19 Januarie 2012

Op grond van die groot ontferming van God behoort ons onself as lewende en heilige offers aan God te gee wat vir Hom aanneemlik is


Skriflesing:   1 Tess. 5 v 12 - 28
Liturgie  6 Nov. 2011
na Votum Ps. 18 v 1  (OAB)
Na Wet Ps. 38 v 1 & 17 (OAB)
Na gebed Ps. 33 v 5 & 11   (OAB)
Slotsang Ps. 133 v 1 & 2 (OAB)

Inleiding

Wat is ons reaksie op die genade wat ons van God ontvang? Ons vier volgende week as die Here wil weer Nagmaal waar ons weer op ’n sigbare wyse gaan sien hoe groot God se genade in ons lewens is. Ons gaan in die brood en die wyn sien hoe Jesus Christus vir ons sondes aan ’n vervloekte kruishout vasgespyker is. Ons het hierdie week geleentheid om ons voor te berei op Nagmaal. Dit behels onder andere dat ons opnuut weer nadink en besef hoe onmoontlik dit is om onself van die sondeslawerny te verlos. Verder ook dat ons weet waar ons wel verlossing van hierdie sondeslawerny kan vind en dan ook dat ons, ons opnuut weer voorneem om soos verloste kinders van God te leef. Rom. 12v1 som dit mooi op:
op grond van die groot ontferming van God: Gee  julleself aan God as lewende  en heilige  offers  wat vir Hom aanneemlik  is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.

Hoe gee ons onself aan God as ’n heilige offer? God gee vir ons in sy Woord baie praktiese riglyne hoe om dit te doen. Ons gaan vanoggend fokus op die riglyne wat Hy aan die gemeente in Tessalonika gegee het omdat dit ook vir ons gemeente van toepassing is. Eerstens net ’n kort agtergrond oor hierdie brief aan die gemeente in Tessalonika.

Agtergrond

In Handelinge 17 hoor ons dat die gemeente in Tessalonika tydens Paulus se tweede sendingsreis in Asië tot stand gekom het. Verder hoor ons ook dat Paulus nie baie lank in die gemeente kon preek nie. Dit was nie veel meer as drie weke voordat hy vir sy lewe moes vlug nie. In hierdie eerste brief aan Tessalonika hoor ons dat Paulus baie bekommerd was oor die welstand van die jong gemeente wat hy so inderhaas moes verlaat. Daarom het hy vir Timoteus gestuur om te gaan kyk hoe dit in die gemeente gaan. Timoteus het teruggekom met die blye berig dat dit baie goed gaan in die gemeente, maar dat hulle tog sekere geloofskennis ontbreek het. Hulle was veral onkundig oor die wederkoms van Jesus Christus en daarom fokus Paulus in die twee briewe wat hy aan die gemeente geskryf het om hulle baie spesifiek ten opsigte van die wederkoms te onderrig en dat alles wat hulle doen juis op hierdie Christelike hoop van die wederkoms gerig moet wees.

In die tweede helfte van die brief gee hy dan ook baie praktiese riglyne aan die gemeente hoe om te leef met die hoop op die wederkoms van Jesus Christus. In ons teks gedeelte vind ons ’n samevatting daarvan. Daarin leer ons (1) hoe ons optrede teenoor die ampsdraers in die gemeente behoort te wees; (2) hoe ons onderlinge verhoudings behoort te wees en (3) hoe ons verhouding teenoor God behoort te wees. Uit hierdie riglyne kan ons ook leer hoe om te leef met die hoop op die wederkoms van Jesus Christus. Wat behoort ons reaksie te wees op die genade wat ons van God ontvang? Op grond van die groot ontferming van God behoort ons onself as lewende en heilige offers aan God te gee wat vir Hom aanneemlik is.

Hoe moet ons optrede teenoor die ampsdraers wees?

U het heel moontlik die afgelope week besoek ontvang van u ouderling en indien nie sal u in die komende week deur hom besoek word. In 1 Tess. 12 & 13 sê die Here vir ons:
Erken die mense wat so hard onder julle werk en julle in opdrag van die Here lei en teregwys. Betoon in liefde die hoogste agting aan hulle ter wille van hulle werk. Leef in vrede met mekaar.

Slaan ag op die onderwysing wat hulle uit die Woord aan julle bring en wees dankbaar vir wat die bediening in julle lewens beteken. As dit nodig is dat ons deur hulle tereggewys moet word dan moet ons besef dat hulle dit in opdrag van die Here doen. As daar iets is in my lewe is wat nie reg is nie en die ouderling wys my daarop, dan moet ek besef dat die Here deur die ouderling met my praat. Wees dankbaar vir die werk wat die diakens doen en ondersteun hulle werk. Leef in vrede met mekaar saam. Moenie in ’n stryd met die ampsdraers van die gemeente betrokke raak nie.

Hoe moet ons onderlinge verhoudings wees?

Omdat ons die Here se persoonlike liefde ervaar behoort daardie liefde ook in ons onderlinge verhoudings sigbaar te wees. In 1 Tess 5V14-15 sê die Here dan ook vir ons hoe ons teenoor mekaar moet optree.
Ons druk julle dit op die hart, broers: Wys die leeglêers onder julle tereg, praat die kleinmoediges moed in, help die swakkes, wees met almal geduldig. Sorg dat niemand ’n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie. Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense.
Ons moet op mekaar ag gee en verkeerde gedrag moenie goedgepraat word nie. In Tessalonika was daar ’n klomp mense wat onder die voorwendsel van die wederkoms opgehou werk het en so op hulle gelowiges begin teer het. Sulke gedrag was onaanvaarbaar.

Verder moet ons mekaar ook ondersteun. Daar kom tye in mens se lewe wanneer jy baie broos is weens verskeie omstandighede soos siekte, hartseer en sulke dergelike dinge. In sulke omstandighede moet ons mekaar ondersteun en daar wees vir mekaar. Die opdrag om met almal geduldig te wees wys ons weereens daarop dat ons optrede deur liefde vir mekaar gemotiveer moet word.

Moenie ’n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie. As iemand ons te na gekom het dan moet ons hulle vergewe. Vergifnis beteken nie om die ander persoon net so seer te maak soos hy/sy my gemaak het nie! Ons moet mekaar se belange op die hart dra, met ander woorde ons moenie ons eie belange voorop stel nie.

Hoe moet ons verhouding met God wees?

In 1 Tess 5v16 – 22 sê die Here vir ons:
Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie. Moenie profesië uitsprake van dié wat die boodskap van God verkondig, geringskat nie, maar toets dit alles, behou wat goed is, en bly weg van alles wat sleg is.
Ons moet blymoedig wees. Met ander woorde moenie altyd met ’n lang gesig rondloop asof die hele wêreld op jou skouers druk nie. Ons moet IN alle omstandighede dankbaar wees omdat ons weet dat die Here ons dra deur die moeilike tye. Dit is inderdaad soos ons in Sondag 10 van die Heidelbergse Kategismus bely dat ons in voorspoed dankbaar moet wees en in teenspoed geduldig moet wees in die vaste vertroue dat Here alles ten goede laat meewerk.

Bid gedurig. Dit beteken nie dat ons heeldag op ons knieë moet wees nie, maar dat ons in alle tye biddend moet leef. Gebed is ons kommunikasie kanaal met God. Moet dit nie afskeep nie. Paulus vra ook in vers 25 dat die gemeente vir hom moet bid. Geliefdes bid julle gereeld vir julle dominee? Sonder julle gebede kan ek nie my werk behoorlik doen nie. Ons moet vir mekaar bid.

’n Verhouding sonder kommunikasie kan tog nie werk nie. Ons praat met God deur gebed, maar ons moet ook na Hom luister wanneer Hy met ons praat deur prediking en ook persoonlike Bybelstudie. Deur nie by die prediking uit te kom nie en ook nie Bybel te lees nie, staan ons die werking van die Heilige Gees teë, want die Gees werk deur die Lewende Woord van God. Die Gees werk nooit los van die Woord nie. Om aan die Here gehoorsaam te wees beteken dat ons doelbewus die goeie sal kies en wegbly van dit wat sleg is.

In 1 Tess 5v23 & 24 bid Paulus dan ook dat God die gemeente in die totaliteit van hul menswees sal bewaar sodat hulle onberispelik sal wees wanneer Jesus weer kom. Die verlossing in Jesus Christus is volmaak en daarom kan ons volkome vertrou dat Hy ons volkome sal verlos van die slawebande van die sonde. In vers 24 spreuk Paulus dan ook die vaste vertroue uit dat God dit sal doen omdat HY getrou is.

Slot

Op grond van die groot ontferming van God behoort ons onself as lewende en heilige offers aan God te gee wat vir Hom aanneemlik is. Ons doen dit deur die leiding van die ampsdraers in die gemeente te respekteer. Ons doen dit deur mekaar in liefde te ondersteun en mekaar se belange te dra. Ons doen dit deur in ’n lewendige verhouding met God te leef deur in gebed met Hom te praat en om na Hom te luister in die woordverkondig en persoonlike Bybelstudie. Laat ons daarom op grond van die groot ontferming van God onself as lewende en heilige offers aan God te gee wat vir Hom aanneemlik is.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking