19 Januarie 2012

In tye van verandering moet ons doelbewus ons vertroue in die Here plaas


Genesis 49v29 – 50v26 Teksvers Genesis 49v17d
Liturgie  16 Okt. 2011
na Votum Ps. 1 v 1 & 2  (OAB)
Na Wet Ps. 19 v 1 & 4  (OAB)
Na gebed Ps. 66 v 1 & 7  (OAB)
Slotsang Ps. 84 v 1 & 6 (OAB)

Geliefde gemeente,
Elke mens word in hierdie lewe aan verandering blootgestel. In Suid-Afrika het ons die afgelope paar jare 'n oormaat van veranderings beleef. Hierdie veranderings bring by baie mense groot onsekerheid. 'n Mens hoor hierdie onsekerheid in vrae wat ons vra:
?        Gaan ons nie maar dieselfde paadjie loop as Zimbabwe nie?
?        Is daar nog vir ons kinders 'n toekoms in hierdie land?
?        Sal ons as die Kerk van die Here nog in Suid-Afrika geleentheid gebied word om met ons werk voort te gaan?

Naas al die veranderings wat in ons land plaasgevind het, vind daar dikwels ook drastiese veranderings in mense se persoonlike lewens plaas. Wanneer 'n mens byvoorbeeld jou werk verloor, of jou gesondheid verswak, of iemand naby aan jou sterf, verander jou lewe drasties en ontstaan daar by jou vrae oor die toekoms.

Watter leiding gee God in sy Woord aan ons om Hom steeds te dien in tye van verandering? In die gedeelte wat ons vandag gelees het, het ons gehoor hoe Josef se broers aan verandering blootgestel was. Nadat hulle saam met hulle pa uit Kanaän na Egipte getrek het en in die Gosenstreek kom bly het, was hulle baie dankbaar dat Josef nie op hulle wraak geneem het oor alles wat hulle hom aangedoen het nie. Hulle kon vir baie jare rustig met hulle lewe daar in die Gosenstreek voortgaan.

Toe sterf hulle pa en skielik verander hulle hele situasie. Hulle besef dat dit dalk nou juis die geleentheid was waarvoor Josef gewag het. Nou kan hy hulle en hulle kinders laat doodmaak. Hulle pa, vir wie Josef ontsag gehad het, is nie meer daar nie en niks hou Josef dus terug om wraak te neem nie. Hoor wat vra hulle in Genesis 50:15:
"En as Josef nog steeds 'n grief teen ons het en ons nou gaan terugbetaal vir al die kwaad wat ons hom aangedoen het? "

Hulle vrees blyk duidelik uit die boodskap wat hulle vir Josef stuur. Die boodskapper moet hom daaraan herinner dat hulle pa gesê het dat Josef hulle moet vergeef vir wat hulle gedoen het, en hulle verklaar hulself bereid om Josef se slawe te wees (Gen. 50:17-18).

Was die optrede van die broers verkeerd? Was hulle vrees ongegrond? Hoewel 'n mens verstaan dat hulle erg bekommerd was oor wat nou gaan gebeur, moet 'n mens nie vergeet wat vooraf alles gebeur het nie. Josef het reeds aan hulle die versekering gegee dat hy nie gaan wraak neem nie. Hy het vir hulle verduidelik dat God die kwaad wat hulle gedoen het, vir sy volk ten goede gebruik het, Soos ons in Genesis 45v5-8 hoor:
5Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red. 6Dit is nou maar die tweede jaar van hongersnood in die land. Daar lê nog vyf jaar voor waarin daar nie geploeg of geoes sal word nie. 7God het my voor julle uit gestuur om vir julle ’n oorblyfsel in hierdie land te laat oorbly, om julle aan die lewe te hou en sodat baie aan die dood sal ontkom. 8Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God.

Die feit dat hulle iemand na hom gestuur het om vir hulle lewe te pleit, openbaar dus duidelik dat hulle Josef nie vertrou het nie. 'n Mens sou hulle wantroue in Josef nog kon verstaan, want Josef was maar net 'n mens en hy kon sy beloftes aan hulle verbreek en hulle laat doodmaak het.

Daar is egter nog ’n aspek wat ons in gedagte moet hou. Jakob se versoek om die familiegraf in Kanaän begrawe te word. Hiermee bevestig Jakob sy absolute vertroue en geloof in God se beloftes. God het ’n eie vaderland belowe en met hierdie versoek reik Jakob vooruit om deel daarvan te wees. Jakob se seuns openbaar egter nie dieselfde vertroue in God se beloftes nie, ten spyte daarvan dat hulle bely dat hulle Hom dien.
Hulle optrede openbaar dat dit nie net vir Josef is wat hulle wantrou nie. Die Here het so pas deur hulle vader Jakob aan hulle en hulle nageslagte baie spesifieke seëninge toegese en tog tree hulle op asof hulle nie die beloftes ontvang het nie.Nog erger! Hulle tree op of die Een wat aan hulle die beloftes gemaak het, nie betroubaar is nie en nie die vermoë het om sy beloftes gestand te doen nie. Hulle optrede wys dat hulle die Here wantrou!

Geliefdes, ons moenie dat verandering en onsekerhede in ons lewe ons by daardie punt bring dat ons nie die Here vertrou nie.

Kom ons stel dit positief:
In tye van verandering moet ons doelbewus ons vertroue in die Here plaas.
Hoe kan ons doelbewus ons vertroue in die Here plaas?
 (1) Ons kan dit doen deur eerstens te onthou dat God in tye van verandering vir ons omgee en dat Hy altyd betroubaar is teenoor ons. Ons moenie in tye van verandering soos Josef se broers optree nie, so asof die Here ver buite ons situasie staan en nie by ons lewens betrokke is nie.  Ons weet immers hoe betrokke God by ons lewens is. Ons weet dat Hy deur sy Seun in ons wêreld ingekom het en dat HY met sy offer aan die kruis en sy oorwinning oor die dood ons sy kinders gemaak het.

God se omgee vir ons en sy trou teenoor ons staan vas en dít is vir ons 'n vaste fondament wanneer dinge onseker raak in tye van verandering.  Josef het gehuil oor sy broers hom gewantrou het (vgl. vers 17). Hoe hartseer is dit nie as ons God wantrou nie!

Omdat ons weet dat God vir ons omgee en dat ons Hom kan vertrou weet ons dat:
(2) ons verder ons vertroue doelbewus in die Here kan plaas deur erns te maak met sy beloftes.
Ek moet sy beloftes ken en ek moet verstaan wat dit vir my inhou in die tyd van verandering. So moet ek byvoorbeeld weet wat dit beteken wanneer die Here beloof dat Hy altyd by sy kinders is. Ons is sy kinders op grond van die soenverdienste van Jesus Christus. Die genade in Jesus Christus kom van God af en Hy is getrou daarom kan ons Hom ook vertrou om vir ons, sy kinders te sorg.

Ek moet weet dat dit nie beteken dat alles met my in tye van verandering voorspoedig sal gaan nie. Ek moet egter ook weet wat dit wel beteken dat Hy beloof dat Hy altyd by my is:
•   Omdat Hy by my is, sal ek van Hom die krag kry om dit wat met my in die tyd van verandering gebeur, te kan dra.
•   Omdat Hy by my is, sal Hy aan my die vermoë gee om te wag totdat die onsekerheid wat saam met die verandering kom, verbygaan.
•   Omdat Hy by my is, weet ek dat Hy my deur sy Woord en Gees in die onseker tyd sal lei in my besluite en optrede.
•   Omdat Hy by my is, is ek seker dat Hy sal sorg dat alles, (ook die terugslae wat ek mag ervaar) vir my ten goede mee werk.
God se beloftes is nie net vir die hier en nou nie. Dit is ook ’n belofte van ’n ewige vaderland waar ons altyd by God sal wees sonder al die verdriet en hartseer van hierdie wêreld. Selfs al gebeur die ergste en ons moet doodgaan, dan weet ons dat ons nog steeds by God sal wees.

(3) Om net te weet wat die beloftes van die Here vir my beteken is ongelukkig nie genoeg nie. Om doelbewus ons vertroue in die Here te plaas, vereis dat ons in tye van verandering ook met ons dade ons vertroue in die Here moet plaas. My optrede moet wys dat ek werklik die Here vertrou.

Josef se broers het 'n mooi belydenis uitgespreek, Hulle het bely dat hulle dieselfde God as Josef dien soos ons hoor in Genesis 50:17.  “Ons dien ook die God van u vader.” Hulle optrede het egter hierdie belydenis weerspreek. Hulle dade het getuig dat hulle God nie vertrou nie.

Om dus te sê dat ek weet dat die Here betroubaar is en dat Hy vir my omgee, en dat ek sy beloftes ken en dat Hy my sal bystaan in tye van verandering is een ding. Die vraag is geliefdes: “wys my optrede dat ek werklik op die Here vertrou?” Dit is iets anders om volgens dit wat jy weet en bely, op te tree. Jou dade kan maklik jou belydenis weerspreek.

Kom ons kyk na twee praktiese voorbeelde van optredes wat openbaar dat ons die Here nie vertrou nie:
•  Wanneer ons as gelowiges in 'n tyd van verandering slegs 'n "sit-en-wag-houding" inneem, wys ons dat daar by ons 'n gebrek aan vertroue is.

As ek die Here vertrou, sal ek besef dat ek juis in 'n tyd van verandering deur God geroep word om op te tree. Met die Woord as rigsnoer en in afhanklikheid van die Gees,  moet die gelowiges biddend leiding gee. Ons moet gebruik maak van die geleenthede om deel te neem aan die proses van verandering.

Is daar nie by te veel van ons 'n "sit-en-wag-houding" nie? Wag ons nie voortdurend dat ander iets doen om die situasie te verbeter nie, terwyl die Here dalk vir ons die insig, vermoë en geleentheid gee om op te tree? Ek moet met my optrede vir diegene om my wys dat ek die Here vertrou.

•   Die tweede voorbeeld van gelowiges wat in hulle optrede wantroue in die Here openbaar, is wanneer hulle in 'n tyd van verandering voortdurend sug en kla en na die verlede verlang, die verlede toe alles so vas en seker was. 'n Mens dink aan Gideon. Toe die Here aan hom die versekering gee dat Hy by hom is, kla Gideon dat dit wel in die verlede so was, maar dat dit nou nie meer so is nie (Rigters 5:13).

Toe die Here vir Gideon verseker dat Hy aan hom die krag sal gee om die Israeliete uit die mag van die Midianiete te verlos, sug Gideon dat hy dit nie kan doen nie, want hy kom uit die geringste familie (Rigters 5:15).

Die Here sê vir ons in Pred. 7:10:
Moenie sê in die ou dae was dit beter as nou nie; dit is nie uit wysheid dat ’n mens so sê nie.
Sugtende en klaende mense en mense wat net altyd na die verlede verlang, maak almal om hulle lam!

Daarteenoor vra die Here juis van sy kinders om vanuit die sekerheid wat hulle by Hom vind met hulle optrede aan ander moed te gee. Dink maar aan die voorbeeld van Paulus op sinkende skip wat die ander aangespoor het om iets te eet sodat hulle krag kan kry vir dit wat vir hulle voorlê.

Deur ons voorbeeld moet ons die ander aan spoor om in die verandering die Here te vertrou en aan Hom gehoorsaam te wees.

SLOT
Josef se broers het die verandering in hulle omstandighede nie goed hanteer nie. As 'n mens mooi daaroor dink, was hulle optrede eintlik skokkend. Vir Josef was hulle optrede so 'n groot skok dat hy daaroor gehuil het.

Wat doen ons in tye van verandering?
Kom laat ons doen wat die Here van ons vra. Kom laat ons met die krag van die Heilige Gees doelbewus ons vertroue in die Here plaas.

•   In tye van verandering moet ons onthou dat
  God vir ons omgee en dat Hy altyd betroubaar is teenoor ons.
•   Kom ons maak seker dat ons sy beloftes ken en dat ons verstaan wat dit vir ons beteken in tye van verandering.
•   Kom ons vertrou die Here deur nie in verandering passief te wag en te kyk wat gaan gebeur nie, maar deur in afhanklikheid van die Here, leiding te gee.
•   Kom ons vertrou Hom deur nie ander lam te maak met 'n gekla en gesug nie en nie gedurig na ons verlede terug verlang nie.
•   Kom ons spoor ander met ons optrede aan sodat hulle ook in tye van verandering die Here vertrou en Hom gehoorsaam.

Kom ons plaas doelbewus ons vertroue in die HERE.
AMEN

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking