinge (a): Ten eerste, hoe groot my sonde en
ellende is (b); ten tweede; hoe ek van al my sonde en ellende verlos word
(c) en ten derde hoe ek God vir so 'n verlossing dankbaar moet wees (d).
(a) Matt
11:28-30; Ef 5:8. (b) Joh 9:41;
Matt 9:12; Rom 3:10;1 Joh
1:9;10. (c) Joh 17:3; Hand 4:12 10:43. (d) Ef 5:10;
Ps 50:14; Matt 5:16; 1 Pet 2:12;
Rom 6:13; 2 Tim 2:15:
Inleiding
As
ons in een sin moet opsom waaroor Christenskap gaan, hoe sou ons dit doen? Daar
is basies drie hoofsake waaroor dit gaan. Hoe groot is my sonde en ellende. Hoe
kan ek van al my sonde en ellende verlos word en hoe moet ek dankbaar wees
teenoor God vir so ’n verlossing. As ons mooi daaroor nadink dan is dit in kort
waaroor Christenskap gaan en dit is hoe dit kortliks in ons teksgedeelte
opgesom word.
Hoe
groot is my Sonde en ellende?
Ons
hoor in Ef. 2:1-3
Julle was dood as gevolg van julle oortredings en
sondes wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos
hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte,
die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.
So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes
oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons
gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander
mense deur God gestraf moes word.
Die
eerste saak is dus dat mense as gevolg van sonde ver van God af is. Hoe lyk die
mens wat in hierdie sondige toestand is? God het nie ’n invloed op sy lewe nie.
Hy erken nie God se gesag nie, met ander woorde dit wat God in die Bybel sê wat
reg en verkeerd is, stem hy nie mee saam nie. So ’n persoon is inderdaad in
opstand teen God se gesag in sy lewe. Hy laat hom lei deur die satan en sy eie
sondige natuur. Hy aanvaar nie self verantwoordelikheid vir sy doen en late
nie. Ander kry die skuld vir sy verkeerde optrede.
As
ons na Ef. 2:2 luister dan sal ons maklik sê dat dit die ou duiwel se skuld is
dat ek sondig. In vers 3 is dit egter duidelik dat dit ons eie sondige natuur
en begeertes is wat ons lei. Niemand anders buiten onself moet die skuld dra
vir ons verkeerde optrede nie. As ons die skuld op die satan pak, dan beskuldig
ons eintlik vir God, want Hy het toegelaat dat die satan ons verlei. Eva en
Adam het ook probeer om die skuld op iemand anders te pak. Eva het die slang
beskuldig. Adam het Eva beskuldig en op die uiteinde vir God self. God sê egter
duidelik vir ons dat elkeen self verantwoordelik is vir sy sonde. God het vir
elke mens ’n vrye wil gegee en daarom kan ons nie ander mense die skuld gee vir
ons sondige optrede nie.
Die
gevolge van die sonde is egter verskriklik. God se oordeel en straf rus nou op
die mens. Die mens se eie wil het so verwronge geraak dat hy net die sonde wil najaag
en so is die mens se natuurlike geaardheid nie meer om goed te doen nie maar om
verkeerd te doen. Hoe lyk die mens se sondige natuur wat hy navolg? In Gal 5:19
spel die Here dit vir ons uit:
Die praktyke van die sondige natuur is algemeen
bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery,
vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns,
dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge.
Ons
kan maar net weer gaan kyk tot watter mate hierdie dinge nog deel is van my
lewe.
Hoe
kan ek van al my sonde en ellende verlos word?
Die
probleem is dat ek so diep in my sonde en ellende vasgevang is dat ek nie self
daaruit kan kom nie. Wat ’n droewige toestand verkeer die mens nie in nie? Hy
is vasgevang in die sondige ellendigheid van hierdie wêreld en hy kan niks doen
om daarvan verlos te word nie. Die Here sê vir ons in Ef. 2:1
Julle was dood as gevolg van julle oortredings en
sondes
As
God nie ingryp nie, dan sal ons vir ewig vasgevang wees in ’n hopelose toestand
ver van God af.
Genadig
het God ingegryp. Omdat Hy ons innig liefhet, het Hy ons wat dood was as gevolg
van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. In Ef. 2:8 & 9 hoor
ons:
Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof.
Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. Dit kom nie
deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself
trots te wees nie.
God
se genade beteken dat ons nie vir God hoef te bewys dat ons goed genoeg is vir
Hom nie. Dis wat genade beteken. Daar is niks wat ons kan doen sodat God meer
lief vir ons sal wees nie en die teendeel is ook waar. Daar is niks wat ons
gedoen het wat sal maak dat God minder lief is vir ons nie.
Jesus
het gesterf en opgestaan. Dit wat letterlik met Jesus gebeur het, geld
figuurlik vir die gelowiges. Soos Christus dood was, maar opgewek is, so het
God die gelowige lewend gemaak sodat ons nou die ewige lewe kan hê. Dit wat met
Jesus gebeur het, geld egter ook letterlik vir die gelowige. Jou liggaam gaan
letterlik doodgaan, maar God gaan ook jou dooie liggaam lewendig maak, en dan
gaan jy na liggaam en gees ewig saam met Christus regeer.
God
se genade beteken dat Hy alles vir ons gee sonder dat ons iets hoef te doen om
dit te verdien. Ons deel in hierdie genade deur geloof en selfs die geloof wat
God vra is ’n gawe van God sodat ons kan weet dat ons deel het aan sy ewige
genade.
Hoe
moet ons vir God dankie sê vir hierdie verlossing?
Ons
was dood as gevolg van ons sonde en God het ons in Christus Jesus lewend gemaak
deur ons te verlos van die doodsbestaan waarin die sonde ons vasvang soos ons
hoor in Ef. 2:10
Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus
Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons
bestem het.
Besef
u wat dit vir ons beteken? Ons is nie meer vasgevang in die negatiwiteite van
die lewe nie. In die plek van vyandskap, haat, naywer, woede, rusies,
verdeeldheid en skeuring kan liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid en
goedhartigheid ons lewens kenmerk. God wil vir ons net die beste gee en daarom
kan ons nou begin deel in die goeie wat Hy vir ons bestem het.
Samevatting
Christenskap
gaan daaroor dat daar ’n radikale verandering in die lewe van ’n gelowige
plaasvind. Deur God se genade in Jesus Christus is ons nie meer dood as gevolg
van ons sonde nie. Ons is saam met Christus opgewek tot ’n nuwe lewe. Ons is
nie meer vasgebind aan ’n negatiewe sondige bestaan wat deur liefdeloosheid
gekenmerk word nie. In die plek daarvan het God vir ons ’n lewe gegee wat deur
liefde en omgee gekenmerk word en daarmee saam ’n lewende hoop dat ons
liggaamlike dood maar slegs ’n heerlike deurgang is tot ’n ewige heerlikheid
saam met God.
Om
getroos in hierdie lewe te leef moet ek weet hoe groot my sonde en ellende is,
hoe ek daarvan verlos kan word en hoe ek vir God dankie moet sê vir die nuwe
lewe wat Hy uit genade aan ons skenk.
Geliefdes,
kom ons kyk opnuut weer na daardie areas van ons lewens wat nog deur sonde
gekenmerk word. Kom ons bely ons sonde teenoor God, want Hy is getrou en
regverdig. Hy vergewe ons, ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.
Kom ons glo in Jesus Christus en kom ons wees lief vir mekaar ooreenkomstig sy
gebod wat Hy vir ons gegee het.
Amen