Liturgie 4 Des. 2011
na Votum Ps. 84 v 4 (OAB)
Na Wet Ps. 91 v 1 (OAB)
Na gebed Ps. 84 v 3 (OAB)
Slotsang Ps. 107 v 1 (OAB)
Ons teksvers sê vir ons
dat ons getrouheid aan God se wet opreg moet wees sonder enige skynheiligheid.
Skynheiligheid is een van die aanklagte wat heel dikwels teenoor die kerk
gemaak word. Hoe dikwels hoor mens nie dat iemand niks met die kerk te doen wil
hê nie omdat die kerk (dit is nou ons geliefdes!) ’n spul huigelaars is wat
elke Sondag ewe vroom en skynheilig die kerkbanke vol sit. Met ander woorde ons
word aangekla dat ons voorgee om iets of iemand te wees wat ons nie werklik is
nie! Die hartseer van die saak is dat daar ’n groot mate van waarheid in
hierdie aanklag!
Hier in die Bergpredikasie
ontmasker Jesus ons skynheiligheid en wys Hy vir ons wat die verskil is tussen
ware geregtigheid wat God verlang en die wêreldse idee van geregtigheid wat ons
so dikwels navolg. Geregtigheid beteken om op te tree volgens ’n sekere stel
reëls of riglyne wat deur ’n hoër gesag daargestel is. Die wêreldse idee van
geregtigheid kom daarop neer dat iemand geregtig is as hy/sy die regte ding
doen en verkeerde dinge vermy, maak nie saak wat sy motivering daarvoor is nie.
Hier in die bergpredikasie
wys Jesus ons dat die regte optrede met ’n verkeerde motivering skynheiligheid
en huigelary is. Daarom sê Hy vir ons in Mat 5v20:
Ek sê
vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die
skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die
hemel ingaan nie.”
Die skrifgeleerdes en
Fariseërs was die godsdienstige leiers van daardie tyd. Hulle was baie
godsdienstig en hulle het die godsdienstige reëls baie streng toegepas. Tog sê
Jesus vir hulle in Mat. 23v28:
27“Ellende wag vir julle,
skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle is soos witgeverfde grafte, wat
van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is. 28So
is julle ook: van buite lyk julle vir mense vroom, maar van binne is julle vol
huigelary en minagting van die wet.”
Jesus noem hulle
huigelaars. Huigelary het te doen met ’n teenstrydigheid tussen hoe dit lyk en
hoe dit regtig is, dit wil sê tussen wat jy voorgee om te wees en wat jy
werklik is.
Dit is inderdaad hoe die
skrifgeleerdes en Fariseërs was. Hulle het voorgegee dat hulle hierdie vroom
godsdienstige leiers was en gereeld in die openbaar gebid en gesorg dat hulle
in die voorste plekke in die tempel was sodat almal hulle kon sien. Die
probleem was hulle motivering oor waarom hulle dit gedoen het. Dit het nie vir
hulle werklik oor hulle diens aan God gegaan nie, maar veel eerder oor hulle
eie eer. Hulle wou hê dat die mense moes raaksien hoe vroom hulle lewe sodat
hulle daardeur vir die volk kon wys hoe belangrik hulle was. Hulle het die
regte goed gedoen met die verkeerde motivering soos ons ook hoor in Mat 6v1
& 2:
1“Moenie julle
godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie,
want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.
2“As jy byvoorbeeld armes
help, moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges en
op straat, sodat mense met lof van hulle kan praat.
Die Here sê vir ons dat
dit nie goed genoeg is nie. Met so ’n benadering sal ons nooit in die koninkryk
van die hemel ingaan nie.
Hier in die bergpredikasie
wys Jesus verder vir ons prakties wat dit beteken om volgens die wet van God te
leef. Die wet van God strek baie dieper as die oppervlakkige manier wat ons so
dikwels daarna kyk. In Mat 5v17-48 wys Jesus vir ons dat wat ek ook al dink my
grootste sonde is, dat die werklikheid baie erger is. Ons mag dink dat ek darem
nie ’n moordenaar is nie want ek het nog nooit iemand doodgemaak nie. As ons so
dink dan wys die Here vir ons dat ’n slegte humeur eintlik moord is soos ons
hoor in Mat 5v21en 22. Ons troos onself dikwels met die gedagte dat ek so kwaad
geword het dat ek daardie persoon oor die kop kon slaan, maar ek het nie. Ek
het nie eers op hom geskree nie. Ek het maar net omgedraai en weggeloop voordat
ek iets kon sê. Dan sê die Here vir ons dat ons eintlik moord gepleeg het. In
Mat 5v27 & 28 hoor ons:
27“Julle het gehoor dat daar
gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ 28Maar Ek sê vir julle:
Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk
gepleeg.
Net die begeerte na ’n
ander vrou of man is net so erg asof ek fisies owerspel pleeg.
Wie van ons kan nog eerlik
sê dat ek nog nooit moord of owerspel gepleeg het nie? Verder ontmasker
Christus allerlei wanpraktyke oor eedswering (die derde gebod) en laat dit dan
uitloop op die groot gebod wat die vervulling van die wet is, naamlik liefde.
In ons liefde mag ons nie onderskeid maak tussen vriend en vyand nie. Wie van
ons kan werklik daarop aanspraak maak dat ons liefhet volgens God se standaard?
Hier in die bergpredikasie
vind ons die praktiese riglyne van hoe burgers in die koninkryk van God behoort
te leef. Kan ons werklik so leef soos wat die Here van ons verwag? As ons
eerlik is, dan moet ons sê “NEE”. Wie van ons kan werklik sê dat ons volmaak is
soos wat ons Hemelse Vader volmaak is? Ons is skuldig! Die harde werklikheid is
dat ons getrouheid van die wet nie meer inhou as die skrifgeleerdes en die
Fariseërs nie met die gevolg dat ons nie in die koninkryk van die hemel sal kan
ingaan as dit afhang van die manier waarop ons leef volgens God se wet nie.
Met die bergpredikasie wys
die Here vir ons dat dit vir ons onmoontlik is om ons eie geregtigheid te
verdien. Op die oog af mag dit dalk lyk of dit moontlik is, maar as ons dieper
kyk dan sal ons sien dat ons dit nie kan doen nie. Dit is eers wanneer ons
werklik verstaan dat ons niks kan doen om ons eie saligheid te verdien nie dat
ons werklik by die genade van God in Jesus Christus kan uitkom. Solank as wat
ek nog dink dat ek darem nie so sleg is nie, leef ek ’n skynheilige lewe van
huigelary. Dit is eers wanneer ek besef dat ek nie die wet kan nakom nie en dat
ek alleen deur Jesus Christus se geregtigheid gered kan word dat ek werklik in
opregtheid kan begin leef.
In 2 Kor. 5v21 sê die Here
vir ons:
Christus
was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons,
deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.
Dit is eers wanneer ons
besef dat ons nie deur goeie werke ons saligheid kan verdien nie, dat ons
werklik die genade van God in Jesus Christus kan aangryp. Dan sal ons besef dat
om ’n Christen wees beteken dat ons besef ons verlore was en dat ons by God, in
Christus genade gevind het. Dan sal ons nie vol trots op ons “goeie werke” roem
nie, maar besef dat ons dikwels struikel en val en dat ons God nodig het om vir
ons die regte pad te wys. Dan sal ons besef dat ons nog steeds baie foute het,
maar dat God dink dat ons die moeite werd is en dat Hy ons so lief het dat Hy
sy enigste Seun gestuur het om in ons plek vir ons sondes te sterf. Dan sal ons
besef dat ons nie beter is as ander mense nie, maar dat ons sondaars is wat God
se genade ontvang het.
Kom laat ons die genade
van God aangryp sodat ons kom wegkom van ’n valse sin van eiegeregtigheid en
sodat ons opreg kan lewe vanuit God se genade.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking