29 Jan. 2012 (RB) Joh. 15; teksvers Joh. 15:12
Sing
Lofsang: Ps. 146 v 1 (OAB)
Na
wet: Sb.
9-1 v 1 & 11 (Die Tien Gebooie)
Na
gebed Ps. 119 v 2 (OAB)
Slotsang Sb. 9-3 v 1 & 2 (Voor U wet, Heer, staan
ons skuldig)
Julle behoort mekaar lief te hê. Dit is die Here se opdrag aan ons. In
die vertaling gaan daar so ietsie van die Griekse grammatika verlore. Dis nie
’n klipharde opdrag wat ons moet doen of ons nou wil of nie. Liefde kan tog
immers nie afgedwing word nie. Dit is veel eerder ’n aansporing van iets wat
ons behoort te doen. In sekere sin is die aansporing dat ons dit behoort te
doen ’n baie strenger opdrag as “julle moet dit doen of julle nou wil of nie”.
Die opdrag behels dat ons mekaar moet liefhê omdat ons dit vanuit ons eie wil
doen en nie omdat ons dit MOET doen nie. Ons moet wil liefhê omdat ons oortuig
is dat dit die regte ding is om te doen en ons behoort dit te doen. Dit is die
opdrag wat die Here aan sy kerk gee.
In hierdie teksgedeelte wys die Here ons hoe ons dit kan regkry, want
om mekaar lief te hê druis in teen ons sondige natuur. Uit ons sondige natuur
sal ons veel eerder haat as om lief te hê en dit kom heel dikwels in ons
optrede teenoor mekaar na vore. In hierdie teksgedeelte hoor ons hoe die Here
die beeld van ’n druiwestok gebruik om aan ons te verduidelik hoe ons dit kan
regkry om mekaar lief te hê. Dit is inderdaad wat die Here van ons verwag
wanneer ons die nuwe lewensjaar aanpak. In Joh. 15 v 1 hoor ons:
“Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die
boer.
Die Vader is die Boer en Jesus is die wingerdstok (dit wil sê die
hoofstam waaruit die take dit wil sê die lote groei) wat Hy geplant het en die
lote is ons die gelowiges wat moet vrugte dra soos ons hoor in Joh. 15 v 2.
Hiermee sê die Here vir ons dat God die Vader sy Seun Jesus na die mensdom
gestuur het sodat hulle waarlik die lewe kan leef wat Hy vir ons beplan het.
Die vrug wat ons moet dra is liefde en ons kan dit slegs doen as ons in Jesus
ingeplant is.
Die Here gebruik hier ’n baie mooi beeld om vir ons te verduidelik hoe
sy liefde werk. Net soos wat ’n druiweloot nie op sy eie kan vrugte dra nie,
net so kan ons nie vrugte van liefde dra as ons los is van Jesus Christus se
verlossing nie. As die lewegewende sap nie uit die wingerdstok (die hoofstam)
vloei in die loot nie, gaan die loot dood en dit verdroog. Die mens wat nie glo
in Jesus se verlossing nie is net soos daardie verdroogde loot soos ons hoor in
Joh. 15 v 6:
As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos
’n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die
vuur, en dit verbrand.
So verduidelik die Here vir ons dat ons op ons eie nie lief kan hê
nie. As God se liefde nie in ons is nie kan ons nie liefhê nie soos Johannes
ook in sy eerste brief 1 Joh. 4v19 verduidelik:
Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.
In die eerste plek is die liefde van God dus ’n genadegawe wat ons van
God ontvang. Aan die ander kant is dit
ook ’n opdrag soos ons in ons teksvers Joh. 15 v 12 hoor:
Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek
julle liefhet.
Die genade van God is dat Hy nooit meer vra as wat Hy alreeds vir ons
gegee het nie. Aan die een kant gee Hy, maar aan die ander kant vra Hy wat Hy
gee. God het net een doel voor oë met dit wat Hy vir ons gee en dit wat Hy vra
soos ons hoor in Joh. 15v11:
“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan
wees en julle blydskap volkome kan wees.
In dit wat God vir ons gee en wat Hy van ons vra, doen Hy sodat ons
net die heel beste in die lewe kan ontvang.
Die Here verwag van ons om vrug te dra in ons lewens. Die vrug wat Hy
verwag is liefde. In Gal 5v22 & 23 sê die Here vir ons waaruit die vrug van
liefde bestaan. Die vrug van liefde bestaan uit : vreugde, vrede, geduld,
vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. As
ons in Jesus, die ware wingerdstok ingeënt is, dan sal Hy vir ons hierdie vrug
gee soos ons hoor in Joh. 15v7:
As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan
net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.
As ons vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid,
getrouheid, nederigheid en selfbeheersing van die Here vra, dan sal Hy dit vir
ons gee.
Wanneer die Here sy opdrag vir ons gee om mekaar lief te hê, dan sê Hy
ook hoe ons dit moet doen: “soos Ek julle liefhet”. Jesus se liefde strek so
ver dat Hy sy lewe ter wille van ons geoffer het. Ware liefde beteken
opoffering. Die vrug van liefde vereis opoffering van ons.
Wat se opoffering vereis die liefde wat die Here vra van ons? Dat ons
nie net vir die mense sal lief wees waarvan ons hou nie, maar dat ons ook vir
diegene moet lief wees waarvan ons nie hou nie! Dit is maklik om my mede
broeders en susters waarvan ek hou lief te hê. Ongelukkig is ons nog
blootgestel aan die gevolge van sonde en daarom is dit so dat daar broeders en
susters in die gemeente is waarvan ons minder hou. Ons moet ook vir hulle lief
wees!
Die grootste aspek van opoffering wat liefde verg is dat ons ook na
onself moet kyk. As daar dalk een van ons is wat voel dat my broeders en
susters nie so lief is vir my soos die Here van ons vra nie, dan moet ek na
myself kyk. Die opoffering wat ons moet maak is dat ek dit vir my broers en
susters in die geloof moet maklik maak om my lief te hê. Is ek heeltyd net
kwaai en nors? Is ek gedurigdeur skoorsoekerig en soek ek rede om te baklei?
Loop ek heeltyd rond en verwyt? Maak ek die lewe vir die mense om my moeilik?
Doen ek aspris goed waarvan my broers en susters nie hou nie, sodat ek hulle
kan grief? Is ek die een wat altyd net kla en fout vind? As vreugde, vrede,
geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en
selfbeheersing deel is van my lewe, dan maak ek dit maklik vir my broers en
susters om vir my lief te wees. Dit kan soms een van die grootste opofferings
wees wat ek moet doen, naamlik om my eie foute raak te sien en vir die Here te
bid dat Hy my help om daarvan ontslae te raak.
Nog ’n aspek van liefde is die invloed wat ek op die mense om my
uitoefen. Ons het ’n spreukwoord wat sê dat maats jou kan maak of breek. As ek
met die verkeerde maats deurmekaar is, dan kan hulle my lewe baie negatief
beïnvloed. Die vraag is hier of ek nie ’n verkeerde maat is vir my vriende nie?
Is ek besig om my vriende saam met my in die afgrond in te ly? Is ek daardie
persoon teen wie ouers hulle kinders waarsku? Is ek die persoon wat heeltyd
veroorsaak dat ek en my maats in die moeilikheid beland? Hierdie geld nie net
vir die kinders nie, maar ook vir die grootmense. Bou ek op of breek ek af?
Geliefdes, die Here se opdrag aan ons is:
Julle behoort mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.
Hierin leer die Here ons dat ware liefde opoffering vereis. Dit vereis
opoffering in die sin dat ek moet liefhê omdat ek wil en nie omdat ek dit maar
net doen om dit gedoen te kry nie. Ware liefde is opreg en dit vereis
opoffering in die sin dat ek ook diegene liefhet waarvan ek nie hou nie. Ware
liefde vereis opoffering deurdat ek dit vir my broers en susters moet maklik
maak om my lief te hê. Ek kan dit slegs doen as ek bereid is om my eie foute
raak te sien en dat ek vir die Here bid om my te help om dit reg te kry. Ek kan
slegs hierdie gebed bid as Jesus Christus en sy verlossing van die sonde deel
is van my lewe. Ware liefde vereis opoffering deurdat ek moet streef om ’n
positiewe invloed uit te oefen op my vriende sodat ek hulle opbou en nie
afbreek nie. Geliefdes, kom ons wees lief vir mekaar soos die Here vir ons lief
is.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking